Om die outentieke geloofservaringe van Israel te verstaan en ons eie te maak, is Hebreeus onontbeerlik. Deur die verinnerliking van die Hebreeus hoor ons iets van die stemme uit Israel se ou verlede en begryp ons iets van hulle geloof en lof en klag (vgl De Lubac 1998: Ressourcement).

En daar is nie kortpaadjies nie. Soms word gemeen dat ‘n goeie rekenaarpakket genoeg is om vinnig ‘n Hebreeuse woord se verklaring en betekenis vas te stel. Jy hoef net op ‘n woord te kliek en dan het jy alles. Dit is ‘n taak wat enige een met ‘n bietjie of geen Hebreeuse kennis kan uitvoer en dan word daar soms nog gesê dat hy/sy die ware betekenis van ‘n teks vasgevat het. Sulke rekenaarprogramme is uitstekend en dit help ‘n mens op verskillende maniere, maar dit is nog nie ‘n konfrontasie met die Hebreeuse teks en die herbelewenis van Israel se geloof nie.

Dit is ook nie eksegese nie. Eksegese gaan veel verder as woordverklarings want deur middel van die Hebreeuse teks word groot leefwêrelde oopgemaak en teologiese sinsamehange verwoord; word tekste in hulle kontekste verstaan en kry tekswoorde hulle plek binne die groter geheel (vgl Jonker 2011:5-20). En die feit dat Hebreeus en die Hebreeuse teks onafskeidelik van die westerse teologie geword het, kom ‘n lang pad en kan nie sommer vandag deur die tegniek en ander omweë verdring word nie. 

 

Hebreeus kom ‘n lang pad

Êrens in 385 het Hieronymus (331-420) in Betlehem aangekom. Dit was ‘n lang pad van Rome deur Egipte tot Jerusalem en uiteindelik tot by Betlehem. Baie naby aan die geboortekerk in Betlehem waar Jesus volgens tradisie gebore is, het hy toe ‘n klooster gebou. Destyds was dit iets groots, die vervulling van die hoogste geloofsideale, om ‘n klooster digby die oorspronge van die Christelike geloof te bou. Vir Hieronymus was die klooster by die plek van Jesus se geboorte van besondere geestelike waarde en hy sou die res van sy lewe daar bly (Reventlow 1994:42).

Wat het hy in dié ver plek kom doen? In 382 het die pous, Damasus I, hom gevra om ‘n nuwe Latynse vertaling van die Bybel te maak. Op daardie stadium was daar talle Latynse vertalings wat oral gebruik was, maar wat nie altyd goed vertaal is nie en wat van mekaar verskil het. Al hierdie vertalings was op die Septuagint of die Griekse vertaling van die destydse Hebreeuse teks gegrond en Hieronymus moes die verskillende uiteenlopende Latynse vertalings bymekaarbring en hersien (Schulz-Flügel 1996:642-662).  

In Betlehem maak Hieronymus toe ‘n belangrike ontdekking: hy kon nie sonder die Hebreeuse Bybel die Ou Testament vertaal nie. Nie die Griekse Septuagint nie, maar die Hebreeuse ‘oerteks’ moes die basis vir sy vertaling van die nuwe Latynse Bybel wees. Dit was nie so makik nie want sy Hebreeus was nie goed en daarom het hy ‘n Jood genaamd Baraninas gekry om hom te leer. Baraninas het Hieronymus net in die aande geleer want hy was bang die ander Jode sou hom sien en leed aandoen (Kieffer 1996:663-681).

Hieronymus se Latynse vertaling vanuit die Hebreeus was ‘n totale nuwigheid in die vierdie eeu, maar nie almal het dit waardeer nie. Selfs Augustinus het geprotesteer. Augustinus het gemeen die Griekse Septuagint moes die Bybel vir die Latynse of westerse gelowiges wees. ‘n Nuwe Latynse vertaling op grond van die Hebreeus was dus onnodig en sou net onenigheid veroorsaak. En verder het Hieronymus op sy eentjie daar in Betlehem gesit en vertaal terwyl die Septuagint darem volgens oorlewering deur sewentig mense vertaal is en daarom meer betroubaar was (Kieffer 1996:663-681).

Vir Hieronymus was Hebreeus egter onontbeerlik en hy sou ook altyd die waarde en noodsaak van die Hebreeuse ‘oerteks’ of die ‘Hebraica veritas’ of die ‘Hebreeuse waarheid’ beklemtoon. Hoe dit ook al sy, Hieronymus se werk het die enorme waarde van die Hebreeuse teks vir die westerse kerk en teologie beklemtoon. Na Hieronymus sou kerk en teologie in die weste nooit weer sonder die Hebreeuse taal en teks kon werk nie. Eksegese sonder kennis van Hebreeus was ‘n onmoontlikheid en sonder die Hebreeuse teks was goeie teologie nie moontlik nie.

Daar is egter iets wat ons ook moet verstaan: taal het ook grense.

 

Taal sê nie alles nie

Alhoewel Hebreeus en die Hebreeuse teks die kerk en teologie se voedingsaar is, het dit ook perke. Augustinus het dit al aangevoel. Hy was ‘n nederige eksegeet want hy het ‘n diepe besef van die eindigheid van menslike kennis gehad. Dikwels sou hy sê dat ander hom maar kon reg help as sy verstaan van die Ou Testament se woorde of verse verkeerd was (Augustinus De Trin 2.9,16). En die grond vir hierdie nederigheid was sy onvermoë om die Triniteit te ken en te verwoord. Augustinus se onvermoë om oor God te praat, het ook sy eksegese beïnvloed. Hy kon die psalms se diepte nooit volledig uitdelf nie, nooit die boodskap volledig ontgin nie, nooit die teologie in klare terme en vir ewig verwoord nie want hy kon God nooit helder in sy visier kry nie. Dit is eers in die worsteling om God te verstaan dat ‘n mens ook sy onvermoë om ‘n teks uit te lê, ontdek. Anders gestel: as ‘n mens God nie eers volledig kan beskryf nie, hoe kan jy sy woorde die psalms of die profete begryp? (vgl Grondin 2001:50-59).

Boonop is woorde nooit vas nie (Augustinus De doctr chr II.3,6-7). Die oomblik wanneer ons iets gesê het, is dit weg. Volgens Augustinus kan ons wel probeer om dit vas te vat deur dit neer te skryf. Skryf is ‘n manier om woorde vas te hou, dit te verewig (Drobner 1994: 355-357). Ongelukkig verloor ons dit altyd weer en is woorde (ook die Hebreeuse woorde) eerder ‘n teken van iets wat weg is, ‘n teken van iets wat was.

En daarom moet ons nooit meen dat taalstudie die finale betekenis van woord vaslê nie.

 

Taal pas nie in ‘n borstrok nie

Matthias Flacius Illyricus (1520-1575) wou hierdie probleem van verlies omseil deur tog die waarde van Hebreeuse taalstudie te beklemtoon. Volgens Flacius was Skrifverstaan nooit maklik nie. Geen woord van die profeet of die psalmskrywer was ooit só oop en toegangklik dat ons dit alles maklik kan verstaan nie. Die ‘claritas’, die duidelikheid van die Ou Testament moes bewys word; moes deur die eksegese gedemonstreer word. En dit kón gebeur! ‘n Mens moes net die regte ‘clavis’, die regte eksegetiese sleutel hê. En as jy dít het, kán jy die Bybel se geheimenisse ontsluit. Alles geskied dan amper op ‘n logiese manier: pas die regte stappe toe, dan verstaan jy en word die boodskap van die Skrif as ‘t ware gedemonstreer (Gadamer 1999b:276-291).

Vir hom was die enigste sleutel wat die teks kon oopsluit, die taal. Die Ou Testament is ‘n literêre produk, die teks is in ‘n bepaalde taal gegiet en moes daarom as ‘n taaluiting hanteer word. Taal (Hebreeus) was die medium waardeur God met ons gekommunikeer het en ook die enigste sleutel om dié boodskap te ontsluit. Taal is die bril waardeur ons die teks sien en dit verstaan. Hebreeus is die poort waardeur ons as ‘t ware na binne kan kyk, kan kyk wat binne-in die teks gebeur (Graf Reventlow 2001:11-20). En as daar iets in die teks was wat ons nie verstaan nie, was dit vanweë ons swak taalkennis, ons onkunde in verband met die Hebreeuse grammatika, ons onvermoë om die Bybelse tale as ‘n sleutel te gebruik (Oftestad 2008:602-603).

Hierdie klem op die Hebreeus is mooi, maar hy het nie met taal se gebreke rekening gehou nie. Hebreeus moet ons ken en leef, maar dié taal het ook sy grense en dit moet ons ook besef. Hebreeus kan egter wel nog as ‘clavis’, sleutel gebruik word, maar nie om vaste uitsprake te maak nie, maar om die groot wêreld van die teks te ontsluit. Die groot leefwêreld waarin die teks ontstaan en gegroei het en deur mense oor en oor geherintepreteer is (vgl Jonker 2011:5-20).

En Schleiermacher se hermeneutiek het ons gehelp om iets agter die teks te ontdek. Sy denke was ‘n enorme impuls om na hierdie groter wêreld te soek. ‘n Wêreld wat die Hebreeuse teks vir ons kon oopmaak.

 

Daar is iets meer as woorde

Schleiermacher het die klem op die teks, op objektiewe taalstudie na die skrywer en die skryfproses verskuif. Eksegese en teksverstaan moes verder as die grammatika en woordgebruik strek: dit moes die eksegeet by die skrywer en die skryfproses uitbring. Om ‘n teks te verstaan, moet ons die skrywer probeer begryp. Ons moet verstaaan hoe hy gedink het en wat hy wou sê en hoe hy sy gedagtes verwoord het. Vir Schleiermacher het dit om die individualiteit van die skrywer gegaan; om sy geloofservaringe wat in die teks verwoord is en wat ons ook moet ervaar; ons moet ons dus in die konteks van die skrywer verplaas en die hele skryfproses saam met hom deurmaak; ons moet ons so in die leefwêreld van die skrywer kan inleef dat ons as ‘t ware saam met hom begin skryf en die skryfproses saam met hom deurloop. Eksegese het dus met ons vermoë te doen om ons in die oorspronklike konteks van die skrywer te verplaas, sy denke te verstaan en in die gees die skryfproses saam met hom te herleef. Om dit nog ‘n keer te sê: ons moet iets van die oorspronklike bruisende gedagtes van die skrywer ervaar en as ‘t ware saam met hom die skryfproses begin en tot die einde toe ‘saamskryf’ (Gadamer 1990:189-190).

Schleiermacher het in die Piëtisme, meer bepaald die Hernhutterse tradisie groot geword en dit het sy hermeneutiek gevorm en geslyp. In die Piëtisme is die persoonlike element beklemtoon. Die Bybel moes persoonlik tot jou spreek en die enkeling moes die geloof op ‘n intense manier verinnerlik. Hierdie siening het ook in Schleiermacher se hermeneutiek weerklank gevind: in die teks gaan dit om die individuele mens se lewende geloof wat ons moet probeer begryp deur ons in die skryfproses in te leef. En wanneer dit gebeur, word ons deel van die saak wat die oorspronklike skrywer geboei het en waarby ons ook betrek word. Deur hierdie inlewing kry outeur en leser of eksegeet deel aan mekaar en wanneer dit gebeur, verstaan ons ‘n teks (Gadamer 1990:191-198).

In die geskiedenis van die hermeneutiek staan Schleiermacher uit. Hy het iets raakgesien wat andere eers later besef het.

 

Die impak op die Ou-Testamentiese wetenskap

Schleiermacher se poging om verby blote grammatika te kyk en ‘n groter wêreld raak te sien, het ook in die Ou-Testamentiese wetenskap sy neerslag gevind. Dit het egter ook groot probleme meegebring want bestaande beskouinge oor Israel se geskiedenis is omvergewerp en vir sommige was dit nogal traumaties. De Wette byvoorbeeld het dit as ‘n skok beleef en het troos gevind deur na Schleiermacher se preke te gaan luister (Rogerson 1992:). Niemand kon hierdie geestesbeweging egter meer keer nie en al was daar kritiek het dit soos nooit vantevore nie die wêreld van Israel oopgemaak en die rykheid van sy geloof en teologie ontbloot.

Wellhausen byvoorbeeld is baie afgemaak sonder dat mense hom werklik probeer verstaan het. En tog het hy iets ontdek en iets oopgemaak wat tot ‘n dieper en ryker verstaan van die Ou Testament gelei het. Gunkel het ons geleer dat ons tog iets van Israel se wêreld kan verstaan deur geestelike inlewing, meelewing en herlewing. Alt en Noth het as‘t ware agter die wêreld van die teks probeer kom sodat hulle van ‘n ‘groter’ Israel kon vertel.

Von Rad het beklemtoon dat Israel se teologie of geloofsdenke inderdaad nie in ‘n lugleegte gestalte gekry nie. Mense van vlees en bloed het in verskillende tye in Israel se geskiedenis op verskillende maniere sin aan hulle lewens probeer gegee.  Hulle het toe besluit om hulle eie verlede teologies te interpreteer en dit so te doen dat dit vir hulle daaglikse lewe sin maak.  En die geskiedenis wat hulle hiervoor ‘gebruik’ het, was Jahwe se geskiedenis met hulle. Spesifieke dade van Jahwe (soos by die skepping, die aartsvaders, die bevryding uit die Egipte, die woestyntyd, die gebeure by Sinai en die intog) het die basis van hulle geloofsnadenke gevorm (Von Rad 1957:127-134). En ons taak is om te probeer begryp hoe Israel Jahwe se pad met hulle verstaan en verwoord het.

Al hierdie rykheid en skoonheid van die Ou Testament en van Israel se geloof en teologie kon as‘t ware net deur middel van Hebreeus en die Hebreeuse teks ontdek en oorvertel word. Anders gestel: die diepgang van Israel se teologie kan net verstaan word wanneer mense Hebreeus verinnerlik, met die Hebreeuse teks saamleef en die Ou Testament binne sy eie leefwêreld probeer verstaan.

 

’n Groot jammerte

Dit sal ’n groot jammerte wees indien die studie van Hebreeus in die teologiese opleiding afgeskaf of afgeskaal word. Wanneer dít gebeur, mis ons die lengte en die breedte, die hoogte en die diepte van die Ou Testament se boodskap en word die teologie en die prediking net nog swakker. Wanneer dit gebeur, het ons iets verloor wat geen internet of rekenaarprogram of kliek kan teruggee nie.

 

Bibliografie

  • · Augustinus, A 1968. De trinitate. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 50-50A. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • · Augustinus, A 1995. De doctrina Christiana, in R P H Green, 1-293. Augustine – De doctrina Christiana. Oxford: Clarendon Press.
  • · De Knijff, H 1980. Sleutel en slot. Kampen: Kok.
  • · De Knijff, H 1980. Sleutel en slot. Kampen: Kok.
  • · De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, Vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie.  Freiburg: Herder.
  • · Gadamer, H G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Gadamer, H G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Gadamer, H G 1999a. Logik oder Rhetorik?, GW II, 292-300.
  • · Gadamer, H G 1999a. Logik oder Rhetorik?, GW II, 292-300.
  • · Gadamer, H G 1999b. Rhetorik und Hermeneutik, GW II, 276-291.
  • · Gadamer, H G 1999b. Rhetorik und Hermeneutik, GW II, 276-291.
  • · Graf Reventlow, H 1994. Epochen der Bibelauslegung, II. München: C H Beck.
  • · Graf Reventlow, H 2001. Epochen der Bibelauslegung, IV. München: C H Beck.
  • · Graf Reventlow, H 2001. Epochen der Bibelauslegung, IV. München: C H Beck.
  • · Grondin, J., 2001, Der Sinn für Hermeneutik, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.
  • · Jonker, L 2011. ‘Lewend en kragtig’? Die hermeneutiese dinamika en implikasies van (her) interpretasie in die Ou Testament. Universiteit van Stellenbosch. (Intreerede gelewer op 31 Maart 2011).
  • · Kieffer, René 1996. Jerome: His exegesis and hermeneutics, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. The history of interpretation. Vandenhoeck & Ruprecht, 663-681.
  • · Rogerson, J 1992. W.M.L. de Wette. Founder of modern biblical criticism. An intellectual biography. Sheffield: Academic Press.
  • · Schulz-Flügel, E 1996. The Latin Ou Testament tradition, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. The history of interpretation. Vandenhoeck & Ruprecht, 642-662.
  • · Von Rad, G 1957.  Theologie des Alten Testament, Vol 1.  München: Chr Kaiser Verlag.

· Wright, D F 1996. Augustine: His exegesis and hermeneutics, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. The history of interpretation. Vandenhoeck & Ruprecht, 701-730.

Share this / Deel hierdie: