Inleidend

Teologiese opleiding is seker van die mees belangrike werk waarmee die kerk haarself besig hou. Om hierdie rede is hierdie ontmoeting jaarliks met dosente van die fakulteit altyd ‘n besondere geleentheid. By hierdie geleentheid verneem die kerk graag na die wel en weë van die fakulteit. Vir die kerk is dié welstand van die fakulteit van uiterste belang.

Die NG Kerk staan in ‘n tradisie van noue skakeling met wetenskaplike denke en professionele kultuur. Ons teologiese tradisie lei ons om nie in agterdog terug te trek in ’n eie hoekie nie, maar die wêreld van die wetenskap as ’n uitdaging te beskou en in gesprek daarmee te tree.  Om hierdie rede word teologiese opleiding aan ’n universiteit gesetel, steeds deur die kerk gekoester en beskou as die beste manier om opleidingstandaard en kwaliteit te verseker.

 

‘n Nodige spanning

Hierdie ontmoeting vandag geskied teen die agtergrond van ‘n inherente spanning tussen kerk en fakulteit. Die teologie, die teologiese fakulteit en teologiese opleiding, asook die posisie van die verhouding tussen universiteit en kerk, is aan ’n legio van werklikhede en visies blootgestel waarvan sommige mekaar komplementeer en ander mekaar selfs opponeer. Die kerk en universiteit verteenwoordig verskillende paradigmas en benader derhalwe etlike belangrike sake verskillend. Die universiteit is veronderstel om ietwat van die gewone lewe en werklikheid verwyderd te wees, ten einde die wetenskaplike spel van idees moontlik te maak. Die kerk weer is direk betrokke by die alledaagse werklikheid en die oorlewingstryd van haar lidmate. Hierdie spanning moet daar wees omdat dit, in die woorde van David Bosch, ‘n kreatiewe spanning is. Dit is ‘n spanning wat nie nuut en verontrustend is nie maar wat broodnodig is sodat teologie en die kerklike konteks mekaar kan komplementeer. In die spanningsveld tussen kerk en fakulteit kom die koninkryk.

Teologie is per definisie krities. Die verhouding van kerk en fakulteit kan daarom die beste beskryf word, in die woorde van Julian Müller(2007), as krities-solidêr. Teologie het ‘n krities-reflekterende funksie, terwyl dit ook veronderstel is om lojaal binne die kerklike teologiese tradisie te staan en om gevestigde teologiese waarhede oor te dra. Dit geld ook vir ons eie konfes­sioneel-kategetiese model van teologiese opleiding. So was dit van die begin en so moet dit bly. Waar hierdie elemente afwesig is of onderdruk word, word die gevaar van fundamentalisme ‘n werklikheid. Uiteindelik gaan dit om in hierdie spanningsveld ‘n balans te vind wat net deur gelowige en teologiese sensitiwiteit moontlik is. Die gevolg van hierdie inherente spanningsverhouding is dat daar van tyd tot tyd situasies van ongemak kan ontwikkel. Kerk en fakulteit kan op ‘n gegewe oomblik vir mekaar ‘n verleentheid word. As die verhouding egter volwasse is, behoort beide dit egter te interpreteer as ‘n uitdaging tot introspeksie en selfkritiek. So was dit dan ook die afgelope tyd die geval.

Hiermee ‘n paar sinne om net weer eens te bevestig dat die fakulteit vir die kerk van onskatbare waarde is. Ons neem graag vrymoedigheid om met die fakulteit as vennoot in gesprek te tree oor die behoeftes van die kerk ten opsigte van teologiese opleiding. Die aantal behoeftes wat nou uitgelig word maak nie aanspraak op volledigheid nie. Lede van die vergadering kan tydens die bespreking nog behoeftes lys.

 

Kerklike verwagtinge aan die fakulteit

Inleidend verwag die kerk van die fakulteit dan die volgende:

  1. As die kerk se akademiese vennoot is die verwagting van die fakulteit dat die opleiding van voornemende predikante moet geskied met die fokus op spirituele vorming binne ‘n klimaat van akademiese uitnemendheid. Tussen die akademiese opleiding en spirituele vorming moet daar ‘n gesonde wisselwerking wees. Spirituele vorming fokus op geestelike leierskap binne die konteks van die bediening in ‘n gemeente. Akademiese opleiding weer fokus op die onderrig van die teologie as vakgebied. Hierdie twee fokusareas moet gesien word as komplimentêr tot die ontwikkeling van potensiële predikante en teoloë.
  2. Uit die aard van die saak moet die opleiding kontekstueel relevant wees. Teologiese opleiding moet erns maak met die veranderende kerklike milieu. Vaardigheid en kundigheidsvlakke van proponente moet nie wêreldvreemd wees nie. In ‘n dinamiese veranderende samelewing met al sy uitdagings moet ‘n nuwe geslag predikante as vaardige teoloë die kerk missionêr kan rig. Hiervoor is nodig dat goeie integrasie sal plaasvind tussen teologie en praktyk. Dit is belangrik dat dosente in voeling moet bly met die veranderende kerklike praktyk sodat opleiding ten alle tye op die praktyk afgestem kan wees.
  3. In die diskoers rondom teologiese opleiding word die vorming van die karakter van die student met die oog op die bediening ‘n belangrike tema. In 1999  skrywe Robert Banks: “While most seminary teachers recognize that moral and spiritual formation begins at home and congregations, and continues in other contexts alongside seminaries, and develops afterwards in various ministry settings, there is a growing concern that it must be an intentional part of seminary training, both inside and outside the classroom.” (1999). Charles Foster praat van teologiese opleiding in terme van  “The Pedagogy of Formation” (2006).
  4. Die kerk vra dat daar ruimte sal wees om aan die eenkant ‘n hegte verhouding te kan hê maar tegelykertyd ook ‘n kritiese afstand te kan handhaaf.  Wedersydse verknegting kan beide kerk en teologie in die gevaar stel. Die kerk wil in voeling met die teologie bly en dit volgens eie maatstawwe en geloofsoortuigings beoordeel maar respekteer ook die akademiese vryheid van die fakulteit.
  5. Groter samewerking tussen fakulteit en kerk oor die bepaling van die inhoud en aanbieding van kursusse sal waardeer word. Dit kan beteken dat die kerk, in die lig van bedieningseise en die kerk se roepingsverstaan, met die fakulteite kan onderhandel met die oog op ‘n bepaalde fokus in die aanbieding van onderskeie vakke en wie dit aanbied.
  6. Inspraak by die aanstelling van dosente en toesig oor teologiese opleiding vir sover dit die vorming van toekomstige predikante raak, sal altyd vir die kerk belangrik wees.
  7. Vir die NG Kerk is dit uiteraard van groot belang dat die opleiding steeds ‘n gereformeerde karakter sal hê. Die binding aan die kerklike belydenisskrifte, waar dit reg verstaan word, hoef nie die vryheid van die teologie as wetenskap te bedreig nie.

Hierdie lysie kan en sal seker in ons verdere gesprek aangevul kan word. Die kerk sal egter ook in sy verwagtings realisties moet bly. Die Fakulteit kom en sal toenemend onder druk kom om meer gerig te wees op ‘n algemene mark en minder op die eng denominasionele NG-mark. Die universiteitwese is by elitisme verby. Universiteite is nou veel meer demokraties. Dit word gesien as ’n landsbate vir en ten behoewe van die nasie. Die staatsuniversiteit is meer bewustelik betrokke by die ideologiese, ekonomiese en sosiale strategieë van die regering van die dag.Kerklike belange en universitêre belange is soms moeilik versoenbaar binne een fakulteit. Teologiese dosente, net soos alle ander dosente, word verplig om te probeer oorleef in ‘n omgewing waarin ‘n groot premie op navorsing en navorsingsuitsette geplaas word. Dosente moet twee here dien kerk en universiteit. Hiervoor moet die kerk sensitief wees en dit moet nie die rede wees om bedenkinge oor die lojaliteit van die fakulteit en dosente te hê nie. In die tussentyd die kerk egter poog om soveel as moontlik van die opleiding by die universiteit te laat tuiskom. Op hierdie pad moet ons as kerk ons volle lojaliteit en samewerking gee, totdat staat en universiteit ons anders dwing. Die gesprek tussen die kerk en Fakulteit moet tot voordeel van teologiese opleiding voortduur. ‘n Gesonde spanning moet gehandhaaf word. Die beste teologiese opleiding is altyd die ideaal en in die proses moet die Fakulteit ook sy verwagtinge aan die kerk as die ander vennoot op die tafel sit. Waar die Fakulteit as gevolg van watter redes ookal sekere uitkomste nie meer kan bereik nie moet die kerk eienaarskap vir leemtes aanvaar ten einde die beste teologiese opleiding prakties moontlik te kan verseker.

 

Bronne

  • Banks, Robert, Reenvisioning Theological Training, Eerdmans 1999
  • Foster, Charles R (ed), Educating Clergy, Jossey-Bass 2006
  • Marais, F, The formation of Spiritual Leadership for Congregational Ministry in the Southern African,  context, July 2011
  • Müller, J, Wat verwag die Fakulteit van die Kerk? 2007, www.teo.co.za

Van der Merwe, P, Teologiese opleiding in die spanningsveld tussen kerk en en universiteit, Februarie 2010, www.teo.co.za

Share this / Deel hierdie: