Prof Louis Jonker van die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, is die mede-redakeur van ‘n belangrike boek, Global Hermeneutics?:Reflections and Consequences, wat verlede week aanlyn verskyn het en onmiddellik gratis afgelaai kan word by http://ivbs.sbl-site.org/home.aspx. Prof Jonker is ‘n Ou Testamentikus wat tans nog in Tübingen navorsing oor Kronieke doen. Jurie le Roux het hom ‘n paar vrae gevra.

 

JleR: Baie geluk met hierdie boek. Vertel ons iets meer oor die ontstaan daarvan.

LJ: Die boek gaan terug op die 19de kongres van die bekende International Organization for the Study of the Old Testament (IOSOT) wat in 2007 in Ljubljana, Slowenië gehou is. Dit was die eerste keer in die bestaan van die organisasie (met die uitsondering van 1986 toe die kongres vir ‘n spesiale rede in Jerusalem gehou is) dat die kongres buite Wes-Europa plaasgevind het. Die president van die IOSOT vir die termyn 2004-2007 was prof Joze Krasovec van die Universiteit van Ljubljana. Dit was sy begeerte om die IOSOT-kongres toeganklik te maak vir (veral) Oos-Europese bybelwetenskaplikes, maar ook om die gesprek oor (wat hy genoem het) ‘globale hermeneutiek’ te stimuleer. Hy het toe prof Knut Holter van die Misjonshogskolen, Stavanger, Noorweë (wat ook ‘n erelid van ons eie OTWSA is!) gevra om ‘n paneel saam te stel wat hierdie tema van ‘globale hermeneutiek’ kan bespreek. Knut het my daarby betrek om ‘n aantal ander sprekers te identifiseer en te nader. Ná afloop van die sessie in Ljubljana het ons die versoek ontvang om die referate as een bundel te publiseer. Knut en ek het die opdrag ontvang om so ‘n bundel saam te stel. Aangesien ek in die daaropvolgende jaar as een van die twee hoofredakteurs van die nuwe gratis, aanlyn publikasiereeks van die SBL, International Voices in Biblical Studies (IVBS), benoem is, en aangesien die tema van ons lesings in Ljubljana so goed inpas by wat hierdie nuwe publikasiereeks wil bewerkstellig, het ek aangebied dat dit by IVBS ingedien kan word vir publikasie. Nadat dit deur ‘n eweknie-evalueringsproses is (en nadat ons lank gewag het vir die IVBS-webblad om te begin funksioneer!), is die publikasie gereed gemaak, en is dit nou amptelik gepubliseer.

 

JleR: Sê ook sommer iets oor die persone wat bydraes in die boek gelewer het.

LJ: Knut Holter en ek het eers ‘n deeglike gesprek gehad oor hoe ons die term ‘globale hermeneutiek’ verstaan. (Sien my antwoord op volgende vraag.) Daarna het ons ‘n paneel saamgestel wat min of meer verteenwoordigend was van die verskillende kontinente: twee Wes-Europeërs (Holter en Baumann), vier Afrikane (Obiorah, Ukpong, Mojola en ekself), ‘n Latyns-Amerikaan (May) en ‘n Asiër (Melanchthon). Ongelukkig kon Justin Ukpong en Aloo Mojola weens visum- en befondsingsprobleme nie die kongres in Ljubljana bywoon nie, maar laasgenoemde het wel sy referaat vir ons beskikbaar gemaak vir publikasie. Almal is op een of ander wyse by die Bybelwetenskappe betrokke, òf as akademici, òf Bybelvertalers, òf predikante.

 

JleR: Wil jy ons nie net in ‘n paar sinne vertel waaroor ‘global hermeneutics’ of ‘globale hermeneutiek’ handel nie? En ook jou opmerking toelig dat die globale hermeneutiek inderdaad ook met identiteit te make het. Of soos jy dit stel: ‘I argued … that a discussion on global hermeneutics cannot be separated from the issue of identity’.

LJ: Soos ek hierbo genoem het, het die titel ‘Global Hermeneutics’ eintlik sy oorsprong by prof Krasovec. Knut Holter en ek het die opdrag van die konferensie so verstaan dat ons die impak van ‘n globaliserende wêreld op Bybelinterpretasie moes ondersoek. ‘Global Hermeneutics’ is dus nie nog ‘n genitief hermeneutiek (soos Hermeneutiek van Bevryding, Hermeneutiek van Vroue, Hermeneutiek van Armes, ens.) nie. Ons wou eerstens die globaliserende wêreld m.b.t. Bybelinterpretasie beskryf (Knut Holter en Ukpong se opdrag), ons wou ‘n aantal gevallestudies vanuit verskillende dele van die wêreld bestudeer (Baumann, Obiorah, May, Melanchton), en ons wou die konsekwensies van ‘n globaliserende wêreld op Bybelinterpretasie en –vertaling ondersoek (Mojola, Jonker). Ons uitgangspunt was dat ons weens globalisering van mekaar se verskillende interpretasiewyses bewus word, en dat ons hierdie diversiteit gewoon nie kan ignoreer nie. Die keersy van die munt is egter dat ‘n mens jou eie konteks en eie benaderings ook soveel beter leer ken wanneer jy aan ander blootgestel word. Dit is waarom die kwessie van identiteit en ‘globale hermeneutiek’ vir my ten nouste verweef is.

 

JleR: Hoe sou jy die boodskap van julle boek wil omskryf?

LJ: Laat ek eers aandui wat die boek nie wil doen nie. Die boek wil nie ‘n pleidooi wees daarvoor dat elkeen van ons nou “soos die ander” moet word nie, d.w.s. ons eie benaderings en verstaan van die Bybel moet aflê om nou ander (voorheen gemarginaliseerdes) s’n te volg nie. Inteendeel, die boek wil juis pleit (i) dat ons van die hermeneutiese ontwikkelinge in die wyer wêreld moet kennis neem, (ii) dat ons bereidwillig moet wees om met daardie ontwikkelings in gesprek te tree, en (iii) dat ons bereid moet wees om met ons eie benaderings ‘n bydrae te lewer binne ‘n ‘globale hermeneutiek.’ Veral m.b.t. laasgenoemde punt het ek al voorheen in ander bydraes gepleit dat ons met “kontekstuele integriteit” moet deelneem aan die Bybelwetenskappe.

 

JleR: Watter rol sou jy wou hê moet hierdie boek se insigte binne die Suid-Afrikaanse en veral die Afrikaanse konteks speel?

LJ: Die uitdrukking “Suid-Afrika is die wêreld in een land” is waarskynlik nie ver van die kol af nie. Die diversiteit wat ons binne die Bybelwetenskappe in ons eie land beleef, om nie eens van die Afrika-kontinent te praat nie, is ‘n goeie weerspieëling van wat globaal gebeur. Ons sou dwaas wees om te dink dat die prentjie steeds dieselfde lyk as voor 1994. Helaas gebeur dit steeds dat sommige van ons onsself steeds in ons hoekies wil terugtrek, of dat ons mekaar wil verketter. Ek sou graag wou sien dat die boek daartoe moet bydra dat ons die uitdaging aanvaar om met mekaar in gesprek te tree. Nie dat dit nie reeds op verskillende vlakke gebeur nie. Maar dan moet ons met mekaar in gesprek tree deur mekaar se bona fides te aanvaar. As iemand – met integriteit – ‘n harde, tradisionele histories-kritiese benadering volg, moet hy/sy dit gegun word. Of, as iemand ‘n keuse vir ‘n spesifieke resepsie-benadering maak – met ewe groot integriteit – dan moet hy/sy dit ook gegun word. Maar dan kan ons hopelik van albei hierdie groepe (en al die ander wat nie hier as voorbeelde genoem is nie) ook verwag om hul benaderings só te volg dat dit oop staan vir gesprek en interaksie met ander benaderings.

 

JleR: Knut Holter begin die boek met die opmerking dat die wetenskaplike bedryf van die Ou Testament ‘n ‘noordelike’ onderneming is. En is ek reg as ek sê dat jy ook in jou eie bydrae met hierdie noordelikheid of westersheid van die Ou-Testamentiese wetenskap worstel? My vraag is of ons so daaroor moet wroeg? Is dit nie eerder ‘n gegewe wat aanvaar en op verskillende maniere ontgin moet word nie?

LJ: Natuurlik kan ons nooit die geskiedenis van ons vakgebied ontken of ignoreer nie. En ons moet ook nie so naïef wees om te dink ons kan daardie geskiedenis finaal agterlaat, en dan weer as tabulae rasae begin nie. Dis juis waarom ek in my bydrae probeer het om die term “global context” soos dit in Knut se bydrae geformuleer is, te problematiseer en uit te brei. My voorstel dat ons ook ‘n diachrone perspektief op die “global context” moet hê, was juis bedoel om te sê dat ons op die skouers van ander staan, selfs al verskil ons dalk hoe sterk van hulle. Hierdie is ‘n eksistensiële punt vir myself. Dikwels, wanneer ek in Suid-Afrika (en wyer in Afrika) party studies lees of referate aanhoor, het ek die ernstige behoefte om te sê: “Nee mense, ‘n mens moet darem regtig baie meer moeite doen met die teks self, en die geskiedenis van ontstaan en oorlewering van die teks!” Maar laat my net toe om ‘n paar weke in Europa (veral Duitsland!) deur te bring, dan ontwikkel ek die sterk behoefte om uit te roep: “Nee mense, dit gaan tog om baie meer as blote Literarkritik en allerhande historiese onderskeidings. Weet julle dat daar mense op my Afrika-kontinent is wat leef uit hierdie Bybel?” Maar ek vind hierdie ervarings nie as kontrasterend of in spanning met mekaar nie. Dis wie ek is (my identiteit) synde iemand wat in ‘n Westerse model van wetenskapsbeoefening geskool is, maar wat op die Afrika-kontinent werk en leef. Dalk is hierdie hele ding oor ‘globale hermeneutiek’ ‘n weerspieëling van die innerlike gesprek wat dikwels in myself plaasvind!

 

JleR: Aan die einde van jou hoofstuk sê jy: “But I would like to remain an idealist who looks forward to a fourth phase: a phase of communality”. Wat bedoel jy daarmee?

LJ: Ek verwys na die drie fases wat Justin Ukpong in sy referaatopsomming vir die konferensie aangedui het. Hy werk met ‘n konflikmodel in Fase 3 wat neerkom op teenstand teen Westerse modelle vanuit nie-Westerse geledere. My waarneming daarvan is dat dit nog te veel vir my klink na aansprake van eksklusiwiteit. En so ‘n konflikbenadering maak interaksie en gesprek per implikasie onmoontlik. Daarom dat ek graag ‘n vierde fase wil visualiseer waarin Bybelwetenskaplikes vanuit verskillende agtergronde en benaderings ‘n ander modus van interaksie as konflik kies. Hierdie aspek kom nou al ‘n klompie jare saam met my vanaf 1993 toe ek in my proefskrif gepleit het vir ‘n multidimensionele benadering tot eksegese. Ek is maar te bewus daarvan dat sommige (in SA en wyer) my proefskrif as redelik idealisties beskryf het. En toegegee, dit was/is waarskynlik! Maar, ek wil graag hierdie siening volhou, omdat ek oortuig is dat eksklusiewe hermeneutieke in ‘n globale wêreld nie veel kans op sukses het nie.

 

JleR: Jy stem met Ukpong saam dat ons ‘n fase van heftige verset teen die Amerikaanse en Europese beheer van die Ou-Testamentiese wetenskap kan ervaar, maar presies waaroor gaan die verset? Wat in die westerse wetenskapsbeoefening stoot ander af?

LJ: Soos ek dit sien, gaan dit nie soseer oor die nuttigheid/wenslikheid al dan nie van histories-kritiese metodes teenoor resepsie-benaderings nie. Mense soos Ukpong toon ook groot waardering vir sogenaamde “Westerse” benaderings, en maak self daarvan gebruik. Ek dink die protes gaan oor twee dinge: Eerstens is dit eenvoudig so dat die Westerse benaderings vir Afrika-bybelwetenskaplikes (om maar een voorbeeld te noem, wat in ander dele van die wêreld ewe toepaslik sal wees) te teoreties bly, en nie die leefwêreld van armoede, verdrukking, ekonomiese benadeling ensovoorts aanraak nie. Maar tweedens is dit eenvoudig so dat Afrika-bybelwetenskaplikes (om weer dieselfde voorbeeld te noem) drasties minder toegang tot bronne (boeke, maar ook geld) het, heelwat minder geleentheid tot publikasie het, en daarmee saam, deelname aan die “globale” beoefening van Bybelwetenskap ontsê word. Ons kan dit eenvoudig nie ontken dat die speelveld allermins gelyk is. En as ‘n mens opdraende speel, dan ervaar jy sekerlik dat die ander onregverdiglik bevoordeel word!

 

JleR: Dit is vir mooi dat jy jouself ‘n idealis noem en ook voorstel hoe ons uit die impasse kan kom, maar is dit werklik moontlik? Jy noem byvoorbeeld dat daar in die ‘vierde fase’ nie eintlik plek vir magspeletjies sal wees nie, maar is wetenskap (ook die teologiese wetenskap) nie ten diepste ‘n harde magspel nie? ‘n Magspel waarin die intellektueel sterkste wen en ander uitgeskakel word nie?

LJ: Wel, jou vraag maak my weer die idealis! (Gelukkig noem jy dit darem ‘mooi’!) En om een of ander rede kom Machiavelli se naam in my gedagtes op! Ek wil geensins ontken dat die Bybelwetenskappe goed-verantwoorde, kritiese, wetenskap in die volste sin van die woord moet wees nie. Ek wil ook nie ontken dat ons nie mekaar se argumente deeglik moet toets nie. (Trouens, en dit maar so tersyde, ek dink ons is heeltemal te ‘nice’ met mekaar in ons wetenskapsbeoefening in die OTWSA! Ons kan doen met ‘n skeut ernstige, wetenskaplike argumentasie oor die Hebreeuse tekste.) Maar so ‘n deeglik-verantwoorde benadering is nog (ten minste in my oë) nie ‘n magspel nie. ‘n Magspel impliseer (soos jou vraag veronderstel) dat daar ‘n wenner (Ek) en verloorders (die Ander) moet wees. Dit is dodelik vir die wetenskap om so te dink! Die wetenskap ontwikkel juis waar ‘n mens jouself oopstel vir kritiek om jou standpunte te toets, om nuwe insigte te ontwikkel, en om sodoende te kan groei! Magspeletjies verhoed hierdie soort groei!

 

JleR: Hoe sou jy hierdie tema voorkant toe wil uitwerk?

LJ: Om die waarheid te sê, ek wil eintlik al hoe minder by teoretiese gesprekke hieroor betrokke wees. Ek wil eerder poog om dit wat ek teoreties verkondig, in my navorsing oor die Kroniekboeke waar te maak. Ek sien my bydrae in ons geledere om deeglik-verantwoord met die Hebreeuse tekste te probeer werk (literêr en histories), maar om dan ook te toon hoe hierdie tekste ons lewens, kerke en samelewing teologies raak.

 

JleR: Kan ‘n mens julle boek êrens aflaai?

LJ: Ja, dis juis as eerste band gepubliseer in die nuwe gratis, aanlyn publikasiereeks wat deur die Society of Biblical Literature geïnisieer is. Gaan na http://ivbs.sbl-site.org om die boek gratis in PDF-formaat af te laai (die skakel is tans op die hoofblad). Lees dan sommer ook ‘n bietjie meer oor hierdie publikasiereeks. Die hoofoogmerk daarmee is juis om ‘n “globale hermeneutiek” te help fasiliteer deur publikasiemoontlikheid te skep vir soveel Bybelwetenskaplikes in die wêreld wat nie die middele daartoe het nie. Dit help dat daardie stemme ook in die “globale” bybelwetenskaplike gesprek gehoor kan word. En mag ek dan sommer ook die geleentheid gebruik om die leser hiervan te nooi om ‘n publikasievoorstel by IVBS in te dien? Die proses om dit te doen, word op die webblad verduidelik. Aangesien die reeks ruimte laat om ook in plaaslike tale te kan publiseer, sou Afrikaanse voorstelle en manuskripte ook welkom wees.

 

JleR: Baie, baie sterkte met jou navorsing en skryfwerk.

LJ: Baie dankie, Jurie. Die Prediker was toe reg dat daar nie ‘n einde kom aan die maak van boeke nie.

 

Teo wens prof Jonker sterkte toe met sy navorsing.

Share this / Deel hierdie: