Agtergrond: Huweliksbevestiging van twee jong volwassenes (vroeg dertigs) wat reeds ‘n tyd lank saamgewoon het, en tog besluit het om in die huwelik bevestig te word. Hul opdrag aan my was: Maak die seremonie tradisioneel maar alternatief.

Inleiding:
Enkele persoonlike opmerkings.
Kom ons staan en sing die bruidspaar toe uit Lied 530 – al die strofes

Gebed:
Ons word stil.
Here, vanaand is ‘n aand van groot blydskap, ‘n aand waarin ons saam met C en D kan feesvier.
As ouers sê ons vir U dankie vir twee pragtige kinders wat vir ons baie vreugde in ons lewens gegee het. Dankie dat ons nie ‘n dogter en ‘n seun verloor het nie, maar dat ons nou ‘n dogter en ‘n seun ontvang.
As vriende sê ons vir U dankie vir C en D se ondersteuning waarop ons altyd kon reken, selfs in moeilike tye. Dankie vir nuwe vriendskapsbande wat deur hierdie huwelik gesmee word.
As familie, en vriende van die familie, sê ons vir U dankie om bly te kan wees saam met mense met wie ons elkeen ‘n besondere verhouding het en ‘n lang pad saamgeloop het.
Here, ons het oor die liefde, die grootste van alle gawes gesing. Ons wil dan nou die laaste woorde van die lied vir C en D toebid: Liefde sluit die lewe oop.
Amen.

Votum:
Ons begin hierdie diens, sit dit voort en sluit dit af in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Boodskap: Selflose liefde sluit die lewe oop
C en D, julle staan vanaand hier, op die punt om in die huwelik bevestig te word.
Vanaand wil ek met julle praat oor liefde. ‘n Heel gepaste tema vir die huwelik. Ons het gesing van liefde wat die lewe oopsluit, maar watter soort liefde?
Kom ons luister na Rut se storie.
Die meeste van ons ken die verhaal – dit lees amper soos ‘n sprokie. ‘n Ryk man ontmoet ‘n arm maar deugsame meisie, hulle raak verlief, trou, en lewe vir ewig en altyd gelukkig saam. Maar dis hoe ons dit vandag lees. Die oorspronklike boodskap van die storie was heeltemal anders.
Want eintlik gaan die storie glad nie oor Rut nie, maar oor Naomi
.
Wie is Naomi? Kom ons luister na haar storie.

Skriflesing – enkele grepe uit die boek Rut
Daar was hongersnood in Betlehem Juda, en Naomi, haar man en twee seuns trek weg om ‘n heenkome te soek in die gebied van Moab. Naomi se man sterf daar. Haar twee seuns vat vir hulle Moabitiese vroue. Maar ‘n paar jaar later sterf ook haar twee seuns.
Party mense noem Naomi die suster van Job. Net soos Job verloor sy alles wat vir haar kosbaar is: nog erger, in ‘n vreemde land verloor sy haar hele kerngesin. Net sy bly oor.
Op ‘n dag hoor sy dat die Here weer brood in Betlehem gegee het, en sy besluit om terug te keer – nie om ‘n nuwe begin te maak nie, sy gaan eintlik terug om daar dood te gaan en daar begrawe te word. Haar buurvroue herken haar, en is verwonderd om haar te sien. Maar sy sê vir hulle: Moenie my Naomi noem nie, noem my Mara, want die Here het die lewe vir my bitter gemaak. Sy, wat op ‘n keer die lieflike Naomi was, is nou Mara, ‘n verbitterde weduwee wat nie slegs God se afwesigheid ervaar nie, maar selfs voel dat Hy haar leed wil aandoen.
In hierdie weduwee se donker lewe wat sonder hoop en sonder uitsig is, kom Rut, haar skoondogter. En sy sê vir Naomi: Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly, u volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf sal ek sterf en daar begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.
   C en D, vanaf hierdie moment verander alles. Wat gebeur hier? Wat doen Rut? Sy doen afstand van al haar sekerhede. Sy keer haar rug op haar bekende wêreld. Sy waag dit uit haar gemaksone en durf saam met Naomi ‘n pad van angs en onsekerheid aan.
Hoekom doen sy dit?
Die antwoord is eenvoudig: liefde, selflose liefde. In Naomi se diep en donker dam gooi Rut die eerste klein klippie van selflose liefde.
En wat sien ons verder? Rut gaan are optel om kos vir haar en haar skoonma te kry, anders gaan hulle dood van die honger. Terwyl sy op die landerye werk, vang sy die oog van Boas, die landheer. En hier sien ons die eerste rimpel-effek van die Rut se klein klippie selflose liefde wat al wyer en wyer begin uitkring. Boas weet van Rut en alles wat sy vir haar skoonma gedoen het. Hy ontferm hom oor haar. Hy gee sy werkers opdrag om nie net are op die veld te los nie, maar om met opset are uit die bondels graan te trek sosdat sy nog meer kan kry om op te tel Etenstyd sê hy vir Rut: Kom, kom eet saam met ons, eet ‘n stukkie brood en doop dit in die wynsous. Rut eet totdat sy versadig is, en daar bly genoeg oor sodat sy dit vir haar skoonma kan saamvat.
C en D, selflose liefde werk aansteeklik!
En nou kry ook Naomi nuwe lewe. Rut se selflose liefde lig Naomi uit haar depressiewe toestand. Sy sien nuwe moontlikhede. Boas is mos verlangs familie van haar oorlede man. My kind, sê sy vir Rut, dis my verantwoordlikheid om vir jou ‘n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. Boas dors vannag gars op die dorsvloer. Was jou, maak jou mooi, trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Rut maak haar soos ‘n bruid gereed, en daar, in die middel van die nag, in die middel van die dorsvloer, word vir die eerste keer ‘n positiewe toekoms vir die twee weduwees moontlik: as Boas Naomi se grond koop, en as hy et Rut sou trou.
Die situasie is egter ‘n bietjie spanningsvol, want daar is iemand anders – hy word ‘n losser genoem. ‘n Losser was iemand wat vir ‘n arm familielid moes instaan om te keer dat hy of sy nie ondergaan nie. Nou blyk dit dat Boas nie Naomi se naaste familielid is nie, dar is ‘n ander en eitnlik is dit sy plig om as losser op te tree, maar, belowe Boas vir Rut, As hy nie wil nie, sal ek so seker as die Here leef, as losser optree.
En net daarna sien ons ook Boas se selflose liefde. Want die ander losser sien hy gaan sy eie eiendom in gevaar stel as hy met Rut trou, en hy laat vaar sy reg. Boas daarenteen, gee nie om wat dit van hom vra nie – hy koop Naomi se grond en hy trou met Rut. Uiteindelik sien ons ‘n huwelik, en die geboorte van ‘n kind. En, let wel, aan die einde van die verhaal is dit nienBoas of Rut wat oor die kindjie verheug is nie, maar Naomi! Die buurvroue is saam met haar bly oor die feit dat die Here vir Naomi ‘n losser gegee het.
Naomi se se storie wat met droefheid en dood begin het, eindig met blydskap en lewe. Sy het gevoel dat die Here ver, selfs vyandig is. Rut se selflose liefde het haar kom wys hoe lyk die die nabyheid en versorging van die Here – nie met groot en skouspelagtige gebeure of bonatuurlike wonderwerke nie – maar dat die Here se liefde werklik word daar waar mene vir mekaar met selfloseliefde omgee. Die lewegewende Here word in medemenslike optrede geopenbaar.
Stukkie vir stukkie ontvou die lewe weer vir Naomi. Elke keer ‘n stappie nader an nuwe lewe, na nuwe hoop. As gevolg van Rut se eerste klein klippie van selflose liefde, word Naomi se donker dam nou omskep in in ‘n ligpoel van hoop. Uiteindelik, as gevolg van selflose liefde, oorwin lewe die doo.
Maar wat sê Naomi se storie vir die huwelik
?
Julle sien, C en D, een of ander tyd gaan die lewe ‘n Naomi op een van julle trek. Hoe? Ek weet nie. Dit om in verskeie vorms: ‘n uitmergelende dag by die werk; almal was lelik met jou; jy kry nie die bevordering waarop jy gehoop het nie; siekte; ‘n finansiële krisis; jy verloor jou werk; of … ‘n algehele gevoel van lewensmoegheid. Dan vra die huwelik van jou C, en van jou D, om te sê: Ek gaan nie omdraai nie. Jou pad is my pad. Waar jy gaan, gaan ek, Jou toekoms, is my toekoms.
C en D, terwyl dit goed gaan, is dit maklik om vir mekaar lief te wees. Maar ‘n mens se huwelik kom onder stres in die donker en uitsigloses momente. Naomi-momente. Wanneer jy voor jou net ‘n groot swart poel sien. Dit is dan wanneer van die ander gevra word om een klein klippie van selflose liefde in hierdie poel te gooi – sodat dit ‘n rimpel-effek kan hê wat tot nuwe insig en nuwe hoop kan lei.
Vandag sê baie mense die huwelik is ‘n outydse en uitgediende instelling. Vroue en mans is bevry. Elkeen kan onafhanklik funksioneer, niemand het die huwelik nodig om haarself of homself te bewys of te verwesenlik nie. Dit is natuurlik waar.
En tog trou mense, ten spyte van.
Hoekom?
Ek dink die antwoord lê in die broosheid van menswees. Die huwelik skep daardie konteks van selflose liefde waarin die broosheid van menswees hanteer kan word.
Die huwelik is daardie veilige ruimte van selflose liefde waarin jy kan terugval as alles daarbuite in duie stort.
Mag jul huwelik ‘n huwelik van selflose liefde wees wat ‘n rimpel-effek op jul eie lewens en ook op die lewens van ander sal hê.

Amen

[Die huwelik word nou volgens formulier en volgens wet voltrek. Getuies teken.]

Slotsang:
Lied 269, verse 1 & 2 staande [God bly met u waar u ook mag gaan].

Seën:
Mag die liefde van God die Vader, die genade van ons Here Jesus Christus en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle wees.

Amen

Share this / Deel hierdie: