‘Beim Alten Testament geht es um das Fundament”

1. Inleiding

Wanneer daar vandag na die posisie van die Eerste Testament (Ou Testament) in die Christelike kerk(e) gekyk word, moet ons helaas konstateer dat dit ‘n uiters prekêre posisie inneem. Die verhouding van teologie en kerk tot hierdie eerste gedeelte van die Christelike kanon blyk ‘n verhouding te wees wat, indien ons ‘n balansstaat moet optrek, eerder ‘n negatiewe saldo toon. Enersyds word dit heeltemal geïgnoreer (waar word nog daaroor gepreek?), of andersyds word dit voortdurend “gerehabiliteer” deur middel van ‘n uiters selektiewe en eensydige christologisering daarvan. Die geweldadige aard hiervan herinner aan die geweld waaraan die Joodse gemeenskap tydens die Sjoa blootgestel is. Deur middel van hierdie vorm van interpretasie word die Eerste Testament eintlik geweldadig uit die hande van die Joodse gemeenskap, wat die eerste geadresseerders hiervan is, weggeruk.

In die bespreking wat volg, gaan ek probeer om kortliks aan te dui hoedat hierdie ongelukkige situasie herstel kan word. Met ander woorde in watter sin die Christelike kerk(e) weer hulle historiese plig en verantwoordelikheid ten opsigte van die Eerste Testament kan nakom, ten einde weer sy regmatige posisie te herstel.

2. “Beim Alten Testament geht es um das Fundament”

Een van die belangrikste aspekte waaraan aandag gegee moet word, is die christelike hantering en ingesteldheid ten opsigte van die sogenaamde Ou Testament (Eerste Testament). Dit is belangrik om te onthou dat hierdie eerste deel van ons Heilige Geskrifte in die eerste plek die Joodse Bybel is. Dit was ook die Bybel wat Jesus en die eerste Christene gebruik het – alhoewel in sy verskillende Griekse vertalings.

Geen persoon sal dus ernstig opgeneem word indien hy/sy in navolging van Marcion die Ou Testament wil ophef of verwyder nie. Die vroeë Kerk het Marcion verwerp, omdat daar instinktief aangevoel is dat die Eerste Testament onlosmaaklik deel is van die Heilige Geskrifte van die Kerk. Deur middel van hierdie besluit het hulle ook aangedui dat dit juis hier oor die kern handel. Dit moes dus duidelik word: die geskrifte van die Ou Testament is die fondament waarop alle Nuwe-Testamentiese uitsprake rakende Jesus as die Christus gebou is: daarom dan “volgens die geskrifte”. Hiermee het die vroeë Kerk ook in geen onduidelike taal verklaar dat die Christelike identiteit net in terme van die verbintenis met die Judaïsme, met die Joodse kultuur en – veral – aan die Joodse Bybel gedefineer kan word. Selfs al het daar dus ‘n skeiding gekom tussen Kerk en Sinagoge, moet die Kerk by die volgende stelling bly staan: “dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou” (Rom 11:18). Wie Jesus en sy boodskap dus wil verstaan, moet die Joodse Bybel en die Joodse kultuur, waarin dit verwortel is, ken en leer liefkry. Hieruit word dit dus duidelik: sonder die Ou Testament is daar geen Nuwe Testament nie, en sonder die Ou Testament kan mens dus ook nie die Nuwe Testament verstaan nie.

Die groot vraag is egter nou: hoe moet die verhouding tussen hierdie twee dele van die een Heilige Skrif gesien word. Hoe lees ons die Eerste Testament binne die Christelike tradisie? Is dit voor-christelik, en daarom eintlik nie-christelik? Of is dit tog eintlik net die Christene wat dit reg verstaan, aangesien dit eers in die Nuwe Testament sy volheid bereik het?

3. Verhouding Ou Testament / Nuwe Testament

Dit is belangrik om te benadruk dat die twee testamente se verhouding nie as “belofte” en “vervulling” gesien mag word nie – soos maar alte dikwels wel in Christelike kerke Sondag vir Sondag wel gebeur. Hierdie vorm van hantering van die Ou Testament, is problematies gegewe die volgende:

1) Die feit dat die outeurs van die Nuwe Testament (soms) hulle belydenisse betreffend Christus in die taal, beelde en metafore van Ou-Testamentiese tekste gegiet het, beteken geensins dat die Ou-Testamentiese tekste primêr hierdie betekenis as sodanig het nie. Sodanige interpretasies sou die Ou Testament stroop van sy eie ryk teologiese betekenis. Hierdie is dus eerder ‘n voortsetting van binne-bybelse eksegese, soos ons dit reeds binne die Eerste Testament self aantref.

2) Die skema “belofte / vervulling” neem glad nie die Ou-Testamentiese teks ernstig nie, aangesien die meerduidigheid asook veelgelaagdheid van die Ou-Testamentiese teks hiermee gerelativeer word. Dis sou dus eerder neerkom op ‘n houding van disrespek teenoor die eerste deel van die Christelike kanon.

3) Die belofte/vervulling-skema is gedoem tot mislukking: “weder haben sich alle alttestamentlichen Verheiβungen in Jesus erfüllt noch lassen sich umgekehrt alle neutestamentlichen Aussagen über Jesus alttestamentlich untermauern” (Zenger 1995:126).

Vanuit die Ou Testament self is daar egter geen dwingende noodwendigheid om die Nuwe-Testamentiese tekste as ‘n voortsetting daarvan te lees en te interpreteer nie (Schreiner 1987:393). Die Ou Testament bestaan volledig as ‘n onafhanklike teks – soos duidelik blyk uit die Joodse tradisie. Die Ou Testament is self Woord van God en is geensins net ‘n voorlopige teks nie. Dit is geen voor-christelike, minder-christelike, of selfs on-christelike teks nie. ‘n Ou-Testamentiese teks is sigself “christelik” wanneer dit deur ‘n christen as deel van sy/haar Bybel aangehoor word. Dit hou egter nie op om in sy oorsprong en in sy wortels “joods” te wees nie. ‘n Ou-Testamentiese teks moet dus nóg teenoor die Nuwe Testament geregverdig word, nóg moet dit eers christelik “gedoop” word ten einde Woord van God vir ‘n christen te wees.

Jode en Christene lees dieselfde bybelse geskrif as “Heilige Skrif”. Die Jode lees dit as hulle Tenach, en die Christene lees dit as hulle “Eerste Testament”. Beide hierdie groepe doen dit binne die horison van hulle eie geloofstradisies, naamlik op die basis van die “mondelinge Tora” (Misjna en Talmoed) en op die basis van die Tweede (Nuwe) Testament. Jode en Christene lees hierdie “Heilige Geskrifte” vanuit hulle eie historiese en kanoniese oorwegings.

4. ‘n Slotwoord

Ten einde reg te laat geskied aan die Eerste Testament, is dit belangrik om dit te lees vir wat dit is, naamlik as die literêre erflating van oud-Israel. Dit is tekste – religieuse tekste – gebore uit die teologiese nadenke van opeenvolgende geslagte van Judese skrifgeleerdes. Verskillende geslagte het in verskillende tye anders nagedink oor Jahwe – die God van Israel. In ‘n nuwe historiese konteks is bepaalde tradisies weer anders verstaan, geïnterpreteer en geherinterpreteer. Hierdie binne-Bybelse debat was ook soms van so ‘n aard dat hulle heftig van mekaar verskil het en bepaalde tradisies radikaal opponerend verstaan en ingekleur het (binne-bybelse eksegese).

Die hedendaagse leser (eksegeet) moet voortdurend daarna streef om dus hierdie tekste in hulle verskillende historiese konteks(te) te lees en te interpreteer. In die verstaan van hierdie tekste is dit nodig om kennis te dra van hierdie binne-bybelse debat, en dit ook te verdiskonteer in sy/haar interpretasie. ‘n Maklike christologiese interpretasie laat slegs onreg geskied aan die eie aard van hierdie tekste. Indien ons dus bely dat die gesag van die Skrif vir ons belangrik is, kan ons ook nie anders as om die tekste van die Ou Testament ernstig te bejeën soos wat dit self aan ons aangebied word.

Bibliografie

Bright, J 1986. The authority of the Old Testament. Grand Rapids, MI: Baker.

Le Roux, J H 2003. Von Harnack, Marcion en die Ou Testament. Verbum et Ecclesia 24/1, 124-136.

Lohfink, N 1995. Eine Bibel – zwei Testamente, in: Dohmen, Ch & Söding, Th (Hrsg.), Eine Bibel – zwei Testamente, 71-81. Paderborn: Ferdinand Schöningh. (UTB 1893).

Schreiner, J 1987. Segen für die Völker. Gesammelte Schriften zur Entstehung und Theologie des Alten Testaments. Würzburg: Echter Verlag.

The Pontifical Biblical Commission (PBC) 2002. The Jewish people and the sacred Scripture in the Christian Bible. Vaticano: Libreria Editrice Vaticana.

Zenger, E 51995. Das Erste Testament. Die jüdische Bibel und die Christen. Düsseldorf: Patmos.

Share this / Deel hierdie: