Inleiding

Is ‘n besoek aan die ‘Uilehuis’ op Nieu Bethesda die moeite werd?

   Mense het verskillende menings wat wissel tussen ‘Ag nee wat, dit word heeltemal oorskat, die kuns is maar baie naïef en glad nie watwonders nie,’ en ‘Dis spokerig, hoor!’ tot ‘Dit is ‘n spirituele belewenis wat jou ruk!’   

   Die sogenaamde ‘Uilehuis’ het veral bekend geword nadat die eksentrieke eienares, Helen Martins op ‘n koue wintersdag in 1976 haar eie lewe met drie eetlepels bytsoda beëindig het.

 

‘n Skemer-begin

Nieu Bethesda is ‘n afgeleë dorpie wat nestel tussen die Sneeuberge aan die voet van Kompasberg, sowat 50 km duskant Graaff Reinet. Hier is Helen Elizabeth Martins op 23 Desember 1897 gebore as die jongste van tien kinders waarvan slegs ses oorleef. Sy is die tweede Helen Elizabeth – haar ouers vernoem haar na ‘n ander sussie voor haar wat nie baie lank geleef het nie. Vandat sy die lewenslig aanskou, weet Helen Martins van die dood.      

   In die omgewing waar Helen grootword, is die NG Kerk die belangrikste faktor in die samelewing. Onder leiding van Ds Charles Murray is die dorpie rondom die kerk gestig (1875). Streng morele, sosiale en godsdienstige waardes het gegeld, onder andere dat geen alkohol in die dorp gekoop of verkoop mag word nie. Hierdie bepaling is tot laat in 1980 gehandhaaf – meer as ‘n eeu later gee die munisipaliteit toe dat die eerste drankwinkel sy deure oopgooi – met die ironiese naam ‘Malgenoeg’.

   Helen se pa, Petrus Jacobus Martins is ‘n man van bedenklike oortuigings. Aan die een kant doen hy hom voor as iemand wat nie ‘n dag se skoolopleiding het nie en slegs die Bybel lees; aan die ander kant is daar volop gerugte van hoe hy mense bedrieg en besteel het. Hy het wêreldse vreugde en plesier hartstogtelik afgekeur, en boonop ‘n obsessiewe vrees vir kieme gehad. Nie een van die kinders het aangename herinneringe aan hul pa nie: Helen het hom die bynaam Die Leeu gegee.

   Wanneer ‘n mens die ‘Uilehuis’ besoek, is die ontvanglokaal ‘n kamer met pikwart mure, sonder vensters. Op die trappies, as jy uitstap na die ‘Kameeltuin’, is gegraveer: The Lion’s Den. ‘n Entjie verder is ‘n groot sement-leeu met die hoofligte van ‘n motor vir oë en ‘n boosaardige snorbaard van draad. Hier het Helen se pa die laaste jare van sy lewe geslyt. Helen het geweier om hom te versorg, hy moes maar self sien en kom klaar. Oud en verswak, was hy aangewese op weldoeners in die gemeenskap om hom te was en te voed. Om die een of ander rede moes Helen haar pa verag, selfs gehaat het.

   Met hul moeder (Hester Catherine Caroline [neé van der Merwe]) het die Martins-kinders ‘n goeie verhouding gehad. Aan haar was Helen besonder geheg. Maar ‘n ongelukkige huwelik en vele kindergeboortes gedurende die jare sonder voorbehoedmiddels, het sy tol geëis. Vroeg al het sy hartprobleme ontwikkel, en Helen onthou haar moeder eintlik as ‘n invalide.

   Helen het op Nieu Bethesda skoolgegaan, en was ‘n intelligente en hardwerkende leerling. Sy slaag standerd 7 op die ouderdom van 17. In daardie jare was dit min of meer waar ‘n mens se skoolopleiding geëindig het. Daarna gaan sy na die onderwyskollege op Graaff Reinet om vir onderwyseres te leer. Die ‘prinsipaal’ is Helen Murray, suster van die welbekende Andrew Murray. In 1918 behaal ons Helen (Martins) die 12e plek in ‘n klas van 76, en ontvang van UNISA ‘n sertifikaat vir haar ‘pianoforte’. Die jaar daarna kwalifiseer sy om in Engels en Hollands klas te gee, en sy kry ook eersteklas toekenning van die ‘Tonic Sol-fa’ kollege se eksamens.                   

 

‘n Donker pad

Vir 18 maande lank is Helen ‘n laerskoolonderwyseres op Wakkerstroom. Toe trou sy met Johannes Pienaar, ook van Nieu Bethesda, 5 ½ jaar ouer as sy. Helen se pa keur die huwelik ten sterkste af. Johannes is hoogs intelligent, uiters aantreklik en het ‘n swak oog vir vroue. Hy is ook ‘n uitgesproke ateïs. Nadat ene Ds Weich vir hom ‘n geestelike boek leen, besluit Johannes dat hy wel in God kan glo, maar nie in Christus nie. Dus word die seremonie nie in ‘n kerk voltrek nie, maar in een of ander private venue. En vir daardie tyd (7 Januarie 1920) was dit ‘n opspraakwekkende gebeurtenis.

   Johannes – briljant in meer as een opsig – begewe homself in die wêreld van die Afrikaanse drama, as skrywer sowel as akteur. En hy behaal sukses. Helen tree ook op as aktrise … maar sy word swanger. Geen voorbehoeding nie – en dit gebeur twee maal. Oorweldig deur ‘n vrees dat haar kinders met horings en gesplete kloue gebore gaan word, of dat hulle pikswart gaan wees, ondergaan sy ‘n aborsie – twee maal.

   En soos dit maar gebeur, ontmoet Johannes Pienaar iemand anders. Ene Miss Wimble, ‘n Engelse onderwyseres. Johannes en Helen skei. Hy begeef homself in die politiek, verlaat die land en maak uiteindelik ‘n bestaan in Engeland onder ‘n nuwe naam – Pinard. Helen werk intussen of in ‘n restourant, of in ‘n apteek in Muizenberg. Hoekom het sy nie aanhou skoolgee nie? Dis tog waarvoor sy opgelei was? Niemand weet nie. Miskien wou sy iets van ‘n nuwe wêreld ontdek wat sy nooit geken het nie. Tot sy op ‘n dag ‘n brief kry van Willoughby Seymour, bankbestuurder van Standard Bank in Brakpan, die man van haar suster Alida. Die datum is 14 Maart 1927. Helen se moeder is ernstig siek, en dit is Helen se plig as enigste ongetroude dogter om na haar om te sien.

   ‘n Onredelike versoek?

   Nee, nie in daardie tyd nie. Helen se ander susters was albei getroud en het hul eie gesinne gehad om na om te sien. Daar was nie iets soos ‘n beroepsvrou nie. Die man was die broodwinner en ‘n vrou het haarself in haar huis en haar kinders uitgeleef. Vir Helen was dit dus vanselfsprekend: sonder man, sonder kinders, was haar onmiddellike verantwoordelikheid haar ma.

   So keer sy dus terug na Nieu Bethesda, ‘n kerkdorp met onverbiddelike morele waardes, en swaar patriargale kodes: sy, Helen Martins, in haar vroeg-dertigerjare, ‘n geskeide vrou wat twee aborsies ondergaan het.        

    Helen versorg haar moeder tot haar dood, maar haar pa word reeds tydens hierdie periode na die buitekamertjie toe gestuur. En nog ‘n skandaal word rugbaar: Helen se verhouding met Johannes Hattingh, ‘n getroude man van die dorp. Volgens sy familie is hy twee maal deur die weerlig getref, omdat hy buitengewoon lank was, en dit het hom ‘n persoonlikheidsverandering laat ondergaan, anders sou hy nooit in so-iets betrokke geraak het nie. Maar die verhouding tussen Johannes Hattingh en Helen duur 21 jaar lank, en selfs nadat die Hattingh-familie Peddie toe verhuis (1947), keer Johannes herhaaldelik na Nieu Bethesda terug om besoeke aan Helen te bring. Later sou Helen weer trou, maar volgens Hattingh se familie, doen sy dit om aan hom ‘n laaste keuse te stel: of Helen, of sy vrou. Op 4 Julie, 1952 trou Helen met ‘n wewenaar, ene Jacobus Johannes Machiel Niemand. Sy is 54, hy 67. Hulle skei na drie maande. 

   Hierdie huwelik is egter ‘n kortstondige interlude van ‘n ander verhaal wat reeds begin het met die dood van Helen se pa in Februarie 1945.

   Want toe is haar verantwoordelikhede, trouens, alles waarvoor sy gelewe het, eensklaps weg.

 

Laat daar lig wees

Een nag lê Helen siek in haar bed en word bewus van die maanlig wat deur ‘n venster skyn. Sy dink aan haar vaal en ongelukkige lewe, al die dood en droefheid daarmee saam. Daar en dan neem sy besluit om alles te verander met lig en met kleur. Sistematies begin sy om die hele huis te transformeer en te her-dekoreer. En sy doen dit op ‘n unieke wyse. Eers breek sy mure af en sit vensters in om soveel moontlik lig in te laat. Maar dis nie natuurlike lig nie. Sy laat glaspanele van verskillende kleure insit: rooi, oranje, geel en groen. Sy versamel bottels en glas van alle kleure, koop dit selfs van kinders en maal dit fyn. Eers verf sy die mure van die huis met vernis en plak die fyngemaalde glas daarop. Blykbaar het Helen dit dikwels sommer met haar kaal hande gedoen – wat natuurlik ‘n merk gelaat het! Verder het sy spieëls laat insit wat in verskillende vorms gesny is, sonstrale, sekelmane sterre, ‘n hart, ‘n kruis en ander geometriese patrone. Haar hunkering na lig blyk verder uit die groot versameling kerse en lampe waarmee sy die huis verlig het. Kleur is orals, dit is oorweldigend. Die mure en die dak van die huis is beskilder met allerlei patrone en motiewe. Veral die son-motief (wat te siene is op die ‘Sunbeam’ vloerpolitoer-blikkie!) kom herhaaldelik voor.

   Die menigte objekte in die huis – baie daarvan selfs ‘kitsch’ – soos ook byvoorbeeld verskeie afdrukke van die Mona Lisa is opvallend. Stap jy uit in die ‘Kameeltuin’ word dit duidelik dat Helen haar inspirasie van bestaande werke en objekte gekry het – kerskaartjies, poskaarte, foto’s, illustrasies in boeke, afdrukke op meelsakke en ander huishoudelike skoonmaakmiddels ensovoorts. Die ‘Kameeltuin’ bestaan uit sementbeelde, en in strak teenstelling met die bykans verblindende kleure binne die huis, word jy hier oorweldig deur vaal sement. Eers later word jy bewus van die kleur van die groen en bruin bierbottels, ‘n witgeverfde kerk of ‘n swart dak, en die enkele figure wat ‘n spatseltjie kleur dra. In die ‘Kameeltuin’ tref jy ‘n vreemde, selfs deurmekaar mengsel van verskillende religieuse motiewe aan. ‘n Groot optog van kamele na ‘n stal – baie duidelik gemik op die Kersverhaal – domineer die scene. Elders versprei sien jy Boeddha- en Hindoe-beelde, sfinkse, piramides, meerminne en ander afbeeldinge. Blykbaar het Helen ‘n geïllustreerde kopié van The Rubáiyát of Omar Khayyám besit waaruit sy ook inspirasie geput het. Tussen die standbeelde groei kaktusplante.

   Dit is tog belangrik om te weet dat Helen nie al die werk heeltemal self gedoen het nie. Drie mans – al drie bruinmense – het op verskillende tye met haar saamgewerk: Jonas Adams, Piet van der Merwe en Koos Malgas, laasgenoemde is die bekendste en was ook die langste by haar betrokke. Hy was ook op die selfmoord-toneel. Nogtans is al drie dit eens dat, alhoewel hulle verantwoordelik vir ‘swaar werk’ was, soos om mure uit te breek en die beelde te giet, dit alles volgens die instruksies van ‘Miss Helen’ gedoen is.

   Helen wou haar donker, neerdrukkende bestaan omskep in ‘n eksotiese fantasiewêreld. This is my world vervleg sy met draad in die draadheining wat die tuin toespan. Baie duidelik: háár wêreld. Want Helen was nie sosiaal nie, en het haarself vir praktiese doeleiendes uit die gemeenskap onttrek. Enkele individue, haar susters en ‘n paar vriendinne het sy naby haar toegelaat, maar niemand anders nie. Weliswaar het sy besoekers in haar ‘Uilehuis’ en ‘Kameeltuin’ ontvang en selfs entoesiasties begelei, maar hulle was besoekers wat gekom en weer weggegaan het.

   In hierdie private ruimte van haar huis en haar tuin, wou Helen Martins skepper wees. Sy wou ‘n wêreld skep wat radikaal anders is as dié waarin sy grootgeword het, en ook waarin sy haarself bevind. Helen wou lewe in ‘n droom, maar in die proses het sy gestalte aan ‘n nagmerrie gegee.                        

 

Die donker wen

Helen se fantasiewêreld is nie die wêreld van Walt Disney nie. Ten spyte van al die kleur en eksotiese beelde, is die atmosfeer neerdrukkend. In plaas daarvan dat jy meegevoer word na vrolike sprokies van lig en lag, in plaas daarvan dat die lig en kleur jou verlig, gebeur die teenoorgestelde. Jy word bewus van ‘n intense donkerte, die donkerte van Helen se siel. Met ‘n oordaad van lig het sy desperaat probeer kompenseer vir die donkerte binne-in haar. Haar vrees vir die donker wou sy deur haar kuns transformeer, maar dit gebeur slegs uiterlik: die lig bly altyd buite, dit kom nooit binne-in haar wese nie. Sy het haar huis verlig, nie haarself nie. Haar skadukant begroet jou genadeloos met die intrapslag in The Lion’s Den. En namate jy deur die ‘Uilehuis’ en ‘Kameeltuin’ beweeg, loop jy jou vas in die vrese van die onderbewuste, van onklaar drome, en ‘n verwronge realiteitsbelewenis.

   Helen se oë begin ingee. Sommige mense meen dit is dit die rede vir haar selfmoord. Sonder sig sou sy nie haar kuns kon beoefen nie.  

   Maar daar is ook die ander moontlikheid dat Helen die stryd teen haar donker verloor het. Dat sy lewensmoeg geraak het. Pas voor haar dood skryf sy aan ‘n vriendin, Jill Wenman, dat sy alles deur ‘n waas sien en dat daar ‘n groot donkerte rondom haar is. Meer as een keer het sy ook die opmerking gemaak dat sy uiters depressief is.              

   Op ‘n koue Vrydagoggend in Augustus, sowat 4 maande voor haar 79e verjaarsdag, stuur Helen vir Koos Malgas om brood te gaan koop en sê dat hy daarna kan huis toe gaan. Koos vind dit vreemd: gewoonlik werk hy tot eenuur en dit is nog nie tyd nie. Boonop het Helen ook gesê sy wil nie langer leef nie, en as sy ‘n geweer gehad het, sou sy haarself skiet. In plaas van winkel toe, gaan Koos polisiestasie toe en sê dat hy onraad vermoed. Die polisie neem die saak nie te ernstig op nie: die susters by die kliniek loop aldag en vertel dat Helen sê sy wil nie langer leef nie, en hulle sal later gaan inloer. Teen sy werkgewer se instruksies keer Koos ongeveer twee-uur terug.

   By die huis is ds en mev Cloete, die buurvrou, mev Hartzenberg, suster Alice van die kliniek, en ‘n sterwende Miss Helen. Op die tafeltjie langs Helen is ‘n potjie met bytsoda, ‘n botteltjie kasterolie en ‘n briefie waarin sy laat blyk dat sy drie eetlepels bytsoda geneem het.

   Dit is Koos wat ‘n kombers gaan haal waarin hy Miss Helen toevou, haar na mev Hartzenberg se motor dra en versigtig op die agterste sitplek neerlê. Die naaste hospitaal is in Graaff Reinet. Maar dit is heeltemal te laat.

   Helen sterf drie dae later.

 

Slot

Is ‘n besoek aan die ‘Uilehuis’ en ‘Kameeltuin’ die moeite werd?

   Elkeen moet maar self besluit. Sommige besoekers is teleurgesteld – het baie meer verwag. Ander is oorstelp – wat ‘n kragtige uitdrukking van die verbeelding!

   Maar, of jy daarvan hou of nie, Helen Martins se nalatenskap laat niemand onaangeraak nie. Want in die huis en tuin met vreemde beelde en verwronge konsepte, hoor jy ‘n diepe sug, op soek na die sin van die lewe.  

 

Leeslys

  • Emslie, Anne 1991. The Owl House. London: Penguin Books.
  • Emslie, Anne 1997. A Journey through the Owl House. London: Penguin Books.
  • Ross, Sue I 1997. This is my world. The life of Helen Martins, creator of the Owl House. Kaapstad: Oxford University Press.
Share this / Deel hierdie: