Shadrack Muvabandi het September 2008 sy doktorsgraad in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria behaal. In die intensiewe eenheid van die Johannesburgse Akademiese hospitaal is sy toga om hom gehang en kon hy sy sertifikaat vashou vir ‘n foto. ‘n Paar dae later is hy in dieselfde bed oorlede, of, “he went to his heavenly home” soos die SMS wat die slegte nuus aangekondig het, gesê het.

 

Ek skryf die verhaal soos hy dit vir my oor die jare wat hy by my gestudeer het, stuk-stuk aan my vertel het. Sy storie begin toe hy die sekretaris van die Minister van Finansies van Rwanda was, die Rwanda voor die massamoorde wat die land uitmekaar geskeur het. Dit was juis die genocide wat hom en sy gesin uit Rwanda gedryf het. Dis waar sy eerste storie ook begin.

 

Hulle het gevlug… in die rigting van Kenia. Met sy vrou en vier kinders het hulle deur die grensdraad geklim en weerloos langs die pad gaan staan. “Daar kom toe ‘n bakkie aan”, vertel hy, “en ek was bang, want met al die moord wat ek in Rwanda gesien het, was ek nie seker of hierdie vriend of vyand was nie”. Die bakkie stop. ‘n Christen klim uit (hy het my nooit sy naam gesê nie); hy het hom altyd net “a Christian” genoem. Met sy vlugteling-familie agter op die bakkie is hulle na “Christian” se huis toe. Dit was “the best bath I ever had in my life”, vertel hy; en die kos was koninklik, al was dit eenvoudig.

 

“Christian” het hulle toe gehelp om Nairobi toe te gaan waar ander Christene vir hulle ‘n net van liefde gespan het; ja, selfs die Bybelgenootskap het hierdie keer nie net Bybels uitgedeel nie, maar ook groot stukke liefde.

 

En nou spring ons ‘n bietjie met die verhaal. Suid-Afrika is die plek waar hy en sy gesin ‘n nuwe lewe kan gaan maak, die paradys van Afrika, het hulle vir mekaar gesê. Hier geland, was die net van liefde weer daar in die vorm van gemeentes in die suide van Johannesburg. Dr Gideon Kok, van Mondeor gemeente, het Schadrack toe aan my kom voorstel. Schadrack het al basiese teologiese studies agter die rug en wil nou verder gaan. So het ons lang pad saam begin. My naam was “My professor” en syne, “Schadrack, my student”. Deur ‘n meestersgraad en daarna ‘n doktorsgraad program het die storie ontvou wat my lewe diep geraak het.

 

Om die begroting te laat klop met ‘n vrou en vier kinders, sonder al die nodige papiere om hier te werk, was nie maklik nie en sou ook sy lewe kos. Sy vrou het werk gekry by ‘n SPAR as boekhoudster vir R3000 per maand. Dit het hulle aan die lewe gehou, veral toe drie van sy vier kinders later op Universiteit gehou moes word. Hy het in sy motorhuis ‘n groentewinkeltjie aan die gang gesit. In die aand is al die groente en vrugte weer weggepak sodat ‘n vriend se motor daar kon staan, net vir die paar ekstra rande.

 

Die ligpunt in hierdie tyd was sy kinders wat presteer het. Sy oudste is aanvaar as mediese student by Wits (en ons weet net die bestes kom daar uit), sy ander kinders het in rekenaars en ekonomie begin studeer en selfs pryse vir die beste studente losgeslaan. Maar vir hulle moes betaal word. Die mediese student het begin om “knit one slip one”, soos die breimense sê, te studeer. Een jaar op universiteit en een jaar agter die toonbank van ‘n winkel om geld vir die studie bymekaar te maak. Maar keer aan hierdie familie was daar nie. Hulle druk deur… maar ten koste van Schadrack se gesondheid.

 

Hy was ‘n diabeet en het sere aan sy voet begin kry. Die eerste maal toe hy dit vir my gewys het, was dit ‘n klein grys kolletjie met ‘n rofie op. Elke keer wat Schadrack daarna gekom het, het ek gevoel of daar ‘n stukkie van my hart afskeur. ‘n Paar maande later het hy kruppel daar aangekom… die seer was groter. Toe met ‘n kierie en die laaste paar maal met ‘n rystoel. Die seer was toe so groot dat ‘n mens die senings kon sien. My dokter-dogter het net haar kop geskud en gesê, “Pa, dis verby. Hy sal nooit weer loop nie”.

 

Gideon Kok het sy bes probeer en ek het hom by die beste spesialis wat ons kon opspoor gekry. Almal wou help. Maar snaaks genoeg het Schadrack sy afsprake gemis. Ek het bietjie vererg gewonder waarom… ‘n mens doen al die moeite en dan wil die man nie gesond word nie, het ek stilletjies hier binne my gedink. Die waarheid sou na die tyd stadig en hard by ‘n mens insink. Schadrack se kinders moes universiteit toe, nee, hulle moes eet. Hy kon met sy siekte nie meer mark toe gaan om sy groentetjies te kry nie… en hy het nie meer geld gehad om ‘n taksi na die hospitaal te betaal nie. Die geld was op ander plekke nodig, vir sy kinders, het hy gedink. Intussen het die onversorgde siekte hom stadig opgevreet.

 

Die laaste maal toe hy by my kantoor uitsukkel met sy rystoel het ek trane in my oë gehad. Hy het oor sy “nuwe lewe” in Suid-Afrika gepraat. My drie seuns was ‘n Sondag of wat oppad van die kerk af huistoe. ‘n Kar het langs hulle stilgehou, ‘n man het uitgespring, sy jongste deur die kop gesteek met ‘n mes. ‘n Paar dae gelede het ons hom begrawe… sê hy met ‘n krakerige stem. Die knop in my keel was te groot om eers iets krakerigs uit te kry. Hulle het niks gesteel nie, het net weer in die kar gespring en weggejaag. “This is too violent country, My Professor. One cannot live here”, was woorde wat in my gemoed ingebrand sal bly tot ek self eendag nie meer daar is nie. Dit komende van ‘n man wat uit Rwanda gevlug het vir sy lewe.

 

Hoe gaan dit met jou vrou, vra ek toe. “Not good”, was die kort antwoord. Die SPAR waar sy gewerk het het tot op die grond afgebrand. Sy het nie meer werk nie en hulle het ook nie meer die R3000 ‘n maand nie. Sy soek maar weer plek om te werk, maar het nog nie weer iets gekry nie.

 

So, met ‘n donker wolk in my gemoed, sien ek hom met sy rystoel in die gang voor my kantoor wegry… die laaste maal. Sy proefskrif is klaar en ingedien. Hy gaan oor ‘n paar maande ‘n doktor in teologie wees. Maar hoe loop God se paaie met mense? Hoe kan Hy toelaat dat sy kinders so van een dal van doodskaduwee na die volgende loop. Maar soos Schadrack daar weggery het, het sy woorde agtergebly… “My Professor, God knows, and I believe”. Daarmee was alle vrae, alle onsekerhede altyd bygelê. Ons hoef nie verder te wonder of te gesels nie.

 

Die volgende kontak oor hom was nie van hom nie. Gideon bel my… Schadrack is baie siek. Hy lê in intensief met iets soos sistemiese infeksie. Die kieme van die wonde aan sy voete is nou sy hele lyf deur. Alles in hom is nou ontsteek en siek. Hy sou vir ‘n klein rukkie effens beter word, maar is ‘n paar dae nadat hy doktor in Teologie geword het, dood… ‘n skaduwee-geraamte van die eens gestette en trotse Schadrack.

 

Schadrack sal seker nie weet nie, maar sy pyn, maar ook sy vertroue in God het mense aangeraak… vir “Christian, Gideon, vir elkeen wat ‘n appel by hom gekoop het, vir my. “God knows”.

Share this / Deel hierdie: