Dis my voorwoord tot die jongste uitgawe van Vir die Musiekleier, lyfblad van die SAKerkorrelistever

Wanneer ‘n mens die historiese bydrae van musiekonderwys tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse musiek van nader bekyk, is die hegte band tussen skool en kerk opvallend. In baie gevalle was die musiekonderwyser byna vanselfsprekend ook orrelis van een of ander plaaslike gemeente.  Vakatures vir musiekonderwysers in die Vrystaat en Kaapprovinsie is meestal soos volg in die destydse Onderwysgazette geadverteer: ‘Die suksesvolle kandidaat kan ook aansoek doen vir die orrelpos van die plaaslike gemeente.’ Skool en kerk het mekaar op dié wyse aangevul en terselfdertyd bestendige beroepsmoontlikhede geskep vir afstuderendes wat orrel as praktiese instrument gekies het.

 

Hierdie ongehinderde wisselwerking tussen kerk en skool het verder ook ‘n heilsame uitwerking gehad op die verhouding tussen kerk- en skooljeug. Gewyde musiek was deel van die normale repertoire van die meeste skoolkore en Psalms en Gesange is met net soveel geesdrif in die kerk as die skool gesing, al was die liedrepertorium soms beperk. Die meerderheid liedere is gewoonlik uit die hoof gesing, selfs deur laerskoolkinders in die junior grade.

 

In die breë gesien, was hierdie gunstige ‘klimaat’ in die praktyk beperk tot die orrel. Daar was byvoorbeeld nie soortgelyke praktiese moontlikhede vir pianiste nie – hulle arbeidsveld is in die meeste gevalle beperk tot musiekonderwys. Betrekkings vir orkesspelers was yl gesaai en so ook die geleenthede om sulke instrumente te leer bespeel.  Die enkele onderwysers vir stryk- en blaasinstrumente (gewoonlik vioolonderwysers) was meesal in ‘n klein aantal stede of groter dorpe te vinde. (‘n Interessante uitsondering was die klein Vrystaatse dorpie Boshoff wat altyd besonder goeie vioolonderwysers gehad het).

 

Die verhouding tussen kerk en onderwysinstansies is soms deurgetrek na tersiêre opleiding in kerkmusiek (meesal van studente met orrel as praktiese hoofvak). Uit eie ervaring aan die Universiteit van Pretoria, het die Diploma in Kerkmusiek (of die BMus-graad met spesialisering in Kerkmusiek) verpligte kursusse in die Himnologie, Liturgiek, Kerkleer en Kerkgeskiedenis bevat, aangebied en geëksamineer deur die Fakulteit Teologie.

 

Die klasgelde vir hierdie bykomende kursusse het destyds R80.00 per jaar bedra. Die totale klasgelde vir BMus was toe R240.00 per jaar. Daarteenoor was ‘n gemiddelde orrelsalaris  tussen R50.00 en R80.00 per maand. Voeg daarby ‘n maandelikse salaris van R150.00 (na aftrekkings) as musiekonderwyser en die skaal balanseer so goed dat studieskuld binne ‘n redelike kort tyd gedelg kon word. Let wel: hierdie situasie geld vir die middel- en laat sestigerjare van die vorige eeu, d.w.s. ongeveer veertig jaar gelede.

 

Intussen het omtrent alles verander. Die studiegelde vir ‘n vierjarige BMus is nou nader aan R100,000-00 as die destydse R960.00. Die gegradueerde het nie langer die vooruitsig van ‘n voltydse musiekpos nie, wat nog te sê ‘n orrelpos wat (nie-amptelik) daaraan gekoppel is. Een van die eerste gevolge van hierdie veranderde finansiële prentjie is die steeds dalende getal musiekstudente wat orrel as praktiese vak neem. Die koste verbonde aan die opleiding kan nie langer uit eie verdienste verhaal word nie. In vergelyking met die vergoeding van kerkorreliste (waarvan die opleidingskoste ewe hoog as dié van ander insstrumentaliste is) kies studente deesdae eerder ‘n orkesinstrument of koordireksie wat meer lonende beroepsmoontlikhede bied en waarvan die vergoeding sodanig is dat daar ‘n groter moontlikheid bestaan om die studiekoste agterna uit eie sak te kan terugbetaal, om maar één materiële voordeel te noem.

 

Vanselfsprekend is nie almal bevoorreg om naskoolse musiekopleiding te kan ondergaan nie. Universiteitsopleiding in musiek is ook nie ‘n voorvereiste of ‘n waarborg vir ‘n goeie kerkmusikus nie. Baie van ons lede het hulle opleiding d.m.v. privaatonderrig gekry en dit val my op hoeveel van hulle steeds probeer om hul kennis en vaardighede uit te brei. Die bywoningsyfers van streekkursusse toon ‘n bestendige groei. Die Afrikaanse vakliteratuur oor kerkmusiek en verwante teologiese onderwerpe ontwikkel bestendig en in hierdie verband speel Vir die Musiekleier ‘n leidende rol. Dit is verblydend om die steeds groeiende aantal diepsinnige bydraes uit die geledere van ons teoloë te lees. Die inhoud weerspieël ‘n opregte belangstelling, meelewing en begrip vir die onontbeerlike rol van kerkmusiek in sowel die erediens as daarbuite.

 

Praktiserende orreliste word gereeld opgeroep tot voortgesette opleiding en die opskerping van kennis oor nagenoeg alle fasette van hulle werk. Van oral oor word aansprake gemaak op die veelsydigheid waaroor die hedendaagse kerkorrelis in ‘n veranderende kerkmusiekwêreld moet beskik. Orreliste moet nou ook in byderwetse style op die klavier kan begelei en verwerkings vir ‘n wye verskeidenheid instrumentkombinasies as’t ware uit die mou kan skud. Onwillekeurig kom die wekroep ‘van Bach tot die Beatles’ by ‘n mens op.

 

In die lig van bogenoemde ontwikkelings ontstaan die vraag of dit nie juis nóu tyd geword het dat SAKOV saam met die Kerk sal besin oor die rol van erediensmusiek in die opleiding van predikante nie? Het dit nie tyd geword dat alle teologiestudente van alle Gereformeerde Teologiese Fakulteite weer verplig word om minstens ‘n eenjaarkursus in Liedboekkunde te ondergaan in plaas van ‘n seweweek-lange module wat boonop as vrye keuse gestel word?

 

Sou dit onbillik wees om te verwag dat albei lede van die ‘liturgiese span’ (orrelis én predikant) oor ‘n mate van wedersydse vakkundige kennis (lees: begrip) sal beskik? Hoe is dit moontlik om ‘n sinvolle erediens saam te stel sonder enige vakkundige kennis, insig en begrip omtrent die ware rol en betekenis van die kerklied in die erediens? Is die kerklied dan in sulke gevalle (maar) weer net ‘n noodsaaklikheid en niks meer nie? Hoe kan die bestudering van ‘n kardinale bestanddeel van die erediens in die teologiese opleiding ‘n keuse- module van enkele weke wees? Is dit aanvaarbaar dat slegs vier uit ‘n groep van meer as dertig senior studente hierdie module kies?

 

Uit die beduidende getal vakkundige artikels wat die afgelope paar jaar plaaslik gepubliseer is, is dit duidelik dat grondige kennis oor die onderwerp in Afrikaans bestaan.  Dit is kennis wat ook in die lesingsale van ons Teologiese Fakulteite gehoor behoort te word.

 

Die rede vir so ‘n standpunt is enersyds eenvoudig en andersyds moeilik aanvaarbaar: Te veel ervare en toegewyde orreliste (sommige met veertig en meer diensjare) word hoegenaamd geen aandeel aan die weeklikse erediensbeplanning gegun nie. Hierdie mense stel hulle talente in ‘n gees van diensbaarheid tot beskikking van die Kerk, mense vir wie kerkorrelspel werklik ‘n roeping is en nie ‘n blote byverdienste nie. Dit is ook mense wat deur hulle deelname aan die erediensbeplanning graag iets méér oor die aard van die erediens sou wou leer en in die proses geestelik groei. Te veel orreliste word steeds op ‘n syspoor gerangeer. Die predikant in sulke gevalle ‘n amateur op musiekgebied, besluit outoritêr wát gesing gaan word en ook watter liedere aangeleer sal word. Vakkundig-onderlegde orreliste word in sulke gevalle gereduseer tot blote orrelspelers en van die ‘erediens-vennootskap’ is daar geen sprake nie.

 

Dit is ‘n onderwerp dié wat té gereeld by streekbyeenkomste en in individuele gesprekke opduik om langer geïgnoreer te word.

 

Met hierdie redaksionele brief neem ek afskeid as lid van die bestuur van SAKOV. Dit was ‘n voorreg om in hierdie hoedanigheid by die vereniging betrokke te kon wees. Dié agt-en-twintig jaar verteenwoordig ‘n betekenisvolle deel van my lewe en ek bedank u opreg vir die geleentheid om op hierdie manier diensbaar te kon wees.

 

Mag die vereniging steeds groei en mag SAKOV toeneem in statuur en betekenis. Mag elke lid steeds sy/haar taak agter die orrel as ‘n roeping ervaar. Dit sal u in staat stel om u taak selfs onder moeilike omstandighede steeds met moed, vreugde en dankbaarheid tot eer van die Here uit te voer. Dit is immers Sý diens waarin ons almal ten slotte staan.

 

Ek bid u almal die seën van die Here toe.

Share this / Deel hierdie: