Dante se mistieke reis. Eerste tog: InfernoHieronder stel Jurie le Roux ‘n paar vrae aan Kobus Krüger. Kobus, baie geluk met jou boek, Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Ons het groot respek en waardering vir jou as akademikus asook vir jou Dantewerk. En dat jy dit nog boonop in Afrikaans geskryf het, maak ons waardering net nog groter. Jou werk laat ‘n mens aan JPJ van Rensburg se vertalings in Afrikaans van Homeros se Odusseia en Ilias dink en wat nou nog van groot waarde is. Hieronder dan ‘n paar vrae.

Hoekom het jy hierdie projek aangepak? Dante lê ver terug in die verlede en waarom sou ‘n mens nou nog aandag aan hom gee?

Ek waardeer die belangstelling en positiewe resensie van die werk geweldig hoog. Daar lê veral twee oorwegings agter die projek. ‘n Eerste en meer algemene oorweging was dat Afrikaanstaliges wat in die Christelike tradisie staan, opnuut die kosbaarheid van daardie tradisie in sy volle omvang (met insluiting van die Middeleeue) en rykdom sal waardeer. Dante is ‘n verteenwoordiger van die grootste sintese van Christendom en algemene kultuur tot dusver. Die Hoog-Middeleeuse prestasie (wat ook ‘n figuur soos Thomas van Aquino insluit), sal moeilik indien ooit geëwenaar word.

‘n Tweede oorweging was dat Afrikaanstaliges hul die afgelope klompie dekades in ‘n kulturele en religieuse noodsituasie wat as ‘hel’ beskryf sou kon word, bevind. Dit is ‘n tyd van ingrypende self-inkeer. Talle is bewus van die diepte van die tragiek van menswees. ‘n Naïwiteit is verlore. As diepsinnige narratief van individuele en kollektiewe ontsetting is Dante se Inferno aangrypend en tydloos relevant. Om dit juis in hierdie omstandighede in Afrikaans te vertaal, was vir my net vreugde en ontdekking. Afrikaans het vir my assosiasies met die denke en taal van (byvoorbeeld) die groot tydgenoot van Dante, Meester Eckhardt met sy volkstaal Duits van destyds. Ek glo ‘n besondere tydperk van verdieping kan vir die Afrikaanstalige kultuur en religie voorlê indien die twyfel en die wroeging oor die verlede positief ontgroei word. Immers, na Inferno kom Purgatorio en Paradiso.

 

Vertaling is nie maklik nie en hoe lank het dit jou geneem om alles so sorgvulding te vertaal. En het jy ‘n bepaalde taal- en vertaalteorie gebruik of dalk mettertyd een ontwikkel?

Die vertaling uit Italiaans het my ‘n hele klompie jare besig gehou. Dit was (en bly) ‘n liefhebbery en is tussen ander werk deur ingepas. Ek het die gedig aanvanklik begin lees as pure pragtige letterkunde, ongevaarlik omdat dit in so ‘n verre verlede ontstaan het. Mettertyd het ek al hoe meer die uitdaging wat dit rig en die werklike strekking daarvan besef. In die vertaalteorie wat ek gevolg het, het veral  ‘n groepie faktore ‘n groot rol gespeel. Die eerste was dat die vertaling effektief in Afrikaans vir Afrikaanstaliges moes doen wat Dante in en vir sy tyd wou doen. Die vertaling moes ‘n brug wees, nie ‘n muur waaroor die leser moet klouter nie. Ek het dus gekies vir ‘n prosa-vertaling. ‘n Tweede oorweging was om aan die strengheid van ‘n ‘histories-kritiese’ benadering (breed opgevat) te voldoen. Dit beteken dat die breuke tussen toe en tans nie toegesmeer mag word nie, maar dat die kontinuïteite eweneeens deeglik besef en uitgelig moes word. Derdens het ‘n onderskeid tussen ‘intensionele’ en ‘tendensionele’ vertolking vir my algaande aan betekenis gewen. ‘Intensioneel’ beteken dat die leser-vertaler-vertolker as ‘t ware in die Middeleeuse vel van so ‘n persoon inkom en sover moontlik werklik verstaan wat in hom afgespeel het. ‘Tendensioneel’ beteken dat getas word na die betekenis van ‘n werk soos die Inferno buite die subjektiewe, bewuste bedoelings en kulturele en religieuse omstandighede van ‘n Dante om. Waarheen stu sy werk sonder dat hy dit bewustelik besef het? Hier het sy gedig vir my ingevloei in die groot delta van ‘mistiek’ in ‘n breë sin, met belangrike teoretiese implikasies.

 

Volgens Gadamer kan ‘n mens ‘n kunswerk (soos Dante se Inferno) nooit volledig uitput en klaar verstaan nie, maar moet ‘n mens dit altyd weer anders en nuut probeer verstaan; altyd weer nuwe kante probeer ontdek. Het die mistiek jou gehelp om Dante anders en nuut te verstaan?

Inderdaad. Die mistiek is vir my die omvattende horison waarbinne alle religieuse diskoers (en uiteindelik ook alle wetenskaplike diskoers, alle kuns en alle politiek) staan. Daardie horison het my ook in staat gestel om uit te lig hoe Dante se denke saamhang met vorme van mistiek in ander kulture en religieë. Ek meen dat dit ‘n verrassende perspektief op Dante open.

 

Miskien nog ‘n vraag oor die mistiek: Was daar oor die jare ook ander geleerdes wat Dante vanuit hierdie perspektief probeer verstaan het? Of is jy die eerste een?

Verreweg die meeste werk oor Dante is beperk tot die ‘Italianistiese’ veld van taal en literatuur en die historiese agtergrond waarteen sy gedig verstaan moet word. Natuurlik is Dante se gedig ‘n onoortreflike prestasie in daardie opsig. Ek wou egter nie soseer ‘n bydra op daardie gebied lewer nie, al moes dit vanselfsprekend aan die geldige vereistes en die huidige stand van navorsing voldoen. Weinig vertaler-vertolkers het ‘n aanvoeling vir ‘n teoretiese perspektief waarin die mistiek sentraal staan, getoon. ‘n Goeie uitsondering is William Franke.

 

Oor die invloed wat die Inferno oor die eeue op die geloof van gewone mense uitgeoefen het, kan ‘n mens seker veel sê, maar het dit as ‘t ware inhoud aan die Middeleeuse mens se angs vir die dood en die hel gegee?

Dante se gedig het inderdaad op ‘n besondere manier inhoud gegee aan wat tipies in die Middeleeue geleef het. Hy het baie oorgeneem, maar dit as ‘t ware in ‘n persoonlike ‘mite’ uitgedruk wat ‘n groot invloed uitgeoefen het op wat na hom gekom het.

 

Het die Reformasie hierdie angs oorwin? Of is dit ‘n oorvereenvoudiging? Ek vra dit omdat Luther ook vir God en (Dante se) hel bang was, maar sy besondere verstaan van God se genade het hom later anders oor hel en hemel laat dink.

Ek meen dat die Reformasie nog nie werklik tot ‘n voluit ‘eksistensiële’, ‘psigologiese’ interpretasie van die ‘hel’ kón kom nie, en tog nog gebonde gebly het aan sekere kosmologiese veronderstellings wat eintlik eers in later eeue gerelativeer kón word. Net soos Dante, moet ook Luther en Calvyn, dink ek, vanuit die raamwerk van ‘n krities-konstruktiewe eietydse besinning geproblematiseer, gerelativeer en tog ook met begrip gepositiveer word.

 

In jou boek is daar ‘n hele aantal mooi illustrasies van Mimi van der Merwe, maar kan mense dit afsonderlik koop? Indien wel, verskaf asseblief kontakbesonderhede.

Watter pragtige illustrasies van my medewerker! Haar illustrasies maak ‘n baie groot bydrae tot wat ek met die boek wou bereik. Haar illustrasies bevat talle verwysings na die geskiedenis van Dante-illustreerders, maar sy lê besonder oorspronklike aksente. Anders as (byvoorbeeld) die vermenging van Romantiek en Klassisisme in die beroemde negentiende eeuse werk van Gustave Doré, is haar figure eg-menslik. Veral haar reeks uitbeeldinge van die gedurig verskuiwende nuanses in die verhouding tussen Dante en sy mentor Vergilius is besonder subtiel. Net so treffend is haar weergawe van  die heimwee en tragiek van die verhouding tussen Francesca en Paolo, en die ontmoeting van die skamerige Dante met die vyf grootste digters uit die klassieke oudheid. In haar etse ontmoet ons nie veridealiseerde figure nie, maar lydende mense van vlees en bloed.  Mense kan Mimi direk skakel by 012-430-3442.

 

Jou boek is klaarblyklik net die eerste van ‘n reeks. Waarna kan ons nog uitsien?

Die vertaling van die Inferno is deel van ‘n groter projek waarin ek klassieke mistieke tekste uit verskillende religieuse kontekste in Afrikaans vertaal. Dit is voorafgegaan deur vertalings van werke van die Suid-Nederlandse mistikus Johannes Ruusbroec, Giordano Bruno en tekste uit die vroeë Boeddhisme. Wat ‘n reeks oor Dante betref, sou ek baie graag ook die Purgatorio en Paradiso wou voltooi. Wat ‘n reeks in ‘n breër sin betref, is dit vir my uitermate sinvol om langs Dante ook met vertaalwerk uit die Boeddhisme in Afrikaans besig te bly. Op die oomblik werk ek aan vertalings uit Pali van ‘n klassieke ou digbundel uit die voor-Christelike jaartelling (die Dhammapada) en ‘n stuk skolastiek uit die 11e eeu (die Abhidhammattha Sangaha). Om met sulke skynbaar verbandlose tekste uit verskillende mistieke tradisies te werk, is ‘n wonderlike voorreg en uitdaging. Ek sien Afrikaans as brugtaal wat die huidige kultuursituasie positief verbind met die groot verlede, met insluiting van die Middeleeue, asook met die hele breë veld van religie, veral dan mistiek.

 

Jou boek is deur die Sentrum vir Mistiek uitgegee, vertel ons meer van die sentrum en is daar ‘n webwerf wat mense kan besoek?

Ek het die Sentrum vir Mistiek so agt jaar gelede as ‘n akademiese en geestelike tuiste vir myself en belangstellendes en mede-reisigers op hierdie pad gestig. Dit is ‘n erg minimalistiese opset. Die webwerf kan by www.mysticism.co.za besoek word.

Jurie le Roux

Share this / Deel hierdie: