Teologie mag nooit sy geskiedenis vergeet nie. Dít is egter nie so maklik nie want die verlede maak nie maklik oop nie. Ons verstaan nie die hele geskiedenis in sy volheid nie want ons het net die ‘brokke, fragmente of flenters’ van dit wat eens was (Schoeman 1998:41). En tog moet ons probeer om ons tradisie voortdurend anders, nuut te verstaan want ons is onherroeplik deel daarvan (Gadamer 1990:261).

Dit kan ook nie anders nie want ons is deel van die teologiegeskiedenis van die afgelope twee duisend jaar; ons is deur gebeure in die kerkgeskiedenis gevorm en ons teologiese intellek is veral deur die westerse of Latynse denke geslyp.

Dit is maar ’n brose geskiedenis en die swak teologiese timmerwerk wys oral. Politieke gekonkel en kerklike magsmanipulasie was dikwels die kragte wat die teologie gestuur het en verskriklik was die lot van die andersdenkende of die afwykende. Hierdie ‘onheilsgeskiedenis’, soos dit al genoem is, is egter die konteks waarbinne ons gewerp is; die wêreld waarin ons teologies moet leef, werk en oorleef.

En daarom moet ons moeite met ons verlede maak. Ons moet nie die regter wees wat alles in die verlede kritiseer nie want dit is te maklik. Elke era moet eerder in sy eie partikulariteit, sy individualiteit verstaan word. Uiteraard is dit amper onmoontlik, maar tog moet ons probeer want in die proses om te verstaan, ontdek ons ander, nuwe dinge.

Dit beteken geensins ’n kritieklose aanvaarding van gister en eergister se teologie nie, maar eerder ’n verbeeldingryke poging om gister se mense te verstaan; te verstaan hoe gelowiges in die vroeë kerk of die middeleeue God, die wêreld en hulsef verstaan het.

Ons kan dit ook só stel: deur ’n kritiese omgang met die teologiegeskiedenis groei ons eie insigte; deur inlewing in die teologie en Bybelverstaan van ander ontdek ons onsself; deur ander mense te probeer begryp, groei ons in ons eie denke asook in ons gedeelde menswees (vgl Markschies 2006a & 2006b). Hieronder noem ons ’n paar voorbeelde.

Vir sommige is tradisie iets verdag. Iets wat eerder vermy moet word. In die vroeë kerk was dit egter belangrik. Vir iemand soos Vincentius van Lerinum was dit pynlik om te sien hoe Arius die Skrif sus, Pelagius so en Nestorius weer op ‘n heeltemal ander manier uitlê. Om alle willekeur hok te slaan, moes die tradisie help. Volgens Vincentius moes die tradisie nie iets ekstra by die Skrif voeg nie, maar eerder die eksegese rig. Die kanon (die Bybel soos ons dit vandag ken) was immers klaar afgesluit en dit het volledig aan die kerk se behoeftes voldoen.

Wat egter gelol het, was die verskillende interpretasies van die een teks. Vincentius ondervang dan die probleem met sy beroemde uitlating: ‘Quod ubique, quod semper, quod ab omnibus creditum est’. Die tradisie wat oral, altyd en deur almal geglo is, moes alle Skrifverklaring begelei. En wanneer die Bybel in die lig van die tradisie gelees is, het hierdie tradisie ook die lewende geloof versterk (Drobner 1994:2, 344).

Dit bly ongelooflik wat Irenaeus (en ook die ander vroeë vaders van die kerk) met net die teks en ‘n stukkie tradisie reggekry het. In die tweede eeu het Irenaeus ‘n enorme bydrae gelewer om byvoorbeeld die Ou Testament vir die kerk te behou omdat hy bereid was om te dink, teologies te dink. Toe die gnostiek die kerk amper verwoes het, het hy nie in die mistiek gevlug nie, maar die uitdaging aanvaar om van vooraf alles te deurdink. En daarom is sy teologie tot vandag toe vars, nuut en oorspronklik (Minns 2010:1-13).

Augustinus se psalmkommentaar klink vreemd. Sommer vanaf die eerste vers lê hy dit Christologies uit, maar tog is Augustinus anders. Boeiend anders want die kerk is hierby ingesluit. Die psalms praat nie net oor Christus nie, maar ook oor sy liggaam. Wat met Hom in die psalms gebeur, gebeur ook met sy kudde. Uiteraard moet die psalms in hulle eie teologiese samehang begryp word, maar tog bied Augustinus se verklaring die verrassende moontlikheid om meer genuanseerd oor die kerk en die psalms te praat (Van der Meer 1957:122-183; Van Bavel  2005:173).

Hugo van St Viktor was in die twaalfde eeu sat vir al die vergeesteliking en die maklike emosionele manier waarop die Bybel uitgelê is en daarom het hy sy studente geleer om tekste eers histories te verstaan. Hulle moes hulle eers met ‘die waarheid’ van die gebeure besighou alvorens hulle kon allegoriseer. Hulle moes eers vra: Wat het gebeur? Wanneer het dit gebeur? Waar het dit gebeur? ‘n Historiese interpretasie (Reventlow 1990:175) was die eerste en allesomvattende eksegetiese stap; dit was soos ‘n huis wat ‘n tuiste vir die ander eksegeties stappe gebied het en waarbinne dié stappe ook kon groei en gedy (De Lubac 1998:211-267).

Om altyd teologies nuut, anders, vars te dink, beteken ook ‘n lewende omgang met die teologiese rots waaruit ons gekap is.
De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
Markschies, C 2006a. Das Antike Christentum. München: C H Beck.
Markschies, C 2006b. Die Gnosis. München: C H Beck.
Minns, D 2010. Irenaeus. London: T&T Clark.
Reventlow, H.G. 1990. Epochen der Bibelauslegung. Vom Alten Testament bis Origines, vol 1. München: C.H. Beck.
Schoeman, K 1998. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van  Bavel, T 2005. ‘Wij moeten leren het onuitspreekbare op onuitsprekelijke wijze te zien’, in P van Geest & J van Oort, Augustiniana Neerlandica. Peters: Leuven, 165-185.
Van der Meer, F 1957. Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.

Share this / Deel hierdie: