Ek kan nie oor sport en rituele praat sonder dat ek eers twee rituele voorhou om die tafel vir ons gesprek te dek nie. Beide rituele is opgeteken deur ‘n bekende liturg in ons midde.

 

“The preparation of a person for this ritual consists of the drinking of holy alcoholic potions. These potions are usually prepared by the designated ‘medicine’-man, and helps participants to achieve a semi- trance like state. The focal point of this ritual is a fire, around which all participants gather. When most have reached this consciously altered state, numerous animal sacrifices are conducted and afterwards consumed by the tribe. Passage into this ritual is based on age and gender. Only adult males are allowed to attend the open-air fire ceremony, while the women and children stay indoors. Women, who have been reported to cross this cultural border, have taken the wrath of both men and women of the tribe upon them. The ritual is usually performed on a weekly basis, preferably the sixth day, making sleeping till very late on the seventh day compulsory. Whilst conducting my research, I found this ritual to be a thought-provoking window into the heart of the Renakirfa culture, showing for example a very patriarchal society, exclusivity along racial lines (apparent from the way in which I struggled to gain access into this ritual in order to conduct my qualitative research) and abundant wealth (apparent from the presence of the huge amounts of meat and potion and the absence of the under privileged). The only aspect that I still find very puzzling, is the meaning of (so familiar in my own Indian culture) the discussion the men had about Eastern spices during the height of their trance. A discussion about a so-called ‘Currie Cup’.”

(Wepener 2010:4-5)

 

Die volgende ritueel behoort ook baie bekend te wees of dan ten minste ’n gevoel van bekendheid op te roep.

 

“Nadat die liturgiese ruimtes voorberei is en baie voorbidding gedoen is met die oog op die samekomste, het die volk opgegaan na die tempels om te versamel. Die gemeente het vergader en die samekoms, die gemeenskap, was daar en is tot ’n mate steeds daar. Dis goed. Suid-Afrika as gemeente het vergader en die voorgangers het die votum uitgespreek: “Ke Nako, it is here”. Die gemeente het responsories geantwoord: “We can feel it”. Die seëngroet is uitgespreek: “Nkosi Sikilel’ iAfrika” en saam met Shakira en Freshly Ground het die vuvuzelas die pas vir die lof en aanbidding aangegee en die gemeente is meegevoer en het ingeval met die ritmes van die diski-dans en uitroepe van “ayoba”. En min sal stry dat op die kontinent van Afrika, die grond waarop ons tydens hierdie toetrede-fase van die Wêreldbeker-liturgie gestaan het heilig was.”

(Wepener 2010:3)

 

Kultuur is ‘n geordende sisteem van betekenis en van simbole waarin sosiale interaksie plaasvind. Kultuur en ritueel is nou verbonde aan mekaar, aangesien rituele simboolhandelinge is. Kultuur en rituele kan nie van mekaar losgemaak word nie. Kultuur, betekenis en simbole word op ‘n bepaalde manier ten opsigte van mekaar georden. Mense gee aan feite en gebeurtenisse ’n bepaalde waarde of betekenis. Dit is nooit neutraal nie. Kultuur is nié staties nie. Dit is voortdurend aan die beweeg, omdat waardes verskuif en patrone verander. Deur rituele word daar altyd waardes en patrone oorgedra. Dit kan bewustelik of onbewustelik geskied. Rituele en simbole kan ideologieë konsolideer en versterk (Barnard & Vos 2001:20-22).

As ‘n komponent van kultuur is sport, gedrag wat verband hou met ander gedrag soos werk, speel, ontspanning, vryetydsbesteding, rituele en konflik. As ‘n onderdeel van kultuur toon dit ritueelagtige patrone (Blanchard & Cheska 1985:59-60).

Rites bind ’n groep saam met ‘n gevoel/besef van hul eie identiteit en solidariteit. Deur die deelname aan rituele handelinge ervaar mense die gevoel dat hulle verander en herskep word. Rites laat die mens soms vergeet van die werklikheid en verplaas hulle na ‘n “ander” wêreld waar hulle dikwels meer tuis voel. Rites kan dus die gevoel gee dat dit ‘n mens verkwik. Dit kan ‘n geloof laat ontstaan in die transformerende energie wat latent is binne rituele. Dit is dan ook hierdie geloof wat aan rituele hul sosiale mag gee (Torevell 2000:44).

Rituele praat deur handelinge en nie net woorde nie. Woorde verwring en dit kan dinge verdraai. Rituele verander mense. Dit is hoekom rituele daar is. Aan die einde van ‘n ritueel is die deelnemers nie waar hulle aan die begin was nie. ’n Ritueel sê (natuurlik sonder woorde) dieselfde ding op verskillende maniere (Graigner 2009:77-78; viii). Dit is een van die waardes van rituele dat dit die deelnemers daaraan kan deurdrenk en die hele persoon, in al sy of haar fasette, betrek (Torevell 2000:8).

Rituele help ons om sosiale en kollektiewe bande te vorm. Rituele kan eenheid tot stand kan bring, selfs tussen twee oënskynlike verskillende groeperinge van mense. Dit het die mag en die potensiaal om individuele en kollektiewe identiteite te herskep en om waardes en sienings te herbevestig. Rituele gee uitdrukking aan die diepste waardes van ‘n groep of gemeenskap (Torevell 2000:27, 40).

Rituele voorkom dat mense in betekenisloosheid verval. Dit herinner mense daaraan dat die wêreld betekenis en sin het. Rituele herstel kontinuïteit tussen die huidige oomblik en die verlede (Torevell 2000:17).

Rituele is publieke, kollektiewe en objektiewe ervarings. Juis omdat dit in die openbaar en binne groepsverband plaasvind, is daar ‘n objektiwiteit. Subjektiewe uitdrukkings en private gevoelens binne hierdie domein is raar (Torevell 2000:31).

Hierdie unieke ervaring van deelname aan ‘n rite is deel van ‘n misterie groter as die mens self. Dit gaan nooit oor bloot die ritueel self nie. Dit gaan hier oor iets groters as die deelnemers. ’n Soort “opligting” tot ’n belewenis van die heilige en transendentale (Torevell 2000:30).

Rituele bied aan ons ‘n bepaalde gevoel van sekuriteit. Fulghum (Grainger 2009:61) sê: “… they anchor us to a centre while freeing us to move on and confront the everlasting unpredictability of life”. Te midde van onsekerheid gee rituele ons iets bekends om aan vas te hou.

Rituele help ons ook om te fokus. Ons kry dit by die meeste atlete. Voor belangrike wedstryde voer hulle altyd dieselfde rituele uit. Hulle eet altyd presies dieselfde kos, trek dieselfde klere aan, doen dieselfde opwarmingsoefeninge voor die tyd ensovoorts. Hierdie rituele skep ’n illusie van beheer tydens stresvolle, onseker omstandighede. Die verlaging van stres kan help om prestasie te verhoog. Hier het rituele dan ‘n plasebo effek. Dit help met fokus en ontspanning. Atlete se kommentaar hieroor is byvoorbeeld as volg: “Ek dra dieselfde uitrusting omdat ek gemaklik, ontspanne en beter voorbereid, voel daarin”. “Ek bid voor ‘n wedstryd om beserings te voorkom en om meer ontspanne te voel.” “Ek doen dit omdat ek nie weet wat sal gebeur as ek dit nie doen nie.” (Rudski & Edwards 2007:389, 399-401). Omdat rituele help om die spanning te verlig voor ’n wedstyd, mag dit die rede wees waarom sportmense bly klou aan rituele selfs al het dit nie die gewenste uitwerking nie. Rituele het dus eerder ‘n positiewe as ‘n negatiewe effek. Dit werk ook beter vir mense wat daaraan glo as vir hulle wie nie daaraan glo nie. Vandaar die sogenaamde plasebo effek van rituele (Schippers & Van Lange 2006:2539-2543, 2548-2550).

‘n Ander interessante bevinding is dat hoe meer ego-betrokke die atlete (atletiese

identiteit) is, hoe groter is die spanning wat hulle ervaar en hoe meer waarskynlik is dit dat hulle sport verbandhoudende bygelowe sal ontwikkel. Die vlak van kompetisie beïnvloed die verbintenis tot die rituele (Brevers et al. 2011:3-23). Dink byvoorbeeld aan al die rituele wat Raphael Nadal het – en hy is baie getrou hiermee!

Sport verskaf ‘n gevoel van behoort aan en ‘n geleentheid om kragtige emosies te

koester en uit te druk (Bain-Selbo 2008a:10). As ek byvoorbeeld in die straat loop en ek begin ewe skielik onbeheersd te skreeu, sal ek heel moontlik toegesluit word of dan ten minste vir waarneming weggestuur word. As ek op die muurbalbaan van al my frustrasies deur onaardse geluide ontslae raak, knip niemand ’n oog nie (of so wil ek natuurlik graag glo). As ek langs die veld of op die pawiljoen of voor die televisie buite myself van opgewondeheid raak en skreeu en op en af spring en tekere gaan, kyk niemand skeef na my nie – behalwe natuurlik my kinders van tyd tot tyd. Daar is selfs andere, wat ek nie eers altyd ken nie, wat of sáám met my tekere gaan of kyk of hulle met my in kompetisie kan gaan.

Die bywoon van ’n wedstryd, of selfs om dit net op die televisie te kyk, verskaf ‘n effektiewe manier om vir ‘n ruk lank weg te kom van jou probleme, frustrasies en bekommernisse. Dit neem ons gedagtes weg van die daaglikse probleme en lei ons aandag af vir ’n rukkie. ‘n Ondersteuner skryf dat om na ‘n wedstryd toe te gaan bied ‘n wegkom kans vir ‘n paar ure. Dit maak nie saak wat in die wêreld aan die gang is, hoe erg deurmekaar die wêreld is en wie teen wie oorlog maak nie. Vir ‘n paar ure kom almal met almal oor die weg en voel dit of alles in die haak is (Bain-Selbo 2008b:13). Hierdie saamwees tydens sport verskaf aan ons ’n gevoel van kameraadskap.

Daar is ’n saambindende faktor wat sport aan mense verskaf wat mekaar nie ken nie. Daar is die saamtrek van toeskouers op sportstadions en selfs op ander openbare plekke tydens wedstryde. Die kant kies en saamstaan met andere wat dieselfde span ondersteun, al is hulle wild vreemdelinge. Tog is vreemdelinge nie meer vreemd vir mekaar nie omdat hulle mekaar aan hul kleredrag en voorkoms kan uitken. Ons kry hier ’n persepsie van eenheid en behoort aan ’n groep. Deur die identifisering met ‘n groep ervaar mense hulself as sielkundig vervleg met die groep se lotsbestemming, deel hulle dieselfde lot en ervaar hulle mekaar se suksesse en mislukkings. Die gevoel van behoort aan, die persepsie van ‘n gemeenskaplike identiteit het baie potensiële voordele. Die lede van hierdie groep kan selfs interpersoonlike vreemdelinge bly. Tog deel hulle sekere doelwitte, waardes en oortuigings. Hulle ervaar gemeenskap, sosiale samehorigheid en solidariteit met mekaar. Dit bied ‘n teenmiddel teen die afsondering en vervreemdheid wat mense dikwels ervaar in die moderne stedelike lewe (Mael & Ashforth 2001:198-201).

Mense het almal ‘n behoefte om bande te hê met andere. Met die verspreiding van die tradisionele uitgebreide familie en die stam het hierdie behoefte om te identifiseer met ‘n groep van soorte, meer intens geword. Die sport toeskouer kan saam met andere byeenkom, sy/haar span se pet opsit, trui aantrek, gesig verf, vlaggie waai, vuvuzela blaas of watter ander vorm van identifikasie met sy/haar span hê en so deel word van ‘n groter, sterker familie groep, ‘n kollektiewe eenheid. Die behoefte om te behoort aan kan hierdeur bevredig word. Dit kan ook help met die verhoging van eie waarde, selfbeeld vorming en betekenis gee aan die individu se lewe. In sommige gevalle kan dit die individu selfs inspireer tot die bereiking van doelwitte in sy of haar persoonlike lewe. Baie toeskouers ervaar dat hul deelname (alhoewel dit indirek is) hul span se prestasie beïnvloed (Mael & Ashforth 2001:205-207). ‘n Mens hoef maar net ‘n rugby of ‘n sokker wedstryd by te woon om iets hiervan te beleef! Toeskouers skreeu, verduidelik, maak planne namens die spelers en word ten volle deel van die gebeure op die veld (Flynn 2011:64).

Daar is sommiges wat die uitspraak maak dat daar buiten oorlog, niks in ons postmoderne wêreld is wat meer stamgebonde as sport is nie. Vir sommige  bewonderaars is sport meer as slegs ’n spel. Van hulle sal verjaarsdae, herdenkings en selfs troues mis ten einde wedstryde by te woon. Sommige bewonderaars identifiseer so sterk met hul span dat hulle voel asof hulle ’n lid van die span is. Hulle emosionele en sielkundige reaksies gedurende en na die wedstryd is baie dieselfde as die spelers se reaksies. As deel van die sport “stam” sal hulle deur vuur loop daarvoor. ’n Bewonderaar beskryf die verhouding met jou span as “’n huwelik, deur dik en dun, tot die dood ons skei”. ’n Mens moet jou span ondersteun deur die goeie én die slegte tye (De Groot & Robinson 2008:118-119).

Daar is verskillende interessante optredes wat by bewonderaars bemerk word: BIRFing; CORFing en BIRGing. BIRFing is “basking in reflected failure”. Hier is bewonderaars verbind tot ’n span wat voortdurend onsuksesvol is (bv. die Cheetahs, Lions en Bulls in die 2011 Super 15 rugbykompetisie!). BIRFing skep ’n gevoel van kameraderie tussen hierdie bewonderaars wat steeds hul span ondersteun. Hulle saamstaan en ondersteuning van hul span in moeilike tye laat hulle met ’n gevoel van trots. CORFing is “cutting off reflected failure”. Hier sal die bewonderaars eers begin deur op die ander span te skreeu wanneer hul span begin verloor. Later sal hulle egter ook op hul eie span skreeu as hulle aanhou om swak te speel. Dan sal hulle begin om hulself so ver as moontlik te distansieer van die verloorspan. Hulle wil hulself nou glad nie met die span identifiseer nie want hulle vrees hul verloor van hul selfwaarde as gevolg hiervan. BIRGing is “basking in reflected glory”. Bewonderaars se selfwaarde en selfevaluasie word verhoog deur ’n span se sukses. Hulle het egter self niks gedoen om die eer en sukses teweeg te bring nie (De Groot & Robinson 2008:130-132).

Tekens van BIRFing, CORFing en BIRGing kan mens baie duidelik sien en volg op die sosiale netwerke tydens en na wedstryde. Die spelers getuig ook hiervan. John Smit, die Springbok rugbykaptein sê: “It takes a while for a Springbok to register the staggering magnitude of what a Test means to many South Africans.” “… their happiness rests upon your shoulders.”…”The result of a Test deeply affects so many people and you realise that it’s hardly just a game. We discuss it in team talks – how we can affect the psyche of the country on a Monday morning.” (Smit 2009:111)

Ek dink dit is selfs waar van ‘n Sondagoggend. Daar word menig maal ná ’n belangrike rugby wedstryd op ’n Saterdag een of ander opmerking daaroor gemaak van die kansel af op ‘n Sondagoggend (Flynn 2011:46). Dit is by baie Suid-Afrikaners ’n ritueel wat ineengevleg is met hoe ons mekaar groet, ’n opmerking oor die weer maak en dan by sport, maar veral rugby uitkom. Dit gee ons iets waaroor ons met mekaar kan praat – dit is in elk geval baie interessanter as om oor die weer te praat. Sonder die weer en sport sou baie mense nie veel gehad het om vir mekaar te sê nie!

‘ñ Sportmens moet gedissiplineerd wees anders sal jy nêrens kom nie. Ek dink rituele maak deel uit van hierdie gedissiplineerd wees. As jy wil presteer moet jy bereid wees om vaste tye per dag, elke dag te beoefen. Dis deel van jou daaglikse “ritueel”.

Hieruit vloei waarskynlik, as jy wil kalm wees en goed presteer op die dag moet jy deur jou rituele gaan. Dit maak jou kalm en dit help jou om te fokus.

Ons hele lewe is “diens aan God”. Ons dink om een of ander rede dat dit uitdrukking moet vind in woorde en tog kan dit op soveel ander manier uitgedruk word. Ook in sport. Ons verdeel ons lewe in kompartemente en dan raak godsdiens ‘n afsonderlike komponent wat dit nie is nie. As ek ‘n goeie sportman is eer ek God wanneer ek my beste gee en bv. ‘n drie druk. Ek eer God wanneer ek kies om nie terug te slaan of eerste te slaan nie, wanneer ek my woede onder beheer kan hou. Ek eer God nié wanneer ek bid ten aanskoue van almal en netnou is ek die eerste een wat ontoelaatbare spel pleeg nie.

 

God kan geëer en gesien word ook in ons rituele.

 

You can discover more about a person in an hour of play than in a year of conversation. – Plato

 

Bibliografie

 

  • Bain-Selbo, E. 2008a. Ecstasy, joy, and sorrow: the religious experience of Southern College football. Journal of Religion and Popular Culture 20:1-13.
  • Bain-Selbo, E. 2008b. Sport as the “Opiate of the Masses”: College Football in the American South. Philosopy and religion April: 1-15. Available at:
  • http://digitalcommons.wku.edu/phil_rel_fac_pub/1/. Visited April 2011.
  • Barnard, M. & Vos, C.J.A. 2001. ’n Besinning oor die liturgie, teorievorming,
  • ondersoek en praktykvorming. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 16(2):17-32.
  • Blanchard, K. & Cheska, A.T. 1985. The anthropology of sport: an introduction.
  • Massachusetts: Bergin & Garvey Publishers.
  • Brevers, D. et al. 2011. Sport superstition: mediation of psychological tension on nonprofessional sportsmen’s superstitious rituals. Journal of Sport Behavior 34(1):3-24.
  • De Groot, M. & Robinson, T. 2008. Sport fan attachment and the Psychological
  • Continuum Model: A case study of an Australian football league fan. Leisure/Loisir, 32(1):117-138.
  • Flynn, D.S. 2011. ‘n Verkennend-beskrywende prakties-teologiese ondersoek na die waarde van “liturgiese” momente binne sport, gemik op liturgiese inkulturasie. MDiv skripsie. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
  • Grainger, R. 2009. The drama of the rite: worship, liturgy and theatre performance. Eastbourne: Sussex Academic Press.
  • Mael, F.A. & Ashforth, B.E. 2001. Identification in work, war, sports, and
  • religion: contrasting the benefits and risks. Journal for the Theory of Social Behaviour 31(2):197-222.
  • Rudski, J.M. & Edwards, A. 2007. Malinowski goes to college: factors influencing
  • students’ use of ritual and superstition. The Journal of General Psychology
  • 134(4):389-403.
  • Schippers, M.C. & Van Lange, P.A.M. 2006. The psychological benefits of
  • superstitious rituals in top sport: a study among top sportspersons. Journal of Applied Social Psychology 36(10):2532-2553.
  • Smit, J. 2009. Captain in the cauldron. Cape Town: Highbury Safika Media.
  • Torevell, D. 2000. Losing the sacred: ritual, modernity and liturgical reform.
  • Edinburgh: T & T Clark.
  • Wepener, C. 2010a. Aan tafel met Jesus. Wellington: Bybel-Media.
  • Wepener, C. 2010b. Die liturgie van die Wêreldbeker. Teo.co.za Nuusbrief 2010.09.