In ons gereformeerde wêreld maak ons nie veel van ‘spiritualiteit’ nie. Dit is nie dat daar nie gebid of die Bybel intens bestudeer word nie, maar daar is nie ‘n taal of woorde of perspektiewe wat ons kan help om ‘n ‘gereformeerde spiritualiteit’ te verwoord nie. Daar is ook nie ‘n vak ‘spiritualiteit’ wat hierdie onderwerp op verskillende maniere kan toelig en wat (soos by UNISA) tot op nagraadse vlak gevolg kan word nie. Die katolieke kerk is ons hierin voor en hieronder is meer besonderhede oor ‘n klooster waar spiritualiteit daagliks lewendig gehou word deur die studie van die ‘patres’. Vir meer besonderhede besoek http://www.mariendonk.de/

Die Mariendonkabdy is ‘n Duitse klooster vir Benediktynse nonne naby Grefrath en bestaan al langer as ‘n eeu. Daar woon 30 susters wat finansieel selfonderhoudend is en in die gees van Benediktus van Nursia (480-547) Christus deur gebed, arbeid en Skrifstudie volg. Die kloosterreëls van Benediktus vra ook ‘n spesifieke leefstyl: ‘n lewe van harde werk, afsondering, swye, nederigheid, armoede, gehoorsaamheid en kuisheid.

Wat besonder aan hierdie gemeenskap is, is die bestudering van die Skrif deur die bril van die vroeë kerk en die voortdurende omgang met die bronne van die patres of die vroeë vaders. Gewoonlik word die kerkgeskiedenis in vyf periodes verdeel: die vroeë kerk, die middeleeue, die reformasie, die moderne en die laat-moderne (dit is ons tyd) en die ‘patres’ verwys na die era van die vroeë kerk (Markschies 1995:7-19). Die ‘patres’ of ‘vroeë vaders’ dui dus op die mense in die eerste eeue wat die geloof deurdink en verwoord het en sonder wie daar dalk nooit ‘n kerk sou wees nie.

Uiteraard was dit die gewone gelowige wat gedurende die eerste eeue sy geloof in die alledaagse lewe uitgeleef en gestalte aan Christenwees gegee het, maar dit was skrywers soos die Tertullianus, Origenes, Augustinus en talle meer wat oor die geloof, die kerk, die bediening nagedink en daaroor geskryf het. Alhoewel baie boeke in die loop van die eeue vernietig is, is daar nog vele geskrifte in omloop en die Mariendonksusters fokus op hierdie werk en probeer dit relevant vir hulle eie geestelike lewe asook dié van die kerk maak.

Alhoewel hierdie susters hulle as soekers na God beskou, word hulle telkens deur die ervaring oorweldig dat God húlle soek en na húlle uitreik. Hierdie ervaring van God word deur die eksegese en die teologiese insigte van die vroeë kerkvaders verdiep. Anders gestel: deur die geloofsdenke van die patres word die Skrif vir hulle oopgebreek. Uiteraard beteken dit dat hierdie susters se Latyn en Grieks (die skryftale van die vroeë kerk) uitstekend is, maar die omgang met die ou geskrifte van die patres is geen droë en vervelige sessies nie, maar ‘n manier om die Skrif beter te verstaan. Die woorde van die kerkvader Hieronymus, ‘Wie die Skrif nie ken nie, ken Christus ook nie’, staan vir die Mariendonknonne sentraal en daarom moet daar daagliks in die woorde van die Skrif ingegroei word.

Dit is egter nie ‘n maklike lewe nie. As Benediktyne is hulle lewenslank aan die een plek (Mariendonk) en aan die sustergemeenskap gebonde. Dag vir dag leef elkeen binne hierdie sustergemeenskap en selfs hulle jaarlikse vakansies van twee weke word saam met die susters deurgebring. Hierdie verbondenheid aan mekaar en hulle taak binne die gemeenskap verstaan die susters op ‘n besondere manier: dit is vir hulle ‘n uiterlike teken van trou en gebondenheid wat veel vir ‘n hartelose wêreld kan beteken. Dié soort lewe is geen vorm van wêreldontvlugting nie, maar ‘n poging om meer toegewyd aan gebed en studie te kan leef. Hulle is ook geen mannehaters nie, maar het vrywillig die vreugdes van die liefde prysgegee om met nog groter oorgawe die dieptes van die Skrif met die behulp van die kerkvaders te ontgin.

‘n Belangrike aspek van hierdie susters se spiritualiteit is die klem op die teologiese wetenskap. Die ervaring van God se liefde in Christus en die studie van die Bybel gaan met harde wetenskaplike arbeid gepaard. Net om die patristiese tekste te lees, verg ‘n besondere kennis van Grieks en Latyn en om nog al die boeke en artikels oor die patres deur te werk, verg geweldige harde werk. Tot laatnag word gewerk en word boeke geskryf. ‘n Voorbeeld hiervan is die werk van Theresia Heither en Christiana Reemts oor die plek en funksie van Bybelse figure soos Abraham in die werk van die patristiese vaders. Van Abraham word gesê dat hy van vroeg af al ‘n soort ekumeniese figuur was wat Christen, Jood en Moslem kan verenig (Heither & Reemts 2005).

Wat die Mariendonksusters doen, is merkwaardig en dit is die moeite werd om hulle webwerf te besoek (http://www.mariendonk.de/). Daar is ‘n diepte in die vroeë kerk se teologie en spiritualiteit wat nuwe dimensies op die liturgie en die geloof kan open (vgl Le Roux 1976; Clement 2004). Augustinus se psalmverklaring is byvoorbeeld vir vele oud, uitgedien en ‘n mors van tyd, maar tog is daar aspekte van sy verklaring wat nou nog boei. So is sy gebruik van die ‘totus Christus’ in sy verklaring van die psalms ‘n perspektief wat nog verder ontgin kan word. Hiervolgens het die psalms nie net oor Christus gepraat nie, maar ook oor sy hele liggaam (of die kerk). Volgens Augustinus wou Christus nooit sonder die kerk, sonder ons wees nie en daarom het die psalms nie net op Christus betrekking nie, maar ook op al die gelowiges wat daaruit lees; die gelowige se verbondenheid met Christus veroorsaak dat die enkele individu ook in die Christologiese uitleg tot sy reg moet kom. Nog anders gestel: die psalms vertel nie net van Christus nie, maar ook van die kerk, van die individuele gelowige; die liggaam van Christus, die kerk is by hierdie Christus van die psalms inbegrepe en daarom kon die gelowige elke psalm toe-eien (vgl Augustinus, In Johannis, 1,1-5). Soos wat die aardse Jesus deur sy liggaam op die aarde was, so is die verrese Heer deur ons in die wêreld: ‘Wij zijn niet met Christus verenigd “alsof” wij zijn lichaam waren, maar wij behoren werkelijk tot Christus omdat zijn leven het onze geworden is’ (Van Bavel 1970:93).

Bibliografie

  • Heither, T. & Reemts, C., 2005. Biblische Gestalten bei den Kirchenvätern: Abraham, Verlag Aschendorff, Münster.
  • Le Roux, J.H. 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia.
  • Markschies, C. 1995. Arbeitsbuch Kirchengeschichte. Tübingen: JCB (Paul Siebeck) Mohr.
  • Van Bavel, T. 2005. Wij moeten lere het onuitspreekbare op onuitsprekelijke wijze te zien. Theologie en spiritualiteit in Augustinus’ ‘De Trinitate’, in Paul Van Geest & Johannes Van Oort (reds), Augustiana Neerlandica. Leuven: Peeters, 165-186.
  • Van der Meer, F. 1957. Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.
  • Clément, O. 2004. The roots of Christian mysticism. New York: New City Press.

 

Share this / Deel hierdie: