‘Om uitgesproke teologies te wees’

Vyftig jaar gelede het die eerste Tijdschrift voor Theologie onder leiding van die belangrike katolieke teoloog, Edward Schillebeeckx (1914-2009), verskyn. Vanaf die eerste uitgawe in 1961 het die skrywers die tipiese teologiese probleme van die beginjare sestig vanuit verskillende kante belig. Dit was ‘n veelbewoë era, maar ook die tyd van die Tweede Vatikaanse-konisilie en ander opwindende gebeure.

En nou, vyftig jaar later, het die redaksie van Tijdschrift voor Theologie ‘n teologiese bestekopname gemaak. Op die buiteblad staan die woorde, ‘Uitgesproken theologisch’ wat ook die inhoud duidelik bepaal het: dit gaan om harde teologiese, maar ook kritiese nadenke. Hierdie tydskrif en sy lesers het onomwonde vir ‘n teologiese aanpak gekies wat nêrens verswak of afgeskaal moet of mag word nie. ‘n Aantal teoloë is toe gevra om vanuit elkeen se vakgebied oor die toekoms te skryf. Hulle moes op belangrike resente literatuur en strominge wys, die relevansie van elkeen se vak vir vandag beskryf en oor die uitdaginge vir die toekoms skryf.

Uiteraard het baie in Europa (en ook Suid-Afrika) die afgelope halwe eeu verander. Die mono-kultuur bestaan nie meer nie, die kerk se invloed het getaan, teoloë vind die band met die kerk nie meer so belangrik nie, ander godsdienste het in belangrikheid toegeneem, sekularisasie is steeds ‘n krag, ensovoorts. Daarom is Tijdschrift voor Theologie se fokus op die teologie se ‘toekoms’ ‘n baie tydige onderneming.

Daar is ‘n paar opvallende tendense waarvan maar net een of twee genoem word. Een is die voortdurende hermeneutiese refleksie en die ander die belangrikheid van die kerk vir die teologie. Daar is nêrens sprake van afskaling nie. Nêrens word vir die verlaging van standaarde of die die afplatting van die grondtale of die opgee van die teologie gepleit nie. In ‘n sekere sin lê die toekoms van die teologie in sy verlede. In deeglikheid, wetenskaplikheid, primêre bronnestudie, detailwerk en om uitgesproke teologies te dink en te doen.

Aan die begin van die een en twintigste eeu word ander vrae gestel. Die Bybelwetenkap moet byvoorbeeld met die volgende worstel: wat moet binne die Ou- en Nuwe-Testamentiese wetenskap gebeur, waarom moet dit juis só gebeur/plaasvind en hoe gaan hierdie wetenskap in die toekoms oorleef? (Van Hecke 2011:7)? Dié vrae is belangrik want die Bybelwetenkappe se resultate (soos sêmaar oor Moses of die historiese Jesus) het vele ontstel en die ander teologiese dissiplines agterdogtig gemaak. Hoe kan die Ou Testamentiese wetenskap hierop reageer?

 

Ontgin die waarde van Israel as geloofsgemeenskap

Dit Ou Testament is ‘n versameling historiese tekste wat in verskillende geloofsgemeenskappe in verskillende tydperke in Israel se geskiedenis ontstaan het. Tekste wat nou nog iets van dié gemeenskappe se worsteling met God en die gewone lewe reflekteer. Sonder dié gemeenskappe was daar egter geen Ou Testament nie. En die waarde van die Ou-Testamentiese wetenskap kan byvoorbeeld wees om weer iets van hierdie gemeenskappe se ervaringe te verstaan en te verwoord. Meer nog: om dit her te beleef.

Dit is juis ons probleem dat ons die Ou Testament uit sy leef wêreld geneem het en toe het dit verstar. ‘n Bekende filosoof het op ‘n keer oor die woordjie ‘antiek’ nagedink en gewonder wanneer iets werklik antiek is. ‘n Antieke stoel, byvoorbeeld, wat duur gekos het, eenkant in die huis staan en waarop kinders nie mag spring of grootmense sit nie. ‘n Stoel wat net op ‘n afstand bewonder en oor gepraat kan word. Wat maak dit antiek? Is dit omdat die stoel so oud en duur is, of dat die hout en stoffering uit ‘n ander era kom of dat die interessante vorm of uitgekerfde patroontjies tipies van ‘n vorige eeu is? Hoegenaamd nie. Die stoel is antiek omdat dit uit sy leefwêreld geneem is. Sy leefkonteks waarin mense daarop kon ontspan en kinders dit kon rondstoot en daarop spring. Iets is dus antiek wanneer dit uit sy oorspronklike en lewende konteks geneem en in ‘n ander, vreemde wêreld geplaas is.

Ons het van die Bybel ‘n antieke boek gemaak omdat ons dit uit sy oorspronklike wêreld weggeneem het; uit sy wêreld van gewone mense wat gevoel, gedink en geglo het; uit ‘n leefkonteks waarin dit stuksgewys ontstaan en gegroei het. En omdat ons dít gedoen het, het die Bybel ‘n strak en krakerige boek uit ‘n grys verlede geword. Eers wanneer ons dit as ‘t ware in sy historiese leefwêreld terugsit, kan ons die stemme van mense hoor wat oor God en met mekaar gepraat het. Eers wanneer ons die Bybel in sy verskillende historiese kontekste terugplaas, kan ons iets van God in mense woorde verstaan (Le Roux 2011:115-116).

 

Ontgin die Ou Testament vir vandag se geloofsgemeenskap

Uiteraard kan die Bybel met ‘n politieke, ‘n sosiologiese, ‘n literêre bril gelees word en hoef geloof geensins ‘n rol te speel nie. Dit kan inderdaad as ‘n antieke boek sonder enige waarde hanteer. En dít gebeur ook elke dag. Dit neem egter nie weg dat die Ou Testament vandag nog in geloofsgemeenskappe gelees en geglo. Harde eksegetiese arbeid geskied omdat dié boek nog vir mense iets beteken (vgl Vedder 2000:16). Hiermee moet die Bybelwetenkaplike terdeë rekening hou; wetenskaplike arbeid moet dus ook betekenis vir die gemeenskap ontsluit.

Die Ou Testament is ‘n teks. ‘n Geskrewe teks. En wat ‘n teks as teks definieer, is betekenis. ‘n Teks is saamgeperste betekenis. En daarom moet die Bybelwetenkap op hierdie betekenis gerig wees. Bybelwetenkaplike aktiwiteite is dus bedoel om hierdie betekenis oop en verstaanbaar te maak. Die groot vraag is natuurlik hoe dit gebeur; hoe betekenis gebeur, hoe dit in die leser se lewe tot stand kom (Van Hecke 2011:10).

Met behulp van Ricoeur word dan ‘n antwoord op dié vrae gewaag. Ricoeur onderskei tussen verklaring en verstaan of begrip. As ons ‘n teks lees, moet dit verklaar word. Ons het dalk al ‘n vae begrip van die betekenis, maar eers moet die teks deur harde eksegese verklaar word. Eers moet die teks taalkundig en ook histories deurgrond en verklaar word. Dít is egter nie genoeg nie; om eindelose teks- en woordanalises te maak, mag nooit die einddoel wees nie. Daar moet na die teksverstaan deurgedring word.

Volgens Ricoeur het teksverstaan met menswees te make. Hoe meer ek ‘n teks verstaan destemeer verstaan ek myself. In navolging van Heidegger moet die verstaan van ‘n teks my dus help om myself binne hierdie gebroke wêreld te verstaan en te leef soos wat dit in die teks vertel word. Elke ‘tekst ontsluit een manier van in-de-wereld zijn en nodigt de lezer uit zich deze ontsluiting eigen te maken en zichzelf te begrijpen op de manier voorgesteld in de tekst’ (Van Hecke 2011:11). Die proses van Skrifinterpretasie omsluit dus twee pole: die verklaring van die teks en die verstaan. En verstaan impliseer die eiemaak en die verinnerliking van die teks.

 

‘n Hermeneutiek vir kerkgeskiedenis

Kerkgeskiedenis is ook ‘n tekswetenskap want dit werk met bronne en daarom moet elke kerkhistorikus sy ambag telkens hermeneuties verfyn. En Michel Foucault word as ‘n belangrike rigtingwyser beskou. Dit is interessant hoe radikaal hierdie Franse filosoof se insigte die historikus en ook die kerkhistorikus se denke die afgelope kwarteeu gevorm het (Müller & Ackerman 2011:24-25). Vir elke nadenke oor geskiedenis en veral vir ‘n ‘hermeneutiek van kerkgeskiedenis’ bly Foucault dus onontbeerlik (vgl Foucault 1973).

Foucault het ons anders na historiese bronne laat kyk. Die bron wat jy gebruik, is ook saamgeperste betekenis. Dit reflekteer die gevoelens en denke van mense in ‘n bepaalde tyd. Daarom moet die kerkistorikus fyn op die taal en uitdrukkings in ‘n bepaalde bron let; skerp kyk hoe taal in ‘n betrokke bron gebruik word. En die rede hiervoor is om die magsrelasies in die bron, die diskoers raak te sien. Anders gestel: in die bron word spesifieke woorde en uitdrukkings gebruik om jou, die kerkhistorikus, te beïnvloed en op ‘n bepaalde manier te laat dink. En vir hierdie soort magsmanipulasie in die teks moet jy wakker loop. Historiese bronne moet dus baie krities ondersoek word.
Ons kan dit ook so verduidelik: die ideologie in die bron moet ontmasker word. Ricoeur se hermeneutiek van suspisie en sy ‘drie meesers van die valse bewussyn’ verduidelik dit nogal mooi. Dié drie meesters, Friedrich Nietzsche, Karl Marx en Sigmund Freud het altyd nog die vroom maskers afgeruk en op die vele ‘onsuiwerhede’ binne-in ons gewys. Volgens Freud is daar soveel oordele en voordele in ons onderbewuste aan die werk dat ons nie eers besef hoe dit ons verstaan van die werklikheid en tekste kleur nie; volgens Nietzsche word almal deur ‘n wil tot mag gedryf wat die skryf- en verstaansproses radikaal beïnvloed; volgens Marx is sosio-ekonomiese kragte so oorweldigend dat dit ons verstaan van die wêreld en ook tekste vorm en slyp. Kortom: met behulp van hierdie drie meesters van die valse bewussyn moet die ideologie in die bronne (en ook die kerkhistorikus) ontbloot word (vgl Kearney 1989:1-4-105).

Niemand het sondermeer toegang die verlede nie. Anders gestel: niemand kan sommer die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die afgelope honderd jaar binnestap en bepaal wat werklik gebeur het nie. Die verlede is ontoeganklik en ‘n mens kry slegs toegang daartoe deur middel van jouself; jy kan nooit buite die geskiedenis gaan staan en die ware historiese werklikheid verstaan nie. Jy kort woorde en begrippe (wat jyself maak) om die verlede te kan ken en te beskryf. Jy het kennis van byvoorbeeld die begrip ‘kerk’ nodig om die geskiedenis van die kerk in ‘n bepaalde tyd te herken en te verstaan. Elke stukkie geskiedenis wat jy beskryf, is jou eie maaksel en is nog geen ware kennis van die verlede nie (vgl Müller 2001).
En die taal waarin jy die verlede beskryf, is ook maar gebrekkig. Die moment wanneer ‘n mens iets talig maak, het jy dit klaar verloor want geen taal kan ooit die volle werklikheid vasvat en beskryf nie. Geen taal-beskrywing van ons verlede is dus enigsins ‘n spieëlbeeld van die werklikheid nie. Dit is bloot ‘n perspektief op die verlede; bloot ‘n voorstel oor hoe dit kon gewees het; dit is bloot jou konstruksie van die verlede wat om voortdurende kritiese ondersoek roep. Dit beteken nog lank nie dat jou geskiedenis blote niksseggende fiksie is nie, maar dit vat ook nie die volle historiese werklikheid saam nie (Müller & Ackerman 2011:26-27).
Volgens Müller & Ackerman moet kerkgeskiedenis in die toekoms baie meer interdissiplinêr word: ‘Bij de correctie van ideologische vertekeningen kan de kerkgeschiedenis niet zonder de interactie met andere disciplines’ (Müller & Ackerman 2011:30). Een moontlike vakgebied is argeologie omdat die ontdekking van materiële reste nuwe lig op die geskiedenis kan werp. Argitektuur, kunsgeskiedenis en die literatuurwetenskap kan ook baie tot ons verstaan van die verlede kan bydra. Dit is egter die kweek van ‘n fyn hermeneutiese aanvoeling wat voorkant toe al hoe meer onontbeerlik gaan word.

Dogmatiek soek ‘n lewende gemeenskap

Volgens dogmatikus Stephan van Erp was die jare 1961 en 2011 die tydperk van die opgang en ondergang van die dogmatiek. Sedert Schillebeeckx se eerste artikel in 1961 het die dogmatiek ‘n bloeitydperk deurgemaak. In dié tyd is baie belangrike werke geskryf: Hans Urs van Balthasar (Herrlichkeit: Eine theologische Ästhetik), Jürgen Moltmann (Theologie der Hoffnung), Gustavo Gutiérrez (A theology of liberation), Walter Kaspers (Jesus der Christus), Eberhard Jüngel (Gott als Geheimenis der Welt), Hans Küng (Der Kirche; Christ sein), Mary Daly (Beyond God the Father), Karl Rahner (Grundkurs des Glaubens), Wolfhart Pannenberg (Systematische Theologie) en Edward Schillebeeckx (Jezus het verhaal van een levende; Gerechtigheid en liefde). Al hierdie skrywers het die filosofie van hulle tyd ernstig geneem en teologiese analises van die moderne kultuur gemaak. Teen die laat tagtigs van die vorige eeu het die groot nedergang van die dogmatiek begin en het dit al hoe meer veld begin verloor.

Een moontlike rede hiervoor is die debatte oor die gronde van geloof. Is dit bloot ‘n menslike ervaring of is dit openbaring? Nog ‘n rede is die nuwe eise wat in nuwe kontekste aan die dogmatiek gestel is. So het sekularisering van die westerse kultuur groot eise aan kerk en teologie gestel. Ten spyte van alle probleme kies Van Erp vir ‘n teologie van die vleeswording van Christus: ‘Ik opteer voor een hedendaagse dogmatiek die haar grond vindt in de incarnatie, oftewel in Gods menselijke aanwezigheid in de geschiedenis: in Christus en in het heden’. (Van Erp 2011:42).

So ‘n teologiese uitgangspunt roep om ‘n bepaalde soort geloofsgemeenskap waar die teenwoordigheid van die vleesgeworde Christus ervaar kan word, maar waarin ook krities gedink en gepraat kan word. Sonder so ‘n lewende gemeenskap sou die dogmatiek (en ook die teologie) kwyn (Van Erp 2011:43). Die kerk is ‘n gemeenskap waar mense steeds in die verwagting leef dat God die geskiedenis wat Hy met hulle begin het, sal voltooi. En ‘n beslissende oomblik in hierdie geskiedenis was die herstel van die verhouding tussen God en mens in Christus. Christus se vleeswording en sy teenwoordigheid onder mense skep dus die ruimte, die geloofsgemeenskap waarin die dogmatiek (en ook die teologie) telkens in die lig van nuwe vrae nuut en selfs radikaal kan dink. 

 

Slot

Die Tijdschrift voor Theologie (2011/1) stel die Suid-Afrikaanse teologie ook voor die uitdaging om oor sy aard en taak te besin. Dit het hier nog skaars begin (vgl Le Roux 1993). Op watter wyse dit nou ook al gebeur, moet ‘n sterk hermeneutiese onderbou hê. Daar moet dan verby die katalogisering van name en artikels gekyk word sodat die groot teologiese tendense aangetoon kan word. En dan moet die groot vrae wat aan die Bybelwetenkap gevra woord ook deur die Suid-Afrikaanse teologie beantwoord word: wat moet binne die teologiese wetenskap gebeur, waarom moet dit juis só gebeur en hoe gaan hierdie wetenskap in die toekoms oorleef?

 

 

Barth, K 1962. Anselm. Fides quaerens intellectum. The World Publishing Company: Cleveland/ New York.

Foucault, M 1972. The Archaeology of Knowledge. New York: Harper & Row.

Foucault, M 1973. The Order of Things. New York: Vintage.

Foucault, M 1988-90. History of Sexuality, Vols 1-3. New York: Vintage Books.

Kearney, R., 1989. Modern movements in European philosophy. Manchester: University Press.

Le Roux, J H 1993. A story of two ways. Verba Vitae, Pretoria.

Le Roux, J H 2011. Tekste en hulle kontekste, in Cas Vos & Dirk Human, Vaste rots op wie ek bou. Kaapstad: Lux Verbi.

Müller, D 2001. ‘Ohne Ketzer gibt es keine Geschichte’. Utrecht: KTU.
Müller, D & Ackermans, G 2011. Achter de Geschiedenis kijken – Kerkgeschiedenis als discipline naast geschiedenis en theologie. Tijdschrift voor Theologie 51/1,20-33.
Van Erp, S 2011. Incarnatorische theologie – Dogmatiek op zoek naar een nieuwe motief. Tijdschrift voor Theologie 51/1, 34-46.

Van Hecke, P 2011. ‘Begrijpt ge wat ge leest?’ (Han 8, 30). Tijdschrift voor Theologie 51/1, 7-19.

Share this / Deel hierdie: