Hierdie is ’n verwerking van ’n referaat wat op 23 November 2007 by die enigste Afrikaanse filosofie-kafee in die land (Café Riche, Kerkplein, Pretoria) gelewer is.

Dalk is daar maar net twee soorte Afrikaners. Dié met ’n ‘goeie geloof’ en dié met ’n ‘slegte geloof’. Dit het niks met godsdiens of die kerk of die teologie te make nie, maar is bloot twee maniere van leef, verstaan en omgang met die Suid-Afrikaanse werklikheid.
‘Slegte gelowiges’ is eintlik gevallenes. Vervalle in ’n wêreld van vaste en onbuigbare waarhede wat net hulle ken. Dit is nie dat hulle ongelowig of onchristelik is nie. Meestal is hulle goeie mense, gaan kerk toe en glo dat dit bars, maar hulle het God gevang, ken die politieke waarheid, en wil daarom altyd voorloop, voorsê, oorneem en versmoor. Sulke mense is sleg want hulle is ander se hel (in Sartre se sin – vgl Sartre 1962:105-167). Dan is daar die ‘goeie gelowige’ die enkeling wat altyd teen die enkel-waarheid stry, nooit die huidige politieke of sosiale sisteem as die finale aanvaar nie, maar altyd na nuwe, ander moontlikhede soek. En as die Afrikaner ooit oorleef, sal dit vanweë dié rustelose enkeling wees wat altyd ondermyn, uitdaag, nuut dink en op ’n ander wêreld hoop.
     ‘Slegte geloof’ veronderstel ’n onherroeplike gebondenheid of vervallenheid aan die huidige sosio-maatskaplike konteks. So gebonde en vervalle dat dit die mens passief en onvry maak en jou die verantwoordelikheid tot voortdurende vernuwing ontneem. So iets maak die lewe oneg. Oneg omdat sulke mense die status quo as die onafwendbare beskou en elke moontlikheid om in vryheid vir iets anders te kies, ander moontlikhede te ondersoek, vermy.
Die verskriklike hiervan het Sartre in ’n drama oor ’n man en ’n vrou in ’n restourant verduidelik. Die man sit sy hand op dié van die vrou en die vrou weet dinge gaan nie daar bly nie. Sy voel die druk en die warmte van die man se hand en sy weet sy moet iets doen: sy moet ’n keuse maak, maar sy weier; sy moet haar hand wegneem, maar sy kan nie; sy moet in vryheid kies, maar sy stel dit uit; sy moet die ware aard van die situasie kan peil, maar sy ontken alles; sy moet iets beslissend doen, maar neem ’n kortpaadjie deur niks te doen nie, deur alles te los soos dit is. In dié proses het sy ’n ding geword; ’n ding wat haar eie vryheid prysgegee het, haar reg tot ’n eie keuse afgelê het en haar vermoë tot verset afgestomp het.
Dié ingesteldheid het ook deel van die Afrikaner se sosio-politieke wêreld geword. Kleinburgerlike politieke waardes word klakkeloos aanvaar; die bestaande het die noodwendige en die onafwendbare geword; dinge is nou eenmaal so en dit kan nie anders nie. Aanvaar die bestaande want dit is die bes-moontlike scenario; dit was die allerbeste opsie vir almal; dit was die beste wat in hierdie konteks beding kon word; maak die beste daarvan; bou aan ’n nuwe wêreld; werk met almal saam; moet jou nie in die privaatruimte afsonder nie; gee jouself vir ’n groter politieke werklikheid. Onthou ook verder jy die dra die skuld van hierdie land se armoede, swak onderwys en jou ewemens se daaglikse worsteling om te kan bestaan. Jy is die sondebok, die ‘azazel’ (volgens Levitikus) wat die skuld moet dra vir ander se lyding, swakhede en onvermoëns. En jou geld, dit is immoreel bekom, maar wees nou eenmaal met jou witgeld, jou witmag tevrede en moenie die ou bedeling so verwyt nie want hulle het dit so beding dat jy die geld sou kry en ryk sou bly.
En die ‘slegte geloof’ blyk daarin dat sovele dié vooroordele netso aanvaar; dit toelaat om in die hel van ander se vooroordele vasgevang te word; dit toelaat dat andere hulle lewensverhaal vír hulle skryf; dit gelate aanvaar om die skurk in die geskiedenis te wees; dit toelaat dat ‘Das Man’ (soos Heidegger sou sê) vir hulle dink en voorsê hoe hulle oor hulself moet dink, praat en voel (Heidegger 1998:169-174). Verskriklik is die gevolge van so ‘n ‘slegte geloof’: ’n mens verval in ’n diepe sluimering van passiwiteit waarin elke dag se gebeure kritiekloos aanvaar word en jy weier om te kies vir iets anders, vir beter moontlikhede, vir ‘n ander interpretasie en verstaan van jouself.
Die ‘goeie gelowige’ daarenteen aanvaar die bestaande bedeling nooit as die noodwendige nie; as ’n gegewe wat nooit kan verander nie; as ’n ding-in-sigself nie; as die finale antwoord op hierdie wye en droewe land se lewensvraagstukke nie. Hy/sy aanvaar nooit die gangbare, die algemeen-aanvaarbare, die algemeen-geldende as die finale nie; hy/sy strewe altyd onrustig na nuwe bestaans- en verstaansmoontlikhede; kom nooit tot rus in één antwoord nie; streef altyd na ’n outentieke, egte lewe deur te kies vir ander sosio-politieke moontlikhede.
En as die ‘goeie gelowige’ Afrikaner ’n oriënteringspunt soek, kan die Afrikaanse letterkunde die weg wys. Veral die Dertigers en Sestigers. Daar is ’n paar redes hiervoor: (i)dit was ’n radikale, intellektuele deurdenking van Afrikanerskap; (ii) dit (veral die Dertigers) was solidêr krities met die verlede en hede; (iii)dit was oop vir die groot wêreld van die kuns en die denke; (iv)dit wou nuwe wêrelde van die gees ontdek, oopmaak en vir almal toeganklik maak; (v)dit is alles in ’n ongelooflik-mooie Afrikaans gesê.
In die Afrikaanse geesteslewe was die Dertigers ’n hoogtepunt, ’n ongelooflike uitstulping van die intellek en ’n aangrypende verwoording van ons bestaan. Uiteraard is dié beweging deur ’n bepaalde tyd en konteks gevorm: ‘Met die oorwinning van die Nasionale Party by die algemene verkiesing van 1924 en die erkenning van Afrikaans in 1925 is die Tweede Afrikaanse Beweging reeds verby en die Derde beweging aan die gang. Die Afrikaner is nie meer ‘n opposisievolk nie, maar ‘n regerende volk. Sy aggressiwiteit is aan die verminder – ook omdat dit ’n Pakt-regering in samewerking met die Arbeiders is – sy minderwaardigheidsgevoel is aan die afneem. In die oorwinningsvreugde voel hy hom gelyk met ander volke, maar omdat hy op verskillende gebiede die agterstand besef, weet hy dit is ‘n wens, ‘n wil. Die Derde Beweging probeer nou hierdie agterstand inhaal en streef na gelykwaardigheid op alle gebiede met ander Westerse-kultuurvolke. Dit is ‘n strewe na volwassenheid en selfstandigheid, wat vanself verskeidenheid en spesialisasie meebring. Dit is ‘n oopgooi van die deure!’ (Opperman sj:13).
In sy strewe na die nuwe, die anderse, en sy omhelsing en verwoording van ’n groter wêreld, het N P Van Wyk Louw sy ‘Halwe kring’ met ’n soort credo begin:
… maar ek wat gaan waar hoër, kouer paaie lê,
wil weinig troos en geen gebed
en min, maar suiwer woorde hê

Jare later sou die jonger Louwbroer hierdie soeke na iets nuut in sy wonderlike lang ‘Naggesprek’ oorvertel. Hy vertel van hulle strewe, die mense wat rondom hom en Van Wyk saamgekom het en hoe alles gegis het.
Ons twee wou ‘n nuwe wêreld maak –
mens glimlag byna, as jy vandag, middeljarig,
en baie meer bedaard, weer daaraan dink –
maar hóé sê mens al die dinge? Watter woorde
moes jy vind om af te breek én op te bou?
Ons het in daardie jare ure lank gepraat …
Óm ons het ’n hele vriendekring ontstaan …
Sommige verbintenisse sou baie jare duur;
party slegs maande lank. Maar dit het gegis
soos met parstyd jong mos in die kuip.
Ons het met uitgelatenheid gewerk
en heelwat wyn gedrink, want sonder wyn,
sover ek weet, het nooit ‘n vers ontstaan nie …
maar ook die woord wat ewig helder bly.

En toe baie jare later kom die Sestigers en weer word om vernuwing en ’n groter, kritiese kyk op die lewe geroep. Mooi het die ‘Dertiger’ N P Van Wyk Louw dit in 1964 gesê: ‘Die jare rondom ’60 – presiese datums maak hier min saak – het miskien vir die Afrikaanse letterkunde, veral die prosa, die avontuur laat aanvaar: om ons Afrikaanse denke wat so tussen 16de en 19de eeu aarsel, ‘met geweld’, nié ‘modern’ te maak nie: maar wakker te maak vir ons eie probleem, hier en nou. Vormvernuwing, vernuwing van inhoud en wêreldbeskouing: dit alles word toegespits op hierdie nuwe verkenning van onsself en ons halwe vasteland’.
As die Afrikaner dan oorleef, sal dit vanweë dié enkeling wees wat nooit die bestaande as die finale aanvaar nie, maar wat altyd nuut wil dink en nuwe wêrelde wil skep. En in dié proses kan veral die Dertigers en Sestigers vir ons die taal, die woorde, die uitdrukkings, die denke en die ander perspektiewe op die wêreld gee.
En die kerk? In sy prediking en pastoraat sal die kerk baie meer aandag aan die ‘goeie gelowige’ moet gee. Dalk sal dit nie ’n maklike groep wees nie want hulle kan dikwels met die woordjie ‘post-’ (in die sin van ‘verby’) beskryf word. Hulle is dikwels post-burgerlik:hulle burgerskap word nie soseer in een plek (sêmaar Suid-Afrika) of in een groep (sêmaar die reënboognasie) beleef nie; vanweë die internet is hulle wêreldburgers en vanweë skotteltelevisie is hulle deel van ‘n veel groter kultuurgemeenskap. Hulle is post-kerklik: hulle voel hulle nie noodwendig in die kerk, die ‘goeie gelowiges’en hulle ‘eie mense’ meer tuis nie. Hulle is post-die-meester-narratief: hulle voel hulle nie meer altyd deel van die een grootverhaal van die groep (sêmaar oor ons Calvinistiese roeping of die reënboognasie) nie, maar verheug hulle in hulle eie kleinverhale. Hulle is post-eenduidigheid: niks is vir hulle so en net so nie; alles kan ook anders gesê en gedink word; almal hoef ook nie dieselfde te dink nie of in dieselfde kraal in te pas nie.
Breyten Breytenbach praat êrens van die Middelmens en die Middelwêreld wat ook help om die ‘goeie gelowige’ te verstaan. Volgens Breytenbach is die Middelmens ‘n onburger, hy behoort maar behoort ook nie, hy het van die parogiale weggebreek, hy het sy ‘huis’ vir goed verlaat, hy het op ‘n vreemde kus geland, hy voel op sy gemak maar nooit tuis nie. Hy ‘waag dit in gebiede waar waarhede nie meer waterpas lê en waar sekerhede nie oorvleuel nie’, hy ‘bewoon’ ‘n ‘land’ iewers tussen Oos en Wes, Noord en Suid, hy is net nooit in die sentrum nie, hy bevind hom altyd op die periferie, hy lewe ‘in die marges, die kantlyne, die lewende rande’, hy moedig diversiteit aan, hy aanvaar kulturele diversiteit, hy beweeg voortdurend vanweë nuwe idees, hy ‘veronderstel chaos’ en hy ‘respekteer malheid’, hy verbly hom in die ‘uitspattige fees van nuwe konsepte’, hy ervaar die eindigheid van menswees en kennis gelate, en aanvaar (al is dit met groot pyn) die ‘voorlopigheid … hersienbaarheid, feilbaarheid … kwesbaarheid’ van alle uitsprake oor die werklikheid (Breytenbach 1998:24-37).
Dalk is dié mense die historiese krag wat dinge sal laat gebeur, dinge in nuwe bane sal laat vloei, dinge radikaal sal laat verander. Dalk is dit hulle wat ander perspektiewe sal open, nuwe horisonne sal ontsluit en wie se dade besondere betekenis vir die Afrikaner, Afrikaans en die kerk sal inhou. Die kerk (en veral die N G Kerk) mag dus in sy pastoraat en sy prediking nooit die ‘goeie gelowige’ of die Middelmens verbygaan nie. Hiér lê dalk ons toekoms.

Bibliografie

  • Heidegger, M 1998. Zijn en tijd. Nijmegen: SUN.
  • Breytenbach, B 1998. Aantekeninge van ’n ‘Middelwêreld’. Fragmente, 1/1. 24-37.
  • Kearney, R 1989. Modern movements in European philosophy.. Manchester: University Press.
  • Lavine, T Z 1989. From Socrates to Sartre: the philosophical quest. New York: Bantam Books.
  • Le Roux, J H 1998. Verlos ons van die waarheid. Fragmente, 2. 120-131.
  • Louw, Van Wyk N P 1947. Die halwe kring. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.
  • Louw, Van Wyk N P 1964. Sestig, sestiger, sestigste. Sestiger, 1/3, 3-11.
  • Louw, W E G 1975. Naggesprek. Kaapstad: Tafelberg.
  • Opperman, D J sj. Digters van dertig. Kaapstad: Nasou Beperk.
  • Sartre, J P 1938. Nausea. New York: New Directions Press.
  • Sartre, J P 1943. Being and nothingness. New York: Washington Square Press.
  • Sartre, J P 1948. Existentialism and humanism. London: Eyre Methuen. 23-56
  • Sartre, J P 1962. ‘The files’ and ‘In camera’. London: Hamish Hamilton.
Share this / Deel hierdie: