Troos, troos my volk, sê julle God (Jes 40:1 – Ou Vertaling).

Vanjaar word Darwin en sy ewolusieteorie gedenk. Hy is twee honderd jaar gelede gebore en in 1859 het sy beroemde On the Origin of Species verskyn. Dit is ‘n moeilike werk en verg groot kundigheid en insig om te verstaan en krities te beoordeel. Oor die algemeen is teoloë nie eintlik toegerus om met gesag hieroor te praat nie en daarom moet ons eerder kyk hoe die skeppingsteologie in die Ou Testament gebruik is om mense te troos.
Pragtig word dit in Jesaja 40 gesien. In verse 12-26 praat Deutero-Jesaja of die profeet van die ballingskap (waarvan ‘n mens in Jes 40-55 lees) oor die grootsheid van God as skepper. Dié verse word egter aan albei kante deur twee gedeeltes, verse 1-11 en 27-31, omring wat aan die skeppingsverse (vss 12-26) ‘n besondere betekenis gee.
Verse 1-11 en 27-31 vertel van God se enorme erbarming en die skeppingsverse (vss 12-26) beklemtoon dat die almagtige Skeppergod sy deernis en sy beloftes in die lewens van die ballinge waar kán maak. Om dit te verduidelik, begin ons vandag met die trooswoorde aan die begin van die hoofstuk.
Jesaja 40 maak die wêreld van die Babiloniese ballingskap (597-538 vC) vir ons oop. Israel sit al sestig of wat jaar daar en hulle hoop op terugkeer het begin kwyn. Dan gebeur die merkwaardige: Deutero-Jesaja het die einde van die ballingskap aangekondig en die woorde, ‘Troos, troos …’, was ‘n uitstekende begin.
In al die klaagsange oor die val van Jerusalem word die gebrek aan troos spesifiek vermeld. Klaagliedere begin sommer met Jerusalem wat ‘geen trooster onder al haar liefhebbers (het) nie’ (Klg 1:2 – OV). Op ‘n stadium ‘praat’ Jerusalem self ook en sê dat sy ween ‘want ver van my is die trooster wat my (moet) verkwik’ (Klg 1:16 – OV). Jeremia weer het gehoop op die dag dat God Jerusalem ‘se rou in vreugde (sal) verander en (sal) troos’ (Jer 31:13).
Deutero-Jesaja se woorde aan die begin van die hoofstuk is daarom so aangrypend. God se troostyd het aangebreek. En ‘troos’ beteken veel meer as net ‘n vae medelye of simpatie van God. Dit beteken eerder dat God nabygekom, hulle teen Hom vasgedruk het en hulle getroos het soos wat ‘n pa sy kind troos.
Terwyl Israel oënskynlik in Babilonië weggekwyn het, het God weer aan sy verbondswoorde van lank gelede gedink en gesê: ‘Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne’ (Jes 43:1).

 

Gebed: Here, die lewe is soms so hard en ongenaakbaar en daarom bid ons dat U troos ons sal omvou en dat ons weer gelukkig sal wees.

Share this / Deel hierdie: