Jona: ‘n Verloopte profeet wat sy plek nie ken nie

Inleiding
Die boek Jona vertel ‘n heel vermaaklike verhaal. Jona kry opdrag van die Here om die oordeel oor die goddelose stad Nineve te gaan verkondig. Pleks van Ooswaarts koers in te slaan, kies die profeet die hasepad in die teenoorgestelde rigting. Die Here laat hom egter nie wegkom nie en stuur ‘n groot storm om sy vaart te stuit. ‘n Snorkende Jona word deur diep onstelde seelui wakker geskud, en op navraag beken hy dis alles deur sy toedoen. Alles sal bedaar as hulle hom oorboord gooi. Steeds gee God die profeet nie sy sin nie en stuur ‘n groot vis om Jona in te sluk.
Drie dae en drie nagte spandeer Jona in die buik van die vis. Hier bid hy nou roerend tot die God van wie hy eens wou wegkom. Al hierdie vroomheid maak die arme vis waarskynlik naar, want na drie dae en drie nagte word Jona op droë grond uitgebraak. Weer kom die Here se opdrag: Jona moet na Nineve toe gaan en die oordeel verkondig.

Hierdie keer gehoorsaam die profeet. Alhoewel dit ‘n mens drie dae vat om deur die stad te stap, loop Jona skaars ‘n dag daar rond en die mense kom radikaal tot bekering. Almal kom tot ‘n diepe berou, almal, selfs die koning trek rouklere aan, alles wat leef en beef, selfs die diere vas. Die Here is só beïndruk met wat Hy sien, dat Hy van plan verander: pleks van die stad te vernietig, spaar Hy hulle.

Maar Jona is nié beïndruk nie. Hy laat die Here dit ook duidelik verstaan. Nors loop hy ‘n entjie uit die stad uit, maar hy is tog nuuskierig om te sien wat gebeur. Sy skermpie is egter nie opgewasse teen die bloedige hitte van die woestyn nie, en God laat ‘n wonderplant opkom om ‘n bietjie meer koelte te verskaf. Jona se vreugde is egter van korte duur: oornag stuur die Here ‘n wurm om die einste plant te verorber. Nou word hy deur die son gesteek en sy wens om liewers te sterf, skyn vinnig bewaarheid te word.

Die Here spreek sy profeet se misnoë en woede nie juis pastoraal aan nie, dis veel eerder ‘n direkte konfrontasie: watter reg het Jona om kwaad te wees oor sy lot? Hoe durf hy boonop die Here kwalik neem oor sy besorgdheid oor ‘n groot stad met derduisende mense, asook baie diere?

 

Die Masoretiese teks

Die boek Jona vorm deel van die sogenaamde Kleinprofete- of Twaalfprofete-boeke in die Hebreeuse kanon. Wat ‘n mens dadelik opval, is dat hierdie boek merkbaar van die ander kleinprofete-boeke verskil. Al die ander kleinprofete verkondig die woorde van Here – hetsy oordeel of genade – maar die boek Jona vertel ‘n storie. Die ander kleinprofeteboeke bestaan hoofsaaklik uit die verba ipsissima van óf die Here óf die profeet: by Jona is ‘n anonieme verteller aan die woord. Boonop, in teenstelling met die ander profete, is Jona se profesie maar betreklik halfhartig: ‘Nog net veertig dae, en Nineve word verwoes!’ (Jona 3:4). En tot die profeet se grootste misnoë, word sy profetiese woorde nie waar nie – die stad word gespaar.

Jona as profeet steek ook maar sleg af teen die ander. Selfs die grotes soos Jesaja (6:5) en Jeremia (1:6) voel hulle nie heeltemal opgewasse vir hul taak nie; Jona probeer nie eens die saak met die Here beredeneer nie, hy hardloop skoon weg. En in plaas daarvan dat hy vir die ongelowiges ‘n voorbeeld stel, is dit hulle wat hom beskaam: die matrose (Jona 1:13 & 16) en die inwoners van Nineve (Jona 3:5).

Die tekstuele gelaagdheid van al die Bybelboeke is ‘n bekende feit: Jona 2, Jona se gebed in die vis se maag, is die duidelikste bewys hiervan wat hierdie boek betref. Dis egter nie die grootste probleem nie: die datering van die teks is eweneens raaiselagtig. In 2 Konings 14:25 is gebeure in Israel in ooreenstemming wat die Here ‘deur sy dienaar Jona seun van Amittai’ gesê het. Hierdie tydperk dek die regering van Jerobeam II van Israel, dit wil sê, ommenby 780 vC. Die feit dat die gebeure van die boek Jona nêrens elders in 2 Konings 14 vermeld word nie, trek hierdie vroeë datering egter in twyfel.

‘n Tweede moontlikheid is om die boek baie laat te dateer, so laat soos in die Persiese, selfs die Hellenistiese tydperk. Argumente vir so ‘n laat datering is dat Jona protes aanteken teen die eksklusiewe nasionalisme van Esra en Nehemia. Jona se verhaal beklemtoon God se universele liefde vir alle volke. Die laatste geloofwaardige datering is egter so ommenby 300 vC aangesien Tobit 14:4 – waarskynlik in die tweede eeu vC geskryf – alreeds kennis van Jona dra en na die boek verwys.

Die probleem met so ‘n laat datering is dat Nineve alreeds in 612 vC deur Nebukadneser platgevee is en lank al nie meer bestaan nie. Verder was Nineve wel  Koning Ashurbanipal van Assirië se hoofstad, maar nooit ‘n eie onafhanklike stadstaat met ‘n eie koning nie. Geleerdes kom by hierdie argument verby deur aan te voer dat Jona nooit bedoel was om letterlik gelees te word nie. Die antieke gehoor was nie dom nie. Die Jona-verhaal wou nooit Nineve as ‘n politieke mag voorstel nie. Nineve word voorgehou as simbool van ‘n heidense stad waar boosheid seëvier en wat eintlik God se oordeel verdien. Nogtans kry sy die geleentheid om te bekeer en te oorleef. Nineve word dus ‘n positiewe voorbeeld vir die kragtige uitwerking van  berou oor sonde en bekering.

 

Nog meer tergende vrae

Geleerdes stem saam die die kleinprofete-boeke van vroeg reeds veronderstel was om ‘n eenheid te vorm. In ‘n gebed van Ben Sirag, verwys hy na die ‘bene van die twaalf profete’. Die Babiloniese Talmud skryf voor dat afsonderlike Bybelse boeke deur vier blanko reëls van mekaar geskei en onderskei moet word, behalwe die twaalf kleinprofete wat slegs deur drie reëls van mekaar verwyder is. Intussen is antieke Hebreeuse en Griekse tekste opgespoor waarop die meeste – in sommige gevalle almal – van die kleinprofete op een boekrol opgeteken is: die Twaalf is bedoel om as geheel gelees te word, en nie afsonderlik, boek vir boek nie. Boonop, waar die meeste vertalings ‘n hoofstuk aan elkeen van hierdie kleinprofete afstaan, verskyn hulle in die Hebreeuse Bybel onder een opskrif: Librum XII Prophetarum.

Hoe gemaak met Jona se posisie in die Twaalfprofete-reeks? As ‘n mens ‘n baie laat post-eksiliese datering aanvaar, waarom word die boek dan betreklik vroeg in die reeks geplaas? Waarom verskyn Jona voor Nahum terwyl dit chronologies eintlik andersom moet wees?

Vroeë eksegete was reeds van hierdie probleem bewus. Die pirke van Rabbi Eliezer voer aan dat Nineve wel na die vernietiging van die Babiloniërs herbou is. Toe kom Jona en roep die stad op tot radikale bekering. Veertig jaar later het die mense egter na hul ou sondige weë teruggekeer en God se oordeel is toe voltrek. Inderdaad, volgens een Griekse manuskrip-tradisie word die profesie van Nineve se verwoesting nie aan die profeet Nahum toegeskryf nie, maar wel aan die prediking van Jona. So word Jona se bas as profeet gered: hy is nie ‘n vals profeet nie, sy profesie is bloot prolepties van aard.

Asof dit nie genoeg is nie, verskil die volgorde van die Hebreeuse kanon van dié van die Septuaginta. Na Hosea, tot en met Nahum, spring die profete rond.  En Jona is een van die glibberige kalante. Die Masoretiese teks het die volgorde: Hosea, Joel, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum… Die LXX lees: Hosea, Amos, Miga, Joel, Obadja, Jona, Nahum. Volgens die Hebreeuse teks gaan Nineve binne veertig dae verwoes word; volgens die LXX gaan daar net drie dae verloop. Waarom so? Het die LXX hierdie wysiging doelbewus aangebring? Drie dae voor die vernietiging van die stad maan veel sterker tot ‘n radikale bekering as veertig!

Om alles te kroon, het die Qumran-geskrifte nog ‘n ander volgorde. In 4QIIa verskyn Jona heel laaste in die kleinprofete-reeks – van al die verskillende volgordes, chronologies waarskynlik die mees korrekte.

Hedendaagse geleerdes het nog nie die probleem opgelos nie. Daar word aangevoer dat die twaalf profete in gesprek met mekaar is. Dat hulle aanmekaar gebind word – maar op welke wyse is nog nie heeltemal duidelik nie. Daar word ook gedebatteer oor die oorspronklike samestelling: die Masoretiese teks, die LXX of Qumran. Die debat is lewendig en hewig, vele teorieë is in die omloop, maar geen substantiewe bewyse vir oorsprong en verband is tot op hede gevind nie.

 

Die Nuwe Testament

Jona het hard probeer om God te ontglip, maar sy wegkruipertjie-speletjie het nie geslaag nie. Die Nuwe Testament spoor hom weer op. Jona word in die mond van Jesus gelê, maar op verskillende maniere. Die mense, onder andere ook die Fariseërs vra van Jesus ‘n ‘teken’ om sy identiteit te bewys. Markus 8:11-12 laat die saak eenvoudig daar: Die Fariseërs en hierdie geslag gaan beslis nie ‘n teken ontvang nie.  Johannes (6:30 ev) se teken sentreer rondom die manna en die brood van die lewe. Jesus is die manna en die brood. Skynbaar het Jona hier weggekom!

By Matteus en Lukas is hy egter minder gelukkig. In Matteus (12:38-40) verwys Jesus na Jona se drie dae en drie nagte in die maag van die vis as ‘n sinspeling op sy eie kruisiging en opstanding. Verder berispe Hy die mense van sy tyd: die mense van Nineve wat hulle op Jona se prediking bekeer het, gaan tydens die oordeelsdag getuig teen diegene wat hulle nie steur aan Een wat groter as Jona is nie! Matteus 16:4 sonder die ‘teken’ van Jona uit as die enigste teken wat ‘n slegte en afvallige geslag sal ontvang. Waarskynlik word Jesus se vorige woorde voorveronderstel: Jesus is soveel meer as Jona, tog word sy prediking deur sy mense nie ernstig opgeneem nie. Die teken van Jona dien as bewys, maar ook as waarskuwing.

Lukas gooi Jona se teken slegs oor een boeg (Lukas 11:29 ev). Lukas ignoreer die vis-episode en konsentreer hoofsaaklik op die bekering van die mense van Nineve. Vir hulle was Jona ‘n teken: so behoort Jesus vir die mense van vandag ‘n teken te wees. Beide Jona en Jesus word voorgestel as ‘n teken tot redding. Net soos Matteus waarsku Lukas ook met die oog op die oordeelsdag. Heidene wat ‘n profetiese boodskap ernstig opgeneem het, het ‘n groter kans op redding as diegene wat hulle nie aan Jesus steur nie.

 

Samevatting

So vaar Jona se boek deur Ou en Nuwe Testament met interessante strominge heen.
Waarskynlik was Jona nooit bedoel om as geskiedenis gelees te word nie. Die boek is wat dit is: ‘n storie. Die eerste lesers sou dit ook so verstaan. ‘n Tweede, derde selfs vierde geslag na die ballingskap kon God nie slegs vir hulself toeëien nie. Die wêreld het intussen oopgegaan – hoe moes hulle teenoor die volke staan? Vir hulle word die verhaal van ‘n nors en jaloerse profeet vertel wat beslis nie God se goedkeuring wegdra nie! So moet hulle nie optree nie! Die Nuwe Testament wil die boek ook nie letterlik verstaan nie, en konsentreer hoofsaaklik op een aspek: ‘n waarskuwing teen ongeloof in Jesus as die Ware Redder.

Dis egter nog lank nie die einde van die verhaal nie!

Volgende week verskyn ‘n bydrae oor Jona in die vroeë kerk

 

Bibliografie 

  • House, PR 1990. The Unity of the Twelve. Almond Press: Sheffield.
  • Jones, BA 1995. The Formation of the Book of the Twelve. A Study in Text and Canon. Scholars Press: Georgia.
  • Nogalski, J 1993. Literary Precursors to the Book of the Twelve. Walter de Gruyter: Berlin.
  • _____ 1993. Redactional Processes in the Book of the Twelve. Walter de Gruyter: Berlin.
  • Nogalski, JD & Sweeny, MA (reds) 2000. Reading and Hearing the Book of the Twelve. Society of Biblical Literature: Atlanta.
  • Redditt, PL & Schart, A (reds) 2000. Thematic Threads in the Book of the Twelve. Walter de Gruyter: Berlin.
  • Schart, A 1998. Die Entstehnung des Zwölfprophetenbuchs. Walter de Gruyter: Berlin.
  • Tov, E 1990. The Greek Minor Prophets Scroll from Nahal Hever. Clarendon Press.
Share this / Deel hierdie: