“Die seer en verwyt sit steeds rou in Antoinette se stem, jare nadat dinge skeef geloop het in haar en Lukas se lewe. Hulle was gelukkig toe, sê sy. Vandag voer sy ‘n eensame bestaan, sukkel finansieel, ontvang sielkundige berading en twy­fel of sy ooit weer die binnekant van ‘n kerk wil sien.”

Wat het gebeur?

“Onder aansporing van die geestelike leiers van ‘n kerkgroep met ‘n aktiewe sendingprogram, het Lukas en Antoinette, gestroop van alle besittings, in ‘n kommune inge­trek om te vas en te bid. Hulle sou buite­lands gaan sendingwerk doen. Die groep het ‘n charismatiese leier gehad. Hulle het sy leringe verkondig en sterk gefokus op profesie; allerlei beloftes is oor hul lewens geprofeteer. Die finansies het opgedroog. Van die ander sendelinge het die organisasie se elitistiese houding en outoritêre bedryfstyl begin bevraagteken. Die profesieë en voorspellings het onvervuld gebly. Verwarring en verwyte het gevolg. Lukas en Antoinette is uitmekaar.”

Die artikel van Tobie van der Westhuizen in finesse Maart 2000 vervolg:

Geestelike eise wat soekende mense vernietig

Antoinette is ‘n slagoffer van geestelike aanranding, ‘n term wat wereldwyd gebruik word om die ervaring van mense te beskryf wat emosioneel en geestelik verwond word deur sektes, kerke en godsdienstige leiers. Volgens kenners toon die simptome van post-traumatiese stres-sindroom en die simptome wat ervaar word deur geestelik aangerandes ‘n merkwaardige ooreenkoms met dié van verkragting­slagoffers en oorlogsveterane (die sogenaamde Vietnam­-sindroom).

Dr. Ronald Enroth, voorste kultuskenner, skryf: “It is recovery from what might be called spiritual rape. You feel like something has been lost and you will never be the same again.” (Uit: Churches that abuse). Soos by seksuele molestering, wat enigiets van betasting tot verkragting insluit, is daar verskillende vlakke of grade van geeste­like aanranding. Dit kom ook in hoofstroomkerke voor, nie slegs in ekstreme godsdienstige groepe nie.

Spirituele molestering vind dikwels plaas waar ‘n leier ‘n sterk selfgeldingsdrang het, eendersdenkendes rondom hom/haar versamel en poog om volgelinge se lewens te beheer. Kerke waarin ‘n oormatige wettisisme voorkom, is dikwels voorbeelde hiervan. Daar is tipies rigiede riglyne vir almal. Dit skep ‘n elitistiese ons-en-julle-­gevoel, en veroorsaak ‘n polarisasie tussen “ons” wat die hoë standaarde handhaaf en “hulle” wat as vleeslik en selfs minderwaardig beskou word.  Ironies is sommige van die reëls wat sulke groepe handhaaf dikwels vleeslik en tot die voordeel van die leier wat vir homself allerlei gunsies organiseer.

Leerstelling (dogma) kan ingespan word om volgelinge te beheer, veral in hoofstroomkerke. ‘n Bepaalde deno­minasie kan byvoorbeeld beweer dat hulle die waarheid ontdek het ten opsigte van die volheid van die Heilige Gees. So ‘n ontdekking sal gewoonlik uitdrukking vind in ‘n eng definisie, gebaseer op ‘n subjektiewe en dikwels mistiese interpretasie van die Skrif en ‘n gepaardgaande ervaring wat mee­gemaak moet word om te kwalifiseer. Gelowiges met verskillende of alter­natiewe sienswyses is dan onvervuld of oningewyd.. In hierdie groeperings word bepaalde gonswoorde gebruik – ‘n handige in­strument om te onderskei tussen inge­ligtes en oningeligtes, byna soos ben­dekodewoorde. ‘n Predikant moes van die leiers van ‘n groot selkerk in Pretoria hoor:  “Jy praat nie ons taal nie.”

Herlewingsresepte, openbarings en aansprake

Wêreldwyd is daar nuwe openbarings en aansprake dat God se verborge re­sep ontdek is, byvoorbeeld oor die vervulling met die Heilige Gees, god­delike genesing, materiële voorspoed, geestelike oorlogvoering, kerkgroei en herlewing. Daar word getuig dat Jesus Christus self aan die prediker verskyn en die openbaring persoonlik oorgedra het. ‘n Amerikaanse skrywer wie se boeke oor geloof deur verskeie teoloe as kulties van oorsprong beskou word, getuig van nege sulke besoeke deur Jesus. Sy boeke is vryelik in Christelike boekwinkels beskikbaar.

Nuwe herlewingsresepte word soos verbruikersitems teen ‘n afslag opge­raap. Veral as daar groot getallegroei in ‘n kerk plaasvind, raak dit moeilik om nugter te oordeel: hoe kan almal verkeerd wees?

Sodoende word ‘n groepsdinamie­se effek verkry wat herinner aan die skares se optrede in die sprokie van die Keiser se nuwe klere. Wanneer die groepsdinamiese effek intree, raak mense bereid om hulle geestelik oop te stel en te verbind tot sekere prak­tyke. Dan raak geestelike verwonding ‘n moontlikheid.

Die gevolge van hierdie ontnugtering is verwoestend.

Share this / Deel hierdie: