Hieronder stel Jurie le Roux ‘n paar vrae aan prof Julie Claassens oor haar boek, Mourner, Mother, Midwife (Louisville: WJK Press). Julie, baie geluk met jou boek wat volgens my ‘n baie belangrike publikasie vir ons in Suid-Afrika is. Dikwels word ‘n feministiese lees van die Ou Testament afgemaak en dit is jammer, want so ‘n lees is tog ook ‘n manier om ander en nuwe dimensies in die teks te ontdek. En jou ‘voorstel’ om oor God se nabyheid in terme van vroue-beeld te praat, is werklik die moeitewerd om ernstig te neem. Baie sterkte met jou verdere navorsing. Hieronder ‘n paar vrae oor die boek.

Jou boek is vir my roerend, maar hoe het die studente en predikante daarop gereageer? Het die gedagte van ‘n Moedergod hulle afgeskrik of het hulle die moontlikhede van dié beeld ingesien?
Baie dankie Jurie. Regtig lekker om terugvoer op ‘n boek te kry wat die produk was van ‘n lang en intense professionele en persoonlike pad. 
Studente en predikante reageer werklik positief. Ek vind dat eerste jaar studente dalk nog dit vreemd vind, maar omdat die tekste so kragtig in sigself is, vind hulle baie soos die verskillende fases van metafoor, eers die beeld skokkend, maar soos hulle dan meer daaroor dink vind daar iets van ‘n herkenning raak (“recognition”) waarbinne hulle iets van die waarde van die metafoor raaksien. En vir sommige studente is dit waarlik transformerend om op ‘n ander manier oor God te dink.

Is ek reg as ek sê dat die heel eerste sin in jou boek alreeds die tema van die boek belig. Jy vergelyk die wording van die boek met moederskap, geboorte gee en pyn. Het jy dit doelbewus so beplan?
Praat jy van die deel waarin ek vir mense dankie sê? Dit het ek heel laaste geskryf net voor die boek uiteindelik die lig gesien het maar terwyl ek nog swanger was met Suzanne. Jy sal sien dat ek nie eens na haar verwys in die dankbetuigings nie. Die boek het baie toevallig in 2012 die lig gesien na ‘n baie lang (en pynlike) proses, wat toe ook die jaar was waarin my dogter Suzanne gebore is (24 Junie 2012). Ek dink ek het my lang gesukkel om swanger te raak en toe die swangerskap en geboorte proses wat eintlik baie maklik en vinnig was (sy is 3 weke vroeg gebore!) gelees deur die ervaring van boek skryf. Ek het by die boekbekendstelling wat kort na Suzanne se geboorte gehou is, gesê dat eintlik, danksy die wonders van epiduraal, was Suzanne se geboorte minder pynlik as die lang proses van boek skryf en dan die boek gepubliseer kry!
Dit is inderdaad so dat ek baie jare lank skryf oor borsvoed (in my PhD tesis by Princeton Theological Seminary wat my eerste boek by Abingdon geword het waarin ek die beeld van God wat Voed in terme van ‘n beeld van borsvoeding interpreteer in die lig vanbaie kreatiewe rabbiniese interpretasie!!), en in hierdie boek oor geboorteskenk en moederskap voor ek vir Suzanne gehad het. Die ervaring van moederskap wat laat eers vir my gekom het, was dus soveel te meer spesiaal.

Ek kan die vraag ook anders stel: Twee of wat jaar gelede het jy ma geword en hoe het die proses van swangerskap, geboorte gee en moederskap jou denke oor God verder gevorm?
Op ‘n manier het dit wat ek al die jare geskryf het bevestig. Ek het die voorreg gehad om 20 maande vir Suzanne te borsvoed wat een van die wonderlikste goed is wat ek nog ooit in my lewe gedoen het. Dit is juis hierdie aspek van borsvoeding wat dit so ‘n wonderlike beeld maak om die intimiteit en genoegsaamheid van die God-mens verhouding te beskryf. Maar wat ek nie as jong student geweet het toe ek hieroor geskryf het nie is hoe harde werk borsvoeding aanvanklik is en hoeveel vroue in die proses moed opgee nie. Dit is ‘n goeie voorbeeld hoe ervaring ‘n mens help om nuwe aspekte van God raak te sien. En hoe interpreteerders se ervaring ‘n mens help om ou tekste op nuwe maniere te lees.

As ek jou werk lees, kry ek die indruk dat jy graag sal wil sien dat ons teologies anders moet dink. Ten minste wegbeweeg van harde manlike begrippe soos God wat ‘n kryger is en met bloed aan sy hande die destydse volkere uitmekaar wil slaan na ‘n sagter aanslag en sagter beelde van God. Hoe vatbaar is veral die Afrikaanse teologiese wêreld vir so ‘n anderse siening?
Absoluut! Ek dink dat die geweld in die wêreld vandag vir ons vra om ander beelde en ‘n taalwêreld te skep veral as dit kom by God en godsdiens. Dit is iets wat alle godsdienste behoort te doen, nie net die Christendom nie, as ons ernstig is om onsself en die planeet te red. Ek is versigtig egter om dit net in terme van harde manlikheid en sagte vroulikheid te sien. Ek verwys ook in my boek na Maggie Thatcher wat ‘n harde leier was wat met heelwat geweld geassosieer is. En daar is weer baie mans wat verbind is aan sorg/versorg/vrede maak wat soms met moeders geassosieer word. Sarah Ruddick sê in haar boek “Maternal thinking” dat hierdie waardes waarna ek ook verwys, waardes is wat vrouens en mans moet ontwikkel. In die naam van vrede en geregtigheid vir almal.

Miskien kan ek die vraag ook anders vra: Wat is die teologiese draagwydte van jou anderse Godsbeskouing? Kan ‘n mens ‘n teologie van die Ou Testament vanuit hierdie perspektief skryf?
Sjoe, nou laat jy my dink. Dit sou wonderlik wees. Ek gaan bietjie daaroor dink vir ‘n volgende projek dalk??

Jy maak baie van reg en sosiale geregtigheid, maar het dit nie moeilike begrippe in ons tyd geword nie? Elke daad van geregtigheid het ook ‘n moment van ongeregtigheid en elke oënskynlik brutale en onregverdige sosiale orde (soos sêmaar tussen Israel en die Palestyne) het ‘n wordingsgeskiedenis wat dit moeilik maak om tussen goed en kwaad te onderskei.
Ontsettend moeilik ja. Ek weet net ons kan nie aangaan om mekaar se geboue en kinders plat te skiet nie. Iewers moet iemand sê. Genoeg is genoeg. Dalk soos ‘n ma ja wat as die kinders mekaar bloedneus slaan sê dit is nou klaar. Kom ons maak vrede??

Sou jou intense moederbeelde vir sowel Jood as Palestyn, onderdrukker en onderdrukte iets kan beteken?
Daar is ‘n ongelooflike organisasie Mothers for Peace wat elke jaar op Moedersdag (wat by the way oorspronklik in die VSA begin is deur Julia Howe wat die Battle Hymn of the Republic geskryf het wat in sigself ‘n oorlogslied geword het – vra my ander dag meer daaroor!! – as ‘n dag waar die moeders van die land saamkom om te werk vir vrede) optogte hou om vrede te bewerkstellig. Vir die kinders. Dit is dalk wanneer ma’s aan albei kante verstaan dat elke persoon wat sterf iemand se seun of dogter is. Dit is om ‘n gedeelde weerloosheid raak te sien soos wat feministiese filosoof Judith Butler dit wil hê.

Jy beskryf jouself as ‘n feministiese Bybel-teoloog (‘feminist biblical theologian’) wat sekere Ou Testamentiese gedeeltes se obsessie met mag en krag wil dekonstrueer en eerder ‘n leespatroon wil vestig wat reg en gelyheid bevorder. Is hierdie benadering nie in sigself nie ook maar ‘n magsgreep op die teks en die leser nie?
Ek hoop nie so nie. Ek argumenteer passievol hieroor want ek is passievol hieroor. Maar ek glo darem dat ek ruimte gee vir ander om hulself uit te leef. Behalwe natuurlik as hulle manier van lees ander verontmenslik of onreg doen.

Hoe sou jy die pad vorentoe vir ‘n feministiese Bybel-teoloog in Suid-Afrika wil sien?
Kom na my intreerede Maart 10, 2015 op Stellenbosch. Ek praat die aand juis hieroorJ

 

 

Share this / Deel hierdie: