1 U bespreek die invloed van Homeros se werke op verskillende genres, letterkunde, musiek, kuns film, en veral ook op die poësie. U noem groot name, soos William Butler Yeats, Federica García Lorca, Ted Huges. En nou kom die digterlike ‘Fragmente uit die Ilias’ van Cas Vos. Wat was die ‘vonk’, daardie oomblik wat u gegryp en vlam geword het om u na die ‘Ilias’ te lok?

Ek het soos ’n mot rondom die Ilias gesirkel. Dié gloeiende lig het my aangetrek. Homeros het my nog altyd bekoor. Die eerste keer wat ek van Homeros gehoor het, was toe prof Adrianus van Selms, by wie ek Hebreeus geleer het groot dele van Homeros uit sy kop opgesê het. Dit het ’n blywende indruk op my gemaak. Toe ek ontdek dat die Ilias ’n afdruk op soveel Nobelpryswenners gemaak het, het ek van die gedigte, veral dié van Konstantinos Kavafis uit Grieks vertaal. Ek het toe besluit om Fragmente uit die Ilias te vertaal. Die rykdom Griekese metafore was net ’n te groot versoeking vir ’n digter.

2014. Honderd jaar gelede het een van die bloedigste oorloë in menseheugenis hekatombe op hekatombe in die veldere van Vlaandere gevul. Daar is altyd redes vir oorlog. Maar die mens wat sy lewe verloor, wat liefhet en ly en stink van vrees word te maklik vergeet. Dit is ook die hartslag van Homeros se epiese gedig, die Ilias. Die lieflike listige Helena word deur Paris na Troje ontvoer, en die hel is los. Die leser maak kennis met wraak, haat, liefde en begeerte, vriendskap en deernis, hubris van heersers en die dood van mense. Daar is ’n menigte twistende gode wat mense se diens en offers vra en hulle swakhede uitbuit. Die skrikwekkendheid en afsku van oorlog het nie opgehou nie. Dink net ‘n oomblik aan die Oekraïne en Sirië. Mense word onthoof (letterlik en figuurlik). Gode is steeds onder mense bedrywig. Die Ilias herinner ons aan die grondmetafoor van ons bestaan, naamlik stryd (om oorlewing).

2 Vertel ’n bietjie meer van die proses: hoe het u te werk gegaan met die vertaling en omdigting?

Ek moes eers die lang epiese gedig onder die knie kry. Dit vra ’n man op ’n perd. Ek moes die Griekse teks oor en oor lees. Ek het soos Alexander die Grote met die Ilias onder my kopkussing geslaap. Boek 1 begin met Plaag en wrok. Waarom? Ek het besef dat Homeros die leser onmiddellik by die vertelling betrek. Hierom gaan dit: wraak, woede, wrok, stryd. Ek begin Boek 1 soos volg:

“Goddelike Muse, sing oor Achilles se wrok

die verderflike wrok wat oneindige droefheid

oor die Achajers stort en siele na Hades lok.”

3 Wat was die grootste uitdagings waarvoor u te staan gekom het?

Die grootste uitdaging was om Grieks te leer om Afrikaans te praat. Ek wou dit ook in digvorm doen. Dit het ‘n soektog na woorde, idiome en poëtiese vondse in die Grieks meegebring. Die wins en opwinding is dat die Griekse teks in die vertaling ’n nuwe lewe kry, ’n ander vorm sonder om die metafore van die Grieks prys te gee. Vertaling van die Griekse teks moet die wêreld en skatte van die bronteks vir die leser nader bring sonder om dit te verinheems na die bekende tyd en plek van die leser.

Verder wou ek die verhaallyn behou. Ek het fragmente gekies wat die verhaal laat vloei en waarin die hoofkarakters soos Achilles, Agamemnon, Helena, Andromache, Paris, Hektor, Hephaistos, Menelaos, Patroklos en Sarpedon voorkom. En dan is daar ook nog die gode, Zeus, Hera, Apollo, Poseidon en Hermes, wat met mense se koppe smokkel en in die oorlog kant kies. Vir die Trojane of vir die Grieke. As die gode eers inmeng, spat die vonke. Hera vra Slaap om Zeus te bedwelm sodat sy liefde met hom kan maak. Verbeel jou die stuitigheid!

J.P.J van Rensburg het 62 jaar gelede die Ilias en Odusseia in Afrikaans vertaal. Dit was ’n letterlike vertaling, woord vir woord. Die poëtiese krag gaan egter verlore. Sy vertaling was veral om didaktiese redes belangrik. Ek wou dit nie so doen nie.

Ek het ’n proloog en epiloog geskep. Strofes uit die proloog maak dit duidelik waaroor die Ilias gaan:

In dié verhaal word die aarde met bloed versadig;

mense en gode sal hulle in haat en afguns verlustig.

Elke dag sal ’n treurende wond wees –

o gode, oorlaai die Trojane tog met vrees.

Gode sal in paleise wyn in goue bekers skink

en laggend, dansend tot die son sy kop lig, drink.

Dit alles word vertel met die klankweelde

van Grieks, wewer van nuwe woordbeelde.

In die epiloog het ek ’n gedig van Kavafis oor Sarpedon se begrafnis uit die Grieks vertaal. Ek het ’n gedig oor Helena geskryf. Ons kan Helena tog nie vergeet nie.

4 ‘Die verlede is ‘n ander land,’ skryf Karel Schoeman in sy boek, ‘Verliesfontein’. Maar dit lyk asof u hierdie ander land op ‘n manier ontdek het. Hoe lyk dit? Watter wêreld het vir u oopgegaan?

Ek stem saam, die verlede is ’n ander land, veral as dit kultureel, sosiaal, godsdienstig en wat wetenskaplike vooruitgang betref, so ver en verwyderd van ons bestaan is. Maar dit beteken nie dat ons die ander land nie kan ontdek en verower nie. En veral dat die ander onbekende land ons nie kan verryk nie. Om die ander land te ontdek, beteken om die ander land se tradisies te leer ken. Dit beteken ook om die antieke teks nader bring.

Die ryk wêreld van poësie het op ’n ander manier vir my oopgegaan. Van kleintyd af het die Grieke gehoor van die Trojaanse Oorlog. Hierdie gedigte is deur digter-sangers tydens feesvieringe en die plaaslike atletiekfeeste of musiekkompetisies gesing. Athena se verjaarsdag is met die gedigte gevier. Die Ilias se wêreld is een van stryd, afguns, begeerte, haat, vriendskap en liefde, roem en skande. Die oordaad van geweld is voelbaar, ’n mens sien en ruik die bakkende son van stof en swart bloed, hoor die rou krete van hartseer en verlies. En dan is daar die wispelturige gode aan wie se willekeur mense uitgelewer is.

En vandag? Al dié menslike emosies kom nog voor. Oorloë hou net nie op nie. Oorloë gaan oor mense; die stomme hubris van konings en leiers, die voortvarendheid van krygers, die droefheid van dié wat agterbly. Gode kies ook kant en verdien offers as die oorwinning behaal word. Die neerlaag word aan Noodlot gewyt. Mense vertrou blindelings op gode vir uitkoms en ’n toekoms.

5 Watter van die karakters fassineer u die meeste, en waarom?

Homeros verstaan die kuns om karakters deur hulle dade en emosies te skep. Elke karakter het ’n rol en bekoring of afkeur in die Ilias. Ek hou van Agamemnon die minste. Hy loop oor van selfsug. Alles draai vir hom om mag. En hy is tog so besluitloos. Hy kook ook oor van woede. Tog het ek simpatie met Hektor, Achilles, Patroklos en Sarpedon. Patroklos en Sarpedon is tot die dood toe lojaal aan Achilles en Hektor. Die karakters is mense van vlees en bloed. Hulle kan liefhê, haat, kwaad word, verraai, slu wees.

6 Watter tonele het u die meeste geroer?

Die spannende beskrywing van Patroklos se dood (p. 115-120) het my aangegryp; ook die onverkwiklike stryd tussen Achilles en Hektor. Die visuele beskrywing daarvan terwyl Andromache niks vermoed of weet nie skep spanning. Intussen is haar man, Hektor, reeds dood. En tog wag sy hoopvol op sy terugkoms. “Toe sy tot haar sinne kom, hoor sy, nee voel sy haar droefheid!” Die klaagsange oor Patroklos en Hektor is vir my ontroerend. Helena speel soveel verskillende rolle: die verraaier, die verleidster, die ontroue, die skone. Kan een vrou soveel mans om haar pinkie draai? En tog, sy doen dit.

Die onderduimsheid van die gode het my ook geraak. Op gode kan ‘n mens nie vetrou nie. En tog swaai hulle die septer oor harte.

7 En was daar enige onverwagte momente, verrassings langs die pad, nuwe insigte waartoe u gekom het?

Al is die wêreld van Homeros onbereikbaar ver, is dit tog so digby ons. Die mens bly mens. Feilbaar, arrogant, astrant, agterbaks, geslepe, magsbeheb. Ek het opnuut respek vir die Griekse teks gekry. Die teks is van geslag tot geslag oorgelewer. Die mondelinge tradisie het my laat besef dat ’n goeie verhaal vertel móét word. Die karakterbeelding, die spanning, die plot, die intrige, die verrassende wendinge en die tyd en ruimte waar dit afspeel, het my vasgenael laat sit en lees.

8 Helena: watter ene kies u – Euripides se skim, of Homeros se vrou van vlees en bloed?

Albei. Die een moet die ander in balans hou.

“Helena, jy leef in beelde en herinneringe,”

“Maar wie kan hulle, wie kan my kwalik neem?

Vir só ’n vrou, onsigbaar, onaantasbare

skoonheid – listige, lieflike skoonheid.”

9 Waarom dink u moet hedendaagse lesers die ‘Ilias’ lees?

Om die mens, sy aard en donker hart te begryp. Hier lees ons wat stryd tot gevolg het – rampe, ellende, ondergang, droefheid, wraak, haat en nyd.         

Die tweede rede waarom hedendaagse lesers die ‘Ilias’ behoort te lees, is om die juwele van ’n epiese gedig te ontdek. Dit doen die hart net goed.

10 En kan ons die Odussea ook een of ander tyd te wagte wees?

As die Muse my genadig is en my voete hou.

 Baie dankie vir die voorreg om die vrae te beantwoord.

Share this / Deel hierdie: