‘n Vaste burg is onse God …

By die skrywe hiervan (24 Oktober) is dit vyf dae gelede dat my vrou, Jos, en ek deur drie rowers van die bank af agtervolg is. Toe ons by ons huis indraai en stop het hulle by ons stilgehou en drie het uitgespring en gesê dat hulle die polisie is terwyl die leier ‘n aanstellings-kenteken vertoon. Maar een van hulle het ‘n 9mm pistool op my gerig op so ‘n vyf treë afstand — toe weet ons wat aangaan. Hulle het die sleutels uit my sak geruk, die kar se kattebak oopgesluit en Jos se muntversameling van Nederlandse guldens oor baie jare gegryp en weggejaag. Ons was kalm, nooit bang nie en hulle het ons nie verskreeu, geslaan of fisiese leed aangedoen nie. Jos was die heeltyd by my alhoewel ek haar versoek het om weg te gaan. Haar geroep om hulp het die bure van die hele straatblok binne minute by ons gehad, wat ongelooflik behulpsaam was, ons opgevang het en alles vir ons gereël het.

 

Hoe verwerk ‘n mens so ‘n nare ervaring en verlies? Ek kan maar net vertel hoe ons dit doen. In samewerking met die psigoloog het ons ‘n proses begin waarin baie aspekte van die prakties-teologiese benadering wat ons by ons fakulteit volg, in werking getree het.

 

1. Analise van die situasie

Met die teoretiese raamwerk van die narratiewe pastoraat se ko-konstruksie het ons, en ook saam met die psigoloog, die situasie geanaliseer, beskryf en probeer verstaan. Dit het beteken dat ons die volgende sake onder woorde gebring het: ons besef van God se onbegryplike genadige beskerming, van ons liefde en solidariteit met mekaar in die krisis, en van die meelewing, sorg en diepe deernis van ons kinders, ons bure in die straat en die wyer ondersteuningsraamwerk van ons predikant, ons vriende, ons kollegas, mede-gemeentelede en ons studente.

 

Analise van die situasie wat ‘n empiriese aktiwiteit is, is vermeng met ‘n hermeneutiese aktiwiteit. Ons probeer ons situasie verstaan. Dit is ‘n interpretasie van die slegte verhaal in jou lewe. Teoreties het ek nooit empiriese ondersoek losgemaak van die hermeneutiek nie. In hierdie praktiese situasie werk dit ook so. Verder geskied die interpretasie van die situasie coram Deo, voor die aangesig van God. Deur die analise van die situasie het ons afstand van die gebeure begin kry en het nuwe perspektiewe daarop begin vorm aanneem. Daarin het ons berader ons baie gehelp. Ons kon kies om die film van die traumatiese gebeure oor en oor te laat draai in ons gemoed, of om te kies om van ‘n ander perspektief af daarna te kyk en ‘n nuwe verhaal van ons lewe te skep. Die gesprek met die berader was ook ‘n stukkie interdissiplinêre oefening. Ek kon beleef hoeveel ons teoloë van die serebrale benadering in die sielkunde kan leer.

 

2. ‘n Nuwe perspektief

In die homiletiek probeer ek die studente leer om veral in ‘n breë sin drie bewegings in die ontwikkeling van die preek te maak. Die eerste beweging van die preek is om die konteks van die gemeente met sy vrae, probleme, pyn en nood te verwoord. Die situasie wat baie mense nie onder woorde kan bring nie, moet die prediker verwoord. Onder homiletici is dit vandag ‘n belangrike insig om deur die preek die gemeente se nood en ook hul geloof te verwoord. Ons sal verbaas wees hoeveel van ons mense sukkel om dit te kan doen. Die tweede beweging is om die lig van die Skrif op die konteks te laat val deur die insig wat hermeneuties, onder die werking van die Gees, deur die eksegese aan die teks en sy konteks ontworstel is. Die derde beweging is om ‘n nuwe perspektief vanuit die Skrif oop te maak vir die gemeente – ‘n nuwe verrassende venster oop te maak, ‘n nuwe dag aan te toon, ‘n nuwe lente, ‘n begaanbare weg op ons lewenspad.

 

Hierdie nuwe perspektief op ons eie persoonlike nood en situasie met sy nuwe verhaal het algaande gedaag. Jos het my daarin gelei. Wanneer ‘n mens ouer word, heg jy nie meer soveel waarde aan materiële dinge nie. Wat baie belangriker is, is ‘n lewe van dankbaarheid en liefde. En kyk, hoe dankbaar is ons vir God se hand oor ons en hoe ons omhels is met liefde, meegevoel en sorg van so baie mense. Ons nuwe perspektief is om te fokus op die liefde en sorg wat ons van mense ontvang as gevolg van die nare belewenis. Hoe meer ons hierop fokus, hoe vaer begin die beeld van daardie middag in ons gemoed word. Die nuwe perspektief leer ons om meer bewustelik met God te leef in die ligkring van sy genade, en om meer bewustelik liefde en medemenslikheid te gee en te ontvang van al die mense om ons. Op die oomblik is ons vervul van ‘n besef van die liefde en warmte van medemense wat ware vriende is.

 

3. ‘n Nuwe weg

Die gebeure, die analise, die interpretasie daarvan, die alternatiewe perspektief en die nuwe verhaal wat ons besig is om daaruit te skep, het ons op ‘n nuwe pad geplaas. Ons ondergaan ‘n dieper besef van ons afhanklikheid van God, ‘n dankbaarheid teenoor hom, ‘n nuwe toewyding in sy diens en ‘n groter fokus om om te gee en liefde te gee aan ons medemense. Ons is nie bang vir swartmense nie. Ons voel nie onveilig in ons huis nie. Ons houding teenoor swart mense het nie verander nie. Daarvoor is ons te lank in die land. En ons is bly om deel te wees van die gemeenskap van die NG kerk en die gemeenskp van Afrikaners.

Share this / Deel hierdie: