1.2.3   ‘n Wetenskaplik gefundeerde lees van die Bybel

Dit is belangrik om hierdie volgende paragrawe met ‘n onbevange gemoed te benader. In talle debatte en gesprekke is hierdie benadering, soms kwaadwillig, soms met goeie bedoelings, afgemaak en geëtiketteer as liberaal en dus verwerplik. Dit word dan voorgestel as sou dit daarop ingestel wees om die geloof te ondergrawe. Dit sou gelowiges verwar en onsekerheid saai. Dit sou die ondergang van die Christelike geloof en kerk óf ten doel hê, óf dit in elk geval bewerk, en so meer. Die wetenskaplike bedryf is egter nie op negatiewe dinge ingestel nie. Die wetenskap soek na die waarheid. En in die soektog na die waarheid in verband met die skrifte wat ons as die Bybel ken, het sekere onweerlegbare feite oor die Bybel en die boeke wat daarin voorkom aan die lig getree. ‘n Wetenskaplike lees van die Bybel maak erns met hierdie feite en benut dit in die verstaansproses wat saamhang met ‘n verantwoordelike lees van die Bybel. Wat in die loop van die ondersoek na die Bybelse geskrifte as feitelikhede aan die lig getree het, kan in die vyf punte wat hieronder aan die orde kom, saamgevat word.

 

1.2.3.1          Die skrifte van die Bybel is menslike literatuur

1)       Die woord literatuur

Dat die boeke waaruit die Bybel bestaan, menslike geskrifte is, word deur verskeie kenmerke daarvan duidelik gemaak. Voor ons daaraan aandag gee moet ons net eers stilstaan by die vraag oor wat met literatuur bedoel word. Die standpunt waarvan hier uitgegaan word, is dat byna alles wat mense skryf literatuur van die een of ander soort is. In hoofsaak kan ‘n mens seker alle geskrewe materiaal onderskei in hoë en lae literatuur. Hoogstaande literatuur kan bestaan uit romans, essays, verhandelings, gedigte, en vir seker nog baie meer soorte. Onder lae literatuur kan alledaagse briewe, e-posse, nota’s, advertensies, en so meer aangedui word. In die Bybel word boeke en onderdele van boeke aangetref wat in kategorieë soos hierdie, en nog baie meer, tuishoort. Wat hier dus met die boeke van die Bybel as literatuur bedoel word, is niks anders as om te beklemtoon dat ons met menslike geskrifte van die een of ander soort te doen het nie. En daarmee sê ons dat hierdie geskrifte ‘n versameling is met ‘n geskiedenis, dat hulle kultuurbepaald is, en dat hulle baie verskillende genres van literatuur verteenwoordig. Ons sê in wese dat hierdie geskrifte van mense uit ‘n vervloë tyd, gelees moet word soos enige ander geskrifte van mense. Dit is wat die ondersoek na hierdie geskrifte oor die eeue heen ons van hulleself laat verstaan het. Ons sal ondertoe hieraan aandag gee, maar moet nou eers nog ‘n weinig stilstaan by die probleme rondom die historiese- en die kultuurbepaaldheid van die afsonderlike geskrifte, asook aan die vraag na die genres wat deur hulle verteenwoordig word.

 

2)       Die historiese bepaaldheid van die Bybelboeke (Deist & Burden 1980)

Geskiedenis speel op twee vlakke ‘n rol in die totstandkoming, en dus ook in die verstaan van die Bybelboeke, te wete die feit dat die boeke die kenmerke dra van die tyd waarin hulle geskryf is, en die feit dat hulle elkeen ook ‘n eie geskiedenis deurloop het. Ek moet hieroor baie kort wees en bepaal my tot enkele voorbeelde uit die Nuwe Testament.

 

Die ontstaansgeskiedenis van die vier evangelies kan hier as voorbeeld dien vir die belang van die historiese tydperk waarin die boeke ontstaan het. Dit is belangrik om te weet dat Markus eerste geskryf is en ontstaan het voor die oorlog van die Romeine teen die Jode en die vernietiging van Jerusalem en die tempel in die jaar 70. So ook die feit dat dit uit die omgewing van Galilea afkomstig was. Die ander drie evangelies dateer uit die tyd na die val van Jerusalem. Uit hierdie feite onder andere kan daar oor die vraag waarom ‘n betrokke evangelie geskryf is, besinning gedoen word. En dit op sy beurt het implikasies vir die verstaan van sekere onderdele van die boek. Hierdie konteks word ‘n waardevolle instrument om te bepaal wat die skrywer met sy teks wou bereik, wat hy daardeur by die lesers wou verander. Ons kom later terug by die betekenis van hierdie feite vir die verstaan van Markus.

 

Maar die boeke het ook ‘n eie geskiedenis deurloop. Agter die evangelie van Markus staan daar ongetwyfeld ‘n hele reeks mondelinge tradisies wat deur hom vir sy eie doeleindes verwerk is. En toe Matteus en Lukas later hulle evangelies geskryf het, het hulle kennelik van Markus as bron gebruik gemaak soos die talle passasies waar hulle albei in vertelling en woordkeuse met Markus ooreenstem, duidelik laat sien. Maar hulle het ook albei van ‘n ander bron gebruik gemaak. Dit kan ons sien in die feit dat hulle op baie plekke van Markus verskil en ander stof as hy aanbied, maar dan op hierdie plekke baie dikwels met mekaar ooreenstem. Dié bron is nog nooit in skriftelike vorm ontdek nie, maar is so duidelik uit die twee evangelies op te maak dat die teks daarvan ook al afsonderlik gepubliseer is. (Dit word die Q-bron genoem.) Dat hierdie eie geskiedenis van die boeke belangrik is vir uitleggers en dus vir die verstaan van die boeke, kan met ‘n verwysing na die gelykenisse verduidelik word.

 

Juis die verskille wat daar in die afsonderlike evangelies in hulle weergawes van die gelykenisse voorkom, lei tot die vraag: hoe het Jesus dit oorspronklik vertel? Watter weergawe is outentiek, indien enige? En dus, hoe moet die gelykenis verstaan word, wat is die boodskap daarvan?

 

Ons sal hierdie tergende probleme vereers maar hier moet laat en ons na die volgende vraagstuk moet haas.

 

3)       Die kultuurgebondenheid van die Bybelse geskrifte

Omdat die Bybelboeke in ‘n bepaalde historiese konteks tot stand gekom het, spreek dit vanself dat die gebruike van die spesifieke tyd, die verwysingsraamwerk, die taalgebruik, die lewensomstandighede, kortom die kultuureie van die betrokke tyd, inderdaad die lewens- en wêreldbeskouing van die tyd, in hierdie so menslike boeke weerspieël sal word, en dat kennis daarvan onontbeerlik is vir ‘n goeie verstaan van die boeke.

 

Een voorbeeld sal hier moet voldoen. Die gebruik in antieke tye om drome en visioene te interpreteer as boodskappe wat afkomstig is uit die ‘ander’ wêreld, hetsy van ‘n afgestorwene of van ‘n godheid, word in die Bybel oor en oor teengekom. En aan sulke ‘boodskappe’ word dan groot betekenis geheg. Kennis van hierdie kultuurelement is vir die verstaan van die geskrif uiteraard hoogs belangrik. En vir begrip oor wat dit aan waarde inhou vir ‘n moderne leser wat in ‘n totaal ander kultuur lewe, is dit uiteraard onontbeerlik. Binne huidige ontwikkelde kultuurgemeenskappe is dit mos reeds algemene kennis dat drome en visioene die weerspieëling is van woelinge in die mens se onbewuste en daaruit opkom. Dit maak natuurlik nie daarom hierdie soort belewenisse onbelangrik nie, maar dis duidelik dat mense wat in hierdie kultuur lewe ‘n heel ander konnotasie daaraan sal heg as wat in Bybelse tye die geval was.

 

4)       Literêre genres in die Bybelboeke

Met literêre genres word bedoel die verskillende soort vorms waarin skrywers hulle werk giet. Van die groter vorms waarmee almal bekend is, is byvoorbeeld die roman, die drama, die gedig, die kortverhaal, die essay, die artikel (hetsy wetenskaplik of populêr), ensovoorts. Die Bybelse literatuur vertoon ‘n groot verskeidenheid van genres. Die verskillende boeke presenteer as bepaalde genres, maar bevat deurlopend as onderdele van die stof wat aangebied word, talryke voorbeelde van ander, soms kleiner, genres.

 

Wat hierdie insig meebring, is dat lesers hulle deeglik moet vergewis van die genre waarin dit wat hulle lees, gegiet is. Waarom dit belangrik is, lê daarin dat elke genre op ‘n eiesoortige wyse opgebou is. Daar is reëls (hetsy gekrewe of ongeskrewe) waarvolgens ‘n bepaalde genre geskep word. Wie ‘n stuk lees, en dus interpreteer, moet weet hoe die genre waarmee gewerk word, inmekaar sit en dit daarvolgens interpreteer anders kan die leser haar- of homself op ‘n heeltemal verkeerde pad bevind. Om dit te verduidelik sal ons hier enkele voorbeelde uit die Bybelse materiaal moet bekyk.

 

‘n Psalm, wat ‘n lied is, ‘n gedig, kan tog nie letterlik as koue feite gelees word nie, want gedigte maak tipies gebruik van beeldende taal, van metafore wat die een of ander insig van die skrywer wil verwoord. Dit word daarnaas gekenmerk deur byvoorbeeld ritmiese taalgebruik, rym in sommige gevalle, en parallelle herhaling in die geval van Bybelse (Hebreeuse) digwerk. Die volgende voorbeeld uit Ps 22:13, eers in die 1933/52-Vertaling waarin die parallelisme duidelik word, en dan uit die 1983-Vertaling wat die betekenis na vore bring, sal help om die saak te verduidelik::-

 

 

Baie stiere het my omsingel,

sterkes van Basan het my omring.

 

Die twee sinsdele maak dieselfde stelling, gebruik in hierdie geval selfs ook dieselfde beeldspraak. Vir ‘n moderne leser van Afrikaans mag die betekenis daarvan egter onduidelik wees, eerstens omdat die 1933-Vertaling die ou woord stier in plaas van bul gebruik het, maar andersins ook omdat die histories belangrike feit dat die landstreek van Basan bekend was vir sy beeste, onbekend mag wees. Die dinamiese vertaling van 1983 maak die betekenis duidelik, maar boet in ‘n mate die parallelisme in:

‘n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,                                                                             soos beeste uit Basan staan hulle my toe.

Uit beide voorbeelde kan ‘n mens ook duidelik die beeldende taal raaksien. Dit is eenvoudig net onmoontlik om dit letterlik op te neem. En op dieselfde manier moet besef word dat elke literêre soort geskrif sy eie reëls het waarvolgens dit opgebou is en gelees moet word.

 

Laat ons na ‘n ander voorbeeld kyk, een uit die Nuwe Testament. Ons bekyk hiervoor Paulus se brief aan Filemon (Roberts 1992:112). Briewe uit die antieke tyd het gewoonlik ‘n redelik vaste vorm vertoon, alhoewel daar variasies in die vormgewing voorkom. Die brief aan Filemon, vertoon die gewone eienskappe van Paulus se briewe. Hy benut steeds die vorm van ‘n antieke brief maar het telkemale die vorm uitgebrei en so sy eie styl gevestig. Dit is duidelik briewe afkomstig uit die Grieks-Romeinse tydperk en moet as sodanig gelees word. Dit vertoon die eienskappe van die menslike literatuursoort brief. Ons sal ondertoe (vgl punt 1.2.3.3 en 1.2.3.4) weer na hierdie saak moet terugkeer en sal daar in groter detail na die vorm van Filemon verwys.

1.2.3.2          Die belang van konteks

Om tussen die historiese en/of retoriese situasie van ‘n geskrif en die onderlinge samehang van die onderdele van ‘n boek te onderskei, word dikwels na eersgenoemde verwys as die konteks van die geskrif en na die tweede as die verband waarin ‘n gedeelte staan. Ek gebruik daarom ook hier dié twee onderskeidings. Met konteks word hier dus verwys na die situasie waarin die boek tot stand gekom het. En dit sluit ook in die vraag na waarom die boek geskryf is. Hierbo is reeds kortliks na die probleem verwys, maar daar moet hier iets meer daaroor gesê word.

 

Sou ‘n mens nie kon sê dat geen geskrif sonder ‘n doel ontstaan nie? Waarom besluit ‘n mens om iets op skrif te stel, ‘n brief, of ‘n verhaal, of ‘n artikel, of ‘n pleitskrif, of ‘n raadgewing, of ‘n beswaarskrif, of wat ookal? Is dit nie in alle gevalle so dat ‘n bepaalde situasie ontwikkel het waaroor die skrywer iets wil sê, ‘n bydrae wil lewer, ‘n verskil wil maak nie?  Ek dink in elk geval so. En nou, om ‘n bepaalde geskrif te verstaan, is dit van wesenlike belang dat die situasie agter die geskrif, die konteks daarvan, begryp moet word. Toegegee, dit is nie altyd maklik nie, want die skrywer sê selde wat die situasie is waarop s/hy besig is om te reageer. ‘n Mens moet dan maar deur te lees en te herlees probeer om die betrokke situasie agter te kom. En as dit ‘n ou geskrif is, soos wat ons in die Bybel teenkom, moet die leeswerk beslis ook soveel navorsing as moontlik wat deur die eeue heen oor die geskrif gedoen is, insluit. Gewoonlik bevat die geskrif self darem ook leidrade wat dui op die situasie waarteen die gemik is, of wat tot die skryf daarvan aanleiding gegee het.

 

Die doel van dit alles is om tot ‘n slotsom te kom oor die konteks waarbinne die geskrif gelees moet word. En hieruit weer moet die leser dan probeer om die doel van die skrywer met sy geskrif te bepaal. Die vraag is: wat wou die skrywer met sy geskrif bereik; wat is dit wat s/hy by die eerste lesers wou probeer verander? Hierdie is ‘n uiters belangrike vraag om te beantwoord sodat die leser op die weg van verstaan gehelp kan word. Maar ‘n waarskuwing is hier vanpas. Geen absolute resultate kan verwag word nie. Soos met alle mensewerk bly die resultaat ook hier gepla deur relatiwiteit. ‘n Leser kan steeds maar haar/sy bes probeer om so na aan die waarheid te kom as wat kan. Aan die einde van die dag moet ‘n mens besef dat bereikte konklusies steeds net kan wees: waarskynlik staan sake so.

 

Miskien sal ‘n voorbeeld ons hier kan help om die belang van ‘n geskrif se konteks duidelik te maak. Neem weer die geval van Paulus se brief aan Filemon. Hier is dit mos belangrik om die brief te lees teen die agtergrond van Paulus se gevangenisskap. So ook die feit dat Onesimus waarskynlik ‘n ontvlugte slaaf van Filemon was, asook dat Filemon deur Paulus tot bekering gelei is soos hy nou ook met Onesimus gedoen het. Verder dui die hoofdeel van die brief daarop dat Paulus hom in verse 8-22 van die genre van ‘n versoekskrif bedien. Dié feit maak deel uit van die konteks omdat dit die doel van die skrywe aan Filemon helder in die lig stel. Nou kan ons Paulus se moeite verstaan om Filemon te oortuig om aan sy versoek te voldoen, naamlik om Onesimus, wanneer Paulus hom terugstuur na Filemon toe, te verwelkom as ‘n broer, ja, asof dit Paulus (hulle albei se geestelike vader en ook hulle broer in Christus) is wat daar by hom opdaag.

 

1.2.3.3          Die totaliteit van ‘n geskrif

Oor hierdie afdeling kan ons kort wees omdat dit saamhang met die volgende punt. Maar dit is baie belangrik en moet afsonderlik vermeld word. Die rede hiervoor lê daarin dat die saak wat ‘n skrywer aan die orde wil stel, gedra word deur die geskrif as geheel en nie deur ‘losstaande’ onderdele nie. Dit bring mee dat, wanneer ‘n leser besig is met ‘n onderdeel van ‘n geskrif, daar steeds en telkemale rekening gehou sal word met alles wat geskryf is. Om dit te kan bemeester, is dit belangrik dat die leser moet verstaan hoe die geskrif saamgestel is, om te begryp hoe die skrywer sy/haar gedagtes agtermekaar gesit het, met ander woorde: wat die struktuur van die geskrif is. En daarmee is ons dan meteen pens en pootjies binne in die volgende afdeling.

 

1.2.3.4          Die struktuur van ‘n geskrif

Wanneer ons van struktuur praat, gaan dit om die vraag hoe die geskrif opgebou is, hoe dit inmekaar sit, hoe die onderdele daarvan met mekaar in samehang verkeer. Ons sal dit nou maar weer met ‘n voorbeeld moet verduidelik en kies weer vir die brief aan Filemon.

 

As brief vertoon Filemon die gewone Pauliniese briefopening en briefslot.

(1)      In die briefopening vind ons vermelding van afsender en ontvangers van die brief, asook ‘n uitgebreide seëngroet (verse 1-3).

(2)      Dit word opgevolg deur ‘n gekombineerde dankseggings- en gebedsgedeelte (4-6).

(3)      Vers 7 vorm ‘n kort oorgang na die hoofdeel van die brief in die vorm van ‘n persoonlike ontboeseming deur Paulus soos meermale in sy briewe voorkom.

(4)      Hierna volg die hoofdeel van die brief (8-22) waaroor hieronder ‘n bietjie meer gesê sal word.

(5)      Die briefslot (23-25) bevat groete en die toesegging van ‘n seën.

 

Die brief vorm dus ‘n hegte eenheid en kan eers in sy volle betekenis duidelik word wanneer die totaliteit daarvan in die lig van sy totale opbou in ag geneem word. Om dit behoorlik te kan verstaan moet daar hier tog nou eers nader ingegaan word op die hoofdeel van die brief wat juis ook sy eie struktuur vertoon. Dit is naamlik geskryf in die vorm van ‘n versoekskrif en vertoon die tipiese elemente van ‘n versoekskrif. (Hier sien ons hoe die punte wat onder hierdie hoofopskrif (1.2.3) afsonderlik behandel word tog ten diepste baie nou op mekaar afgestem is, want ons is mos nou weer besig om aan aspekte van genre aandag te gee!) Die versoekskrif (8-22) bevat die volgende elemente:-

(1)      ‘n Gesagsaanspraak (8-9)

(2)      Die voorkoms van versoekwerkwoorde (9-10)

(3)      Die agtergrond van die versoek (10)

(4)      Die verdienstelikheid van die geval (11-16)

(5)      Die verlangde aksie (17-22).

 

Kyk ons nou na hoe die versoek gestruktureer is, kom dit aan die lig dat die perikoop opgebou is uit vier onderafdelings, soos volg:-

A        Paulus wil ‘n versoek rig (8-9)

B        Die versoek gaan oor Onesimus (10-14)

C        Die nuwe verhouding tussen Paulus en Onesimus en tussen Onesimus en          Filemon (15-16)

D        Die versoek self: Verwelkom Onesimus soos jy my sou verwelkom (17-22).

 

In die lig van hierdie ontledings behoort die leser nou duidelik te kan sien dat die brief met sy versoekskrif ‘n hegte eenheid vorm en baie netjies inmekaar gesit is, asook dat die onderlinge samehang van die hele brief baie heg is en dat ‘n begrip daarvan noodsaaklik is vir ‘n goeie verstaan van die brief, asook dat ‘n mens nie maar lukraak versies uit hulle verband kan aanhaal en dan meen om ‘n sinvolle betekenis daaraan te kan heg nie. Die onderdele moet in samehang met die geheel gelees word. En dit bring ons nou by die volgende afdeling.

 

1.2.3.5          Die verband waarin ‘n onderdeel staan

Heel dikwels hoor ‘n mens dat ‘n spreker na ‘n toespraak van haar/hom oor ‘n aanhaling daaruit in die pers, protesteer dat s/hy uit verband aangehaal is. Wanneer dit gebeur, word daar ‘n verkeerde konnotasie geheg aan die spreker se bedoeling. Dieselfde gebeur indien ‘n Skrifgedeelte uit sy verband aangehaal en bespreek word. Die waarheid word dan nie gedien nie. Neem die volgende voorbeeld, afkomstig uit Dt 22:8. Dit is deel van die wetgewing in dié boek wat huishoudelike sake reël:

 

Wanneer jy ’n nuwe huis bou, moet jy ’n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.

 

Die teks is op sigself heeltemaal duidelik. Dit beoog die voorkoming van lewensverlies en gepaardgaande moeilikhede in ‘n tyd en plek toe huise met plat dakke gebou is om byvoorbeeld as rusplek in die koel aandlug te dien. ‘n Prediker preek oor hierdie teks en sê hoe belangrik dit is om so ‘n omheining soos die reling van die platdak, ‘n beskermingsmuur, in alle lewensituasies op te rig. En toe gaan hy voort om te preek oor die oprig van mure. Hy sê die mense moet mure oprig om die volkslewe; mure om die sosiale lewe; en mure om die huwelikslewe. So het dit ‘n preek geword wat die destydse apartheidstrukture gedien het. Hoe spitsvondig dit ookal klink – hier is die teks uit verband geruk en onaanneemlike gebruik daarvan gemaak!

 

In die lig van die voorafgaande onderdele moet dit tog duidelik wees dat al die faktore wat die geskrif so gemaak het soos dit is by die lees daarvan in ag geneem moet word, en ja, dat ook elke onderdeel gelees moet word om te verstaan watter bydrae dit maak tot die totale geskrif en die oogmerk wat daardeur bereik wou word. Die onderdeel moet gelees word in die lig van die geheel. So word dit binne verband gelees en word verdraaiing uitgeskakel.

1.3      Die spreke van God

Tot dusver het ons aandag gegee aan twee van die drie probleemareas wat ek beloof het om te bespreek. Die eerste was die vraagstuk van wetenskap en geloof. Die tweede was oor die soort boeke wat die Bybel uitmaak. Hier het ons gekyk na drie verskillende wyses waarop kerkmense na die skrifte kyk, tw ‘n fundamentalistiese; ‘n verligte; en ‘n wetenskaplike kyk op die Bybel. Nou moet ons in die lig van hierdie laaste gesigspunt die vraag vra: As die boeke van die Bybel dan so uit en uit menslike geskrifte is, waar hoor ‘n gelowige die spreke van God? Of moet ons sê: God swyg; sy stem word nie gehoor nie?

 

Ons het hier met ‘n eienaardige situasie te doen. Want oor die eeue heen het die kerk, en voor dit ou Israel, bely dat die stem van God juis in van hierdie so menslike geskrifte gehoor word. Hoe moet ons dit verstaan? Hoe is dit moontlik dat God se spreke in hierdie feilbare en gebrekkige mensewerk gehoor kan word? Die antwoord hierop lê presies in wat nou net gesê is, naamlik dat dit deur gelowiges oor die eeue heen bely is. En hierdie belydenis is, in alle swakheid en onbewysbaarheid, geleë in die feit dat gelowiges dit so ervaar het, dit beleef het. Dit is daarom iets wat eenvoudig geglo word. Dit is ‘n oortuiging wat gegroei het uit, nie net persoonlike ervaring nie, maar uit die ervaring van geslagte en geslagte van gelowiges wat dit ook so bely het. Hieroor kan ons ons laat beleer deur die brief aan die Efesiërs, hoofstuk 1:13. Die skrywer doen hier en in die hele brief groot moeite om aan sy lesers duidelik te maak dat hulle saam met alle gelowiges deel uitmaak van God se mense, sy volk, die liggaam van Christus. En hoe het dit tot stand gekom? Die heilsboodskap is aan hulle verkondig deur ander wat dit voor hulle al ervaar het en wat die verkondiging as die waarheid beleef het. En dan sê hy: Toe die goeie nuus aan julle verkondig is, en toe julle dit as God se waarheid vir julle beleef het, toe julle dit geglo het, toe julle julle vertroue daarop gestel het, toe het dit met julle gebeur, toe het julle God se stem gehoor, en toe het julle God se heil deelagtig geword.

 

Dit is hoe die skrifte ons leer dat God werk. Deur die verkondiging van mense en deur die boeke wat hulle geskryf het, word die wonder ‘n werklikheid dat sy stem gehoor word. En hieroor kan skeptici dan maar kla dat dit onbewysbaar is. En dit is ook so. En tog gebeur dit keer op keer, en eeu na eeu, van geslag tot geslag.

 

Voordat ons hiervan afstap, nog hierdie opmerking. Die leser moet  opmerk dat ek ‘n sterk onderskeid maak tussen die manier waarop ek meen dat ons wetenskaplik met die Bybel moet omgaan, en die belewenis van aangespreek te wees deur die skrifte op so ‘n manier dat ons kan bely: Ons het in hierdie woorde van mense God se stem gehoor. Dit is belangrik om dit goed te verstaan. Die wetenskaplike manier om met die Bybel om te gaan is vir my ononderhandelbaar – nie net vir Bybelwetenskaplikes nie, maar ook vir ander teoloë, en ook vir gewone gelowiges. Al het laasgenoemde nie die opleiding om die skrifte self op hierdie manier na te vors nie, moet hulle van die ontwikkelings op hierdie terrein op die hoogte wees, en hulle by werk wat wetenskaplik gefundeer is, aansluit in hulle studie van die Bybel. Dit is verantwoordelike Bybelstudie. Ongelukkig gebeur dit selde, omdat lidmate van die kerk juis nie oor verantwoordelike lees van die Bybel ingelig word nie, en die populêre geestelike boekbedryf oorspoel word met oppervlakkige werke, dikwels juis uit fundamentalistiese kringe afkomstig, en soms selfs met skynwetenskaplike aansprake. Lidmate wat die lewe denkend benader, behoort die moeite te doen om te kan onderskei watter leesstof werklik die toets van wetenskaplik gefundeerde navorsing kan deurstaan.

Maar wanneer dit alles gesê is, bly dit van kardinale belang om steeds te weet dat dit wat ons in die skrifte lees, ook wanneer ons ons daardeur aangespreek voel, wanneer ons ervaar dat ons in dié woorde God met ons hoor praat, dat ons dan nog steeds besig is met hoe mense van ‘n lang verlede oor God en sy spreke gedink en getuig het. Van hierdie relatiwiteit kom ons nooit los nie. Hiervan word ons nooit bevry nie. En daarom kan ons nooit méér sê nie as dat ons dink, dat ons ervaar: Hier is God met my besig; hier hoor ek sy stem deur die stem van ander mense uit ‘n ver verlede. Wat ons het, is ‘n boodskap wat verkondig word en waarin ons ons gedring voel om te glo, waarop ons ons vertroue stel, en waarin ons heil beleef.

 

Bronnelys:

  • ·         Deist, F E & Burden, J J 1980. ‘n ABC van Bybeluitleg. Pretoria: Van Schaik.
  • ·         Deist F (E) 1994. Ervaring, rede en metode in Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840-1990. Pretoria: RGN.
  • ·         Roberts, J H 1992. Die brief aan Filemon (in die reeks Kommentaar op die Nuwe Testament: Struktuur, Uitleg, Boodskap). Kaapstad: Lux Verbi.
Share this / Deel hierdie: