Vanaf einde Julie tot begin Augustus vanjaar het ek twee Ou-Testament-kongresse bygewoon. Een in Leuven (België) en die ander in Helsinki (Finland). In Leuven het die nege en vyfstigste vergadering van die Colloquium Biblicum Lovaniense LIX, vanaf 26-28 Julie plaasgevind. Hierdie ‘Bijbelse Studiedagen’, soos wat dit ook genoem word, was vir my ‘n eerste en dit was ‘n besondere geleentheid. Dit vind elke jaar plaas en een jaar word aan die Ou Testament en die ander aan die Nuwe Testament gewy. Vanjaar was dit die Ou Testament se beurt en daar is op die boek Josua gefokus. In die oggende was daar volsessies wat deur almal bygewoon is en waar bekende vakmanne Josua in-diepte toegelig het. Smiddae was daar seminare in vier tale (Nederlands, Duits, Frans en ook Engels) oor verskillende aspekte van Josua en ek het ‘n voortreflike Nederlandse seminaar onder leiding van Hans Ausloos oor Josua en die deuteronomistiese bewerking van die Pentateug bygewoon. Dáár kon ek darem Afrikaans praat.

In Helsinki het die twintigste kongres van IOSOT (International Organization for the Study of the Old Testament) vanaf 1 tot 6 Augustus plaasgevind en was soos gewoonlik ‘n groot belewenis. Die Sondagaand het almal vir die amptelike opening in die grootsaal van die Universiteit van Helsinki bymekaargekom, na Finse musiek geluister en die IOSOT-president se lesing oor ‘n aspek van die Septuagint se vertaling van die boek Jeremia aangehoor. Daarna was dit Finse kosse en ander heerlike disse.

Die oggende het ook uit volsessies bestaan en vakmanne het ‘n verskeidenheid temas gepak: argeologie en geskiedenis, Qumran en die Septuagint, wysheid en apokaliptiek, kuns en die Bybel, en natuurlik ook die Deuteronomis. Soos altyd was die groot boekhuise ook daar en soos wat die week aangeloop het, het die pryse stadig gedaal. Heel aan die einde op die heel laaste dag was daar ‘n besigheidsvergadering waar oor die volgende IOSOT-kongres in München (in 2013) gepraat is en ook oor die moontlikheid dat die 2016-kongres in Suid-Afrika sal plaasvind. Dit sal ‘n nuutjie vir IOSOT wees en ook vir ons almal.

 

Die omweg na Parys

Op pad na Leuven het ek en kollega Eben Scheffler van Unisa drie dae in Parys deurgebring om ‘n ou ideaal van my te verwesentlik. En dit was om aan die linkeroewer van die Sein die restaurante, die koffieplekke te besoek waar Jean-Paul Sartre (asook Simone de Beauvoir en ander eksistensialiste soos Albert Camus) gesit en werk het.

As student moes ek in ‘n biblioteek werk en een stil middag het ek Johan Degenaar se werk oor Albert Camus (1913-1960) ontdek wat in vele opsigte my lewe verander het (vgl Degenaar 1966). Die klem op die lewe se absurditeit en die ewige strewe na sin was iets totaal nuut vir my. Mettergaan het Sartre my ook geboei en het die eksistensialiste my bediening in die NG Kerk gevorm. Só, die Paryse omweg was dus ‘n persoonlike hulde aan Meneer Sartre asook aan Camus en ander eksistensialiste (vgl http://teo.co.za/artikel/articles/16/1/Twee-soorte-Afrikaners-n-Sartreaanse-perspektief).

Op die internet het ons die roete gekry en Eben het ons straat vir straat, blok vir blok by elke koffieplek gebring. Eers moet ‘n mens by die Place Sartre-De Beauvoir kom en dan lê die beroemde Les Deux Magots reg voor jou. Dié beroemde kafee was oor baie jare die bymekaarkomplek van skrywers, kunstenaars en linkse intellektuele. Klaarblyklik is die eienaars diep bewus van dié plek se historiese waarde want selfs op die spyskaart word die beroemde besoekers van weleer se name vermeld. In Les Deux Magots het ons lank gesit en oor die eksistensialiste gesels, maar ons pad sou na ‘n meer tipiese Sartre-kaffe lei.

Dit was die Café de Flore waar hy en De Beauvoir by aparte tafels gesit en werk het en waar hy glo die beroemde woorde, ‘Ons is gedoem tot vryheid’, geskryf het. Volgens Sartre is daar geen uitkomkans nie: elke mens is vry; vry om te kies. Vryheid en keuses loop hand aan hand. In elke situasie moet ons kies; kies watter betekenis ons aan ons eie lewe moet gee; kies hoe ons ons lewens gaan inrig en elke dag gaan leef. En dit is ‘n eensame taak want God bestaan volgens Sartre nie en daar is dus niemand om ons te help nie. Om te kies, is dus ‘n eensame taak. 

Baie mense wil nie kies nie. Skram weg daarvoor want hulle is bang, maar dit is ‘n vorm van ‘kwade trou’ of ‘slegte geloof’. Ons móét kies want dit is die enigste manier waarop ons sin aan ons lewens kan gee; die lewe is sinloos en daarom moet ons elke dag kies vir ‘n-betekenis-vir-ons. En tog is daar ook ‘n donker kant: elke keuse wat in vryheid gemaak word, het ‘n gevolg; ‘n gevolg waaroor ons nie beheer het nie, maar wat ons lewens tot en met bepaal. Kortom: ons is vry, maar vryheid het ‘n prys.  

Nog ‘n kafee waarby ons lank gesit het, was die Café de la Mairie. Hier sou die finale breuk tussen Sartre en Camus plaasgevind het. Dit was in 1951 en Camus se boek, L’Homme Révolté (‘Die mens in opstand’), het pasverskyn en duisende is sommer gou verkoop (Bakker 1966:159). Volgens Camus moes ‘n mens nie so teen onreg en vernedering stry dat jy ander verneder nie. Die mens wat in opstand is, verneder niemand nie. Verset moes daarom menslik, selfs waardig wees (Camus 1965:223-242).

Camus was skerp in sy beoordeling van kommunistiese en ander state wat die mens verding en verneder het. Vir Sartre was die boek ‘n bitter pil want hy was ‘n politieke aktivis, het met die kommuniste geheul, het Castro en Guevara in Kuba besoek en het altyd gepoog om sy filosofie by die kommunisime te laat aansluit. Sartre se linkse koerant het toe ‘n uiters negatiewe resensie van L’Homme Révolté gepubliseer en dit ‘n pseudo-filosofie genoem. Dít het Camus diep gekrenk en in Café de la Mairie sou hy en Sartre daaroor gesels het, maar hulle standpunte was onversoenbaar.

Ons staptog is op die derde dag in ‘n begraafplaas afgesluit. By die één graf van Sartre en De Beauvoir. Na Sartre se dood in 1980 het De Beauvoir ‘n boek, ‘Adieux: A farewell to Sartre’, oor hulle laaste jare geskryf waarin sy onder andere gesê het: ‘Jou dood het jou van my weggeneem en my dood gaan ons nie bymekaarbring nie’. Ten minste in hierdie lewe in die begraafplaas van Montparnasse deel hulle die een graf. Die grafsteen is eenvoudig: albei se name en datums staan daarop. Niks meer nie. Wat dit tog roerend maak, is die talle boodskappies op die graf. Op allerlei stukkies papier is iets geskryf en dan op die graf met ‘n klippie bo-op geplaas. Sartre en De Beauvoir beteken dus vandag nog vir mense iets.

Sartre-hulle se filosofie was gewild omdat dit so ‘n intense worsteling met die lewe is; met die sinloosheid daarvan; die vasgevangenheid van die mens in sy/haar klein wêreldjie; die walging vir die klein-mens-bestaan van elke dag; die ewige soeke na sin; die onontbeerlikheid van keuses, ensvoorts. En terwyl ons so deur die strate van Parys gestap het, het ons net weer die noue band tussen die eksistensialisme en die Ou Testament se wysheidsliteratuur verstaan.

 

Eksistensialisme en Israel se wysheid

Op ‘n heel vreemde, maar tog ook boeiende manier kan die eksistensialisme ons help om wyshiedstekste te verstaan (vgl Zenger 2008:329-334). Sartre en die ander eksistensialiste se filosofie was ‘n radikale deurdenking van die lewe. En Israel  se wysheidsliteratuur (dit is nou boeke soos Spreuke, Job en Prediker) was ook in die lewe, die alledaagse lewe gedrenk en die wysheidsleraars het diep oor die lewe nagedink. Hulle wou weet watter soort gedrag maak ‘n mens gelukkig en watter ongelukkig. Hulle het ook met die sin van die lewe geworstel. Veral in tye van lyding en wanneer ‘n gevoel van tevergeefsheid ‘n mens oorweldig (Crenshaw 1981:11-25; Gottwald 1985:563-582; Delkurt 1993:9-20).

Die uitlewing van Israel se wysheid het nie sommer vanself gekom nie, maar (soos in die geval van die eksistensialiste) moes ‘n wyse sy kop gebruik. Hy kon nie op ‘n openbaring wag nie, maar moes dink. Berekenende optrede was belangrik: hy moes die tye en geleenthede ken en op grond van sy wysheidsopleiding weet hoe om op te tree. Pragtig word dit in Spreuke 26:4 en 5 geïllustreer. Beide verse weerspreek mekaar. Volgens die een moet jy ‘n dwaas na sy dwaasheid antwoord terwyl die ander vers eerder swye voorstel. Twee moontlikhede word geskets en albei is geldig. Alles hang van die wyse self af. Hy moet die situasie ‘lees’, alles mooi deurdenk en dan self besluit wat hy gaan doen. Dit is so belangrik dat ons dit weer verduidelik. In elke situasie moet die wyse mooi dink wat om te doen. En na gelang van die omstandighede sal hy weet of hy moet praat of stilbly (Plöger 1983:306-316).

En dit is dalk híér waar die eksistensialiste se lewensfilosofie ons kan help.

 

Josua in Leuven

Soos gesê, is daar vanjaar op die boek Josua in Leuven gefokus en dít het ons vansselfsprekend by Deuteronomis gebring. Geen diskussie van Josua sonder die Deuteronomis is moontlik nie en die ‘ontstaan’ van die  Deuteronomis is opsigself ‘n mooi verhaal. Sedert De Wette aan die begin van die negentiende eeu het Deuteronomium al hoe meer ‘n sentrale plek in die Ou Testament-wetenskap begin beklee. In sy 1805-proefskrif het Wilhelm Leberecht De Wette (1780-1849) ‘n opmerking (in ‘n voetnoot!) oor Deuteronomium gemaak wat steeds belangrik is. Volgens hom was ‘n vroeë vorm van Deuteronomium die wetboek wat Josia in 622 vC tydens die tempel se skoonmaak gevind het en dít het tot vandag toe ‘n soeke na ‘n ‘Ur-Deuteronomium’ veroorsaak (Wolf 1958:158-160; Rogerson 1992:39-48). Êrens in Deuteronomium tussen al die wette kon die spore van die wetboek dalk gevind word en dít het tot intense studie van die boek Deuteronomium aanleiding gegee. In die proses het die D-bron belangriker geword en Julius Wellhausen het ook al van die Deuteronomis gepraat, maar die wetenskap moes nog op Noth se konstruksie wag (vgl Römer 2000).

Te midde van die Tweede Wêreldoorlog het Martin Noth ‘n boek gepubliseer wat die wêreld van die Ou-Testamentiese wetenskap radikaal sou verander. Geen ander boek in die twintigste eeu sou die wetenskap so grondig verander soos dié een nie (vgl Noth 1943). Skielik het die afkortings Dtr vir die Deuteronomis, DtrG vir die Deuteronomistiese Geskiedswerk en DtrH vir die ‘historikus’ wat dit geskryf het, ontstaan en die hele Ou-Testamentiese wetenskap soos suurdeeg deurtrek. Volgens Noth het die DtrG vanaf Deuteronomium se begin tot aan die einde van Konings gestrek en het die verhaal vanaf Moses se laaste woorde aan Israel voor die intog tot en met die donker en tragiese verhaal van Jerusalem se val in 586 (in 2 Kon 25) vertel (vgl Römer & De Pury 2000:24-141)

Ten spyte van jare lange kritiek teen die gedagte van ‘n Deuteronomis of ‘n Deuteronomistiese Geskiedswerk het ek by Leuven net weer ontdek dat die Deuteronomis nog springlewendig is, dat die intellektuele tradisie, wat ons vak veral sedert 1805 gevorm het, nog kragtig is en dat die insigte van Ou Testamentici van weleer (soos Noth) nog relevant is (vgl Blum 2010).

Ter illustrasie let ons op die manier waarop Thomas Dozeman die insigte van Noth en Rudolf Smend gebruik het om twee sieninge in verband met die intog te verduidelik.

 

Twee sieninge oor die intog en die besitname van die land

Waarskynlik was daar ten minste twee sieninge in verband met die intog en dit blyk veral uit twee teksgroepe: A:Josua 11:21-23 en 21:43-45 asook B:Josua 13:2-6 en 23:1-16. Volgens A (11:21-23 en 21:43-45) was die besitname van die land volledig: Josua het die nasies uitgewis, God het hulle die hele land onvoorwaardelik gegee, die land wat Hy met ‘n eed aan die voorvaders belowe het. Israel het die hele land ook ingeneem, dáár gaan woon en rus gehad.

In B (13:2-6 en 23:1-16) klink dinge anders. In 23:1-16 praat Josua met die ‘huidige geslag’, met die mense wat saam met hom ingetrek het, maar wat nog nie al die nasies verdryf en die hele land ingeneem het nie; hulle het nog net gedeeltelik die land beset en hulle oorwinning oor die nasies was ook maar net gedeeltelik; Josua beloof egter die volk dat God hulle nog die volledige land sal skenk (vss 4, 14-15), maar dan moet hulle die Tora (of wet) van Moses nakom (vs 6); die Tora was ‘n teken van die verbond en het al die ‘verbondsverpligtinge’ bevat (vs 16).

Twee perspektiewe dus op die inname van die land: die een dat alles klaar en volledig geskied het, en die ander dat die inname net gedeeltelik voltooi is; volgens die een was die besitname van die land onvoorwaardelik terwyl die ander die voorwaardelikheid van die land beklemtoon het. Met verloop van tyd is toe gemeen dat twee skrywers aan die boek Josua meegewerk het. Die een was die Deuteronomis, die historikus, wat met geloofsentoesiasme van die intog en van Israel se volledige oorwinning vertel het. Hierdie vertelling van die Deuteronomis, die historikus (of ook DtrH genoem) is gegrond op die beloftes aan die aartsvaders: God het aan Abraham en sy geslag land belowe en in die DtrH se optimistiese geloofsgeskiedenis (in Josua 1-12) word vertel hoe dié belofte in die volledige oorwinning oor die nasies en die inname van die land vervul is.

Lank na DtrH het iemand die boek Josua herbewerk en afgerond. Dié persoon word gewoonlik DtrN genoem (‘N’ staan vir die Griekse woord vir ‘wet’) en hy was die finale redakteur van die boek Josua. Volgens sy lewensgevoel was die hele land nog nie Israel s’n nie en sy redaksie was ‘n soort hersiening van DtrH. Volgens dié redakteur het Israel nog nie die land volledig besit nie en die rede daarvoor was Israel se ontrou; volledige landbesit was van gehoorsaamheid afhanklik.

Dié dubbelkantigheid help ons ook om Josua se beginverse te verstaan. In 1:6 word byvoorbeeld gesê: ‘Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het’. God se eed, se belofte aan die voorvaders was die krag agter DtrH se intogverhale asook die rede waarom Josua onvoorwaardelik geslaag het. Net in die volgende verse (1:7-9) hoor ons die wet en die voorwaardelikheid van die intog: ‘Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet  … Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan …  Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê … Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees …’ Hierdie klem op die wet in die beginverse word in 23:1-16 die voorwaarde vir die volledige besit van die land: ‘Die Here julle God sal hulle (dit is die ‘nasies’) wegstoot voor julle en hulle voor julle uit verdrywe sodat julle hulle land in besit kan neem soos die Here julle God julle beloof het. … Maar julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie’ (vss 23:5-6).

Deur middel van fynlees (‘close reading’) kan ons dié tweekantigheid in Josua raaksien en wat interessant is, is dat dit nooit geharmonieer is nie. Die twee kante is deel van die boek en die spanning tussen die twee moet nooit opgelos word nie. Dit is nogal tipies van die Ou Testament. In die negentiende eeu is al raakgesien dat die Ou Testament radikaal anders as die Griekse en Romeinse bronne is; daar is talle teenstrydighede of spanninge in die Ou Testament (vgl bv Genesis of Josua) asook verskille in taal, styl en teologie, maar niks is gedoen om dit te harmonieer of te verwyder nie (Ska 2002:4-7). In die Griekse en Romeinse literatuur was so iets onmoontlik, maar in die Ou Testament word alles net so gelos. Vir die noukeurige leser gelos wat oor alles moes nadink.

 

Die laaste woord is nog lank nie gespreek nie

By IOSOT is weer oor die Deuteronomis besin. ‘n Hele dag lank. Eers oor die verband met die Kronis en toe oor die relasie met die profete. Volgens Rainer Albertz het daar in die sesde en vyfde eeue Deuteronomistiese groepe bestaan wat in die taal en teologie van Deuteronomium gedrenk was en wat die profeteboeke se klaarmaak en afronding beïnvloed het. ‘n Interessante debat het gevolg wat in die middag met nog lesings en verdere diskussie gevoer is. Aan die einde was daar nog nie heeltemal ooreenstemming nie, maar daar is darem gesê dat taal, strukture, konsepte en ook ideologie of teologie kan help om iets van die Deuteronomis (of hoe dit ook al genoem word) raak te sien en te beskryf.

‘n Toneel wat ek nooit sal vergeet nie, het heel aan die einde gebeur. Toe dit al amper sesuur, verdaagtyd was, het Thomas Römer, die middag se voorsitter, na Rudolf Smend heel agter in die saal gekyk en gesê, ‘Herr Smend, u het al so baie oor vandag se onderwerp geskryf, wil u nie iets sê nie’. En die bejaarde Smend, wat die heeltyd niks gesê het nie, het net geantwoord: ‘Ek het lekker geluister en dit was interessant’.

          En dit is ook die gevoel wat dié twee kongresse by ‘n mens wakker maak. Die Ou Testament is net te diep en die Ou-Testamentiese wetenskap net te groots om ‘n greep daarop te kry en daarom kan ‘n mens net luister, geniet en jou verwonder.

 

 

  • · Bakker, R 1964. De geschiedenis van het fenomenologisch denke. Utrecht: Aula.
  • · Blum, E 2010. Fragen der Kompositionsgeschichte des Josuabuches. Referaat gelewer tydens die Colloquium Biblicum Lovaniense LIX, Julie 26-28 2010.
  • · Camus, A 1965. De mens in opstand. Amsterdam: De Bezige Bij.
  • · Dozeman, T B 2010. Joshua 1:1-9: The beginning of a book or a literary bridge?. Referaat gelewer tydens die Colloquium Biblicum Lovaniense LIX, Julie 26-28 2010.
  • · Gottwald, N K 1985. The Hebrew Bible. Philadelphia: Fortress.
  • · Knauf, A 2010. Die Adressaten des Buches Josua. Referaat gelewer tydens die Colloquium Biblicum Lovaniense LIX, Julie 26-28 2010
  • · Noort, E 2010. Josua im wandel. Zu Stand und Perspektiven der Forschung am Buch Josua. Referaat gelewer tydens die Colloquium Biblicum Lovaniense LIX, Julie 26-28 2010.
  • · Noth, M 1943. Überlieferungsgeschichtliche Studien, I. Halle: Schriften der Königsberger Gelehrten Gesellschaft.
  • · Rogerson, J 1984. Old Testament criticism in the nineteenth century. London: SPCK.
  • · Rogerson, J 1992. W.M.L. de Wette. Founder of modern biblical criticism. An intellectual biography. Sheffield: Academic Press.
  • · Rogerson, J 2003. Colenso in the World of Nineteenth Century Intellectual Ferment, in: J. Draper (ed), The Eye of the Storm, 127-135. Pietermaritzburg: Cluster Publications.
  • · Römer, T (ed) 2000. The future of the Deuteronomistic history. Leuven: Peters.
  • · Römer, T & De Pury, A 2000. Deuteronomistic Historiography (DH), in De Pury, A & Römer, T, Israel constructs its history. Sheffield: Sheffield Academic Press.
  • · Schwienhorst-Schönberger, L 2010. Josua 6 und die Gewalt. Referaat gelewer tydens die Colloquium Biblicum Lovaniense LIX, Julie 26-28 2010.
  • · Ska, J L 2002. The Yahwist, a Hero with a thousand faces, in Gerz, J C, Schmid, K & Witte, M (eds), Abschied vom Jahwisten. Die Komposition des Hexateuch in der jüngsten Diskussion, 1-23. Berlin/New York: Walter de Gruyter.
  • · Ska, J L 2002. The Yahwist, a Hero with a thousand faces, in Gerz, J C, Schmid, K & Witte, M (eds), Abschied vom Jahwisten. Die Komposition des Hexateuch in der jüngsten Diskussion,  1-23. Berlin/New York: Walter de Gruyter.  .
  • · Wolf, E 1958. De Wette, Wilhelm Martin Leberecht. RGG3 2, 158-160.
  • · Zenger, E (red) 2008.Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart:Kohlhammer.
  • · Zenger, E. 1997. Priesterschrift. TRE XXVII:435–46.
Share this / Deel hierdie: