Die Ou Testament

 

Inleiding

Die wêreld is ons woning nie, het Totius geskryf, maar hy was nie heeltemal reg nie. Want terwyl ons lewe, ís die wêreld ons woning. In ons wêreldse woning lewe ons in bepaalde verhoudinge: mens tot mens; mens tot natuur; mens tot Opperwese. Die manier waarop ons die wêreld sien – ons wêreldbeeld – het implikasies vir die manier waarop ons hierdie verhoudinge in ons alledaagse lewens uitwerk. In hierdie teo-aflewering gaan ek die wêreldbeeld van die Ou Testament en die Ou Nabye Ooste bekyk.
 

‘n Vertikale en ‘n horisontale vlak

Die Ou Nabye Ooste het die wêreld in twee vlakke onderskei: ‘n vertikale en ‘n horisontale vlak. Ook Ou-Israel het hierdie twee vlakke geken. Klim ek op na die hemel, U is daar, gaan lê ek in die doderyk, U is ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, sing die Psalmdigter in Psalm 139:8-10.

 

Die vertikale vlak

Die vertikale vlak bestaan oorwegend uit die volgende elemente: hemel, aarde, see en onderwêreld. Tog het die verskillende volke verskillende sienings hieroor gehad. Mesopotamië ken die hemel, die aarde, die apsû – die soetwateroseaan, en die onderwêreld. Anu is die vader van die gode en hy bly in die hemel saam met sommige ander gode waarvan baie sy kinders is. Die onderwêreld word regeer deur ‘n koningin, Eresjkigal en saam met haar bly die ander gode van die Land van geen Terugkeer. Die onderwêreld is nie ‘n plek van straf of oordeel nie, dis eenvoudig ‘n plek waarheen almal na die dood vertrek om daar ‘n skadu-bestaan te voer en afhanklik is van offers wat die lewendes aan hulle bring.

   Egipte ken ook die hemel, die aarde en die onderwêreld. Soos die ander volke het hulle ook die hemel-aarde paar as vader en moeder gesien, maar waar die hemel gewoonlik met die vader in verband gebring word, en aarde met die moeder, keer die Egiptenare die orde om: hemel is die godin Nut, en aarde die god Geb. Tydens die Nuwe Koninkryk ontwikkel ‘n uitgebreide leer oor die onderwêreld met duidelike konsepte van oordeel, beloning en straf in die hiernamaals.

   Die Ou Testament gee ons ‘n goeie idee van Ou-Israel se vertikale wêreldbeeld. Die hemel is bo en is JHWH se woonplek (Ps 115:3; Pred 5:1), en rus op pilare (Job 26:11). Onder die aarde is ‘n onderaardse oermeer waarop JHWH die aarde gegrond het (Ps 24:2). Net soos die hemel rus die aarde ook op pilare (Ps 25:4 [OV]; Job 9:6), op vaste konstruksies (Ps 104:5 [OV]), of op fondamente (Ps 82:5 [OV]). Bo die hemel is waters en onder die aarde is waters wat van mekaar geskei word (Gen 1:6-8). Hierdie waters is simbolies van die chaosmagte wat deur die Skeppergod vasgebind is, maar wat enige oomblik kan losbreek en die aarde verwoes (Gen 7:11; 8:2). Behalwe waters, word die chaosmagte oor voorgestel as verskillende monsters: Leviatan (Jes 27:1); Rahab (Job 26:12; Ps 89:10); of seemonsters (Ps 74:13). Oor die doderyk, oftewel Sheol, sê die Ou Testament nie veel nie. Enkele verwysings kry ons byvoorbeeld in Numeri 16:31-34, Jesaja 14:9. Die onderwêreld is egter nie ‘n woonplek vir JHWH of eksplisiet sy skepping nie, maar dit is ook ‘n plek van straf nie. Waarskynlik is dit ook ‘n plek waarheen almal na die dood vertrek, maar anders as in Mesopotamië ken die Ou Testament nie ‘n vorm van na-doodse bestaan of offers wat aan gestorwenes gebring word nie. Die einde van die lewe is die einde van die mens se verbintenis met die gemeenskap en met JHWH: die einde van die lewe is die dood. 

      

Horisontale wêreld

Die Ou Nabye Ooste het die horisontale wêreld as ‘n ronde skyf voorgestel wat op die waters rus. In die ooste was ‘n berg waar die son opgekom het, sy koers deur die hemelruim voltooi het, en in die weste was ‘n berg waar die son ondergegaan het en deur ‘n diep donker onderaardse tonnel gereis het tot die dag weer breek. Die oseaan rondom die aardeskyf, nog duskant die berge, is ook soms genoem die Waters of Rivier van die Dood: anderkant hierdie waters bestaan geen lewe nie. Die Sumeriese en Babiloniese Vloedverhale vertel van een mens, onderskeidelik genoem Ziusudra, Atrahasis of Utanapisjtim wat die Groot Vloed oorleef het, deur die Groot Gode met die Ewige Lewe geseën is, en wat tans aan die uiteindes van die aarde, anderkant die Waters van die Dood lewe.           

   Job 26:10 [OV] gee ‘n soortgelyke beskrywing van hoe Ou-Israel die wêreld voorgestel het: Hy het ‘n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig. Hier kry ‘n mens ook die indruk van ‘n sirkelvormige skyf wat bo-op die oerwaters rus en waar son opkom en waar die son ondergaan. Selfs die gedagte van onoorbrugbare waters wat hierdie skyf omring, word aangetref: En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde (Ps 72:8). Die vier windrigtings wat die geheel van hierdie horisontale skyf omvat, word aangedui: Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. As Hy in die Noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie (Job 23:8-9).

   Sedert 3000 vC word groot stede en tempels in Mesopotamië aangetref – in Ou Israel heelwat later, waarskynlik eers met die opkoms van die monargie. En, die belangrikste stad in Ou-Israel was natuurlik Jerusalem. In die Ou Nabye Ooste, Mesopotamië, Egipte en Israel/Juda was stede en tempels meer as blote religieuse en kultiese sentra. Die stad en die tempel het goddelike teenwoordigheid op aarde bevestig. ‘n God het die koning opdrag gegee om ‘n stad vir hom (of haar in die geval van Mesopotamië en Egipte) te bou tesame met ‘n woonplek waar hy of sy kon bly en deur die bevolking vereer word. Alle stede in die Ou Nabye Ooste het ‘n eie ‘beskermgod’ gehad. Stad en tempel was dus goddelik geseën.

   Elke bevolking het sy hoofstad as die sentrum van die wêreld beskou, die spil waarom alles draai. Vir die Babiloniërs was Babilon die sentrum van die wêreld; vir die Assriërs was Assur die sentrum; vir die Perse Persepolis; en vir Israel/Juda was Jerusalem die middelpunt van die heelal. Die middelste middelpunt was die tempel. Tempels in die Ou Nabye Ooste is simbolies van berge. Omdat ‘n berg die hoogste punt op aarde en naaste aan die hemel is, is dit ook die ideale ontmoetingsplek tussen gode en mense. Die tempel, simbolies van ‘n berg, verbind dus die vertikale en die horisontale vlakke. As ‘n mens verder in gedagte hou dat berge en tempels die eerste kosmiese oerberg verteenwoordig, kry Sion as heilige berg en die tempel in Jerusalem besondere religieuse betekenis.      

   Die stad was dus ‘n positiewe ruimte van groot sekerheid en vanwaar die kosmiese orde bewaar word. Vervolgens ontvou bepaalde teenstellings: stad versus woesterny; sentrum versus periferie; binne versus buite. Alle stede in die Ou Nabye Ooste is met mure omring om hierdie teenstellings te bevestig. Die dik stadsmuur skei binne en buite. Mure help dat die gode binne te bly sodat hulle die stad en tempel  bly bewaar. Mure help dat die bedreigende woesterny daarbuite bly, sodat dit nie die veilige omgewing van die stad kan binnedring nie. Die woesterny is die terrein van die onbekende waar die chaosmagte vryloop en waar geen gode te vinde is nie. Hoe verder van die sentrum, hoe gevaarliker word dit. Die bewarende funksie van die tempel is op sy swakste daarbuite, daar ver. In die woesterny skemer die onderwêreld deur.    

   Die God/e se teenwoordigheid en beskerming in die stad is egter nie onvoorwaardelik nie. God/e kan ook vir die mense kwaad word. Dit gebeur wanneer mense die God/e nie die nodige eer betoon nie, of hulself skuldig maak aan allerlei etiese wanpraktyke. Dan verlaat die God/e die veilige ommuurde ruimte. Die stad is nou sonder beskerming en sonder enige kontrole wat die alomteenwoordige bedreiging van die woesterny buite hou. Nou verlaat die demone ook hul woonplek want die stad is tog ‘n alte lekker plek om te kattemaai. Dan word die stad omgekeer in ‘n woesterny. So skryf Jesaja oor Babel: Maar daar sal boskatte lê, en hul huise sal vol uile wees; en volstruise sal daar hou, en veldduiwels daar rondspring. En wildehonde sal huil in sy kastele en jakkalse in die vreugdepaleise … (13:21-22).

 

Wêrelde uitmekaar

Die antieke mens het sy wêreld, sy verhouding met ander mense, sy verhouding met die natuur en sy verhouding met sy God/e deur middel van mites beskryf. Die Ou Testamentiese skrywers doen besondere moeite om die mites van hul buurvolke op hul kop te keer en stel die God van Israel, JHWH voor as ‘n God nie van mite nie, maar as ‘n God van die geskiedenis. Nietemin lewe hulle in ‘n mities-deurdrenkte wêreld en deel die wêreldbeeld van die volke rondom hulle.

   Christene aanvaar die Bybel as God se onfeilbare openbaring en as grondslag vir die Christelike geloof. Maar sedert die sestiende eeu en met die opkoms van die natuurwetenskappe het ‘n ander wêreldbeeld begin ontvou. Die aarde is inderdaad rond, maar nie ‘n ronde plat skyf nie, die aarde lyk eerder soos ‘n bal. Dit is ook nie die middelpunt van die wêreld wat op vaste fondamente rus nie, dit draai saam met ‘n hele klomp ander planete rondom die son. En die heelal is oneindig met ontelbare sonne en sonnestelsels. Natuurverskynsels en –katastrofes word deur middel van geologie en geografie verklaar, en siektes het nie ‘n demoniese nie, maar ‘n fisiologiese of patalogiese oorsprong.

 

Die Bybel in vandag se wêreld

Wanneer ons dus die Bybel lees, moet ons onsself deeglik vergewis van twee wêreldbeelde wat radikaal van mekaar verskil: die wêreldbeeld van die 21e eeu vC, en die wêreldbeeld van ons huidige eeu. As ons hierdie twee wêreldbeelde onproblematies laat saamval en die Bybelse mitiese wêreld onkrities op ‘n natuurwetenskaplike wêreld betrek, gaan ons meer vrae as antwoorde kry. Òf ons gaan ons geloof verloor, want ‘n Alwetende God kan mos nie so ‘n denkfout begaan oor die wêreld wat Hyself geskape het nie, òf ons gaan in ‘n skisofreniese wêreld begin leef waar die woesterny van ouds die kennis van die wetenskap binnedring, selfs verdring.

    ‘n Verantwoordelike lees van die Bybel vra respek sy wêreld en sy mense. Die Bybel en die God van die Bybel kan eers regtig tot ons spreek as ons twee verskillende wêreldbeelde in gedagte hou. Aan die een kant moet ons moeite doen om onsself in die wêreld van Ou Israel in te leef, in te beeld. Aan die ander kant moet ons hierdie ou wêreld op ‘n kreatiewe wyse in ons huidige wêreld verbeeld sodat dit steeds sin maak en die oorspronklike trefkrag behou.             

   Dit is tewens dalk die grootste uitdaging vir die teologie vandag – om die Bybel steeds ter sake te hou vir ‘n postmoderne mens wat uiters krities is en alle kennis relativeer.

 

Bronne

 

  • Berlejung, A 2006. Weltbild / Kosmologie. Paginae 65-72 in Handbuch Theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Hrsg. Berlejung, A & Frevel, C. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • Collins, JJ 2004. Cosmology: Time and History. Paginae 59 -70 in Ancient Religions. Red. Johnston, SI.Harvard: The Belknap Press of Harvard University Press.  
  • George, AR 2003. The Babylonian Gilgameš Epic. Introduction, Critical Edition and Cuneiform Texts, Volume I. Oxford: Oxford University Press.
  • George, AR 1999. The Epic of Gilgameš. A New Translation. New York: Barnes & Noble, Inc.
  • Kuhrt, A 1995. The Ancient Near East c.3000-330 BC Volume I. London: Routledge.  
  • Prinsloo, GTM 2006. Še’ôl – Yerûšālayim – Šāmayim: spatial orientation in the Egyptian Hallel (Psalms 113-118) in Old Testament Essays 19/2, 739-760.
  • Schrott, R 2001. Gilgamesh Epos. München: Carl Hanser Verlag.
  • Wyatt, N 2001. Space and time in the religious life of the Near East. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Share this / Deel hierdie: