Inleiding

Baie mense, veral jongmense verlaat die tradisionele institusionele kerke, op soek na alternatiewe vorms van spiritualiteit. Wicca is een daarvan. Vir baie mense is Wicca sinoniem met magie en heksekuns (magic and witchcraft) en verwant aan allerlei okkulte praktyke. Wicca het inderdaad met hekse te doen, en hedendaagse hekse sluit mans ook in. Verder is magie en heksekuns is deel van hul praktyk, maar, so beweer moderne Wicca’s, die doel daarvan is konstruktief en hoegenaamd nie deel van satanisme nie. Teo ondersoek die saak.

 

Oorsprong

Wicca is afgelei van die Oud-Engelse woorde wicca (manlik) en wicce (vroulik) (Drury 2004:167). Die wette van koning Alfred (890 nC) verwys na ‘wiccan’ – hekse – en dieselfde woord word as werkwoord gebruik wat beteken ‘om te betoor’ (to bewitch). Maar in die Oxford Dicitionary of English Folklore (1552) beskryf Biskop Latimer dit as ‘n ‘kunsvorm van die wyses’. Nietemin het die Britse Wet in 1605 ‘n streng verbod op heksekuns geplaas, en dit is finaal eers in 1951 herroep.

   In die tweede dekade van die vorige eeu, in 1921, het ene Margaret Alice Murray, ‘n Egiptoloog en ‘n antropoloog, ‘n teorie voorgestel dat die heksejagte in die vyftiende en sestiende eeue in Europa en Engeland eintlik pogings was om oorblyfsels van ‘n pre-Christelike religie uit te wis. Wicca, as ‘n paganistiese relegie is waarskynlik ‘n direkte gevolg van hierdie teorie. Heksevergaderings (nog nie Wicca genoem nie), kom vir die eerste keer bymekaar in 1930 in Engeland rondom die streke van Cheshire, Norfolk en New Forest (Bourne 1989:51). Alhoewel Murray bewerings vandag nie meer aanvaar word nie, raak Wicca as religie toenemend populêr, met die grootste verspreiding in Engeland, Noord-Amerika, Australië, en Suid-Afrika (http://en.wikipedia.org/wiki/Wicca p 14 gee ‘n aanduiding).

   Een van die prominente figure wat met Wicca geassosieer word, is Gerald Gardner (1884-1964) (vgl Heselton 2003; Drury 2004:167). Gardner sluit by Murray aan en stem saam dat modene heksekuns teruggevoer kan word na ‘n georganiseerde pagan-relegie in Engeland in die tyd van heksejagte. (Ook sy teorie word vandag in twyfel getrek). In 1953 word Doreen Valiente deur Gardner self in sy hekse-vergadering (coven) ingelyf waar sy spoedig tot hoëpriesteres vorder. Tussen 1954-1957 werk hulle saam om die basis van hedendaagse Wicca te lê. Die tradisie wat hulle vestig, word na Gardner vernoem en staan vandag bekend as ‘Gardneriaanse Wicca’. Twee jaar later skryf Gardner ‘n boek, The Meaning of Witchcraft waarin hy ook die hoop uitspreek dat heksekuns weer ‘n plek in die moderne tegnologiese samelewing sal kry as ‘n outentieke, natuur-gebaseerde spirituele tradisie. Heksekuns moet vir die breë publiek toeganklik wees en jongmense moet die ou pagan-gebruike laat herleef (Drury 2004:169).

   Gardner het twee belangrike Wicca-tradisies gevestig. Hekse moet verkieslik skyclad – dit wil sê naak – werk. Gemeenskaplike naaktheid, sonskyn en vars lug is natuurlik en fisies sowel as psigologies voordelig, aldus Gardner. Verder besit elke heks ‘n sogenaamde Book of Shadows. Gardner was die eerste wat so ‘n boek aangehou het. Dit bestaan uit uiteenlopende bronne, onder andere Rudyard Kipling, Charles Leland, gedigte wat hy en Valiente geskryf het, rituele vir Wicca-geleenthede ensovoorts. Die Book of Shadows is nie ‘n heilige skrif nie. Aanvanklik skryf ‘n student die boek oor van die een wat hom of haar inisieer het, maar verander aan dinge wat nie meer van toepassing is nie, of voeg persoonlike idees by van iets wat wel goed werk (Drury 2004:170; Lamond 2004:14). En, sodra ‘n student genoeg uit sy of haar voorganger geput het, word die boek verbrand na die dood van die heks.                               

   Gardner was betreklik beskeie en het verkies om uit die publieke oog gebly, maar dit sou Alex Sanders (1916-1988) en sy vrou Maxine wees wat aan heksekuns ‘n bepaalde bekoring sou verleen (Drury 2004:172). Hulle bou voort op die Gardneriaanse tradisie maar lê groot klem op seremoniële magie – wat natuurlik die aandag van die media getrek het. In sy tyd word die term Wicca amptelik ingebruger. [Gardner se praktyke het nog bekend gestaan as heksekuns – of witchcraft.] ‘n Tweede Wicca-tradisie word gevestig, naamlik die Alexandriaanse tradisie. Kenmerkend van hierdie tradisie is die verering van die Maangodin, en spoedig brei Wicca uit na lande soos Australië en Noord-Amerika.

   Janet en Stewart Farrar is in Alex Sanders se heksevergadering geïnisieer en die egpaar speel sedert 1970 ‘n leidende rol in London se Neopaganistiese gemeenskap (Drury 2004:174). Janet Farrar maak dit baie duidelik dat die hoofdoel van heksekuns ‘n spirituele ineenvloeiing tussen manlike en vroulike polariteite is en om die heilige band tussen mens en natuur te herstel. Die idee is beslis nie om ‘n dominant manlike kultuur met ‘n dominant vroulike kultuur te vervang nie. Heksekuns moet albei in staat stel om in perfekte harmonie met mekaar saam te werk. ‘n Paganistiese wêreldbeeld wat sensitief is vir die natuur, die mens se verhouding met die aarde, omgewing en mede-skepsels is daarom bevorderlik. Vir 2000 jaar lank was kultuur en godsdiens dominant manlik en was die lewe ongebalanseerd. Die balans moet herstel word en dit word moontlik as die vroulike aspek, die Godin herontdek word. Die Farrars beklemtoon ook die drievoudige aspek van die Godin: Maagd (jeug, betowering), Moeder (volwassenheid, vervuling), Ou Vrou ([Crone] ouderdom, wysheid) (Farrar & Farrar 1987:29-37), dit wil sê, die volle omvang van vrouwees.     

 

Kenmerke

Dit is moeilik om tipiese kenmerke van Wicca te beskryf, want soos alle religieë is daar ‘n hoofstroom Wicca en ‘n hele aantal uitwasse. Veral onder die invloed van Sanders en die Farrars is dit duidelik dat Wicca as ‘n duoteïstiese religie getipeer kan word, naamlik,  die verering van ‘n god en ‘n godin (Farrar & Farrar 1987:2-3; 59). Maar juis die herontdekking van die vroulike, tesame met die opkoms van feminisme het aanleiding gegee dat sekere groepe slegs die Godin erken en vereer. Dianiese Wicca (wat die Godin na die antieke Romeinse Diana vernoem), is ‘n monoteïstiese vorm van die religie. Ander Feministiese groepe wat ook slegs die Godin vereer, noem hulself nie Wicca nie, maar Godin-aanbidders (Drury 2004:175).  

   Verder is dit ook nie altyd duidelik of die god en godin as persone gesien word en of hulle eerder ‘n simboliese beliggaming van die hele kosmos is nie (vgl Pearson, Roberts & Samuel 1998:6). Sulke simboliese assosiasies is byvoorbeeld die Godin as die Aarde (Moeder Aarde), maar ook die Maan, en die God as die Son maar ook ‘n soort universele lewensenergie. In hierdie sin is Wicca dus minder van geloof en godsdiens, en meer die beoefening van ‘n vorm van animisme, selfs panteïsme.  

   Hekse kom meestal bymekaar in ‘n tradisionele heksevergadering (coven) wat uit dertien lede bestaan: ses vroue, ses mans en ‘n Hoëpriesteres. As daar nuwelinge bykom, verlaat bestaande lede die groep en vorm ‘n eie heksevergadering. Hierdie getal kan egter wissel (Drury 2004:162). Die algemene reël is dat ‘n man deur ‘n vrou geïnisieer word, en ‘n vrou deur ‘n man, maar ‘n ouer mag ook ‘n kind van dieselfde geslag iniseer. Die meeste heksevergaderings laat egter nie iemand jonger as een en twintig toe nie.

   Die middelpunt van Wicca-rituele staan bekend as Drawing down the Moon (vgl Adler 1979:164) met die doel om mense as individue en groepe in die kosmos te her-integreer. Hierdie ritueel word hoofsaaklik deur die Hoëpriesteres van die vergadering uitgevoer, maar sy kan ook deur die Hoëpriester bygestaan word. Sy gaan ‘n droomtoestand binne en sy, of die Hoëpriester wat haar bystaan, versoek dat die Godin, gesimboliseer deur die maan, haar liggaam binnekom en deur haar praat. Die Hoëpriesteres word dan die inkarnasie van die Godin. Hierdie ritueel word met baie simboliese objekte uitgevoer, onder andere ‘n beker wat die Godin se wysheid en intuïsie ontvang, en ‘n athame – n seremoniële dolk wat haar maat simboliseer. [Die athame word hoofsaaklik gebruik om energie te stuur, nooit om te sny of te steek nie (vgl Drury 2004:183)]. Die gedagte aan seksuele eenwording is duidelik, en waar hierdie ritueel in Gardneriaanse of Alexandriaanse heksevergaderings uitgevoer word, is die lede uiteraard naak. Volgens sommige Wiccas kan hierdie ritueel ook teruggevoer word na die Ou Keltiese mitologie van die eenwording tussen die Heilige Eik en Moeder Aarde. Vervolgens staan die Hoëpriester bekend as die ‘Eikekoning’ – ‘n verwysing na die Heilige Eik van die Kelte. Soms word hy ook Cernunnos genoem – dit beteken ‘horingsman’ en is die naam van die Keltiese god van wilde diere. Ongelukkig en verkeerdelik word parallelle soms getrek tussen Cernunnos en die Duiwel met die horings (Drury 2004:162).             

   Wicca’s aanvaar die krag van magie – toorkuns. Seremonies word uitgevoer terwyl die lede in ‘n magiese sirkel beweeg. Die sirkel simboliseer onder andere die baarmoeder van die Godin en ‘n mikro-kosmos van die universum. Tydens Wicca-seremonies word die sirkel ‘n magiese ruimte waar sigbare en onsigbare realiteite mekaar ontmoet (Drury 2004:182). Die vier elemente, aarde, lug, vuur en water speel ‘n prominente rol, en daar is ook sekere tipiese instrumente wat gebruik word om energie te kanaliseer. Wicca onderskei tussen ‘swart’ en ‘wit’ magie: eersgenoemde het die bedoeling om iemand doelbewus seer te maak of om persoonlike mag en eiebelang te bevorder, terwyl laasgenoemde te make het met rites van genesing, om kwaad of siekte af te weer, en om ‘n spirituele bewuswording te help ontwikkel. Sommige Wicca’s teken beswaar aan teen teen die benaming ‘swart’ magie aangesien dit ‘n negatiewe konnotasie aan die kleur swart verleen, maar die meeste is dit eens dat negatiewe magte sover moontlik afgeweer moet word.

   Wicca, as ‘n natuur-geöriënteerde religie vier ook die siklusse van die son en die maan. Die volmaan, so glo Wicca’s, straal energie uit wat spirituele bewuswording verhoog, en daarom vier heksevergaderings elke volmaan in elk van die dertien maan-maande met oorgawe. Dit staan bekend as esbats en is ‘n tyd vir rites van beswering, liefde en genesing. Die sonsiklus bestaan uit agt sabbatte en word ook genoem Wiel van die Jaar. Hulle val saam met die twee groot sonkeerpunte in Junie en Desember, die twee dag-en-nag-eweninge in Maart en September, en vier punte tussenin. Elke sabbat kondig dus die wisseling van die seisoene aan en beklemtoon terselfdertyd die fertiliteitsiklus in die Natuur (vgl Drury 2004:164-166). En, in tred met die gang van die Natuur, verskil die feestye in die Suidelike en Noordelike hemisfere. Byvoorbeeld Halloween – of Samhain – die tradisionele begin van die pagan-jaar, word in die Noorde op 31 Oktober gevier, en in die Suide op 30 April. Opmerklik is die Keltiese mitologie wat  in name van die Sabatte weerspieël word. Samhain beteken ‘einde van die somer’. Die sterwende son vertrek na die onderwêreld waar hy in die baarmoeder van die Groot Moeder lê en slaap totdat sy nuwe lewe laat ontkiem. Vir Wicca’s is dit ‘n routydperk. Die ‘sterwende son’ verskerp ook Wicca’s se bewussyn van lewe en dood. Dis asof die gordyn tussen ‘hier’ en ‘daar anderkant’ bykans deursigtig word, en die Sabat van Samhain is vir baie Wicca’s die ideale geleentheid om kontak met die geesteswêreld te maak. Dis ‘n tyd om eer aan die gestorwenes te bewys, maar dit is ook tyd om oor ‘n mens se eie mortaliteit na te dink.      

   Reïnkarnasie ‘n konsep wat deur sommige Wicca’s aanvaar en deur ander verwerp word. Uiteindelik is die lewe hierna vir Wicca’s minder van belang as die lewe hier en nou. As ‘n mens die beste van jou huidige bestaan maak, kan ‘n voortbestaan elders, in watter vorm ookal, slegs daarby baat (vgl Hutton 1999:392).

 

Slot

Wat moet dan nou uiteindelik oor Wicca gesê word? Is dit niks anders as ‘n vredeliewende, natuur-geöriënteerde religie nie? Is dit heeltemal so onskuldig soos wat Wicca’s ‘n mens wil laat verstaan? Gerugte dat sekere rituele instrumente vir geseling gebruik word, is waarskynlik nie onwaar nie – maar soortgelyke praktyke kom elders ook voor – ook by Christene. Die vraag is natuurlik of Wicca ‘n religie genoem kan word en op dieselfde vlak geplaas kan word as Christendom, Islam, Judaïsme, Hinduïsme, Boeddhisme – of enige van die ander ‘bekende’ religieë. Uiteraard sal ons daaroor ook verskil, afhangende van hoe ons religie verstaan en definieer. Een ding is egter duidelik: Wicca groei toenemend in die lande wat tradisioneel Christelik was. Ons moet dus ingelig wees.              

   

Bronne

 

  • ·         Adler, M 1979. Drawing Down the Moon: Witches, Druids, Goddess-worshippers and Other Pagans in America. New York: Viking Press.
  • ·         Bourne, L 1989. Dancing with Witches. London: Robert Hale Ltd.
  • ·         Drury, N 2004. Magic and Witchcraft. From Shamanism to the Technopagans. London: Thames & Hudson.
  • ·         Farrar, J & Farrar S 1987. The Witches’ Goddess: The Feminine Principle of Divinity. London: Robert Hale.
  • ·         Hutton, R 1999. Triumph of the Mon. A History of Modern Pagan Witchcraft. Oxford: Oxford University Press.
  • ·         Heselton, P 2003. Gerald Gardner and the Cauldron Inspiration. UK: Capal Bann   
  • ·         Lamond, F 2004. Fifty Years of Wicca. Chippenham: Green Magic.
  • ·         Pearson, J; Roberts RH & Samuel G 1998. Nature Religion Today: Paganism in the Modern World. Edinburgh: Edinburgh University Press.         

http://en.wikipedia.org/wiki/Wicca

Share this / Deel hierdie: