2          ‘n Skrifbeskouing

 

Hoe ons die skrifte sien, hoe ons dit verstaan, moet in die lig van al die voorafgaande opgemaak word. Hier sal ek nie verder ingaan op die negatiewe en ook weer saamvat hoe ons die skrifte nie moet benader nie. Ek sal probeer om positief te formuleer hoe ek dink dat ons die Bybel moet sien, wat ons moet verstaan dat dit is en hoe ons dit moet benader. Dit sal in ‘n paar punte saamgevat kan word.

 

1)       Die Bybel is ‘n versameling van baie boeke wat oor baie eeue heen deur baie mense geskryf en dikwels redaksioneel verwerk is.

2)       Die versameling, ‘n biblioteek in werklikheid, bestaan byna uitsluitlik uit godsdienstige literatuur wat in ‘n verskeidenheid van genres die verskillende opstellers se sienings weergee oor die lewensituasie waarin hulle en hulle lesers verkeer. Dit bevat ook die antwoorde op die bepaalde lewensituasies en wat, volgens hulle eie besondere sienings, verstaan moet word as God se woord vir elkeen se spesifieke situasie.

3)       Omdat die boeke van die biblioteek Bybel almal sonder uitsondering die sieninge en antwoorde van mense is, moet hierdie boeke gelees word soos enige ander antieke boek en met behulp van die beste wetenskaplike metodes ontleed en interpreteer word.

4)       Binne die kring van gelowiges, onder kerkmense dus, bestaan die behoefte om in die skrifte wat aldus ontleed en geïnterpreteer is, hierdie woorde van mense as Woord van God vir húlle te hoor. Ons argument hierbo was dat dit net gebeur wanneer die leser/hoorder eksistensieel deur ‘n verkondigde woord aangespreek word, dit beleef word, ervaar word as ‘n woord, as iets wat God vir haar/hom wil sê. Maar dan bly die vraag nog: waarom dit juis in hierdie boeke van die Bybel hoor? Die antwoord hierop is nie hierbo bespreek nie omdat dit ons heeltemal te ver sou neem, omdat dit ‘n tema is wat eintlik maar op sigself bespreek sou moes word: Dit gaan hier naamlik om die hele vraagstuk van die Bybel as kanon van die kerk. In kort hieroor net enkele punte. Daarna sal ek terugkeer na die probleem en my eie antwoord, wat darem ook die antwoord van baie ander is, probeer deurgee.

 

In die kerke wat na die reformasie tot stand gekom het, leef ons met die Bybel van ses-en-sestig boeke wat langs ‘n bepaalde weg deur die kerke besluit is dat dit die boeke is waaruit ons lewe. Ander kerke het meer boeke in hulle Bybels as wat ons het. Dit is die kanon wat hulle besluit het die boeke is waaraan hulle gesag toeskryf. In die eerste eeue van die Christendom was daar geen vastigheid oor wat as kanon gegeld het nie. Sekere groepe het ook ander boeke aangehang wat later min of meer van die toneel verdwyn het. Vir eeue was daar stryd oor die vraag of Hebreërs by die lys gevoeg moet word. Dieselfde het die boek Openbaring gegeld. Sonder om dieper in te gaan op hierdie en ander probleme rondom die vraag oor watter boeke tot die Bybel behoort, behoort dit tog vir elke denkende Christen duidelik te wees dat die hele geskiedenis van kanonvorming implikasies het vir wat as Woord van God beleef kan word. Vandag vergeet ons van hierdie moeilike geskiedenis en praat dan so maklik van die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Maar genoeg hieroor.

 

En nou dan weer die vraag: Waarom probeer ons juis die Woord van God hoor uit hierdie besondere groep boeke wat ons as die Bybel ken? Op hierdie vraag ken ek slegs een antwoord: omdat dit ons tradisie is. As lede van die NG kerk, met wie ek tog in die eerste plek hier praat, staan ons in die erfenis van die protestantse tradisie wat na oorweging – en nie sonder om daarmee self ernstige probleme te veroorsaak en te negeer nie, maar waarop ons hier nie verder kan ingaan nie – op hierdie lys van boeke besluit het as die boeke waaruit ons wil leef en waarop ons ons geloof wil bou. Dit beteken egter nie dat die boeke wat vir ander Christene belangrik is of was, nie waarde het nie en nie bestudeer behoort te word nie. Ook daardie boeke lewer elkeen ‘n unieke bydrae tot ‘n beter begrip van waaroor dit in die geloof gaan en wat die volk van God oor die eeue heen daaroor gedink en van oortuig geraak het. Die houding om ander Christene wat ander oortuigngs huldig, as vyande te beskou, moet ons nie langer met skandaligheid omhul nie.

3          ‘n Verantwoordelike Skrifgebruik

Hierdie paar paragrawe kan nie meer wees as ‘n soort samevatting van wat hierbo aangebied is nie. ‘n Resep kan en wil ek nie gee nie. Eerstens, so iets kan nie werk nie, en tweedens is dit ook nie eers haalbaar nie. As iemand verstaan het wat ek hierbo probeer aanbied het, is die pad oop na vrugbare Bybellees. ‘n Mens moet jou daarin oefen en so gekonfyt raak.

 

Maar laat my net weer enkele dinge opnoem wat nie kan nie.

1)       ‘n Mens kan nie maar sommer die Bybel op enige plek oopslaan en dink dat jy uit ‘n los en vas lesery sinvol met die teks kan omgaan en so God se Woord hoor nie. Ek weet talle Christene beweer dat hulle so leiding van die Gees ontvang het. Wie kan sê? Miskien gebeur dit soms. Maar dit is na my mening nie ‘n verantwoordelike omgang met die Skrif nie. ‘n Verantwoordelike omgang met die Skrif vereis studie en nogmaals studie. Dit vereis harde werk en die bereidheid om na te vors en te luister na wat die teks te sê het.

2)       Die uitgangspunt wat baie huldig dat die Bybel direkte openbaring, of selfs indirekte openbaring van God is, is nie houdbaar nie. Ek dink die Bybel self leer ons dat God nie so werk nie. Ons sien dit in die baie teenstrydighede in die Bybel wat dit onmoontlik maak want dan sou God Hom nou so, en dan weer anders geopenbaar het. Dit gaan nie op om die voluit menslike karakter van die skrifte te negeer nie.

3)       Die neiging by baie om die oneffenhede in die Bybelse oorlewering weg te verklaar en teenstrydighede te probeer harmoniseer, soms deur gebruik te maak van uiters bedenklike praktyke soos die gebruik van allegoriese verklarings, faal uiteindelik en kan die toets van nugtere wetenskaplike ondersoekmetodes nie slaag nie.

 

Eerder as om hierdie – en daar is sekerlik nog ander wat genoem kan word – kortpaaie na die hoor van God se Woord te volg, moet daarop gekonsentreer word om werklik verantwoordelik om te gaan met die Skrif. Die luister na ‘n woord van God is per slot van sake ‘n ernstige aangeleentheid wat groot verantwoordelikheid van die leser vra. Daarom ten slotte die vraag: Hoe moet daar na die Skrif geluister word? In die lig van die bogaande kan ek slegs twee punte noem:-

1)       Daar moet volledig erns gemaak word met die menslike karakter van die skrifte. Anders as om maar net weer alles te herhaal wat hierbo gesê is, volstaan ek met ‘n voorbeeld. Hiervoor word weer die Evangelie volgens die beskrywing van Markus gekies (Roberts e a 1991:32-61). Daar is hierbo reeds gewys op die datum en herkoms van die boek (vgl 1.2.3.1, afd 2). Maar Markus is ook om ander redes ‘n interessante boek. Let daarop dat die evangelie eindig by hoofstuk 16:8 (vgl die voetnoot by vers 8). Hierdie is ‘n baie belangrike waarneming wat saamgelees moet word met Mk 8:38 en 9:1. Uit hoofstuk 16:1-8 blyk dit dat die vroue wat die graf van Jesus besoek het, die opdrag ontvang het om die berig van die opstanding aan die dissipels te gaan oordra. Hulle het egter bevrees en verward weggehol, sê Markus, en vir niemand iets gesê nie. En daar eindig die evangelie in volstrekte negatiwiteit. (Let daarop dat die 1983-Vertaling hierdie feit probeer verdoesel deur te sê dat hulle vir niemand anders iets van die gebeure gaan vertel het nie – so asof hulle dit darem tog vir die dissipels vertel het. Maar die woordjie anders staan nie in die Griekse teks nie, ook nie by implikasie nie. Hulle het doodgewoon geswyg oor wat gebeur het, sê Markus.) Daar is ‘n rede waarom die evangelie so eindig soos dit doen. Onthou dat Markus se gemeente in Galilea in die pad van die komende Romeinse opmars na Jerusalem staan. Hier is ‘n klein groepie Christene wat in vrees en bewing leef voor die aanslag wat kom. En presies hierom skryf Markus hierdie eerste evangelie, naamlik om sy mensies te bemoedig. Dit is die konteks van die boek. Daarom het hy in hoofstuk 8:37-9:1 die episode vertel van Jesus se waarskuwing oor diegene wat hulle vir Hom skaam en dat Hy Hom ook vir hulle sal skaam wanneer Hy in heerlikheid sal terugkeer saam met die engele. Maar ook: dit, hierdie terugkeer, sal nog gebeur in daardie selfde geslag, dit is, terwyl sommige wat toe na Hom geluister het, nog leef. Markus wil hiermee sy gemeente bemoedig deur te sê: Julle moet nie bevrees wees nie; Jesus kom; Hy sal julle van die Romeine kom verlos; moet nie soos die vroue by die graf bevrees wees en stil bly oor die blye tyding van oorwinning nie. Julle moet soos ek, Markus, wees wat hier aan julle die blye tyding deur my evangelie verkondig – en so moet julle ook uitgaan en die goeie nuus gaan verkondig. Wat hier gebeur is duidelik. Markus ken die oorgelewerde tradisies. Hy kies sy materiaal vir sy boek daaruit en pas dit aan om sy doel te dien. Hier is ‘n menslike skrywer met selfstandige kreatiwiteit aan die werk, want sy boek moet bemoedig, moet geloofsgenote help om enduit vol te hou en nie skaamtelik hulle Heer te verloën nie. Wanneer ons die boek so lees is dit opvallend hoe episode na episode aangewend word om juis die skrywer se doel te dien. En wanneer dit raakgesien word, begin die boek werklik vir lesers oor die eeue heen lewendig word en kan daaruit ‘n boodskap vir die eie tyd gevind word.

 

2)       Dit laat ons nou met die tweede aanduiding oor die vraag hoe daar na die Skrif geluister moet word. Dit lê na my mening in ‘n biddende en afhanklike verwagting dat die gelese woorde van ‘n menslike skrywer vir my ‘n woord van God mag word. Wanneer ek lees, of wanneer ek onder die verkondigde woord verkeer, moet ek, aangegryp deur die evangelie, deur die goeie boodskap, eksistensieel geraak en vernuwe word. Dan pas het ek God se woord vir my gehoor.

 

Om mee af te sluit ‘n laaste saak. Ek hoor iemand sê: Maar ek luister ook biddend en afhanklik na die skrifte sonder om die moeitevolle weg van ‘n sogenaamde wetenskaplike benadering te volg; en ek ervaar ook oomblikke van eksistensiële belewenis waarin ek voel dat ek God se woord vir my gehoor het; hoe kan dit dan verkeerd wees? Toegegee, sulke oomblikke is moontlik en gebeur sekerlik ook dikwels. Die vraag wat hierdie voordrag aan diesulkes vra is eenvoudig: Is dit ‘n verantwoordelike omgang met die Skrif om nie elke moontlike weg wat tot die waarheid lei ondersoekend te bereis nie? In hulle boek ABC van Bybeluitleg (vgl voetnoot 3) vra Deist en Burden die vraag of alle paaie nie tog na Rome lei nie. Die antwoord is nee, maar verskeie metodes kan wel soms saam gebruik word. Dieselfde geld elemente van die benaderings wat hierbo bespreek is. En tog, die manier waarop kerkmense die Bybel dikwels gebruik, lei tot aannames wat onaanvaarbaar is. Dit geld veral die praktyk om die Bybel sommer maar lukraak te lees sonder om met die boek waaruit ‘n gedeelte gelees en/of gebruik word, as geheel rekening te hou. Die resultate van sulke praktyke is nie goed toetsbaar nie. Daarteenoor kan die resultate van ‘n wetenskaplike benadering – watter spesifieke metode ook al benut word – deur substansiëring, beredenering en motivering getoets en aanvaar of verwerp word. Ondersoek van die skrifte langs hierdie weg kan as verantwoordelike Skrifgebruik getipeer word. Dit is die weg om te gaan. Want dit is pas na so ‘n deeglike en verantwoordbare omgang met die Skrif dat daar ook met verwagting uitgesien kan word na ‘n woord wat vir hierdie tyd en hierdie luisteraar betekenis kan kry as ‘n woord waarvan vertrou mag word dat dit ‘n woord van God sou kon wees.

 

Bron:

Roberts, J H, Vorster, W S, Vorster, J N & Van der Watt, J G 1991. Teologie in konteks, 32-61. Halfway House: Orion.

Share this / Deel hierdie: