Die eerste Priesterlike skeppingsverhaal in Genesis 1 is wyd bekend en figureer selfs soms in die media as die holruggeryde debat oor skepping en evolusie af en toe weer sy verskyning maak. Hierdie bydrae het niks met hierdie debat te doen nie, maar gaan eerder oor een van werkwoorde wat gebruik word om God se handelinge op dag een (vers 4) en twee (verse 6 en 7) te beskryf. Op dag een skei God tussen lig en donker en op dag twee skei Hy tussen die boonste en die onderste waters. In Hebreeus is dit natuurlik die woord bdl en dit kom later weer in Genesis 1 voor op dag vier (verse 14 en 18) wanneer die ‘ligdraers’ gemaak word en dit is ook die hulle taak om te skei tussen dag en nag. Een van God se vernaamste handelinge in Genesis 1 is dus om orde te skep en om vir elke ding in die skepping ‘n plek te kry. In Genesis 1 is of God, of die goed wat hy maak (soos die uitspansel of die ligdraers) die onderwerpe van hierdie werkwoord. Hierdie klem op orde is natuurlik ʼn tipiese kenmerk van Priesterlike literatuur, of dan in Wellhausen se taal, van die P-bron.
Die volgende geval waar hierdie werkwoord opduik in die Pentateug is in Eksodus 26:33 waar bdl gebruik word om te beskryf hoe die voorhangsel ‘die Heilige van die Allerheiligste skei’. Dit word tradisioneel ook beskou as deel van die twee Priesterlike versamelings (Eksodus 25-31 en 35-40) in die tweede helfte van Eksodus wat beskryf hoe die tent van ontmoeting moet lyk (sien Collins 2004:140). Dit is duidelik dat die alles-op-sy-plek wêreldbeeld ook hier duidelik na vore kom. Die voorhangsel sorg dat dit wat heilig is nie sal meng daarmee wat allerheiligste is nie. Elke ding bly op sy plek, maar dit is nog duideliker uit die volgende voorbeeld in Levitikus 10:10.
In Levitikus is daar slegs twee verhale naamlik die een in Levitikus 8-10 en die ander in Levitikus 24:10-23. Levitikus 8 en 9 beskryf die inhuldiging van die priesters (Aäron en sy seuns) met verskeie rituele wat oor ʼn tydperk van agt dae uitgevoer word. Aan die einde van Levitikus 9 beskryf die teks ʼn kultiese klimaks met die ‘magtige teenwoordigheid’ van die Here wat aan die volk geopenbaar word. Vuur kom van die Here af en verteer al die offers en almal klink tevrede en gelukkig. Daar is al dikwels aangevoer dat Levitikus 9 die slot was van die oorspronklike Priesterlike bron (sien Zenger 2008).
Dan in die volgende hoofstuk ontaard alles in ʼn reuse antiklimaks. Die twee seuns van Aäron, Nadab en Abihu, bring ‘vreemde vuur’ na die altaar en nou kom daar weer vuur van die Here af, maar verteer hierdie keer vir hulle. Oor wat presies hier verkeerd geloop het, is al baie geredeneer. Milgrom (1991:597-598) verstaan dit as ongeoorlooflike wierook. Ander, soos Nihan (2007), of Achenbach (2003) sien verband met Numeri 16 en 17 en onderliggend ‘n stryd om mag tussen verskillende priesterlike groepering. Hoe dit ook al sy, (daar is nog hoegenaamd nie sprake van konsensus nie), van hierdie insident word daar dan opnuut in verse 9-11 ‘n opdrag aan Aäron gegee. Dit is die enigste keer in die hele Levitikus waar die Here direk net met Aäron praat (sien vers 8). Die 1983-vertaling vertaal verse 10 en 11 as volg: ‘Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd is en wat nie gewyd is nie, tussen wat onrein is en wat rein is. Julle moet al die voorskrifte wat die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer.’
Ná hierdie kultiese antiklimaks aan die begin van die hoofstuk word twee rolle beklemtoon wat priesters moet speel. In vers 11 moet hulle onderrig gee aan die volk oor die voorskrifte van die Here. Volgens vers 10 moet die priesters onderskei tussen heilig en profaan (gewyd en nie gewyd nie) en tussen rein en onrein. Die Hebreeuse werkwoord wat met ‘onderskei’ vertaal word, is weer die wortel bdl wat ons in Genesis 1 gekry het. Waar God in Genesis 1 meestal die onderwerp van die werkwoord was, is dit nou duidelik die priesters wat dit in Levitikus 10 moet doen. Soos wat God met die skepping orde geskep het, so is dit nou die rol van die priesters om hierdie orde in stand te hou. Hoe doen hulle dit? Hulle onderskei, of, hulle bdl. In hierdie opsig boots die priesters dus vir God na en is dit duidelik dat wat hulle doen parallel loop met wat Hy in Genesis 1 gedoen het (Gerstenberger 1993:115). Soos Hy geskei (bdl) het tydens die skepping so, onderskei (ook bdl) hulle om hierdie skepping in stand te hou; om elke ding op sy plek te hou. Hoewel die insident as katastrofaal beskou kan word vir die reputasie van priester omdat hulle iets verkeerd gedoen het, bevind die priesters hulself uiteindelik in ‘n posisie van mag waar hulle die dade van Jahwe moet naboots. Aäron die priester ontvang dan ook hierdie (enigste) opdrag direk van Jahwe.
As ʼn mens sou aandag gee aan die ontwikkeling van die boek Levitikus word gewoonlik aanvaar dat Levitikus 10 en veral vers 10 van die laaste tekste is wat tot Levitikus toegevoeg is (Nihan 2007:579-602). Levitikus 10:10 verwys reeds vooruit na die twee versamelings wat volg in die tweede helfte van Levitikus. Hoofstukke 11-15 gaan juis oor rein en onrein en 17-26 gaan oor heiligheid en dit word dikwels die ‘Heiligheidskodeks’ genoem. Ons het dus hier te doen met ‘n teks wat bygevoeg is toe die twee ander versamelings reeds in plek was.
Hoofstuk 11 gaan oor rein en onrein diere en aan die einde van die hoofstuk in vers 47 kom die werkwoord bdl weer voor:‘Julle moet noukeurig onderskei (bdl) tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.’
Dit is duidelik dat hierdie vers teruggryp na 10:10, maar dit is moontlik ook deel van ‘n redaksionele laag. Die terme ‘rein’ en ‘onrein’ kom nog dikwels voor in hoofstukke 12-15, maar dan gaan dit veral ook menstruasie, velsiektes, uitvloeiings van ander liggaamsvloeistowwe en skimmel. Al hierdie goed kan wel mense en huise onrein maak en dit is die priesters se taak om die diagnoses van onrein te maak. Verse 44-45 in hoofstuk 11 herinner ook sterk aan die Heiligheidskodeks en wys dus (soos 10:10) vooruit na 17-26 wat later volg.
Die laaste gevalle waar bdl in Levitikus voorkom is in 20:24-26: ‘Ek het julle belowe dat julle hulle land in besit sal neem. Dit is Ek wat hierdie land aan julle gee om dit in besit te neem, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die Here julle God, Ek het julle afgesonder (bdl) van die ander volke. Daarom moet julle by diere en voëls onderskeid (bdl) maak tussen rein en onrein. Julle mag julle nie besoedel met die diere of voëls of met enigiets wat op die aarde kruip wat Ek afgesonder (bdl) het as dinge waardeur julle onrein gemaak word nie. Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig. Ek het julle afgesonder (bdl) uit die volke om aan My te behoort’.
In hierdie drie verse kom bdl vier keer voor (soos aangedui in hakies). By die eerste en laaste geval gaan dit oor die Here wat die volk afsonder van die omliggende volke, terwyl die tweede geval weer herinner aan die gebruik in 10:10 en 11:47 en spesifiek betrekking het op onderskeiding tussen rein en onrein diere. Hierdie teks sê nie veel oor die priesters se rol in hierdie proses nie, maar dit maak dit tog duidelik dat onderskeiding tussen rein en onrein diere en ‘afgesonderheid’ van die omringende volke twee kante was van dieselfde munt. Die uitkoms van reg eet was ‘n volk wat afgesonder is van ander, ‘n volk wat in terme van die priesterlike wêreldbeeld op die regte plek was. Gerstenberger (2005:382) noem hierdie soort denke ‘die Konstruktion von trennender Andersartigheid’ wat vertaal kan word met iets soos die ‘konstruksie van afskeidende andersheid.’
Dit was alles deel van ‘n groter priesterlike klem op orde wat reeds duidelik na vore gekom het in Genesis 1. Dit was die priesters se taak om hierdie orde wat God geskep het in stand te hou en die uiteinde was ‘n volk wat eenkant was afgesonder van die res. Maar binne hierdie wêreld waar elke ding sy plek het, het priesters die mag gehad en dit is natuurlik nie te versmaai om te kan sê dat jy God se werk in stand moet hou nie. Miskien het die priesters reeds iets verstaan in die Persiese tydvak wat Ceasar eers ‘n paar eeue later sou snap: divide et impera.

Bibliografie

  • Achenbach, R. 2003. Die Vollendung der Tora. Studien zur Redaktionsgeschichte des Numuribuches im Kontext von Hexateuch und Pentateuch. Wiesbaden: Harrassowitz Verlag.
  • Collins, J.J. 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress Press.
  • Gerstenberger, E.S. 1993. Das 3. Buch Mose. Leviticus. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Share this / Deel hierdie: