Aangebied deur Nuwe Testament by Tukkies o.l.v. Prof Gert Steyn.

Na die reuse sukses van ons toer in 2007, het ons besluit dat ons die Turkye Studietoer op ‘n twee-jaarlikse basis gaan aanbied. Dis hoofsaaklik gerig op die stede van die 7 gemeentes in Openbaring en plekke waar Paulus opgetree het. Die feit dat die argeologiese plekke feitlik ongeskonde lê, asook dat die artefakte in die argeologiese museums iets besonders is, maak blootstelling aan die Nuwe Testamentiese Klein-Asië absoluut ‘n moet. Soos Mekka vir die Moslems, so is Turkye vir die Christendom. Dis hier waar Handelinge, Efesiërs, Openbaring en talle ander gedeeltes in die NT nuwe betekenis kry. Om in Paulus se voetspore te stap in Efese, die omvang van die tempel van Artemis te sien, die troon van Satan in Pergamum, of die kanaal wat die louwarm water na Laodisea vervoer het, die ruines by Nicea, (selfs die die ruines van ou Troye en die Asklepion by Bergama), is net eenvoudig groots. Voeg hierby nog Lidie en Kappadosie met van die vroegste Christelike kerke met frescos van Christus en die vroegste Kerkvaders, en mens tree as’t ware terug na 2000 jaar gelede. Mens kry geografiese perspektief en sien die Nuwe Testament net nooit weer in dieselfde lig nie.

Wat ons toer anders maak is die feit dat:
a. ons onsself voorberei op ‘n bepaalde tema (soos behuising, teaters, water, ens) en dan die inligting met mekaar deel (dus ‘n ensiklopedie op wiele…)
b. ons onsself besig hou met die teologie en daarom reeds ‘n klomp vooraf kennis het
c. ons toergids (met baie jare se ervaring) Afrikaanssprekend is en saam met ‘n belese Turkse gids (2 doktorsgarde) ons begelei
d. ons in goeie akkommodasie tuisgaan, goed eet en teen ‘n gemaklike pas toer
e. ons nog talle ander besienswaardighede sien soos die Hagia Sofia in Istanboel en op ‘n private bootrit op die Bosporus.
f. ons  VOORTGESETTE TEOLOGIESE KREDIETE ontwikkel vir alle gelegitimeerdes
g. predikante en teologiese studente met mekaar in inter-aksie kan tree

Die 2009 toer vind plaas tussen 3-13 Desember – wat ‘n heerlike afsluiting is van die jaar Die prys behoort ongeveer R17,000 te wees met die huidige wisselkoers van die Rand teen die Euro. (805 Euro vir die landreelings). ‘n Deposito en besprekings moet gedoen word gedurende April. Kontak Prof Gert Steyn vir die volledige toerprogram en verdere inligting by 083-236-9056 of gert.steyn@up.ac.za

Share this / Deel hierdie: