Inleiding

Baie NG-gemeentes is tans druk besig om voorbereidings te tref vir die komende Pinkster. As Christene herdenk ons tydens hierdie geleentheid die uitstorting van die Heilige Gees en die verwelkoming van alle nasies binne die Kerk van Christus. In hierdie teo.co.za-bydrae wil ek die ontwikkeling vanaf Shavout tot Pinkster ondersoek.

 

Shavuot

In Hebreeus beteken shavuah eenvoudig ‘week’ en die meervoud daarvan is shavuot – ‘weke’. Soos al die feeste van Ou-Israel, was ook Shavuot waarskynlik ‘n heidense fees wat met die landboukultus in Kanaän verband gehou het. Dit was ‘n fees wat binne die klein familiekring gehou is, en het plaasgevind volgens die ritme van die natuursiklus. Eers was daar die ‘Fees van die Ongesuurde Brood’ en vyftig dae later moes die ‘Fees van die Weke’ gevier word. [Ons woord ‘pinkster’ word afgelei van die Griekse woord vir vyftig – pentékosté.] Die datum waarop die fees plaasgevind het, het gewissel van jaar tot jaar, van streek tot streek, en is  aangepas volgens die landboukalender. Die klimaat en die tydstip wanneer die oes gereed was, het bepaal wanneer die fees gevier moes word.

   Latere Priesterskrywers het die ou bestaande Kanaänitiese feeste herinterpreteer binne die teologie en die geskiedenis van Ou Israel. In die Hebreeuse Bybel is daar drie sulke feeste. Die ‘Fees van die Ongesuurde Brood’ is ook die Pasga genoem, en is gekoppel aan die eksodus, die bevryding uit Egipte. Die ‘Loofhuttefees’ is geïnterpreteer binne die gebeure gedurende die Woestyntydperk. Die ‘Fees van die Weke’ word op verskeie plekke in die Hebreeuse Bybel genoem [Eksodus 23:16; 34:22; Levitikus 23:15-21; Numeri 28:26-31; Deuteronomium 16:9-12; 2 Kronieke 8:13], maar dis opvallend dat dit nòg aan ‘n datum, nòg aan ‘n historiese moment in Israel se geskiedenis gekoppel word.      

   Dit is moontlik dat daar ‘n verandering tydens die Deuteronomistiese Reformasie gekom het. Onder bewind van koning Josia van Juda is daar pogings aangewend om politiek, ekonomie en godsdiens te nasionaliseer, en dienooreenkomstig moes ‘n nasionale pelgrimstog na Jerusalem onderneem word om Shavuot te vier. Of dit geslaag het, is ‘n ope vraag, want die natuur laat hom immers nie deur datums voorskryf nie!

   Maar ‘n bepaalde draaipunt het gekom in ‘n krisistyd in die geskiedenis – nie van Ou-Israel nie, maar in die geskiedenis van die Tydperk van die Tweede Tempel, toe Judea onder Griekse bewind geval het.

 

Die Boek Jubileë

Die boek Jubileë is ‘n hervertelling van Genesis en gedeeltes van die eerste helfte van Eksodus. Dit is in die Hellenistiese tyd geskryf – dit wil sê iewers in die loop van die 2e eeu vC. Daar was groot spanning onder die Jode van die tyd. Aan die een kant was daar die Hellenistiese Jode wat die Griekse kuns en kultuur met oop arms omhels het, en wat daarvoor agiteer het dat die Jode by die Griekse gebruike en gewoontes moes inskakel. Hul argument was dat die mensdom oorspronklik ‘n harmoniese geheel was, en dat die Mosaïese wette ‘n onnatuurlike en onnodige afsplitsing veroorsaak het. Hierdie breuk moes herstel word. Aan die ander kant was daar die vrome, behoudende Jode wat hul eie godsdiens en kultuur hoog geag het. Onder hierdie groep val die skrywer van die Jubileë-boek. Hy reageer heftig teen die liberale siening van die Hellenistiese Jode, en plaas die Verbond met Moses in die sentrum van die Jode se godsdiens. Vir hom staan die Verbond sentraal. Nou is die viering van Shavuot ‘n onderskeidende teken, die merkteken wat getrouheid versus assimilasie onderskei. ‘n Vrome toegewyde Jood doen moeite om jaar vir jaar ‘n pelgrimstog na die antieke heiligdom, na Jerusalem te onderneem, om die Shavuot te vier en daardeur opnuut die betekenis en implikasies van die Mosaïese verbond te herdenk. 

   Bogenoemde opmerking is belangrik. In Jubileë strek die tema wyer as bloot die Verbond. Dit gaan telkens om die vernuwing van die Verbond. Die Verbond word teruggevoer na God se Verbond met Noag: ná die Sondvloed is alles immers op aarde uitgedelg, en God het ‘n Verbond met Noag gesluit. Dit is ‘n verdere argument van die Jubileë-skrywer teen die Grieke: die oorsprong van die mensdom lê nie in die Griekse wêreld nie, maar by Noag! Dit is nie die Jode wat hulle deur die Verbond van die mensdom afgeskei het nie, maar die Grieke wat van die oorspronklike Verbond weggedwaal het. Hierdie oorspronklike Noag-verbond is met Abraham hernu, maar vind sy volle vervulling in die Verbond met Moses.

   Die Jubileë-skrywer doen ‘n aantal ingewikkelde tydsberekeninge, en in die boek Jubileë word die vernuwing van die Mosaïese verbond vir die eerste keer direk aan Shavuot gekoppel. Op die vyftiende dag van die derde maand het Moses die Torah op Sinaï ontvang, en volgens Jublieë is dit dieselfde dag en datum waarop Shavuot gevier is. Verder bring die boek Jubileë Shavuot vir die eerste keer direk in verband met ‘n teologies-historiese gebeurtenis in Israel se geskiedenis.      

   Alhoewel die boek Jubileë nie deel is van die Hebreeuse of die Protestants-Christelike kanon nie (wel van die Rooms Katolieke kanon), was dit wyd gelees en hoogs gerespekteer binne laat-Judese en vroeg-Christelike kringe. Die Qumran-gemeenskap het hierdie dokument besonder hoog aangeslaan, en het gereeld op die vyftiende van die derde maand die Vernuwing van die Verbond tesame met die Fees van die Weke herdenk.

 

[Terloops …

Joodse gemeenskappe vier vandag nog Shavuot, en herdenk dit as die seisoen van die gawe [matan] van die Torah. Die latere Rabbynse tradisie het beklemtoon dat die gawe ‘n eenmalige gebeurtenis was, maar deurdat dit van jaar tot jaar herdenk word, herinner dit toegewyde Jode daaraan dat hulle elke dag en op elke plek hul ontvangs van hierdie groot geskenk moet uitleef.]

  

Pinkster

Die tradisie van Verbondsvernuwing tesame met Shavuot was reeds gevestig teen die tyd van die Nuwe Testament. In Handelinge 2 word die uitstorting van die Heilige Gees direk met Pinkster – oftewel die Fees van die Weke – in verband gebring. Alhoewel daar nie direkte verwysings na Moses of Sinaï voorkom nie, is daar opvallende ooreenkomste tussen die twee gebeure. Net voor Jesus se hemelvaart sê Hy aan sy dissipels dat hulle die uitstorting van die Heilige Gees kan verwag; en voordat Moses die Tien Gebooie ontvang, is hy Sinaï ‘n hele paar kere op en af (vgl Eks 19). Maar dis veral die dramatiese vertel van die gebeure wat die leser aangryp: alles gebeur in die oggend waar ‘n groot klomp mense bymekaar is (Eks 19:16; Hand 2:15); daar is vuur (Eks 19:18; Hand 2:3); en ‘n oorverdowende geluid (Eks 19:16; Hand 2:2) – ‘n geluid wat in albei tekste deurgetrek word na Godspraak – in Eksodus is die Here self aan die woord en in Handelinge is dit die inspirasie van die Heilige Gees wat die dissipels in verskillende tale laat praat. Elders verwys Handelinge ook na individue wat met die Heilige Gees vervul word (bv 4:8, 6:3 ens), maar hierdie voorvalle gaan nie met ‘n teofanie gepaard nie.

   Wat wou die skrywer van Handelinge dan impliseer met hierdie toespeling op Sinaï, die Vernuwing van die Verbond en Shavuot?

   In die geskiedenis van Ou-Israel was daar twee belangrike berge: Sion en Sinaï. Sion was die woonplek van die Here, daar het Hy in sy tempel tussen sy volk gewoon. Sinaï was egter die plek waar Israel as nasie gekonstitueer is. Ná die bevryding uit Egipte, was die gebeure by Sinaï beslissend vir ‘n nuwe begin as Jahwe se verbondsvolk.

   As die skrywer van Handelinge die Pinkstergebeure in dieselfde dramatiese styl vertel as die Sinaï-gebeure, wil hy daarmee te kenne gee dat Pinkster ook ‘n punt van vorming was, ‘n nuwe beginpunt van ‘n nuwe nasie. Die identiteit van hierdie nasie – wat later Christene genoem sou word – lê nie in die Wet of die Verbond nie, maar in die Gees.

 

Slot

Die oorspronklike oesfees, Shavuot het ‘n paar herinterpretasies in die geskiedenis ondergaan, eers in Oud-Israel, toe in Judea onder Hellenistiese bewind, en nog later in die Christendom. Elke interpretasie en herinterpretasie was deurdrenk van teologiese nadenke wat hierdie fees sinvol binne bepaalde omstandighede ingeklee het. As Christene vandag vier ons nie Shavuot nie, maar Pinkster. Ons dink nie aan die eerste vrugte van ‘n landbou-oes nie, ook nie aan die Sinaï-gebeure nie, maar ons vier die uitstorting van die Heilige Gees. Maar ons is soms geneig alles te ‘vergeestelik’. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld wat smag na hoop. In ons Protestantse tradisie staan die Heilige Gees ook bekend as die Trooster. Die troos van die Gees word slegs konkreet as mense vrugte van liefde vir mekaar uitdeel, dit nie slegs tydens Pinkster in herinnering roep nie, maar elke dag en enige plek. So word Pinkster ‘n sinvolle fees ook in die 21e eeu.       

                   

 

Lees meer

  • De Vaux, Roland 1988. Ancient Israel. Its Life and Institutions. London: Darton, Longman & Todd.
  • Donin, (Rabbi) Hayim Halevy 1972. To be a Jew. A Guide to Jewish Observance in Contemporary Life. New York: Basic Books, Inc., Publishers.
  • Park, Sejin 2008. Pentecost and Sinai. The Festival of Weeks as a celebration of the Sinai Event. London: T&T Clark.
  • Perdue, Leo G 1997. The Household, Old Testament Theology, and Contemporary Hermeneutics. Bladsye 223-258 in Leo G Perdue, Joseph Blenkinsopp, John J. Collins & Carol Meyers (reds), Families in Ancient Israel. Louisville: Westminster John Knox Press.
Share this / Deel hierdie: