Praktiese probleme in die kerk moet nie bloot net met praktiese voorstelle opgelos word nie, maar moet eerder denkend aangepak word. ‘n Student moet intellektueel so gevorm word dat hy/sy lewensprobleme wetenskaplik sal verstaan en intellektueel sinvol daarmee sal omgaan.

Ons kan weereens Martin Heidegger gebruik om twee soorte denke te onderskei. Die een is rekende denke en dít fokus op beplanning, ordening, sistematisering, regulering, administrasie en organisasie. Alhoewel dié soort denke onontbeerlik is, is dit nie die eintlike denke nie.

Alles draai egter om nadenke, diepdenke, kontemplasie oor ons menswees en elke dag se sleur, oor God wat soms afwesig voel en die Bybel en die felle kritiek daarop. Teologie is daarom nie in die eerste plek beplanning of organisasie of meting nie, maar nadenke, radikale nadenke en besinning (Ijsseling 1964:8-320.

En dié teologiese diepdenke moet binne die maalstroom van die lewe met al sy lewensprobleme geskied. Miskien kan die filosofie ons help om hierdie band tussen teologie en die alledaagse raak te sien en te verwoord.

 

Lewe en denke

Filosofie het met die radikale nadenke oor die lewe te make. ‘Lewe’ en ‘denke’ hoort saam. Die ‘lewe’ is nie so toeganklik nie en ‘n mens moet hard daaroor nadink. Die ‘lewe’ se sin en betekenis kan ‘n mens nie sommer vasvat en beskryf nie. Dit vra fyndenke en harde werk om iets sinvol oor elke dag se eentonige sleurgang te sê. En in die geskiedenis van die filosofie van die afgelope eeu of wat is daar uitstekende intellektuele probeerslae waarsonder die teologie ook nie kan klaarkom nie.

Groot wetenskaplike deurbrake en tegniese vooruitgang het die mens van die negentiende eeu se selfvertroue versterk. Natuurwetenskaplike kennis kon baie dinge in die natuurwêreld verklaar. Vordering op die gebied van die mediese wetenskap het die sterfsyfer laat daal en baie se lewens is verleng. Aan die begin van die twintigste eeu het daar gevolglik groot optimisme oor die komende eeu bestaan. Groot hoogtes sou op alle gebiede bereik word en dit sou die lewe ryk en lekker maak (Vgl Mak 2004)

En toe het dit nie gebeur nie. Die eerste en tweede wêreldoorlog, die 1918-griep, burgeroorloë in Ierland (1922-1923) en Spanje (1936-1939), Wallstraat se ineenstorting in 1929, die opkoms van Hitler en fascisme in die dertigerjare, het die idilliese beeld van die twintigste eeu vernietig. Sommer al in die eerste helfte van die eeu het die mooi ideale al inmekaargestort.

Met al dié probleme het die filosowe ook geworstel. Belangrik is dat hulle denkend daarmee omgegaan het. Filosowe het denkend met die probleme van die dag omgegaan. In die maalkolk van die lewe is gedink, gefilosofeer en dit het tot ‘n helderder verstaan van menswees gelei.

Jean Paul Sartre en die Franse eksistensiefilosofie is ‘n goeie voorbeeld. Na twee wêreldoorloë was die mens van alle sekerhede gestroop en volgens Sartre was elkeen op hom-/haarself aangewese. En natuurlik gaan dit sleg met die mens. Hy/sy ervaar die absurditeit van die lewe. Anders gestel: hy ontdek daar is geen sin in hierdie lewe nie. Niks sluit nie. Alles is onaf. Daarom kan die mens nie anders as om vir hierdie lewe te walg nie. Alles wat bestaan, word sonder enige rede gebore; in swakheid ploeter die mens maar voort; hy/sy kan die lotgevalle van sy/haar menswees nie beheer nie; uiteindelik sterf /hysy. En hierdie magtelose ervaring lei tot walging. Walging is ‘n basiese lewensgevoel (Sartre 1938:1-100; 1943:20-80; 1948:23-56; 1962:20-30).

Sartre-hulle se filosofie was destyds gewild omdat dit so ‘n intense worsteling met die lewe was; met die sinloosheid daarvan; die vasgevangenheid van die mens in sy/haar klein wêreldjie; die walging vir die klein-mens-bestaan van elke dag; die ewige soeke na sin; die onontbeerlikheid van keuses, ensvoorts.

Hierdie skerp nadenke oor die lewe kry ons ook in die Ou Testament. Veral die wysheidsliteratuur (dit is nou boeke soos Spreuke, Job en Prediker) is in die lewe, die alledaagse lewe gedrenk en die wysheidsleraars het diep oor die lewe nagedink. Hulle wou weet watter soort gedrag maak ‘n mens gelukkig en watter ongelukkig. Hulle het ook met die sin van die lewe geworstel. Veral in tye van lyding en wanneer ‘n gevoel van tevergeefsheid hulle oorweldig het (Crenshaw 1981:11-25; Gottwald 1985:563-582; Delkurt 1993:9-20).

 

Dink mooi voor jy optree

Veral die wysheidsliteratuur (dit is nou boeke soos Spreuke, Job en Prediker) is in die lewe, die alledaagse lewe gedrenk en die wysheidsleraars het diep oor die lewe nagedink. Hulle wou weet watter soort gedrag maak ‘n mens gelukkig en watter ongelukkig. Hulle het ook met die sin van die lewe geworstel. Veral in tye van lyding en wanneer ‘n gevoel van tevergeefsheid hulle oorweldig het (Crenshaw 1981:11-25; Gottwald 1985:563-582; Delkurt 1993:9-20).

Volgens die Spreukeboek moet jy in hierdie lewe mooi dink. Berekenende optrede was belangrik: jy moes die tye en geleenthede ken en op grond van jou wysheidsopleiding weet hoe om op te tree. Pragtig word dit in Spreuke 26:4 en 5 geïllustreer. Beide verse weerspreek mekaar. Volgens die een moet jy ‘n dwaas na sy dwaasheid antwoord terwyl die ander vers eerder swye voorstel.

Twee moontlikhede word geskets en albei is geldig. Alles hang van die persoon self af. Hy moet die situasie ‘lees’, alles mooi deurdenk en dan self besluit wat hy gaan doen. Dit is so belangrik dat ons dit weer verduidelik. In elke situasie moet ‘n mens mooi dink wat om te doen. En na gelang van die omstandighede sal hy weet of hy moet praat of stilbly (Plöger 1983:306-316).

Dit is egter in die boek Prediker waar teologie en lewe, kritiese teologie en sinlose lewe die nouste gekoppel word.

‘Alles is tervergeefs’, sê die Prediker

By Prediker kry ons iets van die walging vir die lewe. Alle bestaande waardes het in duie gestort en daar was niks meer om aan vas te hou nie. Die heersende teologie het nie meer ‘gewerk’ nie. Dit was magteloos teenoor die groot lewensvrae. Dit was nie meer lewensondersteunend nie. Dit het nie meer sin aan die lewe verskaf nie. Dit het ook nie meer saak gemaak of jy goed of sleg leef nie want almal was magteloos aan tyd en noodlot uitgelewer. Of iemand wys of nie-wys geleef het, dit maak nie eintlik saak nie, want alles kom tog tot niks (Schwienhorst-Schönberger 1996:7-12).

Volgens Prediker was die lewe ‘n klug! Sonder omhaal van woorde wou Prediker sy waarheid stel. Hy sê dit ook nie een keer nie, maar oor en oor: ‘Alles kom tot niks’. Met alle mag wou hy die destydse waardesisteme ondermyn. Sy tydgenote het gemeen die lewe is sinvol en dat alles in die lewe mooi en netjies inpas. Oral en altyd ‘werk’ dinge vir die goeies: mense word in ‘n gelukkige omgewing gebore, begin met ‘n suksesvolle beroepslewe, word ryk, trou met iemand waarmee hy altyd gelukkig sal wees, leef tot ‘n hoë ouderdom saam met hulle kinders en kleinkinders. Prediker skreeu hierteen. So verloop dinge nie. So maklik gebeur dinge nie. So mooi en netjies pas alles net nie inmekaar nie. In hierdie lewe is daar niks wat vas is nie. In hierdie lewe gaan alles maar verby en daar is niks permanents nie (vgl Loader 1984:24-28).

‘Kyk mooi na die natuurlewe’, wil Prediker sê (1:5-7). ‘En kyk of daar ‘n logiese volgorde bestaan’. In die môre kom die son op en in die aand gaan dit weer onder. Watter sin bestaan daar in die eindelose dag- en nagwisseling? Dit is niks anders as ‘n eindelose herhaling van die dag en die nag wat eintlik geen waarde het nie. Let verder op die wind. Eers waai dit die kant toe en dan weer daardie kant toe. Daar is geen sin, geen patroon in hierdie waaiery nie. Prediker noem nog ‘n derde voorbeeld: die riviere. Hulle vloei aanmekaar sonder dat die see enigsins voller word. Alles is sinloos, so sonder betekenis (Loader 1984:41-46).

Ons eie liggame vertel ook hulle eie sinlose verhaal. Enige tyd kan die groot gelykmaker, die dood, ons lewens verwoes. Of jy nou wys of dwaas, vroom of onvroom is, die dood sal jou inhaal. Daar is geen teenmiddel wat ons teen ‘n vroeë dood sal beskerm nie. Al word ons oud ervaar ons nog die sinlose aftakeling van ons lewens. Aan die einde van die boek praat Prediker oor die liggaam wat sy kragte verloor (12:3-8). Al lewe ons lank daar kom ‘n tyd wanneer die wagters van die huis (die bene) sal bewe, die sterk manne (die arms) sal begin waggel, die malers (die tande) sal ophou om te maal, die vensters (die oë) nie meer sal lig inlaat nie, die geluid van die meul (die ore) sal begin dof word. En dan kom die dood. Vir die Prediker is dit soos ‘n goue kruik wat by die fontein stukkend breek (12:6). So is die lewe nou eenmaal. Geen wonder dat die Prediker sy boek met sy bekende woorde afsluit nie: ‘Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks’ (12:8) (Schwienhorst-Schönberger 1996:224-230).

En tog sê Prediker ‘Ja’ vir die lewe. Hy het vir die hier en die nou van die lewe gekies. Hy wou met elke dag erns maak. En nie eendag nie, maar vandag nog. As Prediker van die broosheid van menswees praat, val hy homself in die rede en sê: ‘Ek het tot die insig gekom dat daar vir die mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet nie’ (3:12). Hierdie lewe moet jy geniet: ‘Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee’ (9:15) (Loader 1984:121-123).

En die vreugde van hierdie wêreld lê in die klein dingetjies. Dit beteken nie dat ons duur karre en meubels moet aanskaf of deftige huise moet bewoon nie. Nee! In die klein en alledaagse dingetjies moet ek blydskap en vreugde vind. Prediker sê dat as ‘n mens sy brood eet, moet hy dit geniet en met vreugde eet; en as hy wyn drink, moet hy dit geniet (9:7). En as jy ‘n vrou liefhet, doen dit (so sê die Prediker) met oorgawe. Hy sê dit duidelik: ‘Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet’. En dan voeg hy ‘n dringende waarskuwing by: ‘dié lewe wat tot niks kom nie’ (Pred 9:9) (Schwienhorst-Schönberger 1996:324-332).

So is die lewe nou eenmaal. Dit is absurd, ‘n klug en nog baie ander dinge meer. Ons kan niks wesenlik aan die lot van menswees verander nie. Dinge, slegte dinge sal goeie mense bly tref. Prediker sê egter dat ons nogtans gelukkig kan wees. Geniet die klein dingetjies van hierdie lewe. My man, my vrou, my kinders. Of ons kuier of reis of die teater besoek of wat ook al, geniet dit net.

 

Teologie en die lewe

Teologie moet ook so intens oor die lewe nadink. Praktiese voorstelle gaan dalk nie met die sinloosheid help nie en dalk ook nie met die kleinmens se daaglikse worsteling nie. In die herlewing van Israel se lewensweg kan ons onsself ontdek en sin aan die lewe gee. Dít vra egter denke en dalk kan die filosofie ons meer help.

 

Bronnelys

Crenshaw, J L 1976. Studies in ancient Israelite wisdom. New York: Ktav Publishing House.
Crenshaw, J L 1981. Old Testament wisdom. London: SCM.
Delkurt, H 1993. Ethische Einsichten in der Alttestamentlichen Spruchweisheit. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
Gottwald, N K 1985. The Hebrew Bible. Philadelphia: Fortress.
Ijsseling, S 1964. Heidegger. Denken en danken, geven en zijn. Antwerpen: Nederlandse Boekhandel.
Loader, J A 1984. Prediker: Een praktische bijbelverklaring. Kampen: Kok.
Mak,  G  2004. In Europa. Uitgeverij Atlas
Lavine, T Z 1989. From Socrates to Sartre. New York: Bantam Books.
Plöger, O 1983. Sprüche Salomos. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
Sartre, J P 1943. Being and nothingness. New York: Washington Square Press.
Sartre, J P 1948. Existentialism and humanism. London: Eyre Methuen. 23-56
Sartre, J P 1962. ‘The files’ and ‘In camera’. London: Hamish Hamilton.
Schwienhorst-Schönberger, L 1996. Nicht im Menschen Gründet das Glück. Freiburg: Verlag Herder.
Schwienhorst-Schönberger, L 1998b. Das Buch Kohelet, in Zenger, E (red), Einleitung in das Alte Testament, 336-344. Stuttgart: W. Kohlhammer.
Sartre, J P 1938. Nausea. New York: New Directions Press.

Share this / Deel hierdie: