Rolprente wat op werklike historiese gebeure gebaseer is, loop die risiko om in een van twee uiterstes te verval: dit is òf ‘n saai, dokumentêre weergawe wat bloot inligting oordra, òf dit dramatiseer die gebeure tot so ‘n mate dat dit netsowel maar fiksie kan wees. Gebeure in die verre verlede waaroor feite betreklik vaag is, gee ‘n regisseur redelike vryheid tot interpretasie, maar The King’s Speech handel oor opspraakwekkende gebeure, minder as ‘n honderd jaar gelede. In 1936 abdikeer Edward VIII van Engeland om met die Amerikaanse sosiale vlinder, Wallis Simpson, te trou en sy jonger broer, George VI neem die troon oor. In 1939 breek die Tweede Wêreldoorlog uit.

   The King’s Speech gaan oor George VI en sy spraakgebrek. Kan so-iets opwindend wees?

   Die kyker word vanaf die eerste toneel meegevoer. Colin Firth wat die rol van die Hertog van York, George VI vertolk, kwyt homself meesterlik van sy taak. Nie net sy familie nie, maar jy, die kyker beleef saam met hom die angs en die verleentheid as hy voor ‘n skare moet optree. Die psige van ‘n hakkelaar word ontbloot, veral wanneer dit by die redes kom waarom iemand se tong vasslaan as hy moet praat. Regisseur Tom Hooper hanteer die intieme oomblikke in die koninklike familie met die grootste sensitiwiteit. Blykbaar het die koninginmoeder gevra dat hierdie rolprent asseblief nie gedurende haar leeftyd vervaardig moet word nie, dit is te pynlik, maar ek glo nie daar is iets waaroor sy haar hoef te skaam nie. En, Helena Bonham Carter – ofskoon sy self sê haar rol as koningin Elizabeth was van die makliker rolle wat sy in haar loopbaan moes vertolk – is inderdaad ‘n baie oortuigende eggenote van die Hertog, later die koning.

   Soos enige goeie kunsfliek is The King’s Speech nie net swaar, donker of melodramaties nie. Geoffrey Rush vertolk die rol van Lionel Logue, die onortodokse Australiaanse spraakterapeut wat die koning gehelp het om sy probleem te oorkom. Hy sorg vir die humor, die ligte oomblikke in die fliek. Natuurlik is die koning nie gemaklik met hierdie gelyke verhouding waarop Logue aandring nie, natuurlik is hy verleë, natuurlik word hy meer as een keer woedend, maar uiteindelik is dit ‘n vriendskap wat vir die res van albei se lewens sou voortduur.

   ‘n Subtiele hoogtepunt in The King’s Speech is beslis die aanwending van musiek. Die Hertog van York lees uit Shakespeare voor terwyl La Nozze di Figaro van Mozart sy hakkel prettig uitvee. En op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, lewer die koning sy beroemde toespraak terwyl Logue hom op die maat van Beethoven se Sewende Simfonie dirigeer. Die donker van die oorlog, die spanning van die koning, die ongelooflike toewyding van Logue val in hierdie oomblik saam.

   En moenie die humor vergeet nie!

   The King’s Speech was elke Oscar werd. Gaan kyk dit, terwyl dit draai, of kry die DVD. Die wyedoek is egter net soveel beter.

Share this / Deel hierdie: