Die algemene ervaring en persepsie is dat daar inderdaad ’n spanningsveld tussen kerk en universiteit bestaan, of anders gestel, tussen kansel en kateder. ’n Mens sou kon vra waar dit vandaan kom, aangesien dit tog ook algemene kennis is dat die wortels van die moderne universiteitswese in die biskopskole en kloosters van die Middeleeue lê. Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om na die geskiedenis van die moderne universiteit te kyk, al is dit by wyse van voëlvlug.

Die universiteitswese in die Middeleeue

Die Middeleeuse kerk het vanweë sy nieu-Platoniese denkraamwerk geglo dat die kerk nie alleen die taak het om God se heil aan die wêreld te bemiddel nie, maar ook God se waarheid en kennis. Die enigste kennis wat die moeite werd is, is die wat sy oorsprong in die hemelse waarheid het, en slegs die kerk het daardie soort toegang gehad.

Die feit dat die kloosters en kerke gedurende die ontwrigtende Germaanse invalle ook bewaarplekke van kultuurskatte, boeke en dokumente geword het, het hierdie ontwikkeling versterk. Daaruit is onder andere biblioteke ontwikkel wat die basis vir die kerklike skoolstelsel geword het.

Die vernaamste rede vir die ontstaan van universiteite was die behoefte aan opleiding vir die professies, byvoorbeeld onderwysers, priesters, regslui en medici.

Die Middeleeuse universiteite kon natuurlik voorbeelde in die klassieke en latere periodes navolg. Daar was die beroemde filosofiese en retoriese skole van Athene, die regsopleidings en retoriese skole van die Romeine en selfs die kategeteskool van Origenes. As ’n mens verder wou teruggaan, was daar die rabbynse skole en selfs informele dissipelkringe (soos van Jesus). So ver bekend was die meeste hiervan op ’n persoonlike verhouding tussen leermeester en student gebaseer, amper vergelykbaar met ’n tipe vakleerlingskap. Daarenteen het die Middeleeuse universiteite vroeg reeds in die rigting van institusionalisering beweeg. Dit het ingesluit rudimentêre leergangstrukture.

Die meeste Middeleeuse universiteite was op een of ander wyse onder kerklike beheer. Baie van die professies ook. Dit spreek vanself dat daar nie van beduidende spanning tussen kerk en universiteit sprake was nie. Die kerk het selfs geglo dat hy die wetenskap beheer. Dit het egter gedurende die Renaissance verander. Die geval Galileo Galilei was een van die laaste bekende pogings deur die kerk om die ou bedeling te handhaaf. Dit was nogtans duidelik dat ’n nuwe bedeling onafwendbaar aan die ontwikkel was.

Die impak van die Aufklärung op die universiteitswese

Die moderne universiteit is die resultaat van die wetenskapsomwenteling wat met die Industriële Rewolusie en die Aufklärung saamhang. Dit kan vir ons doeleindes soos volg saamgevat word:

  • ’n Verskuiwing vanaf die Nieu-Platoniese wetenskapsmodel na ’n logies-empiriese model: kennis nie by wyse van openbaring nie, maar by wyse van ontdekking en logiese analise en afleiding. Nuwe kennis is beskikbaar vir enige iemand wat die reëls van die wetenskap ken en navolg. Opkoms van tegnologie naas wetenskap. Sterk funksionele gerigtheid.
  • ’n Verskuiwing vanaf kerk-gedomineerde wetenskap en kundigheid, na vrye akademie en wetenskap. Die wetenskaplike en akademikus moet alles aan problematiserende en spelmatige denke kan onderwerp.
  • Die universiteitswese was steeds ingestel op professionele opleiding.

Die Aufklärung het die skaal ongelukkig ook te ver laat deurswaai. Logiese Empirisme het tot Rasionalisme en Positiwisme verword en die mensbeskouing is noodwendig verskraal. Later word daar geleidelik teruggekeer na balans. Friedrich Schleiermacher lei ’n nuwe bewuswording dat die mens veel meer is as net ’n rasionale wese. Die holistiese ideaal, soos beliggaam deur Alexander von Humboldt, word die opleidingsideaal van die universiteit, naamlik om goed afgeronde intellektuele mense aan die gemeenskap te lewer. In wese was dit ’n elitisties ideaal.

Die staat het vroeër reeds begin om universiteite van kerklike beheer weg te neem. Dit het die sekularisering van die universiteitswese meegebring. Die kerk het slegs nog by die teologiese fakulteit ’n faktor gebly. So het die spanningsveld tussen kerk en universiteit gegroei.

Die staatsuniversiteit vandag

Die moderne staatsuniversiteit vertoon sekere belangrike ooreenkomste en verskille met die universiteite van die verlede:

  • Met die Middeleeuse universiteit:
    • Ooreenkoms: iets van die kloosterwese het oorgebly
      • Die wetenskap as ’n esoteriese, selfgesentreerde domein, baie soos die kloosterordes.
      • Persoonlike toewyding, dikwels met verontagsaming van wat in ander kringe as merktekens of simbole van sosiale aansien of sukses beskou word.
      • Verskil: kerklike dominansie is vervang met dominansie deur die staat, hoewel nie op dieselfde wyse van toepassing nie.
  • Met die universiteit wat uit die Aufklärung ontwikkel het:
    • Ooreenkomste:
      • Daar word steeds ’n hoë premie op akademiese en wetenskaplike vryheid geplaas. Voorskriftelikheid is nie aanvaarbaar nie, nòg deur owerheid nòg deur seksionele groeperinge (hoewel ’n mens kan aanvaar dit op een of ander wyse tog ’n faktor is).
      • Opleiding aan professionele belangegroepe.
      • Universiteit is basies ’n sekulêre instelling.
      • Steeds noue skakeling met tegnologie.
      • Verskille:
        • Vandag het ons ’n ruimer verstaan van kennis en wetenskap, alhoewel die logies-empiriese verstaan steeds domineer.
        • Wetenskaplike fragmentasie maak ’n holistiese werklikheidsbeeld (ook van die mens) baie moeilik.
        • Die universiteit is by elitisme verby. Die universiteit is nou veel meer demokraties. Dit word ook gesien as ’n landsbate vir en ten behoewe van die nasie.
        • Die staatsuniversiteit is meer bewustelik betrokke by die ideologiese, ekonomiese en sosiale strategieë van hulle regerings.

Spanningsveld?

Dit is dus duidelik dat daar ’n spanningsveld tussen die kerk en die moderne universiteit sal wees. Ons kan dit ook saaklik beredeneer. So iets kan uitvoerig gedoen word, maar vir die doeleindes van ons betoog volstaan ons met die stelling dat die kerk en universiteit verskillende paradigmas verteenwoordig en derhalwe etlike belangrike sake verskillend benader.

Eerstens met betrekking tot waarheid en spel:

  • Die universiteit is die plek waar die waarheid nie as ’n gegewe beskou word nie, maar as ’n ideaal. Die wetenskap is ’n immer voortgaande eksperimentele spel van idees voortspruitend uit die mens se verhouding met die werklikheid.
  • Die kerk gaan uit van ’n duidelike geloofswaarheid, oor God, ’n allesoorheersende keuse wat die verstaan van elke aspek van die werklikheid raak. Dit gaan allermins om spel, maar om fundamentele erns. Soos Tillich gesê het: “Religion is ultimate concern.”

Tweedens wat ideologiese ooreenstemming of verskil betref. (Die term ideologie dui op ’n ideë- en waardestelsel wat grondliggend deur groepsbelange bepaal en gestuur word.)

  • Waar Suid-Afrikaanse universiteite vroeër ’n mate van wetlike onafhanklikheid geniet het, is hulle tans nouer aan die beleidsgesag en ideologie van die regering gebind. Dit word nogtans algemeen aanvaar dat selfs waar so iets nie ’n ernstige probleem is nie, akademici en wetenskaplikes ideologies nie ongekompromiteerd is nie, veral as hulle professionele konneksies ter sprake kom.
  • Die kerk verteenwoordig ’n eie universum (God se koninkryk) en behoort dus ’n eie ideologiese profiel te vertoon. (Helaas weerspieël die kerke ook die gekombineerde ideologie van hulle lidmate.)

Gesien die strategiese sensitiwiteit van tersiêre onderrig en opleiding, spreek dit vanself dat die universiteit maklik in ’n ideologiese slagveld kan ontaard.

Derdens: bloot die wyse waarop universiteit en kerk by die gewone, alledaagse werklikheid betrokke is. Hier sien ons ’n basiese verskil in ingesteldheid en opstelling.

  • Universiteite word dikwels daarvan beskuldig dat hulle soos ivoortorings funksioneer.
    • Die populêre opinie is dat akademici ongekompliseerde lewens voer, verwyder van die oorlewingstryd wat elke dag in die gewone lewe gevoer word. Hoewel nie heeltemal waar nie, is dit ook nie heeltemal verkeerd nie. Dit is waar iets van die monastiese erfenis van die universiteit deurskemer. Die universiteit is veronderstel om ietwat van die gewone lewe en werklikheid verwyderd te wees, ten einde die wetenskaplike spel van idees moontlik te maak.
    • Hierdie aspek veroorsaak dikwels groot frustrasie by politici en belastingbetalers, veral as akademici met idees vorendag kom wat hulle ongemaklik laat.
    • Dilemma: hoe kan opleiding met die oog op pertinente professionele praktyk deur universiteite verskaf word?
    • Die kerk is direk betrokke by die alledaagse werklikheid en die oorlewingstryd van sy lidmate. Dit geld veral die kerke van die Reformasie en meer spesifiek die Hervormde/Gereformeerde tradisie.
      • Hoewel die kerk veronderstel is om God en sy koninkryk as uitgangs- en voortdurende oriëntasiepunt te hê, kan die kerk en sy evangelie nooit wêreldvreemd wees nie. Nie op die berg van verheerliking, verwyderd van die wêreld nie, maar onder by die mense met hulle node.
      • Dilemma: Gemeentepredikante is dikwels so omvangryk by die daaglikse lewe betrokke dat die Woordbediening daaronder ly. Preekmaak veronderstel tog distansie, rustigheid, nadenke, gebed.

Teologiese opleiding aan ’n universiteit

Die antwoord op die vraag waarom ’n teologiese opleiding aan ’n universiteit te laat setel, is nogal meer kompleks as wat algemeen aanvaar word. Ons moet daarvoor miskien eers oorweeg wat teologie is, self nie ’n maklike vraag om te beantwoord nie, veral as ’n mens dit koppel aan die vraag waaraan teologie sy plek aan die universiteit te danke het.

  • Teologie as wetenskap. Aangesien hierdie ’n groot tema is, gaan ek volstaan met my persoonlike standpunt, naamlik dat teologie per definisie ’n geloofsaak en wesenlik konfessioneel is. In dié sin is dit dan nie wetenskap nie. Teologie bou egter ekstensief op “hulpwetenskappe” wat wel die toets van wetenskaplikheid kan deurstaan (byvoorbeeld historiografie, taalwetenskap, filosofie ens). Sommige daarvan (byvoorbeeld hermeneutiek en godsdienswetenskap) word amper uitsluitlik in die teologiese fakulteit beoefen. Teologie vertoon dus ’n hibriede karakter as gevolg waarvan dit ’n staanplek in beide die kerk en die universiteit verdien.
  • Dit beteken ook ’n inherente spanning in teologie self (kreatief eerder as destruktief), maar wat teologie blootstel aan die suspisies van beide kerk en universiteit.

Een van die klassieke bestaansredes van die universiteit was van vroegsaf om professionele opleiding te verskaf, dit wil sê akademiese én praktykgerigte opleiding. Die naaste parallel was en is steeds regsopleiding. (Die beredenering van regsgeleerdheid as wetenskap vertoon interessante parallelle met die debat oor teologie) Soos die regsfakulteit was die teologiese fakulteit van die staanspoor deel van die Middeleeuse universiteit. Dit is ’n tradisie wat nie maklik geïgnoreer kan word nie.

Wanneer vanuit kerklike hoek geantwoord moet word waarom teologiese opleiding aan ’n universiteit moet plaasvind, moet genoem word dat nie alle kerke ten gunste van so ’n bedeling is nie, maar dat sekere kerke van die Reformasie wel daarvoor kies, meestal om die volgende redes:

  • Vanweë ’n tradisie van noue skakeling met wetenskaplike denke en professionele kultuur. Die teologiese tradisie van die Hervormde Kerk is byvoorbeeld om nie in agterdog terug te trek in ’n eie hoekie nie, maar die wêreld van die wetenskap as ’n uitdaging te beskou en in gesprek daarmee te tree. Die wisselwerking met die professies was weliswaar vroeër meer betekenisvol, maar steeds nie onbelangrik nie.
  • Om teologiese opleiding aan ’n universiteit te setel, word beskou as die beste manier om opleidingstandaard en kwaliteit te verseker.
  • Opleiding van teologiese kandidate in ’n universitêre omgewing word van groot betekenis geag vir die soort vorming wat deur sulke kerke belangrik geag word.

Teologiese opleiding aan UP

Die tipe reëling wat daar aan UP tussen vennootkerke en die universiteitsowerheid bestaan en wat vennootkerke toelaat om as ’t ware in die teologiese fakulteit in te koop en wat verder per notariële ooreenkoms gereël word, is redelik uniek, hoewel dit sy wortels het in die praktyk wat by sekere Europese universiteite gevolg word. Die reëling is ontwerp toe omstandighede anders was as vandag. Dit het nogtans met enkele aanpassings staande gebly.

Kritiek op die stelsel het nie uitgebly nie.

  • In beide universiteit en kerke klink van tyd tot tyd stemme op wat meer wil hê. Enersyds is daar diegene wat meen dat die kerke te veel beheer en seggenskap in die Fakulteit Teologie het en dat dit die universiteit se integriteit onder ’n vraagteken stel. Andersyds, van kerke se kant, is daar diegene wat voel dat die Fakulteit Teologie te nou by die strukture van die universiteit betrek word en aan verwagtinge uitgelewer word wat nie vir die kerke prioriteit is nie.
  • Die stelsel kom neer op seksionele of denominasionele bevoordeling. Die wat gelukkig was om vroeg die voet in die deur te kry en kan betaal, word onregmatig bevoordeel. Hulle ontwikkel ’n posisie van mag en kan dit vir ander moontlike vennote moeilik maak om toegang te verkry.
  • Dubbele lojaliteit van die teologiese dosente (teenoor universiteit en kerk) verleen aan hulle te veel vryheid en maak dit moeilik om hulle te dissiplineer. Dieselfde argument word deur ander gebruik om te betoog dat die teologiese dosente te min akademiese vryheid het.
  • Onderlinge kerkistiese spanning tussen kerklike vennote bring die integriteit van die teologiese fakulteit en opleiding in gedrang.

My eie opinie is dat die bedeling nogtans realisties en nie onbillik is nie, wel om die volgende redes:

  • Teologiese fakulteite slaag selde sonder kerklike affiliasie. Meer so in Suid-Afrika.
  • Deur kerke toe te laat om in te koop in die teologiese fakulteit, word aan hulle ’n belang gegee in die sukses en reputasie van so ’n instelling. Deur die historiese aanspraak van vennote te honoreer, word tradisie gevestig.
  • Tegelyk word so ’n fakulteit verseker van ’n bestendige toevloei van kandidate.

Dit bly egter ’n kompromisreëling, die beste wat in die omstandighede moontlik is, maar nie sonder gebreke nie en in elk geval aan baie spanningsfaktore blootgestel. Goeie wil by die onderskeie vennote is ’n sine qua non vir die voortgesette sukses daarvan.

Die inherente spanningsfaktore in teologiese opleiding

Die teoretiese en kurrikulêre samehang en opset van teologiese opleiding is ’n groot tema waaraan ons helaas slegs enkele opmerkings kan afstaan. Die volgende spanningsfaktore is stellig mees voorhandliggend:

  • Kurrikulêre spanningsfaktore:
    • Akademies teologiese opleiding teenoor die verwagtinge van die kerk
    • Eise van die akademie teenoor die van die beroepspraktyk
  • Onderlinge dissiplinêre spanning tussen die vakgebiede:
    • Toekenning van gewigte aan vakke, temas en vaardighede na aanleiding van ’n kurrikulêre visie kan ’n bron van spanning of selfs wrywing wees.
    • Sommige vakgebiede is meer gewild as ander. Dit word in nagraadse inskrywings weerspieël en het groot invloed op die samestelling en funksionering van departemente.

Hierdie faktore is nie uniek aan die teologiese fakulteit en opleiding nie, maar lewer tog ’n groot bydrae tot die algehele spanning wat daar rondom en in die teologiese fakulteit bestaan.

Ten slotte

Daar word dikwels in kerklike en sekulêre publikasies gewag gemaak van spanning in en rondom die teologiese fakulteit, enersyds by die universiteit en andersyds by die kerk, so asof dit iets nuuts en verontrustend is. Die waarheid is egter dat dit onvermydelik is, omdat die opset van teologie, die teologiese fakulteit en teologiese opleiding, asook die posisie van die teologiese fakulteit tussen universiteit en kerk, aan ’n legio van werklikhede en visies blootgestel is waarvan sommige mekaar komplementeer en ander met mekaar konkurreer of mekaar selfs opponeer. Teoloë vind dit nie vreemd of abnormaal nie. “Kreatiewe spanning” (om DJ Bosch aan te haal) beskryf die daaglikse konteks en werklikheid van teologie en is dus nie bloot ’n oulike slagspreuk om aan logiese dilemmas te ontsnap nie.

Teologie is per definisie krities, ontmaskerend en dialogies-dialekties. So was dit van die begin en sal dit bly. Dit geld selfs die sogenaamde konfes­sioneel-kategetiese model van teologiese opleiding. Waar hierdie elemente afwesig is of onderdruk word, dreig die glybaan na fundamentalisme en ideologie.

Uiteindelik gaan dit om balans, nie een wat by voorbaat met behulp van ’n wiskundige formule bepaalbaar is nie, maar een wat voortdurend opnuut met gelowige en teologiese sensitiwiteit gevind word.

Share this / Deel hierdie: