Dit is heel gepas om voortdurend oor die stand van die ekologiese krisis te berig. Vanjaar is dit presies veertig jaar sedert die Club of Rome gestig is met sy destydse opspraakwekkende eerste publikasie (“Limits to Growth”) en is dit ook presies twee honderd en tien jaar na Thomas Malthus sy geskrif, “An Essay on the Principle of Population” (1798), uitgegee het en waarin hy voorspel het dat die bevolkingsaanwas die ekonomie so sou verlam, dat maatskaplike ellende toenemend die gevolg sou wees.

Twee en dertig internasionale akademici, navorsers en nyweraars het in April 1968 in ’n villa buite Rome, onder leiding van die Italiaanse nyweraar Aurelio Peccei en die Skotse wetenskaplike, Alexander King, die sogenaamde Club of Rome gestig. Hulle het die volgende uitgesproke oogmerke daargestel:

  • Navorsing oor die kwantitatiewe en kwalitatiewe samehang van die wêreldprobleme.
  • Die wêreld op die ekologiese krisis bedag te maak.
  • Regerings en nyweraars aan te moedig om die situasie te verbeter.

Met die veertigste herdenking van hulle bestaan vanjaar (wat saamgeval het met die jubileum herdenking van die geboorte van Aurelio Peccei), het hulle toe vanjaar van 14-17 Junie 2008 in Rome bymekaar gekom. Teenwoordig was 90 volle lede, etlike ere- en geassosieerde lede, verteenwoordigers van 33 internasionale organisasies, waarnemers, dosyne hoogwaardigheidsbekleërs en natuurlik ook heelwat van die jong “think tank” navorsers (die sogenaamde tt30). Almal mense wat die wel en die wee van die omgewing op die hart gedra het.

Die Club of Rome se eerste publikasie in 1972, Limits to Growth, het wyd opslae gemaak. Dertig miljoen kopieë is verkoop en dit is in sewe dertig verskillende tale wêreldwyd vertaal. Dit het die eerste 70 jaar van die vorige eeu as basis geneem en bepaalde projeksies vir die toekoms gemaak. Die ontwikkeling sedert die Renaissance het getoon om ’n illusie te wees en dat vooruitgang tegelyk ook agteruitgang beteken het. Die volgende terreine was in samewerking met die Massachusetts Institute of Technology (MIT) geïdentifiseer as die brandpunte van die ekologiese krisis:

  • Bevolkingsaanwas
  • Industrialisasie
  • Besoedeling
  • Uitputting van natuurlike hulpbronne
  • Voedselproduksie

Die gevolgtrekking uit die ekstrapolasie was dat die kwaliteit van lewe radikaal sou versleg binne die volgende aantal dekades. Dit sou ook nie net alleen ’n geleidelike afname inhou nie, maar ook ’n skielike en onbeheerbare draaipunt tot gevolg hê. Daar is ook verwys na die sogenaamde “grusame kurwe” wanneer die vraag- die aanbodkrommes mekaar sou kruis. Om dit in tegniese taal uit te druk, die ekologiese voetspoor oorskry dan die produktiewe kapasiteit van die biosfeer.

Die oliekrisis van 1973 het die aktualiteit en erns van hierdie waarskuwing met ’n skok onder almal se aandag gebring. In 1974 gee hulle toe ’n tweede publikasie uit, Mankind at the Turning Point. Hierdie publikasie ’n ietwat positiewer gees geadem omdat dit wel gemeen het dat die mens nog in beheer is en net daadwerklik iets moet doen aan die omgewing en bewaring daarvan.

Die outeurs van die eerste publikasies van die Club of Rome, Donella & Dennis Meadows en Jorgen Randers, het in 1992 ’n opdatering gedoen en hulle nuwe boek, Beyond the Limits, genoem. Hierin het hulle aangetoon dat die mens in baie opsigte die wasdom-grense totaal oorskry het en het die uitdaging toe volhoubare ontwikkeling geword.

’n Derde opdatering het in 2004 gevolg met die publikasie, Limits to Growth: The 30-Year Update. Meegaande ook die titelblad van die boek. Die rekenaar-program wat die ekstrapolasies doen, World3, is ook aansienlik verfyn om die proses nog meer wetenskaplik te maak. Die gevolgtrekking was egter verdoemend en helaas, baie meer pessimisties as voorheen. Waar in 1972 nog gesê was, slow down, word nou dringend geëis, get back down.

 

Die positiewe van die opdateringsverslag was onder andere dat hulle ’n omgekeerde eweredigheid in welvaart en bevolkingsaanwas aangetoon het wat beteken dat soos wat mense armoede oorkom en ryker word, die aantal geboortes by daardie groep dienooreenkomstig ook afneem. Die ander stukkie goeie nuus was dat tegnologie die kosproduksie aansienlik kon laat toeneem het en die voedselvoorsiening toe beter is as wat in 1972 voorsien was.

Die outeurs het wel tot die gevolgtrekking gekom dat die begrip “volhoubare ontwikkeling” ook uitgedien is. Die sleutelwoord sedert hierdie publikasie is nou oorlewingsontwikkeling (Survivable Development).

Wat opmerklik van die nuwe aanpak van die Club of Rome is, is hulle geïntegreerde aanpak. Dit word duidelik uitgespel dat ons nuwe waardes en kulturele norme sal moet ontwikkel. Die program vir die nuwe eeu sentreer derhalwe om die volgende eenhede (clusters):

  • Omgewing en bronne
  • Globalisasie
  • Wêreldontwikkeling
  • Sosiale transformasie
  • Vrede en sekuriteit

Hulle stel dit ook duidelik dat die 21ste eeu ’n eeu van versobering sal moet wees. Dit geld op alle terreine. In ’n artikel wat pas van Anton van Niekerk van Stellenbosch verskyn het, toon hy ook wetenskaplik aan dat tevredenheid en sin by mense hoegenaamd nie afhanklik aan rykdom is nie. Vreugde onder ’n land se mense is hoegenaamd nie eweredig aan die land se bruto-binnelandse produk nie!

Aan die begin van die twintigste eeu, was daar 1.6 miljard mense op die aarde. Aan die einde van daardie eeu, was dit 6 miljard. Op die oomblik raak dit aan 6.6 miljard! Die Verenigde Nasies projekteer ’n getal van meer as 9 miljard vir die jaar 2050. En hierdie mense moet eet, woon, werk en ontspan. Een van die onrusbarendste gevolge hiervan is die vrystelling van koolstof in die atmosfeer. Dit lei tot globale verwarming met dodelike gevolge. Die huidige koolstof-emissie is 385 eenhede per miljoen (epm) en styg teen ’n haas onbeheerbare tempo. Indien die styging tot ’n maksimum van 450 epm beperk kan word, hoop sekere wetenskaplikes dat die globale verwarming onder 2 grade Celsius gehou kan word. Die ideaal is egter om dit te beperk tot 350 epm. ’n Nobelpryswenner vir chemie, Paul Crutzen, verwys in terme van die mens se katastrofale invloed op die planeet aarde, as ’n nuwe geologiese periode, naamlik die antroposeniese tydperk.

 

Dit is wyd aanvaar dat die Christene medeverantwoordelik is vir die ekologiese krisis. Ons het op grond van Genesis 1:28 (Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde …… onderwerp dit en heers…) ’n etiek ontwikkel wat inderdaad katastrofale gevolge vir die aarde ingehou het. Vandag weet ons dat ons Genesis se skeppingsverhale heeltemal anders moet verstaan. Die beginsel van onderwerping word onder andere vervang met die idee van rentmeesterskap. Die teoloog, Calvin B. DeWitt, het in 1995 die volgende vier prinsipiële uitgangspunte vir ’n ekologiese skeppingsleer daargestel:

1        Die onderhoudingsbeginsel. Soos wat God die skepping onderhou, moet die mens dit ook doen.

2        Die Sabbatsbeginsel. Die skepping moet toegelaat word om te rus na menslike gebruik.

3        Die opbrengsbeginsel. Die mens kan inderdaad die skepping geniet en die vrug daarvan geniet.

4        Die beperkingsbeginsel. Daar is besliste grense aan die mense se betrokkenheid en benutting van die skepping.

Die mens is as beeld van God ook mede-skepper (Paul Hefner). Dit gee ons egter groot verantwoordelikheid en dit is elke Christen se taak om hieraan gestalte te gee. Geniet die skepping, maar onthou, dit is nie ons s’n nie. Ons leen dit net van ons nageslag!

Share this / Deel hierdie: