Inleiding

Alle mense van alle tye droom. Sommige drome is helder, ander vaag. Sommige drome is realisties en hou verband met ‘n mens se alledaagse lewe, ander voer jou heen na misterieuse, fassinerende wêrelde waar die reëls van die werklikheid totaal en al opgehef word. Sommige drome is soet, ander word genoem … nagmerries!

   Het drome enige betekenis?

   Net toe die opkoms van die natuurwetenskappe drome as onsinnig en blote versinsels van die verbeelding wou afmaak, het hulle weer opnuut betekenis gekry in die werke van Sigmund Freud en Carl Jung. Albei het psigoanalise beoefen en drome ontleed om die mens se komplekse gemoedstoestand beter te verstaan. Hulle het onderskei tussen die mens bewuste en sy onderbewuste. In die mens se wakker toestand, is sy bewuste aktief en weet hy eintlik glad nie van sy onderbewuste nie. Maar wanneer hy ‘n alternatiewe toestand van bewussyn betree, soos om te slaap, dan kom daardie sluimerende onderbewuste na vore. Dit is hier, in die onderbewuste waar die mens se drome vandaan kom. In die mens se drome kommunikeer die bewuste en die onderbewuste met mekaar. Tog het Freud en Jung op een punt van mekaar verskil: Freud het drome oor die algemeen taamlik negatief gesien en dit toegeskryf aan die mens se onderdrukte – veral seksuele – behoeftes en fantasieë wat hy nie in ‘n beskaafde samelewing durf uitleef nie. Jung was meer positief. Hy het drome as ‘n venster op die onderbewuste gesien en ‘n simboliese betekenis aan tipes drome of voorwerpe in drome gekoppel. Drome, het hy gesê, kan ook as ‘n gids dien wat die mens kan help om oplossings vir sy alledaagse probleme te vind.

   Die antieke mens het egter niks van die verskil tussen die bewuste en die onderbewuste geweet nie. Drome het hom na wonderwêrelde ver weg hiervandaan weggevoer, maar vir hom was drome nie ‘n venster op sy eie ingewikkelde psige nie, ‘n droom was ‘n venster na die wêreld van die gode.

 

Die Ou Nabye Ooste             

Leo Oppenheim het in die middel van die vorige eeu baanbrekerswerk op die gebied van spykerskrifontleding en Assiriologie gedoen. Hy het drie soorte drome onderskei wat in Ou Nabye Oosterse dokumente voorkom. In die eerste plek is daar drome wat ‘n boodskap wil oordra. Die boodskap is gewoonlik hoorbaar en word deur ‘n god of ‘n belangrike figuur verbaal aan die dromer meegedeel. Die doel van so ‘n droom is om die belange van die dromer te legitimeer of te ondersteun, of dit is ‘n boodskap van politieke of nasionale belang. Vervolgens is daar simboliese drome wat deur middel van enigmatiese visuele beelde na die dromer toe kom. Die dromer verstaan nie wat die beelde beteken nie, en iemand anders moet dit interpreteer. Laastens is daar die profetiese of mantiese drome wat voorspellings vir die toekoms inhou.

   Natuurlik is hierdie onderskeidings nie waterdig van aard nie. Nie alle boodskappe is ewe duidelik nie; soms verstaan ‘n dromer self die simboliek van ‘n beeld en het nie ‘n interpreteerder nodig nie; profetiese drome is meestal ‘n mengsel van boodskap en simboliek, ensovoorts. Nogtans is dit ‘n nuttige kategorisering om in gedagte te hou, aangesien dieselfde soort drome met dieselfde vloeibaarheid tussen die onderskeidings ook in die Hebreeuse Bybel voorkom. Daar is egter ‘n belangrike verskil. Die Hebreeuse Bybel vertel oor mense en hul drome slegs in literêre tekste, terwyl drome in Mesopotamië in verskillende genres opgeteken is: rituele tekste, orakels, briewe, historiese dokumente, tekste van toewyding, historiese dokumente en ook literêre tekste.      

   Dit is dus duidelik dat mense groot betekenis aan drome geheg het en dit as boodskappe van ‘n ander wêreld, die wêreld van die gode geag het. In akademiese skole was daar wel ‘n vak genoem ‘droom-interpretasie’, maar dit het nooit dieselfde status as die ander vorms van divinasie bereik nie. Die ontleding van ‘n dier se binnegoed en astrologie was van groter waarde, want dit was die direkte ‘skrif van die gode’, dus meer betroubaar en minder subjektief as drome. Heel dikwels moes die interpretasie van drome dan ook met hierdie ander vorms van divinasie gestaaf word. Veral gedurende die Neo-Assiriese tydperk (744-539 vC) lyk dit asof konings minder vertroue in droominterpretasies gehad het en eerder ander kundiges van divinasie aan hul howe verkies het.

 

Enkele voorbeelde

Wat het mense gedroom?

Die vroegste bewys van ‘n droom wat opgeteken is, dateer uit die Sumeriese tydperk (ca 2454-2425 vC). Koning Eanatum I van Lagash is op die punt om op te trek teen die naburige stadstaat Umma. Op die sogenaamde ‘Aasvoël-stela’ word beskryf dat die god Ningirsu aan hom verskyn en hom die oorwinning beloof – en so het dit ook gebeur. Die stela oordryf die grootte van die koning: hy word beskryf as reusagtig groot en deur die god self geskape. Nogtans is dit insiggewend dat hierdie stela in die omgewing van die tempel ontdek is. Heelwaarskynlik was die kultus van Ningirsu daar aktief, en het sy volgelinge dit die moeite werd geag om hierdie droom te laat opteken. (Ningirsu was die Sumeriese god van die aarde of van die ploeg. Later het hy op sy Akkadiese naam, Ninurta bekend gestaan. Hy was die god van landbou.)

   ‘n Bietjie later, maar ook uit die Sumeriese tydperk en ook in Lagash, is ‘n enigmatiese simboliese droom van koning Gudea op ‘n silinder opgeteken (ca 2130 vC). ‘n Kolossale man verskyn aan hom, maar hy verstaan glad nie wat dit beteken nie. Hy onderneem ‘n bootreis na Nin waar die godin Nashe bly en vra om die droom uit te lê. Die godin, of heel moontlik een van haar priesteresse, interpreteer dat Gudea vir die god Ningirsu ‘n tempel sal bou. Gudea keer terug, maar vra ‘n tweede opinie deur die binnegoed van ‘n dier te ontleed. Die slotsom is presies dieselfde.

   Tussen Eanatum I en Gudea wat albei die Sumeriese kultuur omhels het, kom Sargon van Akkadië (ca 2334-2279 vC). In ‘n kwasi-outobiografie wat eeue later geskryf is, vertel hy dat hy ‘n buite-egtelike kind van ‘n hoë-priesteres was. Sy wou die geboorte egter geheim hou, en daarom het sy die baba in ‘n biesiemandjie neergelê, dit met pik toegesmeer en op die rivier gesit. Daar het die waterdraer Akki hom gekry en grootgemaak – so het hy toegang tot die paleis van die koning gekry waar hy uiteindelik tot skinker van Koning Urzababa van Kish bevorder is. Maar die godin Ishtar het hom besonder liefgehad en hom bestem om koning te wees. Terwyl hy nog werk, droom hy een nag ‘n eienaardige droom. ‘n Enkele jong vrou, so hoog soos die hemel, so breed soos die aarde en so ferm soos die fondament van ‘n muur, verdrink Urzababa ter wille van Sargon in ‘n rivier van bloed … Omdat hy nie geweet het wat die droom kan beteken nie, vertel hy dit aan die koning. By die koning bestaan daar egter geen twyfel oor die betekenis nie: Sargon gaan Urzababa vervang! Natuurlik, hierdie droom kom van die gode en weerspieël die wil van die gode – niemand kan Sargon daarvan beskuldig dat hy die troon onregmatig in besit geneem het nie!                 

   Drome was nie vir alle oë bedoel nie. Sommige drome is op prismas, klei-spykers of bakstene opgeteken wat in die mure of fondamente van tempels ingemessel is. Klaarblyklik was hierdie drome meer van religieuse as politiese belang. Daar was ook ‘droompriesters’ by tempels wat spesiale rituele kon uitvoer om te droom. Hierdie priesters is nie slegs deur konings geraadpleeg nie, gewone mense kon ook na hulle toe kom met gewone probleme. Tipiese droomrituele het reiniging van die dromer, en spreuke ter voorbereiding van die droom ingesluit. Nie net priesters nie, maar enigeen kon droomrituele uitvoer om ‘n gunstige droom te ontvang. Iemand – byvoorbeeld Gilgamesh en Enkidu in die Gilgamesh-epos – sou droomrituele tydens ‘n lang tog uitvoer in die hoop om van ‘n voorspoedige reis en ‘n veilige bestemming te droom. Droomrituele wat ‘n mediese funkie gedien het, was ook besonder algemeen.

   Wat veral interessant is, is die sogenaamde ‘Babiloniese Droomboek’. Dit is ‘n versameling van droom-orakels. Uit ‘n totaal van meer as 500 het slegs sowat ‘n 100 oorgebly. Hierdie boek is meer as bloot ‘n versameling drome: dis ‘n poging om drome te organiseer en volgens temas te kategoriseer, en ook interpretasies te verskaf, met ander woorde, ‘n poging om die droompraktyk te standariseer en te kontroleer. Die reeks begin deur die droomgod, Zaqīqu aan te roep. Daarna volg die temas, onder andere: om te urineer; om geslagsgemeenskap te hê; om te vlieg; om gestorwenes te sien en met hulle te praat; om hemel toe te gaan; om sekere kosse te eet of drankies te drink; om in ‘n dier te verander; ensovoorts. Van die interpretasies lui soos volg: As ‘n man droom hy eet ‘n kraai, sal hy inkomste kry; As ‘n man droom iemand gee hom ‘n stuk ‘mihru’-hout, sal hy geen mededinger hê nie. In hierdie Droomboek gaan dit nie oor die boodskappe of orakels van of aan die koning nie. Hier word ‘n venster oopgemaak op die liefde, die fantasieë, die hoop en die vrees van die gewone Mesopotamiese mens.

 

Was Israel anders?

Ek het reeds op die een verskil gewys: die Hebreeuse Bybel vertel van drome in oud-Israel slegs deur middel van literêre tekste – daar is geen briewe, droom-orakels, wydingsinskripsies of enige van die ander genres waarin drome opgeteken is nie. Maar die helde van die Hebreeuse Bybel het inderdaad net soos hul Mesopotamiese bure gedroom: Abraham kry ‘n boodskap van Jahwe in ‘n droom (Gen 15:12-21); Jakob kry ‘n simboliese droom (Gen 28:12); Josef se drome maak sy broers woedend (Gen 37); Salomo droom oor sy toekomstige wysheid en rykdom (1 Kn 3:1-15 // 2 Kron 1:7-13); en ook Daniël is vertroud met die interpretasie van drome (Dan 2 & 4). Daar is nog meer voorbeelde. Verder, net soos in Mesopotamië, het oud-Israel ook geglo dat drome ‘n goddelike oorsprong het: in Israel se geval was daar natuurlik slegs een godheid, en Hy was Jahwe.

   Die volgende verskil tussen die droomwêreld van oud-Israel en die res van die Ou Nabye Ooste, lê in die wyse waarop die drome geïnterpreteer word. In die eerste plek word drome nooit met behulp van magie of ander manties-religieuse praktyke uitgelê nie (vgl Deut 13:2-6; 18:9-15). Jahwe wat die droom gee, maak ook die betekenis daarvan duidelik. Hy maak nie gebruik van ‘professionele’ droomuitleggers, waarsêers of towenaars nie. Polemiek in hierdie tekste teen die gebruik van die buurvolke, spreek vanself. In die tweede plek maak die Hebreeuse Bybel dit baie duidelik dat vreemdelinge nie die gawe het om drome te interpreteer nie. In die Egiptiese tronk, is Josef die enigste een wat die skinker en die bakker se drome kan interpreteer (Gen 40). ‘n Paar jaar later droom die farao ook ‘n enigmatiese simboliese drome, en ten spyte van die menigte raadgewers en en waarsêers aan sy hof, is Josef die enigste een wat in staat is om te weet waaroor dit gaan. Daarteenoor het Josef se broers, skurke wat hulle op daardie stadium was, onmiddellik geweet wat sy arrogante drome beteken (Gen 37)! Dieselfde scenario speel af in Daniël 2: aan die hof van die Babiloniese Nebukadnesar is talle towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers, maar hulle is nie een in staat om die koning se droom uit te lê nie. As die koning dreig om almal weens hul onbeholpenheid om die lewe te bring, openbaar God die geheim aan Daniël. Dit lyk asof Rigters 7:13-15 ‘n uitsondering op hierdie reël is: ‘n Midianitiese soldaat droom van ‘n garsbrood wat die tent platrol, en die droom word deur sy maat uitgelê. Tog kan ‘n mens argumenteer dat die droom en die uitleg vir Gideon se ore bedoel was, en alles tot voordeel van die Israeliete uitgewerk het.

   Op ‘n stadium kom daar egter ‘n verandering. Miskien, net soos in die latere tydperk in Assirië, is drome nie as die primêre en betroubaarste bron van goddelike openbaring geag nie. Numeri 12:6-8 dui ‘n besliste wending aan: As daar ‘n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en Ek praat met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Met die opkoms van die monargie en daarmee saam formele klassieke profesie sedert die agste eeu (vC) word toenemend voorkeur gegee aan die hoorbare ‘woord van die Here’ wat tot die profeet kom. Drome en visioene word nie heeltemal uitgesluit nie, maar dit funksioneer nie los van die hoorbare opdrag van die Here nie. Waarskynlik hou hierdie tendens ook verband met die politiese gebeure in die latere state Israel en Juda. Valse profete was volop wat met misleidende boodskappe en vals hoop gekom het (vgl Jer 23:21-22; 27:9-10; 29:8-9; en ook Sag 10:2). Religieuse spanning? Politieke spanning? Dis moeilik om te sê. Maar net soos in die res van die Ou Nabye Ooste word drome en visioene ook vir nasionale en staatkundige belang aangewend.

   Met die ballingskap en daarna verdwyn profesie as kulturele instelling. Nogtans het mense nie opgehou droom nie. Onder aggressiewe Hellenisme, sou die Jode weereens baie swaar kry. Makkabeus bemoedig sy manne met ‘n visioen in sy droom wat hulle nuwe hoop gee (2 Makk 15:11-16); Daniël kry ‘n reeks apokaliptiese visioene oor die eindtyd (Dan 7-12); en Joël vertel van ‘n tyd wanneer oumense drome sal droom en jong mans visioene sal sien (Joël 2:28). En ook in die tyd wat in die Nuwe Testament voortduur, bly mense steeds droom. Enkele voorbeelde: Josef droom dat ‘n engel aan hom verskyn en sê hy kan gerus maar met Maria trou (Mat 1:20); net daarna waarsku God die wyse manne in ‘n droom om met ‘n ompad terug te gaan (Mat 2:12); en weer versyn ‘n engel aan Josef in ‘n droom en sê hom aan om saam met sy gesin Egipte toe te vlug. Selfs Paulus sien gesigte (vgl Hand 16:9).

  

Slot

Hierdie beelde, idees, emosies en sensasies wat onwillekeurig in ‘n mens se gedagtes afspeel terwyl jy slaap, dit wat ‘drome’ genoem word, word nog nie volledig begryp nie. Deesdae word drome op verskillende wetenskaplike gebiede nagevors, onder andere is daar heelwat neuro-biologiese en psigologiese teorieë oor drome, sonder dat die onderwerp verstaan word. Verder bied die internet ‘n aantal opwindende moontlikhede. Daar is ‘n Online Dream Dictionary, Dream Moods, Images of Dreams en ‘n mens kan selfs inskryf vir ‘n Online Dream Mastery – Train from Home.

   Droomland is ‘n fassinerende land – van toekatyd tot vandag.     

 

Bronne

  • ·         Abusch, T & Van der Toorn, K (reds) 1998. Mesopotamian Magic: Textual, Historical and Interpretative Perspectives. Studies in Ancient Magic and Divination. Groningen: Styx.
  • ·         Jeffers, A 1996. Magic and Divination in Ancient Palestine and Syria. Leiden: Brill.
  • ·         Näff, B 2004. Traum und Traumdeutung im Alterum. Wissenschaftliche Buchgesellschaft: Darmstadt.

·         Noegel, SB 2001. ‘Dreams and Dream Interpreters in Mesopotamia and the Hebrew Bible.’ Paginae 45-71 in Bulkeley, K (red), Dreams and Dreaming. A Reader in Religion, Anthropology, History and Psychology. Hampshire: Palgrave – St. Martin’s Press.

Share this / Deel hierdie: