Inleiding

Geslagsregisters is nie die opwindendste gedeeltes in die Hebreeuse Bybel nie. Meestal bestaan hulle uit lang lyste met vreemde name van karakters van wie ‘n mens dikwels nooit weer hoor nie. En tog vervul geslagsregisters ‘n belangrike funksie. In die Ou Testament waar geslagsregisters aan die einde van ‘n storie gegee word, vertel elke naam iets oor die verlede of slaan ‘n brug na die toekoms. Byvoorbeeld, na die vertelling van die skepping van die wêreld, volg die geslagsregister van Adam tot by Noag en sy seuns (Gen 5). Die vloedverhaal word dan vertel, en eindig met die nageslag van Sem, Gam en Jafet (Gen 10). Daarna word Sem se nageslag uitgesonder (Gen 11:10-24) om die oorgang na die verhale van die aartsouers te bied: Abraham en Sara, Isak en Rebekka en uiteindelik Jakob en sy vroue.

          Tradisioneel bevat geslagsregisters die name van die vaders, die name van die mans. Maar sonder vroue sou daar geen stamboom gewees het nie! In hierdie teo-bydrae wil ek veral die rol van vroue in die geslagsregisters van die boek Genesis bekyk.

 

Kultuur binne die raamwerk van moord en geweld (Gen 4:17-24)

Die heel eerste geslagsregister in die Hebreeuse Bybel is nie die van Adam nie, maar van Kain (Gen 4:17-24). Kain se vrou word nie by die naam genoem word nie, maar tog is sy van die begin aanwesig. Ons lees dat Kain ‘met met sy vrou gemeenskap’ gehad het (Gen 4:17) en sy het swanger geword. Hierna volg Kain se nasate tot en met Lameg. En in hierdie heel eerste geslagsregister van die Hebreeuse Bybel, duik twee vrouename op: Lameg het twee vroue, Ada en Silla. Ada is die moeder van Jabal, en hy is die stamvader van diegene wat in tente by kuddes woon. Sy broer is Jubal, die stamvader van diegene wat musiek op die lier en die fluit maak. Silla is die moeder van Tubal-Kain, ‘n smid en ‘n vakman in koper en yster.

          Hierdie stukkie inligting word voorafgegaan deur die tragiese verhaal van die broedermoord tussen Kain en Abel (Gen 4:1-16), en afgesluit met die gewelddadige woorde van Lameg aan sy vroue (vv 23-24). Tussenin word iets vertel van kultuur, van vestiging en sorg vir ‘n kudde, van musiek, van vakmanskap, en die moeders word direk hiermee in verband gebring. Iets moois, midde ‘n lelike wêreld van moord, doodslag en geweld.

  

Volke wat die aarde vul

Die lyn van die mensdom word egter nie deur Kain voortgesit nie, maar deur Adam en Set. Genesis 4:25-26 gee ‘n kort aanloop tot daardie familiegeskiedenis. Maar tot en met die aanvang van die aartsouerverhale, word geen vrou in die geslagsregisters by die naam genoem nie. Selfs nie Eva, die oermoeder nie. Daar word slegs gesê dat Adam ‘met sy vrou gemeenskap gehad’ het (Gen 4:25) wat vir hom ‘n seun in die wêreld gebring het. En tog is vroue ook nie afwesig nie. Wanneer Adam se stamboom in Genesis 5 begin, knoop dit by die Skepping aan: ‘Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep … en hulle “mens” genoem’ (Gen 5:1-2). Vanaf vers 3 volg ‘n lang lys name, tot en met Noag, Sem, Gam en Jafet (v 32). Weliswaar is dit slegs die name van die manlike lede wat aangeteken word, maar daar word uitdruklik gesê dat daar vir elkeen word ‘seuns en dogters’ gebore word.

          Wanneer die verspreiding van die verskillende volke in Genesis 10 verduidelik word, is die lyn egter uitsluitlik patrilineêr. Hier gaan dit egter nie om vaders van families nie, maar oor vaders uit wie nasies voorkom. Uit die drie seuns van Noag,  Sem, Gam en Jafet kom die volke voort wat die hele aarde na die Vloed gevul het.

          Na die Babelse verwarring word daar egter weer net op een stamvader gekonsentreer: Sem (Gen 11:10). En Sem en sy nasate het almal weer ‘seuns en dogters’ tot en met die familiegeskiedenis van Tera (v 27).

 

Een familie, een lyn

In Tera se familiegeskiedenis word drie vroue by die naam genoem: Sarai, Milka en Jiska. Milka en Jiska is die dogters van Abram se broer, Haran en Milka is met Abram se ander broer – dus haar oom – Nahor getroud. Van Sarai word slegs gesê dat sy Abram se vrou is, en ook dat sy onvrugbaar is. Op hierdie stadium weet die leser nog nie dat Sarai ook Tera se dogter is nie, dit word eers later in Genesis 20:12 meegedeel. Haar onvrugbaarheid word egter beklemtoon, want sonder kinders, veral sonder seuns kom ‘n stamboom tot ‘n einde. En Sarai besluit om sake in eie hande te neem: die Abram-lyn kan via Hagar, die Egiptiese slavin voortgesit word. Maar o wee! Huismoles – en net probleme. Die twee vroue kan nie onder een dak saamleef nie, en Abram is verplig om Hagar en sy eersgebore seun weg te stuur.

          Abraham en Sara se name verander, en uiteindelik, na ‘n lang wagtyd word die kind gebore deur wie die Abraham-familie sal voortbestaan.

Teen hierdie tyd begin dit blyk dat daar slegs een lyn is waardeur ‘n familie se geskiedenis voortgesit word. Hagar en Ismael is weggestuur om in die Paranwoestyn te gaan bly. Die Here seën ook hierdie kind van Abraham, en hy kry sy eie geslagsregister (Gen 25:12-16), maar dit is Isak wat Abraham se nageslag voortsit. En wanneer Sara sterf, is dit belangrik dat Isak ook die regte vrou kry. Sy het egter reeds op die toneel verskyn, sy is in die familie van Abraham se broer Nahor, en sy vrou Milka. Net voordat Sara sterf, word amper terloops aangekondig dat Betuel, een van Nahor se seuns, die vader van Rebekka is (Gen 22:23). En wanneer die tyd aanbreek om vir Isak vrou te soek, is dit na hierdie familie waarheen Abraham sy slaaf stuur.

          ‘n Rukkie later trou Abraham weer met Ketura. By haar en by sy byvrouens het hy heelwat kinders en hy sorg goed vir hulle almal terwyl hy leef, maar hy stuur hulle na Kedem in die ooste (Gen 25:6), ver weg van Isak. Ná sy dood laat hy alles wat hy nalaat aan Isak toekom. Die regte lyn is dus belangrik. Abraham het meer as een vrou gehad, maar sy stamboom word voortgesit deur Isak, die kind van sy halfsuster. En Isak se vrou word gesoek in die familiekring van Abraham se broer. Hierdie tema van die regte vrou en die regte lyn word verder uitgewerk namate die res van die verhaal ontvou.

          Rebekka is ook aanvanklik kinderloos, net soos Sara, maar die probleem word binne een vers aangekondig en opgelos (Gen 25:21). Sy hoef dus aanvanklik nie soos Sara ‘n kreatiewe ingrype in God se plan uit te voer nie. Maar later sou sy dit wel doen, en op ‘n veel meer dramatiese wyse!

          Rebekka gee geboorte aan ‘n tweeling, Esau en Jakob. Esau, die eersgeborene is Isak se witbroodjie en Rebekka trek vir Jakob voor. Die moeilikheid begin broei in ‘n pot lensiesop waardeur Esau sy reg as eersgeborene aan Jakob afstaan. Rebekka is egter die een wat daadwerklik sorg dat Jakob in plaas van Esau geseën word. Ma en seun plot saam om ‘n blinde ou man te bedrieg met ‘n lekker ete wat deur haar voorberei is, omdat sy presies weet hoe hy daarvan hou. Natuurlik is Esau woedend en hy haat sy broer, maar dis nie al spanning in die huishouding nie. Esau se Hetitiese vrouens maak vir Rebekka ‘siek en sat’. Die familiegeskiedenis neem ‘n beslissende wending wanneer Isak direk vir Jakob verbied om met Kanaänitiese meisies te trou en hom wegstuur na sy oom Laban om daar ‘n vrou te kry. Die gevolg van Jakob se verblyf by Laban, is die opbou van die ‘huis van Israel’.

 

Nie een nie, maar twaalf          

Die storie begin egter met ‘n wanklank. Jakob kry nie net een regte vrou nie, maar twee. ‘n Hartseer toneel ontvou as dit blyk dat Jakob vir Ragel meer as vir Lea liefhet. Die twee susters begin wedywer om die liefde van ‘n man (Gen 29:31-30:24) en in die proses betrek hulle ook hul twee slavinne, Silpa en Bilha. Die geliefde vrou word nie swanger nie terwyl haar suster die een na die ander seun in die wêreld bring. Wanneer Ragel uiteindelik kinders kry, sterf sy met die geboorte van die jongste.

          Dit is nog nie die einde nie. Josef is Jakob se lieflingseun by sy oorlede lieflingvrou. In sy leeftyd trek hy hom voor en bederf hom gruwelik, wat daartoe lei dat sy broers hom so haat dat hulle hom wil doodmaak, maar dan liewers verkoop. Gelukkig, in Egipte neem die storie ‘n positiewe wending as Josef onderkoning word en sy pa en broers van ‘n gewisse hongersnood red. ‘n Uiters disfunksionele familie word uiteindelik met mekaar versoen.

Wat die stamboom betref, is dit egter nie die belangrikste punt nie. As Jakob op sy sterfbed lê, seën hy nie een nie, maar al twaalf sy seuns (Gen 49). Die fondamente vir die huis van Israel word gelê deur al twaalf Jakob se seuns wat hy by sy twee vroue en hul twee slavinne gehad het. Dit is dus nie Josef, die lieflingseun wat Jakob se stamboom voortsit nie – interessant, hy sou later heeltemal buite die familiekring trou:   Asenat is die dogter van ‘n priester van On (Gen 41:45).

 

‘n Belangrike wending

In Jakob se laaste seëninge oor sy seuns, is daar tog iets wat vreemd opval. Van Juda word gesê dat dit hy is wat deur sy broers geëer gaan word en voor wie hulle sal buig – nie Josef soos wat ‘n mens sou verwag nie (Gen 49:8). Juda is die een wat altyd sal heers (v 10) en wat ‘n koningskleed dra (v 11c). Dis egter nie omdat Juda altyd so ‘n soet seun was nie!

          Juda se eie stukkie familiegeskiedenis word in Genesis 38 vertel. Net nadat die arme Josef in Egipte beland, trek Juda weg van sy broers af. Hy trou met Bat-Sua, ‘n Kanaänitiese vrou by wie hy drie seuns verwek. Die oudste, Er laat hy trou met ‘n meisie met die naam Tamar. Er sterf egter kinderloos. Daarna gee Juda Tamar vir Onan, sy tweede, maar Onan weerhou hom van gemeenskap met die weduwee, en hy sterf ook kinderloos. Omdat Sela, sy derde nog te jonk is om te trou, word Tamar teruggestuur na haar pa se huis totdat Sela grootgeword het. Juda se vrou kom tot sterwe, en hy doen niks om Tamar met Sela, wat nou groot genoeg is, te laat trou nie.

          Dit lyk asof Juda dus geen nageslag, geen stamboom gaan hê nie.

          Net soos die vroue voor haar, besluit Tamar om sake in eie hande te neem.  Vermom soos ‘n prostituut, wag sy haar wewenaar-skoonpa by die Enajim-poort in en verlei hom om gemeenskap met haar te hê. Sy is egter slim genoeg om ‘n pand van hom te eis, want as hy haar later die doodstraf as gevolg van ‘n ‘ongeoorloofde swangerskap’ wil oplê, tel al die bewyse teen hom, nie teen haar nie. Let wel, nie omdat hy met ‘n prostituut gemeenskap gehad het nie, maar omdat hy die plig van leviraatshuwelik versuim het, naamlik om sy seun Sela aan haar as man te gee.

Vir Juda en Tamar word ‘n tweeling gebore: Serag en Peres. En net soos in die geval van Jakob en Esau, staan die eerste terug vir die tweede. Peres, die jongste se nageslag word op twee plekke in die Hebreeuse Bybel genoem: in die uitgebreide geslagsregister van Juda in 1 Kronieke 2, maar meer spesifiek in Rut 4:18-22. Uit die nageslag van Juda, via die Peres-lyn word koning Dawid gebore. En ook in hierdie laasgenoemde geslagsregister is die kreatiewe ingrype van ‘n vrou opvallend!

 

Slot

Geslagsregisters vertel ‘n geskiedenis, ‘n geskiedenis wat mans en vroue insluit. Hierdie kort oorsig het die rol van vroue in die geslagsregisters van die boek Genesis belig. Vroue is altyd implisiet aanwesig, of hulle op die naam genoem word, of nie. Die vroue in die oergeskiedenis het nie ‘n beduidende aktiewe rol gespeel nie; hulle was meer die draers van beskawing en kultuur. Wanneer die tydperk van die aartsouers aanbreek, is daar egter ‘n paar sterk vroue wat doelgerig optree om die geskiedenis in ‘n bepaalde rigting te probeer stuur. Die grondslag van Israel se geskiedenis lê dus nie net by die mans, by die aartsvaders nie, maar by die mans en hul besonder kreatiewe vroue!

 

Bronne

  • ·         Fischer, Irmtraud 1995. Gottestreiterinnen. Kohlhammer: Stuttgart.

·         Hieke, Thomas 2010. ‘Genealogie als Mittel der Geschichtsdarstellung in der Tora und die Rolle der Frauen im genealogischen System.’ Paginae 149-185 in Tora. Hrsg. Irmtraud Fischer, Navarro Puerto, Andrea Taschl-Erber. Kohlhammer: Stuttgart.

Share this / Deel hierdie: