Verstaan woorde in hul kontekste

Ou en Nuwe Testament se noue band is ’n historiese gegewe. Dit kon ook nie anders nie want van die begin af was die Ou Testament die boek van die kerk; dit het die vroeë Christene gehelp het om hulself te verstaan en hulle plek in die wêreld van Jode, gnostici en ander te bepaal. Dit was egter nie ’n maklike proses nie want die spanning met die Jode het telkens breekpunt bereik en die gnostiek het al hoe gewilder geword. Te midde hiervan het die vroeë kerk aan die Ou Testament vasgehou want daardeur het hulle hulle identiteit ontdek, hulself in die gemeenskap georiënteer, hulle andersheid verwoord, hulle teologie begrond en hulle geloof gevoed.

Alhoewel die kerk in die tweede eeu vir die Ou Testament gekies het, is daar nooit vaste reëls vir die eksegese neergelê nie. Daar is nooit gesê die Ou Testament moet net sus of so uitgelê word nie en in die twee duisend jaarlange geskiedenis van die uitleg blyk dit ook. In die vroeë kerk was dit allegorie en tipologie, in die Middeleeue die viervoudige-Skrifsin, ensovoorts.

Daar is ook nooit gesê presies hoe die verhouding Ou en Nuwe Testament verstaan en verklaar moet word nie. Dít het ook maar van tyd tot tyd en van teoloog afgehang. Soos ons egter meer van die Ou Testament sedert die negentiende eeu verstaan het, het bestaande teologiese ‘formules’ soos ‘wet en evangelie’ of ‘belofte en vervulling’ of ‘voorlopig en permanent’ egter te eng geword. Dít het net nie meer ‘gewerk’ nie. Dít is te min. Die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament is net te gekompliseerd om in ’n enkele ‘formule’ vasgevang te word. Sulke pogings verskraal die Ou Testament se grootsheid en sy diepte deur vroom ‘formules’ misken.

In die lig hiervan probeer onderstaande artikels ’n ander weg volg en dit is om beide tekste (uit Ou en Nuwe Testament) volledig te respekteer, nie teen mekaar af te speel nie, elkeen se teologie binne sy eie konteks te bepaal en ’n vaardigheid met tekste en hulle kontekste te beklemtoon. Dit pas ook by ons siening dat die Bybelwetenskap ’n tekswetenskap is wat tekste in hulle kontekste wil verstaan. Taal en ‘formules’ help nie altyd nie. Taalkunde en die verstaan van ’n teks se grammatika is nie genoeg nie. Hoogstens net die begin. Dié soort taalbenadering is al vroeg deur die eerste groot Protestantse (Lutherse) hermeneutiek van Mattias Flacius Illirikus beklemtoon. Volgens hom verstaan ons die Ou Testament nie omdat ons nie die Hebreeuse (of Griekse) grammatika voldoende ken nie. Verstaan lê in die verstaan van taal; taal moes die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament verhelder.

Dié taalbenadering het nooit werklik gewerk nie. Die romantiek het ons geleer om verby blote taaluitinge te kyk en ons in die wêreld van die teks in te leef; met die ontstaansproses van ’n teks mee te leef; die skrywer en sy konteks fyn aan te voel. Die historiese skool het ons weer geleer om die uniekheid en andersheid van elke epog te kan verstaan en te waardeer. Een een era moet nooit aan die hand van ’n ander era begryp en beoordeel word nie. Elke eeu staan opsigself en moet in sy individualiteit verstaan word.

Israel het dit ook so gedoen. In elke epog het hulle op ’n eie, anderse, unieke manier met God se groot dade in die geskiedenis omgegaan. Hulle het God se groot handelinge in die verlede in die geloof geïnterpreteer: dit was nie blote historiese feite nie, maar ‘n geskiedenis wat vanuit ‘n bepaalde geloofsdimensie gestalte gekry het. Hierdie dade is voortdurend geherinterpreteer: daar is voortdurend daaroor nagedink en vir hulle eie tyd geïnterpreteer. Israel het hierdie geskiedenis voortdurend geaktualiseer: hulle het hierdie verlede vir hulle eie tyd so relevant gemaak dat hulle lewensmoed vir hulle daaglikse lewe gekry het; vanweë Jahwe se geskiedenis met hulle sou hulle môre nie minder sinvol as hulle gisters en eergisters wees nie. Vir Israel was hierdie geskiedenis die grondslag van hulle toekomsverwagting: aan die hand van hierdie groot dade het hulle inhoud aan hulle toekomshoop gegee. Kortom: geloof roep om historiese besinning en historiese dade ondersteun die geloof.

In die ander artikels hieronder wil ons die verhouding Ou en Nuwe Testament op dieselfde manier hanteer. In plaas daarvan om dit in leë en kontekslose teologiese omskrywings vas te vat, wil ons dié verhouding eerder aan die hand van ‘tekste-binne-kontekste’ begryp. Elke Ou Testament-teks moet eers in sy eie, anderse en unieke leefkonteks verstaan word voordat dit met die Nuwe Testament-konteks in verband gebring kan word. En dan ook nie in die sin dat die een maar net ’n beloftetjie en die ander die vervulling daarvan is nie, maar eerder om die tekste in hulle andersheid te sien en te waardeer. Anders gestel: om die tekste baie deeglik te vergelyk, die onderlinge verbande en breuke raak te sien, en elkeen se eie tipiese teologie binne sy eie konteks te verwoord. So byvoorbeeld word hieronder na die Immanuelteken in Jesaja 7:14 en Matteus 1:23 gekyk en dan gepoog om elkeen se uniekheid en andersheid (binne bepaalde kontekste) raak te sien.

Om die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament vinnig met teologiese slagspreuke te wil oplos, help niks nie. ’n Mens verloor eerder alles. Slegs in die moeisame omgang, woord-vir-woord-omgang, konteks-vir-konteks-omgang met die Ou en die Nuwe Testament ontdek jy die Bybel se teologiese rykdom en begryp jy iets van God se pad met ons.

Share this / Deel hierdie: