Hieronder volg ‘n paar vrae aan Christo Lombaard na aanleiding van sy boek, The Old Testament and Christian Spirituality, wat ‘n rukkie gelede verskyn het en waarvoor hy ook die Krister Stendahl Medal in Biblical Studies ontvang het. Teo en sy lesers wens Christo, ‘n vormalige redakteur van teo.co.za van harte geluk en wens hom sterkte toe met sy navorsing oor die Ou Testament en spiritualiteit.

 

Christo, wat bedoel jy met ‘spiritualiteit’? Is dit tipies van die Christendom of eie aan elke godsdiens?

Spiritualiteit is, in die eenvoudigste omskrywing van Kees Waaijman, dít wat gebeur tussen ‘n mens se diepste self en jou hoogste waarde. Spiritualiteit is nie iets wat ‘n mens kán hê of nié kan hê nie; almal het ‘n eie spiritualiteit, maar terselfdertyd en onvermydelik is elkeen se spiritualiteit ook ingebed in ‘n hoofstroom en ‘n klomp systrome van Godsbelewenisse. Of ‘n mens glo of nie, en hoe jy glo of nie glo nie, jy bly ‘n mens met sekere spiritualiteitskenmerke. 

Binne godsdienste is dit makliker om spiritualiteit raak te sien: beide dít wat mense op ‘n sekere manier laat glo én die maniere waarop mense dan aan hierdie geloofsinhoude uitdrukking gee. ‘n Mens kan egter ook praat van die spiritualiteit van ateïste of agnostici: waar kom dié lewenshouding jeens die idee van ‘n godheid / Godheid  vandaan, en hoe word dan prakties daaraan aandrukking gegee?

Tipies van die Christendom se breëre spiritualiteit is dat ‘n Skeppergod belangrik geag word, dat dié God in / deur Jesus van Nasaret iets fundamenteel goeds kom doen het vir die mensdom, en dat in / deur die Heilige Gees daardie betekenisse die lewens van individue en groepe dramaties raak.  Ook is ‘n Christendom sonder die Bybel skaars denkbaar. Tóg, op elkeen van hierdie kernpunte is daar dramatiese verskille binne die Christendom. Nogtans, al lê die verskille ook hoe skerp, sal mense binne dié breë stroom hulleself as Christene identifiseer, so ferm en diepgaande dat hulle bereid is om swaar te kry daarvoor, selfs hulle lewe te gee. Ook, ten spyte van die verskille, is daar uitdrukkingswyses wat behoue bly, en duidelik Christelik is, soos die nagmaal, of die diens aan die naaste.

Omdat ons so naby aan al hierdie kenmerke leef, besef ons nie hoe dit ons vorm, hoe ons ons geloof ís nie.  Spieël jouself egter in ‘n ander Christelike stroom, en dadelik kom jy jou spiritualiteit agter. Al plaas al drie sterk klem op die Heilige Gees, byvoorbeeld, beleef Gereformeerdes die Gees veral deur die Bybel;  Charismatiese gelowiges, veral deur die emosie; Ortodokse gelowiges, veral deur die liturgie.  

Woon mekaar se eredienste ‘n keer by, en jy voel dadelik aan dat baie by jou verbygaan, maar ook, dalk, dat jy baie het om by te dra – al kan jy moeilik onder woorde bring presies waar die andersheid lê. Vergelyk godsdienste, en dan kom ‘n mens dit anders agter. ‘n Reusedeel van die Joods-Christelike-Islamitiese geloofsuitlewing is dat jy vir minderbevoorregtes sorg. Dit is ‘n fundamentele godsdienstige en etiese waarde. Doen jy dit nie, word in die Christendom vanuit die Bergpredikasie en Jakobus hard teen jou gepreek. Binne die tradisionele Hinduïsme, egter, is hulp aan ‘n arme eintlik  (om vir ‘n oomblik Christelike taal te mis-bruik)  sonde: die teologie van reïnkarnasie sluit in dat swaarkry tans loutering is vir foute in ‘n vorige lewe, onderweg na ‘n beter volgende lewe. Om binne só ‘n konsep armes te help, beteken net dat hulle in ‘n volgende lewe dan wéér moet swaarkry om van die negatiewe “karma” uit de vorige lewe ontslae te raak. Dit is maar enkele voorbeelde van hoe geloofsinhoud en geloofsuitdukking – spiritualiteit, dus – ons lewens dramaties vorm.

 

Watter voordeel het die vak spiritualeit vir ‘n student, predikant en gemeentelid?

In een woord: bewuswording. Om daarop uit te brei: om spiritualiteit te bestudeer, laat ‘n mens besef wie jy is as geloofsmens, en hoedat dit gekom het dát jy so is. Niemand van ons word gelowige in ‘n lugleegte nie: ons geloof word van kleintyd af, of vanaf bekeringstyd, op sekere maniere vorm gegee. Tog is daar talle ander maniere waarop ons gevorm kon gewees het. Deur ander spiritualiteite, ander maniere van geloof beleef en uitleef, te bestudeer, vind ek myself.  Ek leer terselfdertyd van ander, óók-geldige uitdrukkingswyses van die Christelike inhoud. Daarby kan ek dan aansluiting vind, om ryker te word in my geloofsbewussyn en gelowige wees, en juis daarom kan ek myself in sekere aspekte daarvan verdiep.

Om dit te sterk te stel, net om die punt tuis te bring (spesifiek binne Afrikaanse konteks): die studie van spiritualiteit is die dood van beide die fundamentalisme en die ateïsme. Oor die fundamentalisme: as ek naamlik besef hoe ánders, maar steeds ég die Christendom sigself by ander mense laat geld het, oor tyd en kultuur heen, dan verloor ek my vertroue op mý verstaansraamwerk, en gaan plaas ek my vertroue eerder by God. Waar dit hoort. Oor die ateïsme, eintlik maar dieselfde: om vanaf een soort piëteit, naamlik piëtisme,  te spring na dié van ateïsme, soos wat soms binne Afrikaanse geledere gebeur ná ‘n eksistensiële ontnugtering of ‘n intellektuele ontwaking, is dikwels skynbaar al keuse, omdat daar op die oog af net hierdie twee alternatiewe sou bestaan. Die keuse  is dus óf kleutergeloof óf ongeloof. Die weg van onder meer die mistiek, waar jy wéét jou vorige wete was naïef maar waar jy aanvoel dat die presies-teenoorgestelde skaars beter kan wees, bly onder Afrikaanse geloofsbesinners ‘n weg wat selde gekies word.

Om dit sagter, maar onvas, te stel: om spiritualiteit te bestudeer maak dat jy op so ‘n manier in jouself keer dat jy wegkeer van die uiterstes van ons tyd, deur jou te keer na alternatiewe wat die Christelike belewenishorisonne jou bied om jou tot God (of steeds, maar dan meer grondig, selfs teen God) te keer.

 

Jou koppeling van spiritualeit met die Ou Testament is geweldig belangrik, maar is dit nie eintlik ‘n soort nuwigheid nie? Gewoonlik word die Nuwe Testament nadergetrek en die Ou Testament se spiritualeit verwaarloos. Jy het dit anders gedoen en vanuit die Ou Testament geskryf. Is dit ‘n kentering in die denke oor spiritualeit en die Ou Testament?

Daar is al ‘n ruk lank die besef dat, waar die Bybel en spiritualiteit op mekaar betrek word, die Nuwe Testament verreweg die meeste aandag kry, op ‘n manier ten koste van die Ou Testament. Hier en daar het boeke en artikels al verskyn wat  die Ou Testament meer in die kollig geplaas het. Hierdie boek, of eintlik die reeks studies waaruit dit bestaan, is deel van daardie trajek. Hierdie bly egter maar eerste treë: om die Ou Testament as geheel wetenskaplik en terselfdertyd spiritueel te ontgin, gaan nog baie werk verg. Die vooraf-besinning oor die hóé van so projek is ook nog maar aan die beginfase.

En wat van die historiese kritiek of dan ‘n historiese lees van die Ou Testament? Demp dit nie eerder die ware spiritualeit nie?

Heelwat mense het ‘n aanvoeling dat die histories-kritiese lees van die Bybel geloof vernietig. Dit kyk egter te veel sake mis. Eerstens was die vroeë historiese kritiek eintlik maar apologieë, om die Bybel as ‘t ware vir die rasionele mens van die 18de tot 20ste eeu te ‘red’, sodat hulle die Bybel nie as net ‘n tipe feëverhale-versameling sou verwerp nie. Dan is die wetenskaplike positivisme waarbinne die historiese kritiek ontstaan het, naamlik die kultuurstroming waarbinne alles op sekere maniere bewys moes kon word om aanvaar te word,  al vir amper ‘n eeu nie meer met ons nie. Die Bybelwetenskap het daardie moeilike kinderskoene ontgroei. Derdens, gaan die historiese vrae nooit weg nie: as mense die Bybel lees en hulle sien die herhalings, die teenstrydighede en die onwaarskynlikhede, dan vrá hulle, maar hóé kan dit wees dat hierdie goed só hier staan, in hierdie Boek wat vir ons van sentrale geloofsbelang is?  Ontduik mense se vrae, en jy doen hulle geloof skade aan; en dan: historiese vrae verg historiese antwoorde.

Laastens is die Christelike geloof ‘n inherent-historiese godsdiens: die Bybel gaan oor wat God in die geskiedenis van Israel, en wat Jesus in die geskiedenis van die wêreld verrig het; om dit te glo, raak weer elke gelowige se persoonlike geskiedenis ook direk. Die feit dat alle, álle geskiedenis interpretasie is, ontsetel wel die positivistiese verwagting van vaste feite buite menslikheid om. Vir die geloof is dit egter lewensbloed: hierdie geskiedenisse – van Israel, van die kerk en die wêreld, van elke gelowige – in ‘n geloofsinterpretasie: in die lig van die Godservaring word die lewe oorvertel.

Natuurlik is so ‘n geskiedenis-vanuit-geloofshoek nie sommer goedsmoeds beter, akkurater, heiliger net omdat geloof nou daarby betrek word nie.  Dieselfde dinamiek geld as by enige historiese oorvertelling. Geskiedskrywing is byvoorbeeld altyd kontensieus; dit is altyd in stryd – en dit sien ons reeds in die kompeterende geskiedenisse wat binne die Bybel gebied word oor dieselfde gebeure. Anders as wat soms beweer word, dat sulke weer- en teenspraak die gesag van die Bybel sou ondermyn,  maak dit juis die geloof lewendig: hierdie was sake wat vir die Bybelskrywers die moeite werd was om oor te stry. ‘n Mens stry nie oor onbenullighede in reusedokumente binne ‘n konteks waar skryfgoed skaars is nie. Dit was naamlik sleutelsaspekte van geloofsinterpretasie waaroor oor en weer strydgesprek gevoer is in die Bybelse tekste. Om daardie debatte na te trek in die ontwikkelinge van die Bybeltekste is moeilik, maar uiters bevredigend: dit ontsluit op ‘n manier weer die geloofsgewaarwordinge van daardie gespreksgenote, ons voorgangers in die geloof, en so voed dit ons geloofsverstaan weer. 

 

Bied die Ou Testament (dalk anders as die Nuwe Testament) nie ‘n ryker beeld van Israel se geloof of dan spiritualeit nie. Ek verwys veral na jou studie van drie geslagsregisters as drie vorme van Israel se geloof.

Juis ryker, ja. Om aan te sluit by my vorige antwoord: die diversiteit wat opgesluit lê in die Ou-Testamentiese tekste oor hóé God beleef en verwoord is, moet ons nie ontgaan nie. Lees ons dit mis, vervlak ons omgang met die Bybel. Geloofsverdieping is juis ‘n grondkenmerk van spiritualiteit. Dit vra dat ons erns maak met die diepte in die Bybeltekste.

 

Hoe moet ons die band tussen ‘spiritualeit’ en ‘teologie’ sien? Anders gestel: Waar pas dit in en moet dit nie eerder die basis van elke teologiese vak vorm nie en daarom nie aparte vak nie.

Natuurlik lê daar spiritualiteit binne elke vakgebied van die Teologie. Eintlik meer nog: daar lê verskillende spiritualiteite opgesluit in elke vakgebied. Op ‘n manier is spiritualiteit dus soos taal: geen teologiese vakgebied kan daarsonder bedryf word nie, en ‘n veelheid van tale spreek eintlik mee. Ons glip egter so vinnig daaroor, ons kom nie eers meer agter ons gebruik taal nie, of ons verwoord spiritualiteit nie. Ons doen dit outomaties. Wat beteken: ons besin nooit daaroor nie. Veel, veel gaan so verlore.

Op selfs die mees basies vlak van die Spiritualiteitsdissipline word hierdie sake egter oor besin.  Teologie is opsigself al ‘n uitdrukking van spiritualiteit: sonder ‘n geloofsgewaarwording, sou die Teologie as geloof-wat-beredeneer-word nie bestaan het nie. Binne elke teologiese vakgebied spreek spiritualiteit egter ook mee: as ‘n mens se oë eers daarvoor oopgemaak is, sien jy dit in elke verskillende handboek, dosent, predikant, lidmaat, gesang, kerkgebou, ens.

Dus: Teologie ontspring uit spiritualiteit, en spiritualiteit word in elke teologiese moment verwoord. En dit is nog maar die heel begin…

 

Ek sal bogenoemde ook anders wil vra: Maak die geestelike ervaring van God teologie nie juis oorbodig nie omdat ons ons onvermoë om oor God te praat dan so intens ervaar?

Dit is heeltemal geldig dat die Godservaring nie behoorlik verwoord kan word nie. Of dit nou ‘n deurleefde mistikus, ‘n deursnee-kerklidmaat of ‘n deurwinterde akademikus is, as ons oor God wil praat, praat ons in omweë; as ons oor ons ervaring van God wil praat, laat taal ons in die steek. Metafore help al. Tog ook nie: metafore praat te onakkuraat, en skep onbedoelde hersinskimme. Vandaar dat in die spiritualeitsgeskiedenis stilte ‘n sleutel-tema is, naamlik: stilte voor God en stilte vir God.

Net so belangrik egter is dat dit onmoontlik is om oor God stil te bly. Eweneens: om voor God stil te bly. Dan dring die vrae hulleself dadelik aan ons op: nou hóé praat ons oor die Onpraatbare; wát sê ons oor die Onuitspreeklike? Daarmee betree ons die voorvrae van die Teologie. As ons verder besin oor die bronne wat ons gaan napraat – byvoorbeeld: die Bybel, Gereformeerd; die tradisie, Rooms-Katoliek; die Geesteservaring, Charismaties – is ons reeds ín die Teologie. As ons dan hierdie “bronne” wil laat meepraat aan ons beginsels en in ons leefwêreld, is dit  volledige teologiese omgang. 

Ons kan nie oor God praat nie, ja. Maar, paradoksaal,  kan ons ook nie oor God stilbly nie. Die Teologie is dus terselfdertyd oorbodig en onontbeerlik. 

 

Hoe sien jy die toekoms van spiritualeit as ‘n universiteitsvak? Is UNISA en die Vrystaatse Universiteit die enigste wat dit aanbied.

Formeel is dit die twee universiteite waar spiritualiteit in Afrikaans bestudeer kan word, ja, en slegs op nagraadse vlak. Hier en daar is modules by Engelse instellings beskikbaar op voorgraadse vlak. Informeel sal heelwat dosente by die instellings waar Teologie in Afrikaans ook bedryf word, sê dat hulle spiritualiteit bestudeer of doseer. My indrukke is egter dat dit dikwels meer ‘n positiewe gesindheid is wat ‘n mens vind teenoor die term “spiritualiteit” as dat daar werklik met die vak self erns gemaak word. Verder leen die term “spiritualiteit” sigself daartoe om as ‘n tipe sinoniem vir ‘n hele reeks ander konsepte gebruik te word. Dit is ‘n verleiding wat maklik lei daartoe dat mense dink hulle is besig met die vakgebied spiritualiteit, maar eintlik het hulle nog skaars daarby uitgekom. In den breë, is die bewussyn van wat hierdie vakgebied werklik behels redelik laag binne Afrikaanse geledere.

 

Watter watter werke oor spiritualeit sal vir ons lesers interessant wees?

Die beste algemene werk op die mark is dié van Kees Waaijman. Die Nederlandse oorspronklik is Spiritualiteit: vormen, grondslagen, patronen (Gent: Carmelitana; 2000), met die Engelse vertaling Spirituality: forms, foundations, methods (Dudley, Mass.: Peeters; 2002).

Op die veld van Bybelse Spiritualiteit: op die Ou Testament, die werk van die Australies-Britse Ou-Testamentikus David Firth (wat by UP sy doktorsgraad verwerf het), Hear, o Lord.  A spirituality of the Psalms  (Calver, U.K.: Cliff College Publishing; 2005). Binne Nuwe-Testamentiese veld: Sandra Schneiders se  The revelatory text. Interpreting the New Testament as sacred scripture (Collegeville: Liturgical Press; 1999).

 

Baie dankie, Christo, vir jou deeglike antwoorde op die vrae.
Lombaard, C 2012. The Old Testament and Christian spirituality. Atlanta: Society of Biblical Literature.

Share this / Deel hierdie: