Ek was betrokke by die opgrawings van die oorskot van die ‘Ebo-4’, Niel Lombaard, Danie Taljaard en die twee vlieëniers Eric Thompson en Keith Williamson. Dit is vier Suid-Afrikaanse soldate wat in  November 1975 tydens gevegte in Angola dood is. Hulle oorskot is destyds nie na Suid-Afrika teruggebring nie, omdat dit in daardie stadium onmoontlik was. Nadat die Angolese Burgeroorlog in 2001 geëindig het, het die hoop opgevlam dat hulle grafte opgespoor sou kon word sodat hulle oorskot na Suid-Afrika teruggebring kon word.
Tussen 2006 en 2012 is navorsing gedoen, terreine besoek en uitgerekte onderhandelinge gevoer om dit reg te kry om die Ebo-omgewing te besoek. Die doel was die opgrawing en repatriasie van die vier soldate se oorskot.
Kavallaris Niel Lombard (19) was die drywer van ‘n pantserkar wat op 23 November 1975 by die Massabarivier, noord van Ebo, uitgeskiet is.
Kaptein Danie Taljaard (29) was ‘n infanteris wat hom moes vergewis van die situasie op die grond, tydens Operasie Savannah. Hy was ‘n passasier in ‘n Cessna 185 verkenningsvliegtuig wat op 25 November 1975 afgeskiet is.
2e Luitenant Keith Williamson (21) was die vlieënier van die Cessna vliegtuig waarin Danie Taljaard was.
2e Luitenant Eric Thompson (20) was die medevlieënier en hy is saam met Keith Williamson en Danie Taljaard dood toe die vliegtuig waarin hulle was, afgeskiet is.
Danie Taljaard se broer Chris het die bal aan die rol gesit om vas te stel of sy broer se graf opgespoor en sy oorskot moontlik na Suid-Afrika teruggebring sou kon word. Die families van die ander twee vliegtuig-slagoffers het hulle steun aan die projek toegesê. Niel Lombard se familie het belangstelling uitgespreek, maar ook aangedui dat hulle nie sou omgee as sy oorskot in sy graf in Angola sou bly nie.
Ná die gevegte was Niel se dood bevestig en sy familie is in kennis gestel, maar die dood van die drie vliegtuigslagoffers was nie bevestig nie. Daar was wel heelwat omstandigheidsgetuienis dat hulle dood is, maar daar was geen graf aan die families bekend nie. Die saak is nog moeiliker gemaak deur die bewerings van ‘n privaatspeurder, Peter van Nieuwenhuisen, wat die families van 1976 tot 1979 verseker het dat hy inligting uit Luanda ontvang het dat die drie soldate almal nog lewendig was.
Op 5 Mei 2012 het ‘n projekspan waarvan ek deel was na Angola vertrek om die uitgewysde grafte op te grawe en, indien dit korrek is, die oorskot van die vier soldate terug te bring na Suid-Afrika toe. Die groep van sewe het bestaan uit lede van die Ebo-trust , Genl Gert Opperman, Martin Thompson en Leon Lombard. Martin en Leon is broers van twee van die oorledenes. Die professionele span wat die opgrawing en identifikasie moes doen was Prof Maryna Steyn, fisiese antropoloog en Coen Nienaber, argeoloog, beide van UP se Forensiese Antropologie Navorsingsentrum (FARC) en ek self, ‘n argeoloog en predikant verbonde aan Unisa. Die sewende lid van die groep was Danie Hefers, ‘n joernalis van die SAUK.
Op Maandag 7 Mei  het ons nog nie twee ure opgegrawe by die plek wat as die ‘vliegtuiggraf’ uitgewys is nie, toe Martin die eerste beenfragmente gevind het. Pas daarna is een van die slagoffers se skedel gevind en slegs ‘n klein rukkie later die oorskot van ‘n tweede persoon met ‘n stel valstande daarby. Die valstande het die betrokke oorskot positief aan Kapt Danie Taljaard verbind. Dit was uiteindelik ook die enigste oorskot wat aan ‘n spesifieke persoon verbind kon word, omdat die beenmateriaal geen DNS opgelewer het nie.
Die opgrawings is op die eerste dag vir ‘n kort rukkie onderbreek vir ‘n tradisionele seremonie by die graf wat deur ‘n tradisionele leier van die gemeenskap gelei is. Daarna kon die opgrawings voortgaan. Die volgende dag is die rugwerwelkolom van ‘n derde individu gevind en ons kon bevestig dat daar drie mense in die graf was. Die feit dat dit die drie insittendes van die Cessna was, is bevestig deur stukke van die vliegtuig wat saam met die liggame in die graf beland het. Geen oorskot of beendere was egter nog verwyder nie, toe ‘n dringende boodskap van die ander terrein af gekom het dat alle opgrawings onmiddellik gestaak moes word.
Coen Nienaber en Niel se broer Leon Lombard en ander lede van ons groep het pas begin werk in die omgewing waar Niel se graf uitgewys is toe die polisie en soldate gewapend daar opdaag en beveel dat alle aktiwiteite onmiddellik gestaak moes word. Hulle het ons per radio gewaarsku en ons is terug kamp toe. ‘n Hele middag en aand van onderhandelinge met die plaaslike polisiehoof en talle oproepe na hooggeplaaste besluitnemers het uitgeloop op die finale besluite: die grafte moes teogegooi word en die hele groep, insluitend die ondersteuningspan, moes die volgende dag na Luanda gaan vir ‘n vergadering. Ons probleem was dat ons geen vervoer daar gehad het nie. Die persoon wat ons Ebo toe geneem het, sou ons eers weer die Saterdag kom haal het. Die ondersteuningspan se probleem was nog groter. Hulle toerusting en voorrade van etlike honderdduisend Rand sou net daar moes agterbly. Tot na die vergadering. Daar was egter geen uitweg nie en half-een die nag het die polisie met vier voertuie in die kamp opgedaag om ons na Luanda toe weg te neem. Geen redes of motivering is gegee nie.
Die polisie het die span uiteindelik teen laatmiddag op Woensdag  9 Mei by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Luanda afgelaai en op Saterdag 12 Mei, is ons onverrigter sake terug Suid-Afrika toe. Ons was moedeloos, vernederd, geïrriteerd en onseker oor wat voorlê.
Binne twee weke nadat ons teruggekom het, laat weet Danie Hefers, die joernalis dat die projekspan teruggenooi is Angola toe en dat die Angolese regering hulle verbind het tot die suksesvolle afhandeling van die projek. Dit was onverwags en onverstaanbaar na die vorige behandeling.
Die tweede besoek het op 4 Junie begin met ‘n vergadering by die Suid-Afrikaanse Ambassade. Hulle dui aan dat dit ‘n oorwinning vir hulle was dat ons die vorige keer by die ambassade afgelaai is en nie by die plaaslike tronk in Ebo, soos sommige amptenare dit graag wou sien nie. Twee lede van die ambassadepersoneel is aan die projek afgestaan en hulle sou verder saam met ons reis. Die volgende dag het ons met die Angolese tussendepartementele komitee van nege lede vergader. Hulle eerste salvo was die aankondiging van reuse boetes vir ons vorige oortredings, maar dit is met ‘n koel kop deur Genl Opperman hanteer. Hy het aangedui ons keer dan maar weer terug Suid-Afrika toe, omdat ons nie oor honderdduisende dollars vir boetes beskik nie. Ons het nie weer van die boetes gehoor nie, maar moes steeds heelwat vir permitte en seremonies betaal.
Die opgrawing by die ‘vliegtuiggraf’ het in die volgende paar dae baie suksesvol afgeloop. Ek en Maryna het die opgrawing afgehandel. Haar oordeel van die situasie en die toestand van die skeletmateriaal was dat die drie klaarblyklik slagoffers van ‘n vliegtuigongeluk was en dat nie een van hulle hulle beserings kon oorleef het nie. ‘n Plaaslike man wat in 1975 vyf jaar oud was, het vertel dat hy die vliegtuig in vlamme sien afkom het en dat die mense binne-in ook erg gebrand het. Dit stem ooreen met die toestand van die beendere.
By Niel se graf het dit nie so voor die wind gegaan nie. Dieselfde man wat oorspronklik in 2006 die vliegtuiggraf uitgewys het, het ook die plek van Niel se graf uitgewys. Dit was naby ‘n pad en in ‘n area waar intussen ‘n infomele mark en geboue was. Sedert sy eerste besoek aan die terrein het Coen Nienaber aangedui dat hy gemaklik was met die inligting oor die vliegtuiggraf (weens die geassosieerde vliegtuigwrakstukke), maar dat Niel se enkelgraf nie so duidelik was nie.
Die opgrawings het van die begin af niks opgelewer nie. Die uitgewysde plek is deeglik opgegrawe en ten minste twee verdere plekke wat as moontlike posisies van die graf aangedui is, is ook ondersoek. Dit was ook sonder sukses. Daarna het Coen-hulle ‘n wye gebied geskoffel en uiteindelik op versoek van die Angolese amptenare ‘n stootskraper gehuur wat ‘n baie groot gebied blootgelê het, maar steeds sonder sukses. Dit het al duideliker geword dat ons moontlik sonder Niel se oorskot sou moes terugkeer.
Een oggend tydens oggendgodsdiens, nadat ek die hele nag weens grieperigheid rondgerol en nagedink het oor wat ons sou kon doen, het ek die einde van die Tuinverhaal in Genesis 3 gelees:
…totdat jy terugkeer na die aarde toe,
want daaruit is jy geneem.
Stof is jy, en jy sal weer stof word. (Gen 3:19)
Dit was duidelik dat ons nie beendere van Niel sou vind nie. Ek was alreeds stomgeslaan oor hoe min van ‘n mens oor kan wees na ‘n vliegtuigongeluk en 37 jaar in ‘n vlak graf in die Angolese grond.
Dit was onduidelik waarom ons niks van Niel kon vind nie. Het ons op die verkeerde plek gesoek, of was die inligting oor die graf nie akkuraat nie, of was daar so min van Niel oor nadat die pantserkar uitgeskiet is, dat sy graf niks opgelewer het nie? Al die vrae het ons almal ietwat stil gehad daardie oggend. Ek het versigtig suggereer dat Leon ‘n klompie grond uit die aangewese graf of dalk uit die rivierwal, waar ons weet dat Niel dood is, moes neem en dit terugbring. Dit sou ‘n simbool kon wees van die feit dat Niel se liggaam weer deel geword het van die grond. Leon het die gedagte aangegryp en toe ons aan die einde van die projek na Ebo gery het, het hy alleen by die rivier afgeklim. Toe ons hom so ‘n uur later weer by die vurk in die pad kry, was hy gereed en het hy gesê: ‘Nou kan ons maar gaan. Ek is reg!’
‘n Bietjie meer as drie weke later is die Ebo-4 begrawe. Die tydjie wat verloop het was nie sonder teleurstelling nie. Die laboratorium wat die DNS-toetse gedoen het, kon geen DNS uit die beenmateriaal veresamel nie. Dus kon die twee vlieëniers nie indiwidueel onderskei word nie. Dit het die familie egter aanvaar.
Op Sondag 8 Julie het die begrafnis plaasgevind. Soos Beeld dit gestel het: ‘Drie se oorskot en ‘n hopie grond’ is in vier kissies na die nisse in die SAW-gedenkmuur by die Voortrekkermonument gebring.  Die emosie was dié van ‘n begrafnis. Na 37 jaar het ‘n ma en broers, susters, familie en vriende afsluiting gevind na gebeure wat so lank tevore plaasgevind het. Die teks was, soos op die laaste oggend by die opgrawings, Genesis 3:19, maar dit is aangevul met Psalm 8:5-6 se verwonderde vraag: ‘Wat is die mens…’. Ons gedagtes het beweeg van die verganklikheid van die mens tot by die posisie van die mens wat ‘net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese’ gemaak is – sterflik, maar byna goddelik in ons keusevryheid.
Die Harvardklub het in ‘n verbyvlug die missing man-formasie uitgevoer wat behels het dat hulle in formasie gevlieg het. Reg bo die begrafnisgangers het een vliegtuig tussen die ander weggebreek en in ‘n ander rigting weggevlieg, simbolies van die makkers wat in die geveg gesneuwel het.
Die gebeure het ‘n diepe ervaring van genoegdoening meegebring, maar tegelyk het dit emosies na vore gebring wat niemand in die diens onaangeraak gelaat het nie.
***
Volgens die Geneefse konvensie is die primêre rede vir enige repatriasie van oorskot na oorlog of konflik, die belang van die families. In die geval van die Ebo-4 het ek geen twyfel oor die feit dat die families se belang die hele proses gerig het nie. Ná die eerste traumatiese en onsuksesvolle besoek was niemand lus om terug te gaan nie, totdat Martin Thompson in die vergadering gesê het: ‘General, if you tell me to be ready at two o’ clock this afternoon, I will be ready.’ Dit het die hele span laat besef dit gaan nie primêr oor opgrawings, onderhandelinge, internasionale verhoudinge of ego’s nie. In die finale instansie het die projek gegaan oor die verlies wat families gely het en oor die afsluiting van hulle jarelange routydperk.

Share this / Deel hierdie: