Teologiese opleiding in die Gereformeerde tradisie, enkele gedagtes[1]

 

Ek gaan my 10 minute benut om ʼn ou gesprek net vinnig in kort weer aan te raak, aangesien dit deel is van die onderliggende dinamika wanneer ons gesels oor teologiese opleiding in die algemeen. Wat ek wil doen is om net in kort te kyk na die waarde van teologiese opleiding aan die universiteit en spesifiek ook as sodanig in ons eie tradisie. En dit wil my voorkom dat die skoling van predikante aan spesifiek universiteite oftewel teologiese fakulteite van vroeg af al eie is aan die gereformeerde tradisie.

Onlangs wys prof. Hennie Pieterse my daarop dat Calvyn vanuit die staanspoor gekies het vir universiteitsopleiding eerder as ʼn aparte kerklike opleiding en werk ook aktief mee aan die oprigting van so ʼn instelling met Beza as eerste rektor in Genève. Dit word ook in Willem Dankbaar se boek oor Calvyn bevestig.[2] Maar hoekom dan, hoekom spesifiek ʼn fakulteit teologie? Daar is baie redes, maar ek sonder enkeles uit:

  • Aan die een kant is hierdie keuse verstaanbaar gegewe Calvyn se klem op die suiwere verkondiging van die Woord en die wetenskaplike hulpmiddele tot die beskikking van teoloë aan universiteite wat hierdie saak op ʼn spesifieke en besondere wyse kan dien.
  • Aan die ander kant en ook baie belangrik was daar van vroeg af in die Gereformeerde tradisie die oortuiging dat die teologie nie wil terugtrek uit die samelewing om ʼn eie vakbeoefening te bedryf nie. Inteendeel, teologie wil blootgestel wees en deelneem aan die breër wetenskaplike redevoering en ontwikkeling van die dag. Hierdie oopstelling eerder as onttrekking sal ook in pas wees met ʼn siening van reformasie as ʼn voortgaande proses eerder as ʼn afgehandelde gegewe. Die waarheid van die teologie is dus nie ʼn saak wat uitgeklaar en in lood gegiet is nie, inteendeel, die waarheid van die teologie is ʼn waarheid wat voortdurend reformerend is volgende die Skrif.[3] Volgens Dankbaar was wetenskaplik gevormde dienare van die kerk vir Calvyn onontbeerlik. Ek haal hom in Afrikaans vertaal aan: “Die kerk sou immers geen afgeslote sektariese gemeenskap moes wees nie, maar ʼn belydende kerk wat in die volle lewe staan. Daarom geen kerk sonder teologie en geen teologie sonder algemene wetenskaplike ontwikkeling”. Die instelling wat opgerig is in Genève het ook dan bekend gestaan as sogenaamde schola publica en by hierdie schola publica het die kerk en staat saamgewerk in die opleiding wat teologiese opleiding ingesluit het.
  • Dit lyk dus of die kombinasie van ʼn klem op gehalte woordverkondiging en ʼn betrokkenheid en deelname eerder as onttrekking as belangrik beskou is en iets wat steeds gekoester behoort te word in gereformeerde teologiese opleiding. En die plek, die ruimte wat hierdie fokus besonder goed dien, is die universiteit.

In die lig van Calvyn se waardering van universiteitsopleiding, het ek nuuskierig geraak oor waar die tradisie van die seminarium vandaan kom. ʼn Tradisie met sy eie klemme en eie waarde en wat met verloop van tyd ook deel geword het van die wêreldwye Gereformeerde teologiese opleidingstradisie.[4] Ek kon nie besonder goeie bronne vind nie, maar indien my inligting korrek is, dan het Calvyn self nie die ontstaan van die eerste seminarium beleef nie. Die woord seminarium wat direk uit Latyn as “bedding” vertaal kan word en verwys na daardie plek waar saadjies gekweek word, kom uit ʼn dokument wat deur Sessie 23 van die Konsilie van Trent[5] opgestel is in 1570 volgens enkele bronne op die internet. In hierdie dokument word die metode behandel waarvolgens Seminariums gevestig moet word om daar priesters op te lei wat van jongs af gevorm word met sekere teologiese inhoude en veral met behulp van geestelike dissiplines. Meer as ʼn driekwart van die dokument gaan egter oor die finansiëring van so ʼn Seminarium, inligting wat in ons eie dag dalk nog ʼn groter breukdeel van so ʼn dokument sal beslaan as in die tyd van Trent…

Dus in kort en histories gesproke sien ons dat Calvyn in sy eie dag en as reaksie teen die teologiese opleiding van sy dag vir die oop ruimte van die universiteit gekies het, spesifiek ʼn instelling wat ʼn akademie was van die Geneefse stadsowerheid, maar waarin die kerk ook aktief meegewerk het, en dat die Kontra-Reformasie juis eerder vir die heelwat meer geslote opleiding van ʼn Seminarium gekies het teenoor die Reformatore. Sonder om die waarde van die teologiese vorming van ʼn seminarium te onderskat, wil dit voorkom asof universitêre opleiding ook histories gesproke deel van die gereformeerde teologiese opleidingstradisie is. Soos iemand op ʼn keer opgemerk het, en om dit nog skerper te stel, daar is ʼn verskil tussen ideologiese afrigting en teologiese opleiding. Tot dusvêr het ek nog maar net histories gekyk en geskiedenis alleen verklaar nie die waarde van universitêre opleiding nie. Daar is uiteraard meerdere voordele verbonde aan universitêre teologiese opleiding:

Ek vermoed dat die voordeel en potensiële nadeel van universitêre opleiding bykans logies vloei vanuit die voorafgaande opmerkings.

  • Eerstens vorm universitêre opleiding ʼn spesifieke soort mens.
  • Tweedens strewe universitêre opleiding na openheid en publieke betrokkenheid eerder as afsondering.
  • Derdens gaan dit oor ʼn besondere klem en besondere soort klem op die Bybel as bron vir die teologie en die vorming van die VDM as sodanig.

Ek het ʼn interessante stuk gelees van prof. Jurie le Roux wat ek hier as bron[6] gebruik waarin hy veral die werk van Hennie Rossouw gebruik wat handel oor die universiteit wat onder andere hier in wat volg as bron gebruik word.

(Teologiese) opleiding aan die universiteit gaan volgens le Roux oor meer as slegs maar beroepsafrigting, dit gaan om ʼn soort intellektuele en wetenskaplike vorming van die predikant. Dit is ʼn vorming wat volgens sommiges slegs te vinde is aan universiteite en nie by andersoortige opleidingsinstellings nie. Daar is dus iets meer, en wat is dit? Enkele sake van belang wat ek kan uitsonder volgens le Roux in navolging van Rossouw, is dat universiteite:

  • ʼn Ondersoekende gees kweek wat gepaard gaan met intellektuele vaardighede en intellektuele waardes.
  • Tweedens verbreed die universiteit kennis deur navorsing wat volgens bepaalde reëls geskied.
  • Derdens bied universiteite ʼn produk wat ʼn praktiese nuttigheid het vir die breër samelewing en wat veral op die aktuele probleme van die dag en die konteks fokus.

Toegepas op die dominee, beteken dit dat dit vir ons in ons spesifieke tradisie met betrekking tot teologiese opleiding om meer gaan as slegs ʼn tegniese en praktiese kennis wat die dominee moet opdoen en dan kan toepas. Soos outydse Praktiese Teologie. Dit gaan oor meer, naamlik ʼn intellektuele opvoeding. Neem byvoorbeeld my eie spesialisasieveld, die liturgie: Aan ʼn universiteit leer die student nie alleen om die Handleiding vir die erediens[7] te kan navolg en uitvoer in die gemeente nie, maar om juis ook die teologiese, sosiologiese en antropologiese ratwerke wat agter die handleiding sit te verstaan soos wat dit funksioneer in sy of haar eie dag in ʼn spesifieke tyd en plek en om as sodanig veel meer as slegs toepasser of uitvoerder van kerklike rituele voorskrifte te wees, maar om ʼn liturgiese hermeneut te wees.

Die verskil tussen die twee soorte benaderings is groot. Maar om dit te kan doen is twee dinge ononderhandelbaar, te wete aan die een kant ʼn verbondenheid aan die liturgiese tradisie, maar aan die ander kant ʼn mate van intellektuele en ondersoekende vryheid. En in hierdie proses beïnvloed beide die gebondenheid aan die tradisie en die ondersoekende vryheid mekaar krities wederkerig. Die universiteit bied die ruimte vir hierdie soort krities-kreatiewe denke en vorming.

Al die nuwe teologie dosente by Tukkies het sogenaamde RDP projekte, navorsings en ontwikkelingsprojekte. In myne is ek tans in ʼn eerste fase besig om soveel as moontlik verskillende soorte eredienste in Pretoria by te woon. Soos die praktiese teoloog Rick Osmer dit stel: om uit te vind “wat regtig (liturgies) aangaan”.[8] Nou ja, plek-plek sidder ʼn mens en plek-plek is jy diep dankbaar oor dit wat jy liturgies kan beleef in eredienste in Pretoria en omgewing. Nietemin, as ek nou al een voorlopige veralgemenende opmerking mag maak, is dit dat universitêr opgeleide liturge en predikers veel meer sensitief is en weerstand bied teen ʼn uitverkoop aan ʼn verbruikerskultuur en terselfdertyd ook sinvol aansluit by die konteks van 2011 as diegene wat ʼn andersoortige skoling geniet het. Daar is so ou simpel grappie wat al vir dekades lank die land vol lê, ten koste van sommige van ons, wat onder andere lui: “Pretoria lei die teoloë op”. Na enkele maande se waarneming in Pretoria-eredienste wil ek net sê, ek dink ons moet die waarheid wat opgesluit lê in die ou grappie koester.

 

[1] Hierdie bydrae is gelewer tydens ‘n ontmoeting van die NG Dosenteraad van die UP met die SDR van die Noordelike Sinode van die NG Kerk op 29 Julie 2011 waartydens enkele dosente elk ‘n tydsgleuf van 10 minute gekry het om ‘n inset te lewer.

[2] Cf Dankbaar, W.F. 1957. Calvijn. Zijn weg en werk. Nijkerk: Callenbach, 136-139.

[3] Cf in hierdie verband Old, H.O. 2002. Worship. Reformed According to Scripture. Louisville, KY: WJK.

[4] Uiteraard toegegee is die gereformeerde tradisie wêreldwyd ryk en geskakkeerd ten opsigte van die wyse en keuses wat uitgeoefen word met betrekking tot teologiese opleiding. Hierdie vroeë geskiedenis dui egter op sekere waardes en kwaliteite wat ingebed is in die eie-aard van teologiese opleiding in die gereformeerde tradisie wat op ‘n besondere wyse gedien kan word aan spesifiek ‘n universiteit of instelling wat besonder nou gekoppel is aan ‘n universiteit en as sodanig die waardes en ideale van die universiteitswese deel.

[5] Die spesifieke dokument se opskrif lui: “Method of establishing Seminaries for Clerics and of educating the same therein”.

[6] Die titel van prof. Jurie le Roux se stuk wat hier gebruik is lui, “Universiteit, hermeneutiek en Skrifverstaan”.

[7] Cf. Clasen, F. et al (reds.). 2010. Handleiding vir die erediens. Wellington: Bybelmedia.

[8] Cf. Osmer, R.R. 2008. Practical Theology. An Introduction. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Share this / Deel hierdie: