Onderstaande handel oor ‘n jong middeleeuse priester wat op die een of ander onverklaarbare wyse in Noag se ark beland en deel van die arkbemanning geword het. Waar die verhaal oorspronklik vandaan kom en wie die skrywer was, is onbekend, maar dit is verbeeldingryk en ook onmoontlik want hoe sou ‘n priester tog in die ark gekom het. Verhale skep egter hulle eie wêrelde waarin die onmoontlike moontlik word en waarin ‘n priester uit die middeleeue maklik deel van een van die heel vroegste verhale in die Ou Testament kon word (Gen 6-9). Hierdie verhaal van Noag en die priester werp dalk ook ‘n bietjie lig op die probleem waarmee talle vandag worstel: diepe frustrasie met die kerk, die gemeente, die predikant.

Hoe dit ook al sy, die jong priester het in die ark beland, het die Noaggesin goed leer ken, het mettergaan aan die diere gewoond geraak en van die avontuur begin hou, maar na ‘n ruk het dinge vir hom te veel geword en hy wou net padgee. Voordat ons verder oor sy ontsnappingsplan vertel, vertel ons eers iets oor die vroeë kerk se nadenke oor die kerk en die ark.

In die eerste eeue is intens oor die kerk gedink, geteologiseer en geskryf. Die kerk was die plek waar ‘n mens genade kon ontvang en volgens Irenaeus was die Gees waar die kerk was en waar die kerk was, was daar erbarming. Binne die kerk is die genade veral deur middel van die doop, die nagmaal en die Skrif ervaar.

Die kerk is heilig genoem omdat Christus in die kerk teenwoordig was en daarom was die kerk ook die ‘bruid van Christus’ of die ‘liggaam van Christus’. Hierdie besondere siening van die kerk het daartoe gelei dat Ciprianus beweer het dat daar buite die kerk geen saligheid was nie: ‘salus extra ecclesiam non est’. Ewe-beroemd was sy woorde dat wie God as Vader het, het die kerk as moeder. En vir Ciprianus was die verhaal van Noag se ark die bevestiging van dié gedagte. Slegs hulle wat binne die ark was, het die heil ervaar. Die ark was ‘n simbool van die kerk en soos in die ark kon mense binne die kerk veilig, geborge en beskut voel.

Met dié teologie in gedagte keer ons na ons jong middeleeuse priester terug. Om in die ark (beeld van die kerk) te kon wees, was dus ‘n goeie ding. In die ark was hy veilig. In die ark kon hy ‘n gevoel van beskerming ervaar en kon hy selfs tuis voel. Dit was egter nie die hele verhaal nie. In die klein ruimte van die ark het dinge die jong priester begin irriteer. Noag was nie so maklik nie en sy vrou nog erger. Soos wat die dae in die ark verbygesleep en hulle wie weet waar rondgedryf het, het Noag se swakhede begin wys. Hy het gou ongeduldig geraak en was nie altyd so geduldig met die jong priester nie. Sy vrou het weer oor alles gekla. Die kombuis was te klein en die kosvoorraad het skraal begin word.

En dan was daar ook nog die drie seuns en hulle vrouens. Die seuns was eiesinnig en het nie altyd so goed met hulle pa klaargekom nie. Hulle wou die diere op hulle eie manier hanteer en kon hulle pa hoe langer hoe minder verduur. Die seuns se vrouens het ook begin moeilik word en ‘n mens kan dit verstaan. ‘n Ark was tog nie die plek vir jong dames wat mooi wil lyk en deftig wil aantrek nie.

Om alles te kroon, het die stank van die diere byna ondraaglik geword. Daar was baie van hulle wat elke dag gevoer moes word en hulle hokke moes ook gereeld skoongemaak word.

Sonder die priester was daar agt mense in die ark en deur die eeue was hulle die simbool van die kerk se ware gelowiges. Dít was egter nie ervaring van ons jong priester nie. Hy kon nie meer nie. Die spanningsvlakke en die stank het vir hom net te veel geword en hy wou net weg. Die arklewe was nie waarop hy gehoop het nie.

Dit was toe dat hy aan ontsnapping begin dink het. Hoe sou hy dit doen? Hy het aan verskeie strategieë gedink en toe op ‘n baie eenvoudige plan besluit. Hy sou doodluiters na die middagmaal wanneer almal ‘n bietjie rus, sy rugsak vat, geruisloos teen die ark se brandtrap uitklim, die boonste luik oopmaak, saggies uitklim en verdwyn. Teen die tyd dat die Noagfamilie besef hy is nie meer daar nie, sou dit te laat wees. Hy sou wegwees en nooit eers weer aan die ark en sy mense terugdink nie.

Uiteindelik het die regte oomblik aangebreek. Dit was warm in die ark, almal het klaar geëet en ‘n bietjie gaan rus. Stil-stil het die jong priester opgestaan, sy rugsak gevat en na die brandtrap gestap. Hy het goed gevorder en vinnige by die boonste luik gekom en dit stadig oopgemaak.

En toe sien hy iets waaraan hy nooit vroeër gedink het nie. Oral was daar net water en die golwe was groot en die watermassa het hom met enorme angs vervul. Op daardie oomblik het die priester besef hy kan nie ontsnap nie want hy sou nooit buite die ark oorleef nie. Skielik het hy aan Ciprianus se woorde eeue gelede gedink. (En natuurlik in Latyn want in die middeleeue was die kerktaal Latyn). Dit was asof hy kon hoor: ‘salus extra ecclesiam non est’; ‘buite die kerk geen saligheid nie’. Slegs in die ark (of die kerk) sou hy kon oorleef; slegs daar was hy veilig teen die wêreld se golwe, sorge en vernietiging; slegs daar sou hy uiteindelik vreugde vind.

Ontnugterd, maar ook bly het die priester die luik toegemaak en suutjies na sy klein ruimtetjie teruggeklim. Skielik het hy anders oor alles begin dink. Hy kon nie die mense in die ark verander nie, maar hy kon dit vir homself draagliker maak. Hy kon nie al die ark se irritasies laat verdwyn nie, maar hy kon dalk sy eie klein ruimtetjie lekker maak. Dit is toe dat hy ‘n besem vat en tussen die mis en die strooi vir hom ‘n plekkie skoonmaak. Sy plekkie in die ark waar hy gelukkig sou kon leef.

Oor die eeue het die kerk dom goed gesê en tot vandag toe vele vervreem. Baie voel die kerk het hulle in die steek gelaat en sien nie meer kans om te bly nie. ‘n Mens kan dit begryp, maar die verhaal van die jong middeleeuse priester beklemtoon dat dit tog nie so maklik is nie. Buite die kerk kan die lewe eensaam word en ‘n mens kan voel jy het iets gemis.

Bibliografie

  • Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • Chrysostomus. De Lazaro 7. MPG 48, Col 1037,1038.
  • De Lubac, H 2009. Medieval exegesis, Vol 3. Grand Rapids: Eerdmans.
  • Irenaeus. Contra Haeresis III, 24,1. MPG 7, Col 966.
  • Tertullianus. De Idololatria 24. MPL 1, Col 696.