Polarisasie en daarmee gepaardgaande geweld is seker dié een ding wat ons in die Nuwe Suid-Afrika die minste nodig het en tog is dit die verskynsel wat ons samelewing tans by uitnemendheid kenmerk. Terwyl ons met ons verskillende identiteite in die huidige periode van transformasie mekaar moet ontmoet in verbondenheid aan ons gemeenskaplike menswees, vind daar polarisasie plaas waar jy dit nie verwag het nie, nl. in die verhouding tussen man en vrou en tussen manlikheid en vroulikheid. Dié polarisasie blyk uit Angus Buchan se mobilisasie van mans onder die vaandel van die “Mighty Men” wat nou sy vroulike pendant gekry het in Gretha Wiid se “Worthy Women”. Albei bewegings berus op die verkondiging van ’n skeefgetrekte, vereenvoudigde en vlak “Bybelse” boodskap vervreem uit hulle kontekste, Genesis 2 en Paulus se brief aan die Efesiërs: die man is die hoof van die vrou en sy moet hom onderdanig wees.

 

As korrektief op die mitiese skeppingsverhaal in Genesis 2 waarvolgens Adam eerste en Eva tweede geskape is – Eva nogal uit Adam se ribbebeen! – kan ’n mens Genesis1:27 stel: “En God het die mens geskape na sy beeld …; man en vrou het Hy hulle geskape.” Hier is geen sprake van chronologiese tydsverloop by die skepping van man en vrou nie; hulle word gelyktydig en gelyk geskape. Maar meer nog as hierdie tekste ondermyn Paulus se brief aan die Efesiërs binne sy tematiese en historiese konteks die gesag van Buchan en Wiid se boodskap.

 

Die brief aan die gemeente in Efese, die hoofstad van die Romeinse provinsie Asia in die weste van Klein-Asië, lê groot klem op die eenheid van alle gelowiges in Christus soos beliggaam in die kerk. Paulus waarsku dringend teen verdeeldheid en skeuring in die gemeente wat dikwels in die aandrang op die besnydenis deur Joodse Christene, nog getrou aan die Tora, sy oorsprong gehad het. Daarom bepleit Paulus ’n lewenswyse in Christus wat van eensgesindheid getuig: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde” ( Efesiërs 4: 1,2). Helaas volg hy hierdie navolgenswaardige eienskappe – die resultaat van spirituele transformasie – op met ’n lys van huishoudelike reëls vir die alledaagse lewe; gewone gedragskodes wat die inhoud uitgemaak het van morele onderrig in die Antieke Romeinse Ryk. Paulus bring wel eerstens die onderdanigheid van man en vrou aan mekaar ter sprake (Efesiërs 5:21), maar beklemtoon dan die ondergeskiktheid van die vrou omdat die man haar “hoof” is (Efs 5:21). Hy vervolg: “Kinders wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam” (Efs. 6:1); “Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars…” (Efs.6:5).

 

Julie Galambusch in haar boek The reluctant parting oor die ontstaan van die Christelike geloof vanuit die Judaïsme, interpreteer hierdie etiese opdragte van Paulus soos volg: “As in the letter to the Colossians, so also here he modifies the expected standards by requiring that husbands, fathers, and slave owners – the three roles of the paterfamilias – temper their treatment of their (Christian) subordinates” (2005:184). Die woord “temper” – dieselfde in Engels en Afrikaans – is veelbetekenend. Paulus is hom bewus van die gebrek aan samehorigheid binne die huishoudings van sy tyd net soos in die kerk. Wat hy vra is dat die sterkes, die magtiges hulle gedrag teenoor hulle ondergeskiktes moet “matig”; moet “versag”. Waarop hy gehoop het was dat ’n nuwe sosiale orde sou ontstaan deur sy spiritueel getransformeerde gemeentelede.

 

As Paulus al in die eerste eeu n.C. die rol en regte van die “paterfamilias” gekwalifiseer het, waarom sal ons hom soos Buchan en Wiid in sy volle magsposisie in die een-en-twintigste eeu probeer herstel?. Ons kan nie die horlosie terugskuif nie. As ons slawerny lankal verwerp het as een van die gruwels in die mensdom se geskiedenis, waarom hou ons vas aan die hoofskap van die man oor die vrou? Paulus gee voorskrifte aan sy gemeentelede hoe om die Romeinse reëls vir etiese gedrag op ’n Christelike wyse uit te leef. As Romeinse onderdaan is hy ‘n kind van sy tyd en kondoneer hy sowel slawerny as vroulike onderdanigheid aan haar man.

 

Dit is ontstellend dat die Hervormde en die Nederduitse Gereformeerde kerk kritiek uitspreek teen mev. Gretha Wiid se interpretasie van Paulus terwyl hulle oor Angus Buchan nog steeds ’n doodse swye bewaar; dit terwyl Wiid minstens deur haar naïewe uistsprake haar persoonlike verwonding binne ’n huwelik blootlê en Buchan ’n aggressiewe “macho”-man as “Christelike” ideaal voorhou. Ek stem heelhartig met dr. Melléta Louw van Wellington saam wat in haar uitstekende brief (BY 1/8) Hennie Aucamp aanhaal en tereg sê dat waarna ons in der waarheid moet streef die “emansipasie van die mens” is. Dit kan egter net gebeur as die vrou ten volle ge-emansipeer is en dit is in ons oorwegend patriargale samelewing – veral in Suid-Afrika – nog lank nie die geval nie. Emansipasie beteken bevryding en ’n bedreigde man wat sy ondermynde mag nou teenoor sy vrou wil gaan botvier volgens die Buchan-model, is nie ’n bevryde mens nie.

 

“Magtige mans” is patriargale vaders vir hulle biologiese dogters en hou ’n patriargale samelewing in stand waarbinne ’n vrou nie “waardig” is nie, maar “minderwaardig”. Gaan vra maar vir psigoterapeute wie se spreekkamers vol sit met dusdanige Afrikaner-vrouens. Hulle sal die woorde waarmee die Amerikaanse psigoterapeut Linda Schierse Leonard haar boek The wounded woman inlei ten volle kan onderskryf: “Every week wounded women come into my office suffering from a poor self-image, from the inability to form lasting relationships, or from the lack of confidence in their ability to work and function in the world. On the surface these women often appear quite succesfull – confident businesswomen, contented housewives, carefree students, swinging divorcees. But underneath the veneer of success is the injured self, the hidden despair, the feelings of loneliness and isolation, the fear of abandonment and rejection, the tears and the rage.” Hulle verwonding is dikwels veroorsaak deur ’n versteurde verhouding met die vader: “They may be wounded by a bad relation to their personal father, or wounded by the patriarchal society which itself functions like a poor father, culturally devaluing the worth of women.”

 

Leonard se antwoorde op hoe die verwonde vrou heling kan vind is gevarieerd en deurdag en op dié manier skryf sy een van die beste boeke wat ek ken oor vroue-emansipasie; een van die belangrikste kwessies van ons tyd. ’n Vrou kan daarop reageer deur dit te ontken en haar aan te pas by die tradisionele rol of sy kan met woede teen die patriargie reageer. Maar op dié wyse aanvaar die vrou nie die verantwoordelikheid vir haar transformasie wat lê in haar eie ontdekking van wie sy is nie.

 

Die grootste verdienste van Leonard se boek is myns insiens dat sy manlikheid en vroulikheid wil herdefinieer en nie as twee onversoenbare pole teenoor mekaar wil stel nie, maar hulle juis in ’n kreatiewe en harmonieuse verhouding met mekaar wil versoen. Waar dié versoening nie plaasvind nie, is daar twee hooftipes waarmee die vrou haar kan identifiseer; sy kan die lewe kies van die “ewige meisie” (“eternal girl”) – die “mooi poppie”, die “glasmeisie” – of van die “gewapende Amasone” (“armored Amazon”) – die “pligsgetroue dogter”, die “superster” die “krygsgodin”. Leonard se onderskeiding beteken nie rigiede stereotiperings nie. Die harmonie word verkry as die sterk vrou die sagte, speelse meisie in haar vrylaat en as die dogtertjie-vrou haar selfstandigheid en krag ontdek.

 

Dit beteken uiteindelik dat die eng definisies van manlikheid en vroulikheid nietig verklaar moet word. Van die man sê Leonard: “They have lost the power of their tears and they have failed to honor their own young, tender, feminine side.” Andersyds ly die vrou onder die eng definisie van die vroulike. Fellini sê oor sy film “Juliet of the spirits” waarin Juliet haar losmaak uit die knelgreep van die kille afstandelike verhoudings met haar ouers en haar man om haar warm, spontane vroulikheid uit te leef dat sy bedoeling was “to restore to the woman her true independence, her indisputable and inalienable dignity. A free man, I mean, cannot do without a free woman.”

 

Transformasie ter wille van groter medemenslikheid vra om die wegdoen van alle stereotipering – ook dié van man en vrou. In sy briewe aan ’n jong digter sê die groot Duitse digter Rilke dat sommige mans net op ’n manlike manier kan liefhê en nie ook as mens nie en spreek hy die hoop uit dat die emansipasie van die vrou die vroulike mens sal voortbring. Die verwesenliking van hierdie ideaal is nie moontlik net deur ons eie wilskrag nie, maar ons moet daarvoor op die transendente en ons eie innerlike kragbronne vertrou.

 

Bronnelys

  • De Bijbel. De nieuwe Bijbelvertaling. 2004. Uitgeverij Querido en Jongbloed.
  • Galambusch, Julie 2005. The reluctant parting. SanFrancisco:Harper.
  • Rilke, Rainier Maria (vertaal deur Joan M. Burnham). 2000. Letters to a young poet. Novato: New World Library.
  • Schierse Leonard, Linda. 1998. The wounded woman. Boston: Shambhala.

Reeds verskyn in “By” (bylae tot Beeld) 8 Augustus 2009

Share this / Deel hierdie: