Respons op George Claassen

 

 

‘n Kerk wat bang is vir mense wat vir hulleself dink tipeer gewoonlik hierdie selfstandigheid in moreel negatiewe lig: ongehoorsaam; ketters; ateisties. Daarom dat die verband getrek word tussen ewolusie en die bose / ateisme.

Die reaksie spruit waarskynlik uit onkunde. Die aanvaarding van ewolusie is nie gelyk aan die einde van godsdiens of die ‘dood’ van God nie (die ‘dood van God’ is aan godsdiens en nie ewolusie toegedig nie – Nietzsche). Trouens, die geloofwaardigheid van godsdiens word juis bevestig deur dit vanuit ewolusionere hoek te beskou. Daar is veel geskryf oor die ‘godsdienstigheid’ van ons vroegste voorouers (grottekeninge), die ontwikkeling van godsdiens in jagterssamelewings (sien rol van die shamaan), en die ontstaan van die boekgodsdienste (in samewerking met die vroegste staatsinstellings). Ewolusionêr kan aangetoon word hoe godsdiens inskakel by die menslike biologie: die wyse waarop breinfunksies ingespan word om ons ons geloofservaringe te bied. Godsdiens het nie noodwendig ontwikkel om ons te help om beter te oorleef nie, maar het wel ‘n onontbeerlike rol in ‘n gelukkige voortbestaan gespeel: die rol van godsdiens om betekenis aan die lewe te gee; om te help met die interpretasie van onverstaanbare gebeure soos katastrofes en persoonlike ongeluk of lyding. Godsdiens ontwikkel in tandem met selfervaring: die wyse waarop godsdiens inskakel by basies menslike dryfvere soos begeerte (sien Girard); hoe godsdiens inpas by die basiese menslike ervaring van onvervuldheid en ‘op-weg-wees’ (Lacan; Žizek, Vattimo); die rol van godsdiens om ons vrees vir eindigheid te besweer (onsterflikheid / hiernamaals) . Natuurlik sal die konkrete gelowige alle ervaring en gode buite sy eie geloofsraamwerk as vals beskou en aanspraak maak op die persoonlike ervaring en ontmoeting van die enigste, ware god. Dié goeie oorlewingstrategie is oor eeue heen suksesvol bewys. Analoog aan Hegel se ‘slinksheid van die rede’ is godsdiens op meesterlike wyse  bo kritiek verhef omdat die transendent-gevestigde aard daarvan dit aan menslike analise, rasionalisasie, en ondervraging ontruk het. Job het geleer dat geen sterfling God (dogma?) kan ondervra nie. Maar dit is ‘n ‘cop-out’ om godsdiens uit die epistemologiese arena te verwyder sodat dit nie deur die rede (natuurwetenskap) ondervra kan word nie (soos Kant wat die rede ophef om vir geloof plek in te ruim). Dit is juis Kant se postulaat van die Praktiese Rede wat die weg oopgemaak vir denkers soos Barth, Kierkegaard, Levinas om God die Gans Andere te maak en so uit die menslike arena uit te skuif. Dit is egter ook ‘n ‘cop-out’ van ‘neutrale’  natuurwetenskap om hulle nie te beweeg op die ‘onvaste’ (oop en bevooroordeelde) gebied van die menslike gees nie.

Die feit dat ewolusie die aanvaarde agtergrond is van die werk van alle natuurwetenskaplikes en dat die basiese prentjie met die ontwikkeling van nuwe wetenskappe (genetika -genetiese kartering-, kognitiewe wetenskappe om 2 te noem) net helderder word, staan vas. Kerke en gelowiges behoort hieroor beter ingelig te word want dit alleen bied vaste grond vir nadenke oor die plek van geloof vandag.

Persoonlik glo ek nie dat ewolusie die eksklusiewe vlak is waar die probleem lê nie. Ewolusie kan nie in isolasie beskou en evalueer word nie, maar moet in samehang met die proses van die wetenskapsrewolusie vanaf die 15e eeu beskou word, die Verligting en opkoms van modernisme. Dit het ‘n manier van dink en doen na vore gebring wat nie anders kon as om die hele geloofswêreld op losse skroewe te plaas nie. Om die rede (as prostituut) daarvoor te verwyt, soos Luther gedoen het, bring ons nie verder nie. Dit gaan nie om een of ander bose komplot teen godsdiens nie, maar om die (ewolusionere) ontwikkeling van menslike (denk-)kultuur. Wat ons behoort te bedreig is nie ons ewolusionêre verlede nie maar ons ewolusionêre toekoms wat vernaamlik in ons hande lê en waar die ontwikkeling en lot van die menslike spesie deur sy waardes en mensgemanipuleerde omgewing en artefakte bepaal gaan word. Die vraag is of die projek (ons ewolusionêre toekoms) moontlik is sonder die diep-menslike waardes wat oor die eeue heen deur godsdienste beliggaam is.

Vandag staan ons voor die verwyt dat ons geestesontwikkeling agtergebly het by ons tegnowetenskaplike ontwikkeling. Waar denkontwikkeling ons gebring het by die ‘einde’ van die filosofie, metafisika, meesternarratiewe (lees ook teologie), het die natuurwetenskappe gekombineer met tegnologie byna geruisloos die rol van betekenisgewende meestersisteem oorgeneem. Vanuit die geslote kader van die empiries-pragmatiese word neergesien op produkte van die rasionalisme en idealisme en word dit saam geloof gerelegeer tot die ‘meta-wetenskaplike’ vlak van die etiese en estetiese. Vir baie is die mistiek die enigste uitvlugsoord uit ‘n verdinglikte bestaan waar die (mensgemaakte) omgewing die Subjek is wat die mens (nou die objek) bepaal.

Die vraag wat ek aan George Claassen (en aan persone soos Dawkins / Harris / Dennet / Park) vra is waarom hulle oordeel dat ‘verligte’ mense nog steeds aan irrasionalisme en bygeloof (geloof) vasklou? As ons bepaal word deur tegnopragmatiek waarom nog die irrasionele reste? Bygeloof het verander (sien mediese praktyke soos homopatie, die dobbelbedryf, aandelemark, geloof in sinkronisiteit), maar nie verdwyn nie. Geloofsuitinge verander maar is nie aan die verdwyn nie. Die rede is waarskynlik omdat daar meer behoeftes bestaan as waaraan ons tegnopragmatisme kan beantwoord. Fenomenologies beskou kan dieselfde motiveringe vir die ontstaansgrond van geloof én bygeloof aangedui word: verklaringsisteme in lig van onkunde, selfbeskerming, soeke na geluk en voordeel en afweer van ongeluk en rampspoed. Eenduidige antwoorde (geslote empirisme) skiet tekort in ‘n komplekse maatskappy waar ons soos alle ander spesies deur ons omgewing beïnvloed word – ‘n omgewing wat in sy pluriforme en snel wisselende aard nie reduksies toelaat nie.

In die (post-sekulêre) omgewing word geloof vandag gekenmerk deur ‘n rasionele oorstyging van ‘n letterlike interpretasie daarvan, ‘n onwil om dit te ‘ontgroei’ omdat dit die laaste nostalgiese reste van ‘n ‘ou wêreld’ verteenwoordig. Vir ander gee geloofservaring of mistiek sin.  Toe Niels Bohr gevra is waarom hy as wetenskaplike ‘n perdeskoen aan sy voordeur hang het hy geantwoord dat die mense sê dat dit werk al glo jy nie daaraan nie. Hy glo dus nie daaraan nie maar hoop in die stilligheid dat dit werk. Wie wil nou nie geluk op sy pad hê nie? Baie skeptici sal geloof in God dekonstrueer (in die vernietigende sin van die woord) en tog in die stilligheid wens dat daar gronde was om dit nie te doen nie. Ons glo nie meer in wonderwerke wat natuurwette oorskry nie, maar daar kom tye dat elkeen van ons ons werp op die irrasionele. As dit die menslike kondisie is moet ons meewerk aan die ewolering van geloof wat sin maak in ons tyd.

Binne postmoderne konteks (die konteks waar ons voortdurend voetnote plaas by ons modernistiese oortuigings) leef ons vandag in die era van interpretasie waar denke in beslag geneem word deur belange wat nie meer eksklusief deur wetenskap, filosofie of godsdiens verteenwoordig word nie. Die interpretasiemetafoor bring voortdurend ander beklemtoninge na vore soos elke oggend se koerant. Die wisselende aard daarvan maak nie die impak of geldigheid daarvan minder nie (sien différance). Waarheid is nie objektiewe Archimedespunte (denkwaarhede) vanwaar alle ander dinge beweeg (gemanupileer) kan word nie. Galileio het die mite van ‘n onbeweeglike vertrekpunt die nek ingeslaan. Selfs die onbeweeglike God is daarmee heen (sien Heinrich Ott se Gottes sein ist im werden). Waarheid gebeur (Ebeling) in tussenmenslike dialoog waar taal gedeel word. Navorsing kan nie meer net in een soort vaktaal vasgevang word nie. Daarom vertaal Rorty Hegel se Geist (lees ook selfbewuste en ontwikkelde rede) met gesprek. Dit beteken nie dat gesprek verromantiseer kan word nie (Habermas se kommunikatiewe handeling), maar dat ons na alle alternatiewe handelinge steeds (altyd) daarheen terugkeer– maar nie op dieselfde manier nie (Hegel).

Na die ‘einde’ van die matafisika gaan dit nie meer om kontak met iets wat onafhanklik los van die mens bestaan nie maar om Bildung ­– en dit is tog altyd menslike Bildung (sien Foucault se ideaal om ‘n mooi lewe te lei). Maar die oorheersende vlak waarop daar vandag sprake is van Bildung is die van tegnowetenskaplike artefakte (produk van natuurwetenskap). ‘n Mooi artefak weerspieël tog altyd ‘n gevormde gees maar hedendaagse artefakte weerspieël ‘n leë gees wat die artefak kan koop. Bildung is vandag pseudoniem vir die tegnowetenskaplike artefakte wat ons identiteit bepaal. Is dit nie analoog aan die verdrywing van die geesteswetenskappe deur die natuurwetenskappe nie? (verdrywing van godsdiens deur ewolusie?). Was die geesteswetenskappe nie nog altyd die verpersoonliking van Bildung nie? Gadamer praat van die ‘hedendaagse’ kultuur in terme van dialoog en fusie, wat kennis vervang met Bildung. Maar in ‘n wêreld waarin kennis onoorsigtelik geword het vra ons steeds na die interpretasie (menslike betekenis) van kennis – ‘n taak wat nie hoort by neutrale natuurwetenskap nie. Ons word gelaat met die bewussyn dat nie alles wetenskaplik verklaar kan/hoef te word nie. Vir ander bestaan Bildung vandag in allerlei ervaringe wat as nunc stans ons enigste moontlikheid is om ons eindigheid ‘n ewigheidsdimensie te gee (Ironies kan ervaringsug juis werklikheidsontvlugting wees).

Wat beteken dit? Waarheid word nie op die vlak van empirie of metafisika besleg nie maar op die vlak van interpretasie. Geloof in die sien-as modus daarvan is ‘n vorm van interpretasie. Die sien-as akte is ‘n ontwikkelde bewussynsfunksie wat waarde, betekenis en dryfkrag bied. Dit bring ons terug by Kant se transendentale subjek waar denkstrukture (sinteties a-prioriese oordele) ons ervaring bepaal. Maar die kritiek wat Fichte en veral Hegel daarop gelewer het is dat dit ons lewe verskeur (dualisme) tussen binne- en buitewêreld. Hegel het aangetoon hoe denke (Geist) alleen ontwikkel deur die opname van die (A)ander (onbekende / negatiewe) in ons bewussyn wat die siening (sien-as) van onsself en die ander radikaal kan verander. Die binnewêreld van geloof kan nie sonder die buitewêreld van die empiriese werklikheid (natuurwetenskap /ewolusie) nie. (Nadat die mens van kleintyd af deur intense kontak met die empiriese werklikheid taal aangeleer het en denkvaardighede ontwikkel het (Lakoff, Johnson), verhef Kant nou die volwasse denker tot Transenderende Subjek/Rede wat onafhanklik (!) van die empiriese werklikheid as skoon lei (Locke) logiese konsistente, sinteties a-prioriese oordele kan formuleer. Dit is soortgelyk aan geloofskonstrukte (metafisika) wat werk met die aanname dat die waarheid daarvan suiwer ‘van bo’ as openbaring op die mens afkom terwyl die inhoud daarvan deurspek is van aardsheid en menslikheid en sonder laasgenoemde ondenkbaar is. Selfs die ondenkbaarheid en onverstaanbaarheid van die Transendente stem presies ooreen met die werking en bepaalde skemata van die mensklike brein soos ons sal sien.)

Godsdiens is nie bloot  ‘simboliese’, ‘metaforiese’, ‘emosionele’, ‘morele’ waarheid nie maar bevat dit. Godsdiens is menslike waarheid wat gekenmerk word deur die verheffing van die waarheid bo die menslike sfeer. Maar die denkkwyse het uitgebrand (Verligting!) en moet omgedraai word. Dit kan tipeer word as ‘n immanente of horisontale transendensie wat die mens tipeer as ‘n transendenderende wese. Ons brein/bewussyn is transendent gestruktureer. Taal is transendent gestruktureer (metafoor). Ons verstaan van ruimte en tyd is transendent gestruktureer. Ewolusie is transendent gestruktureer (voortdurende nuwe interaksies met ‘n veranderende omgewing). Dit sou na vore kon kom in ‘n sekulêre spiritualiteit as beklemtoning van geïnkarneerde waarheid wat as aardse waarheid die menslike kondisie weerspieël. Dit word gekenmerk deur ‘n kenotiese teologie waar God as aardse vriend ons menslikheid deel. Dit neem menslike fisikaliteit, rede, emosionaliteit ernstig op. Dit neem die openheid, onafheid, transenderende aard daarvan in ag (die rede se bepaaldheid deur emosie, emosioneel konotatiewe geheue, soos bewerk deur die hipothalmus, neo-korteks, amigdala interaksie). Dit is ‘n inklusiewe, organiese epistemologie wat die voorlopigheid van alle wete soos bepaal deur menslike openheid en veranderlikheid verreken. Dit is ‘n vertrekpunt ‘van onder’ (ons biologie), ‘van agter’ (vanuit ons ewolusionêre verlede), ‘van voor’ (ons oop toekoms). Daarom nie geslote nie maar gekenmerk deur die transenderende bewussyn wat altyd beur na die oorskreiding van die bestaande. Is dit nie godsdiens nie?

Share this / Deel hierdie: