Inleiding

Wanneer dit om menslike verhoudings gaan, hetsy persoonlik of in die breër samelewing, is dit bykans vanselfsprekend dat die Bybel vir Christene as vertrekpunt sal dien. Maar ongelukkig is die riglyne nie altyd so duidelik nie. Want, soos ons in Suid Afrika maar al te goed weet, is dit moontlik om enige standpunt te regverdig: die apartheidsbeleid sowel as die afskaffing daarvan, is ‘n pynlike voorbeeld. Die sogenaamde onderdanigheid van die vrou, is ‘n ander saak waaroor daar nog steeds in sommige kringe debat gevoer word. In hierdie teo-bydrae wil ek egter nie omstrede kwessies aanroer nie. Ek gaan slegs enkele blikpunte deur die oë van die Ou Testamentiese skrywers op die toestand van die mens self uitlig.

 

Die sonkant van die lewe

… menslike waardigheid

Psalm 8:5-6

Wat is die mens dan dat U aan hom dink

die mensekind dat U na hom omsien?

U het hom net ‘n bietjie minder

as ‘n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon.

 

Die strekking van hierdie versreëls kan met een woord opgesom word: menswaardigheid. Die hele Psalm 8 is dan ook in werklikheid ‘n samevatting van wat in Genesis 1 en 2 vertel word: God het die mens vir positiewe redes geskape, hulle is sy verteenwoordigers op aarde en deel in sy heerskappy oor die geskape wêreld.

Hierdie siening van die mens was radikaal anders as elders in die Ou Nabye Ooste. ‘Enuma elisj’, die sogenaamde Babiloniese skeppingsverhaal, vertel ook van die skepping van die mens. Nadat die god Mardoek die monsteragtige seegodin Tiamat verslaan het, het hy bloed van haar veggeneraal Kingu geneem en die mens daaruit geskape, sodat die mens as slawe vir die gode kan werk, terwyl laasgenoemde ‘n luilekker bestaan geniet. ‘n Mens wat met aansien en heerlikheid gekroon is – behalwe as dit miskien ‘n koning was – was eenvoudig ondenkbaar. Die skrywers van die Ou Testament, in Genesis 1 en 2, en Psalm 8, hou egter ‘n ander beeld voor: die mens wat deur God geskape is, het ‘n bepaalde waardigheid en verdien respek.

 

… die Sabbat

In Eksodus 20:8-10 en in Deuteronomium 5:12-14 stel die Here God die Sabbat as rusdag in, ‘n heilige dag wat spesiaal aan Hom gewy moet word. Dit opsigself was nie vreemd in die antieke wêreld nie. Al die gode het heilige dae gehad wat net aan hulle gewy is en waar feeste tot hul eer gevier is. Wat Israel se Sabbat egter anders maak, is dat hierdie dag as ‘n rusdag vir God se skepsels ingestel is.

          Hierbo is reeds daarop gewys dat rus – ‘n luilekker bestaan – in die res van die Ou Nabye Oosterse wêreld slegs vir die gode beskore was. Selfs op hul feesdae moes die mense soos slawe werk om hulle tevrede te hou. Die God van Israel het egter nie slawe nodig nie. Hy hoef nie mense te skape sodat Hy kan rus nie. Inteendeel, die teenoorgestelde gebeur. God gun die mens ook die voorreg om een dag van die week te kan rus. Hierdie rusdag geld egter nie net vir die koning of vryburgers nie. Eweneens word slawe en slavinne en selfs vreemdelinge by die Sabbatsrus betrek. En uiteindelik ook die diere.

          Dit is werklik merkwaardig. Rus, die voorreg van die gode word in ou-Israel uitgebrei om deur mens en dier geniet te word. Die Sabbat, die rusdag wat God instel, geld by implikasie vir sy hele skepping.

 

… heerskappy oor die skepping

Soos Genesis 1 en 2 en Psalm 8 aandui, is mense geskape om God se verteenwoordigers op aarde te wees en in sy heerskappy oor die geskape wêreld te deel. Hulle is heersers, nie slawe nie.

          Die begrip om oor die skepping te ‘heers’, is egter problematies. Wat word hiermee geïmpliseer? Is ekoloë en kampvegters vir diereregte dalk reg om tekste soos hierdie te blameer vir die verwoesting van die natuur en genadelose wreedhede van mens teenoor dier? Beteken om oor die skepping te ‘heers’ dat die mens nou vrye teuels het om alles uit te buit wat hy tot sy beskikking het?

          Dit is wel so dat die mens in die antieke kulture, ou-Israel ingesluit – nie soos ons vandag aan natuurbewaring gedink het nie. Die natuurlike wêreld was vir hulle ‘n bedreiging wat oorkom moes word. Byvoorbeeld, as hulle nie kanale gegrawe het nie, het hulle in die harde woestynwêreld nie genoeg watervoorsiening gehad nie. Wilde diere het hulle en hul kudde bedreig en moes uitgeroei word. Ensovoorts. 

          Om oor die skepping te ‘heers’ kan egter nooit ongebreidelde verwoesting regverdig nie. Nog nooit kon die mens maak en breek net soos hy wil nie. In die boeke Levitikus (25:1-7) is daar baie duidelike voorskrifte dat landbougrond nie uitgeput mag word nie, en Deuteronomium 25:4 gee ‘n direkte opdrag teen wreedheid teenoor diere:  ‘Jy mag nie ‘n bees waarmee jy gaan dors, se bek toebind nie.’

          Om oor die skepping te ‘heers’ impliseer dus eerder dat die mens die skepping tot sy beskikking het, maar dat hy nie roekeloos daarmee mag omgaan nie. Hy moet dit eerder met die grootste sorg bestuur sodat hy as’t ware ‘n medewerker van God word om sy skepping ten volle te laat ontplooi. God het die wêreld vir die mens geskape om te gebruik, maar hy moet dit op ‘n verantwoordelike wyse doen. Die verhouding mens-skepping is dié van ‘n kundige tuinier, nie ‘n tiran nie!

 

… geskape na die beeld van God

‘Laat Ons ‘n mens maak na ons beeld, na Ons gelykenis …’ en God het die mens geskape na sy beeld; … man en vrou het Hy hulle geskape (Gen 1:26 & 27). Hierdie twee verse in Genesis 1 is van die moeilikstes in die Ou Testament om te verklaar, en laat ons uiteindelik met meer vrae as antwoorde. Daarom gaan ek nie hier op die komplekse vrae in nie, maar ek gaan enkele afleidings maak wat wel op die skepping van die mens van toepassing is.

          Ek het reeds op die verhewe status van die mens in die Ou Testament gewys, naamlik dat hy nie as slaaf nie, maar as God se medewerker in die skepping geskape is. Geskape na die ‘beeld / gelykenis’ van God brei nog ‘n bietjie meer hierop uit. (‘Beeld’ en ‘gelykenis’ in Gen 1:26 word as sinonieme in ‘n parallelle konstruksie gebruik.) Net soos in die res van die Ou Nabye Oosterse wêreld, het ook ou-Israel hul God in menslike, oftewel antropomorfiese beelde voorgestel. Gode het soos mense gelyk en dieselfde eienskappe as mense openbaar. In die Mesopotamiese en Kanaänitiese kulture, en in die Grieks-Romeinse wêreld, het gode net soos mense geleef. Hulle het geëet, gedrink, en gemeenskap gehad. Hulle kon kwaad en jaloers word, hulle het begeer, liefgehad en gehaat. Twee dinge het gode egter anders as mense gemaak: net die gode kon vir ewig lewe, en hulle het onbeperkte mag gehad.  

          Ofskoon die sterflikheid van die mens nie ontkom kon word nie, was die ‘beeld van ‘n god’ iets wat slegs in ‘n mindere of meerdere mate op die Ou Nabye Oosterse koning van toepassing was. Die Mesopotamiese konings was weliswaar nie self goddelik nie, maar hulle is wel deur die gode aangestel om op aarde te heers. Egiptiese farao’s is egter gesien as ‘n reïnkarnasie van die god Horus. Slegs die koning kon werklik (soms) rus. Slegs die koning kon opdragte gee wat uitgevoer word, sonder dat hy ‘n vinger hoef te lig. Die blote gedagte dat ‘n gewone mens na die beeld van ‘n G/god geskape kon wees, was egter ondenkbaar.

          In ou-Israel het nie net konings nie, maar elke mens, nie net die koning nie, iets van ‘n goddelike beeld gedra. Alle mense, manlik en vroulik is na die beeld van God geskape. (‘n Beter vertaling van vers 27 sal wees: … ‘manlik en vroulik het Hy hulle geskape.’ Die Hebreeuse woorde dui eerder op biologiese geslag as op ‘n werklike man en ‘n vrou.) Net soos wat elke mens bevoorreg is om op die Sabbat te kan rus, so dra elke elke mens, manlik of vroulik die beeld van God in hom of haar. Elke mens in die ou-Israelitiese samelewing het dus respek verdien, ongeag status, ongeag geslag.            

       

Die skadukant van die lewe

… die eindigheid van bestaan

Die ewige lewe was slegs vir antieke gode en ook slegs vir die God van ou-Israel bestem. Elke mens, koning of onderdaan, slaaf of vryburger, het die een of ander tyd gesterf. Behalwe antieke Egipte en die latere Zoroatrisme van die Perse wat ‘n uitgebreide en ingewikkelde verstaan van die lewe na die dood gehad het, was die hiernamaals vir die res van die antieke volke bra uitsigloos.

          Mesopotamië se Kurnugia (‘land-sonder-omdraaikans’) en Griekeland se Hades word uitgebeeld as ‘n donker morbiede plek waar gestorwenes se skimme doelloos dryf en by mekaar verby ritsel. Sheol van die Ou Testament is soortgelyk. In Afrikaans word Sheol meestal vertaal met ‘doderyk’, ‘put’ of ‘graf’, en soms geassosieer met die lot wat die goddelose na sy dood tref (bv Ps 9:18). Maar die nadoodse bestaan in Sheol (Hades en Kurnugia) moet egter nie verwar word met wat ons vandag met ‘hel’ assosieer nie. Dit was nie ‘n plek van straf of marteling nie. Alle mense – goed of boos – hetdie dag as hulle sterf, daarheen verhuis. Só beskryf Hiskia dit wanneer hy van sy siekte genees word: ‘In die doderyk (Sheol) kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan U trou nie!’ (Jes 38:18). Sheol, net soos Hades en Kurnugia was eerder die verblyfplek van die gestorwenes waar hulle van mens en G/god afgesny is.              

          Die dood was dus ‘n realiteit waarvan die antieke mens maar al te bewus was. En net soos hul Ou Nabye Oosterse bure, het die skrywers van die Ou Testament ook gewonder waarom dit so is dat die mens moet sterf. Daarom het hulle die verhaal van Genesis 2-3 geskryf. Die slang verlei die vrou om die vrug aan die verbode ‘boom van kennis’ te eet; sy op haar beurt verlei die man om ook daarvan te eet. Omdat hulle die Here God se verbod oortree het, stuur Hy hulle weg uit die tuin om swaar te kry en hard te werk, maar hul grootste verlies is dat hulle die moontlikheid om vir ewig te lewe, verloor het.

          Daar is soortgelyke verhale in die res van die Ou Nabye Ooste. Mense word as sterflike wesens geskape; nogtans kry hulle wel ‘n kans om soos die gode vir ewig te lewe. Maar een of ander goddelike of semi-goddelike wese verkul hulle op ‘n slinkse wyse sodat hulle hierdie kans onherroeplik verloor. Die mite van Adapa is so ‘n voorbeeld. Adapa vaar eendag op sy vissersboot. Dan kom die Suidewind en keer die boot om, en daarom breek Adapa die wind se vlerke. Hy word gedaag om voor die goderaad te verskyn en ‘n verduideliking vir sy optrede te gee. Ea, een van die gode raai hom aan om baie nederig om verskoning te vra, maar om niks te eet of te drink wat hom aangebied word nie – dit sal aanstoot gee. Die hoofgod Anu is só beïndruk met Adapa se pleidooi en hy bied hom die voedsel van die ewige lewe aan. Adapa volg egter Ea se raad en wys dit van die hand – en daardeur verbeur hy sy kans op onsterflikheid!  

Dieselfde gebeur in die Genesis-verhaal. Hierdie verhaal word ook soms die ‘Sondeval’ genoem, waarskynlik na aanleiding van die Wysheid van Salomo se interpretasie: ‘God het die mens gemaak om onverganklik te wees. Hy het hom as beeld van sy eie wese gemaak. Die duiwel was nie daarmee tevrede nie en deur sy jaloesie het die dood in die wêreld ingekom’ (2:23-24). Die Wysheid van Salomo is ‘n apokriewe boek wat in die laaste helfte van die eerste eeu vC op skrif gestel is. Dis in Grieks, en waarskynlik in Aleksandrië geskryf. Teen hierdie tyd het Judaïsme van ‘n monistiese tot ‘n dualistiese godsdiens ontwikkel met ‘n uitgebreide en ingewikkelde leer oor goed en boos, engele en demone en kragte en magte wat teenoor mekaar staan en mekaar probeer vernietig.

Paulus was met hierdie boek vertroud, en daarom skryf ook hy in Romeine 5:12: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.’ Die Genesis-verhaal het wel met ‘n oortreding te make, maar die oorspronklike bedoeling van die teks moet altyd in gedagte gehou word, naamlik om vir die mens te verduidelik waarom die lewe moeilik en vol swaarkry is, en waarom hy moet sterf.

 

… die broosheid van die mens

Lyding. Sinlose lyding. Waarom gebeur slegte goed met goeie mense? Dit is die kern van die teodiseevraagstuk, en nêrens word dit beter uitgebeeld as in die boek van Job nie. Job, die goeie en godvresende man, verloor bykans oornag alles wat vir hom kosbaar is, al sy rykdom en besittings, en die grootste tragedie van alles, ook sy kinders. Hy kan dit nie verstaan nie. Nooit, nie eers in die ontknoping van die drama nie, sou Job van die weddenskap tussen God en die satan uitvind nie.

          In sy ellende sing Job ‘n ander deuntjie as die mooi beskrywing van die mens in Genesis 1 en sy beloofde Sabbatsrus. Hy sê: ‘Is ‘n mens se lewe op aarde nie maar harde arbeid nie, en sy dae soos dié van ‘n dagloner nie? Sy lewe is soos dié van ‘n slaaf wat smag na koelte …’ Nie in die gelykenis van God nie, maar soos ‘n slaaf is die mens, boonop ‘n slaaf vir wie geen rus gegun word nie. Job keer die positiewe siening van die mens en al die voorregte wat hy kan geniet, heeltemal op sy kop.

          Psalm 73:4-5 vra dieselfde vraag, maar die digter stel dit andersom: hoekom word goeie mense met voorspoed geseën? Hy sien die voorspoed van die hooghartige goddeloses en hy merk op: ‘Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie.’ Prediker (7:15) beaam dit heelhartig, wanneer hy sien dat ‘’n regverdige gaan onder, al doen hy reg, ‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd.’

          Die lewe is moeilik. Die lewe is kompleks. Die lewe is onbillik. Die weë van God is onpeilbaar. Die mens word uitgelewer aan omstandighede wat hy nie verstaan nie en waaroor hy geen beheer het nie. Pyn en lyding, is deel van menslike bestaan, en elke mens is kwesbaar.

 

… wat is dan die sin van die lewe?

Saam met die boek Job, word die boek Prediker ook soms ‘n boek van ‘pessimistiese wysheid’ genoem. Hierdie soort wysheid kom te staan teenoor die ‘optimistiese wysheid’ wat verkondig dat daar ‘n logiese en kousale verband tussen daad en gevolg is: as jy goed doen, sal jy met seën beloon word; as jy kwaad doen, sal jy met teëspoed gestraf word. Die lewe werk egter nie so nie. Job vertel ‘n verhaal om dit te illustreer; Prediker gebruik bestaande spreuke en keer dit op sy kop.

          ‘Alles kom tot niks,’ is die eerste woorde van die Prediker (1:2), en hierdie frase word refreinmatig deur die hele boek herhaal. Of soos die Ou Vertaling sê, ‘Alles tevergeefs, en ‘n gejaag na wind.’ Oënskynlik dan ‘n baie negatiewe boek. Geen arbeid, geen geswoeg of gesweet werp die verwagte vrugte af nie. Inteendeel, meestal gebeur die omgekeerde, en meer as een onaangename verrassing wag op die mens.

          Maar dit is nie heeltemal die boodskap wat die Prediker wil oordra nie. ‘n Hele paar keer raai hy die mens ook aan om te eet, te drink en die lewe te geniet (vgl bv 2:24; 3:13; 5:17; 8:15). Wat Prediker eintlik probeer sê, is dat die lewe absurd is, daar is geen voorspelbare logika nie en niks maak sin nie. ‘n Mens gaan jou kop breek om dit alles te probeer verstaan, want jy gaan nie daarin slaag nie. Hoe langer en hoe meer jy uit die sinloosheid sin probeer maak, hoe meer sinloos raak alles. Omhels dus die oomblikke van genot, en gee daardeur sin aan die lewe. Prediker se raad is dat die lewe as sodanig geen sin het nie; die mens is die een wat self sin aan sy eie lewe gee. Amper  postmodernisties!

 

… mans en vroue

Kan die Ou Testament met reg daarvoor gekritiseer word dat dit ‘n vrou-onvriendelike boek is wat die patriargale stelsel ondersteun en die dominasie van die man oor die vrou regverdig? Dit wil so lyk. Daar is meer manlike as vroulike hoofrolkarakters; wetgewing bevoordeel hoofsaaklik mans; verhale van verkragting en moord (bv Gen 19; Rigters 19) bevestig die manlik-chauvinistiese aard van die boek.

          Tog is daar ‘n hele paar aangename verrassings. Die eerste daarvan is reeds bespreek, naamlik dat die mens, manlik en vroulik na die beeld van God geskape is (Gen 1:27). En op die Sabbat moet seun en dogter, slaaf en slavin rus (Eksod 20:10; Deut 5:14). Rigters (4-5) vertel van Debora, ‘n vrou wat raadgegee en leiding in oorlogstyd geneem het. Dan is daar verhale van slim vroue wat elkeen op die een of ander wyse ‘n man ore aangesit het: Rebekka, Tamar en Rut. Twee vroue, Ester en Judit is direk daarvoor verantwoordelik dat hul volk van algehele uitwissing gered word.

          Ons kan egter nie daarby verbykom of dit probeer wegredeneer nie: die Ou Testament het in ‘n patriargale samelewing ontstaan en ontwikkel. Die ou-Israelitiese samelewing was tradisioneel en oorwegend deur mans gedomineer. In ou-Israel het mans en vroue nie gelyke status beklee of gelyke regte gehad nie. Nogtans adem die skrywers van die Ou Testament ‘n besondere waardering en respek vir die vrou, en nooit word onderdrukking of brutale geweld goedgepraat nie. Wanneer die verskillende verhale oor vroue teen hierdie patriargale agtergrond gelees word, is dit des te meer merkwaardig dat hul stories ook in die Hebreeuse Bybel opgeteken is.

 

Slot

Die Hebreeuse Bybel gee nie vir ons een prentjie nie, maar ‘n omvattende beeld van die mens. Enersyds optimisties: mense is na die beeld van God geskape, soos God mag hulle ook rus, en saam met God is hulle medeverantwoordelik om die skepping te bestuur. Andersyds was die Ou Testamentiese skrywers ook diep bewus van die broosheid van menswees, van wanhoop en lyding, van sterflikheid. Hulle het nie van die kompleksiteit van die lewe en moeilike, selfs onbeantwoordbare vrae teruggedeins nie. Hulle het ook geweet dat ‘God en geloof’ nie altyd die antwoord is nie. Die Ou Testament vier menswees in al sy fasette, van vrolikheid na olikheid, van optimisme na neerslagtigheid, dit besing die nabyheid van God, maar weet ook hoe dit voel as God as afwesig en onbetrokke ervaar word. Die Ou Testament is ‘n boek van die lewe.   

 

Bron: [Hierdie artikel is gebaseer op Hoofstuk 2.3, ‘Who am I?’ Paginae 60-71 in]

Barton, J & Bowden, J 2004. The Original Story. God, Israel and the World. London: Darton, Longman & Todd.

Share this / Deel hierdie: