Die “seekers”

Vir bykans twee jaar reeds kom ‘n aantal denkende mense wat hulleself “die seekers” noem, as ‘n gespreksgroep byeen op uitnodiging van die Hervormde Gemeente Wapadarant in Pretoria. Hulle voer so ongeveer vier keer per jaar met mekaar gesprek onder leiding van prof Andries van Aarde en ds Johan Delport. Hulle vergader in die kerksaal op Sondagaande terwyl die erediens, hoofsaaklik gerig op die jeug, in die kerkgebou langsaan aan die gang is.

Die grondreëls van die gespreksgroep is dat die lidmaatskap aan enige kerklike denominasie nie ter sake is nie, dat hulle onvoorwaardelik met ‘n oop gemoed hulle kritiese vrae oor godsdiens en die kerk as insituut mag uitspreek, en dat diegene wat om watter rede ook al hulleself nie tuis in die kerk as instituut voel nie, nie onder die dwang van evangelisasie  sal verkeer om kerkliklik weer of meer aktief te wees nie. Die kerkraad se bedoeling hiermee is om ruimte te skep vir hulle wat krities staan ten opsigte van konvensionele aanbidding.

Temas wat al bespreek is, sluit in fundametalisme, postmoderniteit, denkmodelle en persoonlikheidstipes in geloofsgemeenskappe, opstandingsgeloof, veelvormigheid van godsdienste, en die vraag: wie is die historiese Jesus? Op laasgenoemde vraag het prof Andries van Aarde die volgende inleiding as sy opinie op skrif gestel:

 Wie is die historiese Jesus?

  1. 1.     Ortodoksie en heterodoksie

Die kerk bely oor eeue die Apostolicum:

Ek glo in …

  • in Jesus Christus, sy [= God die Vader se] eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees,
  • gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is

en ter helle neergedaal het;

  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
  • van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Hierdie “apostoliese belydenis” het die kern en grond van die “ortodokse” Christendom geword. Ook ander vorme van sienings, op grond van die gebruik van die term “ortodokse” versus “heterodokse” sienings oor ‘n “Jesus van die geloof” het in die eerste eeue na die dood van Jesus bestaan. Onder andere is sommige as “gnosties” beskryf en ander weer as “ebionities”.

 

Soos daar antieke dokumente was waarin die betekenis van Jesus se lewe as byvoorbeeld “gnosties” gesien of as “ebionities”, is die vroegste antieke dokumente wat die “ortodokse” Jesus van die geloof propageer, te vind in die bundel van 28 boeke wat die kerkvader Tertullianus (ca 160-ca 220 nC) as die “Nuwe Testament” beskryf het.

 

Inhoudelike diskontinuïteit en saaklike verband tussen die historiese Jesus en die verkondigde Christus

 

Daar is ‘n inhoudelike diskontinuïteit maar saaklike verband tussen die “Jesus van die geskiedenis” en die “Jesus van die geloof” wat die “Nuwe Testament” as sentrale inhoud het. Laasgenoemde het vanaf die agtiende eeu begin bekendstaan as die “kerugmatiese Christus” en eersgenoemde as die “historiese Jesus”.

 

My historiese (re)konstruksie van die “historiese Jesus” het die volgende resultaat gelewer:

 

 

Jesus was die “seun van Maria” wat deel van die landvolk was wat in die Galilese dorpie Nasaret gewoon het.

 

‘n Vaderfiguur  het nie in sy lewe ‘n rol gespeel nie.

 

Jesus het nie getrou nie en hy was mooontlik ‘n ambagsman wat met hout gewerk het.

Hy het in ‘n spanningsverhouding met sy familie en die mense van Nasaret gelewe.

Hy het by Johannes die Doper en die kring rondom Johannes aansluiting gevind, maar hom van hulle losgemaak en self aanhangers rondom hom versamel.

Na sy doop deur Johannes die Doper het Jesus ‘n singewende rol in die lewe van mense begin vervul – onnder hulle was vroue en kinders wat na die rand van die samelewing gestoot was, die sosiaal-veragtes (weduwees, geskeides en wese, onreines en heidene) vir wie daar in die patriargale samelewing van post-eksiliese Israel nie plek onder die eerbares was nie.

 

Nadat Jesus die kring van Johannes die Doper verlaat het, was sy lewe gekenmerk deur sy absolute afhanklikheid en vertroue in God as sy Vader.

 

Die geringes in die Galilese samelewing was sy gehoor toe Jesus met hulle oor sy Vader se koninkryk gepraat het. Hy het hierdie skokkende beeld vanuit die wêreld van maghebbers, eksploiteerders en manipuleerders in onkonvensionele terme in die taal van die landvolk verduidelik.

 

Vir Jesus was God as ‘t ware soos ‘n paterfamilias (hoof van ‘n uitgebreide familie) in ‘n dorpie waar almal in so ‘n kleinboerderygemeenskap direkte en onbemiddelde toegang tot die paterfamilias het.

 

Vir die landvolk was Jesus soos ‘n Gees-gevulde messias, ‘n wysheidsleraar en geneser, ‘n profeet, ‘n soort ‘n populêre messiaanse koning. Hy was gesien soos een van daardie profete wat konings           krities aangespreek het.

 

Op grond van Jesus se populariteit was hy ervaar as ‘n bedreiging deur beide die Galilese koning Herodes Antipas ervaar en die owerhede wat in beheer van die Jerusalemse tempel was.

 

Jesus se wysheid was spreukagtig, maar het die vorm van maklik memoriseerbare stories aangeneem wat dikwels vol was van uitdagende en skokkende metafore; en dikwels het dit oop-eindes gehad wat op verskillende maniere geïnterpreteer kon word en is daarom ook nie altyd eenduidig aan ander en volgende geslagte oorvertel of meer formeel verkondig (=verkondig) nie.

 

Sy optrede, veral sy genesings, kan ook as “simbolies” beskryf word wat daarop gerig was om mense aanvaarbaar vir God en vir mekaar te maak.

 

Jesus het die koninkryk van God nie in die eerste plek voorgestel as ‘n katastrofale gebeurtenis in die toekoms wat hierdie-wêreldse lewe op ‘n fantastiese wyse gaan vervang en wat vir die lydende regverdiges as ‘t ware ‘n militêre oorwinning oor hulle goddelose vyande gaan beteken nie.

 

Hy het die koninkryk van God ook nie met aardse koninkryke vergelyk waar menslikheid agter simbole van mag en hiërargie verdwyn nie, maar as ‘n huishouding waar troebel verhoudings in mede-lyde en mede-vreugde herstel word en waar God teenwoordig is.

 

Jesus se onkonvensionele en subversiewe wysheid het die hart van die geïnstitusionaliseerde Jerusalemse tempel se reinheidsideologie (veral ten opsigte van dieet, besnydenis en kalender) aangetas.

 

Jesus se woorde en dade was so radikaal en onkonvensioneel dat dit nie ten volle deur prominente leiers onder die dissipels verstaan was nie, maar wel deur iemand wat hom nie persoonlik geken het nie.

 

Dit was naamlik Paulus wat die implikasies van Jesus se evangelie vir dieet, besnydenis en kalender uitgewys het, met ander woorde die vraag of al die regulasies wat jy mag eet en wat nie, wat jy mag aanraak en wat nie, met wie jy ‘n verhouding mag hê of watter relasie onaanvaarbaar sou wees, en of die onderhouding of nie van die Sabbatsdag of ander feesdae, vir God net so belangrik is as vir mense en groepe, omdat hierdie voorskrifte hulle kulturele tradisie sou bewaar en hulleself veilig sou laat voel.

 

Hierdie implikasies is deur Paulus en ander volgelinge van Jesus beredeneer in terme van die eis om ‘n etiese lewe in toewyding aan God en in geregtigheid teenoor alle mense, en wel in die radikale sin van só ‘n toewyding dat martelaarskap gevolg het, en ‘n etiek van radikale inklusiwiteit wat nie diskrimineer ten opsigte van geslag, etnisiteit, nasionaliteit en ouderdom nie.

 

Jesus het as gevolg van sy subversiewe benadering in konflik gekom met leiers van Galilese dorpe en Fariseërs wat op besoek van Jerusalem was.

 

In Jerusalem was Jesus deur Saddusese hoëpriesters, familiehoofde en priesterlike élite as ‘n bedreiging ervaar en na ‘n provokasie in die voorhof van die tempel is hy deur Romeinse soldate as ‘n onrusstoker gekruisig.

 

Jesus was nie deur familie of vriende in ‘n familiegraf begrawe nie.

 

Van die vroegste Jesus-volgelinge het in Jerusalem as die “plek waar Jesus gely en begrawe is” as ‘n kultiese grafgemeenskap bymekaar gekom en ‘n liturgiese aanbiddingsgemeenskap gevorm.

 

In hierdie tyd het die keiserkultus in die Romeinse imperium ook begin om ‘n geïnstitusionerende vorm rondom mark- en keiserlike verjaarsdae aan te neem; die “Christus-kultus” is deur dié se opponente, in sowel die monoteïstiese Judaïstiese as die politeïstiese Egipties-Grieks-Romeinse religieë, gesien as ‘n bedreiging van die keiserkultus.

 

Hierdie opposisie het aanleiding gegee dat antieke geskrifte ontstaan het wat as offensief en defensief met betrekking tot Jesus se “status” beskryf kan word, byvoorbeeld die vroeg-Christelike apologetiese geskrifte van kerkvaders.

 

Die rol wat Josef as pa van Jesus in sekere dokumente speel, is deel van hierdie apologetiek. Geeneen van hierdie geskrifte, ingesluit dié in die Nuwe Testament, gaan terug tot die periode voor 70 nC nie. Sommige van hierdie geskrifte bevat verwysings na bewerings dat Jesus se verwekking as “illegitiem” beskryf kan word en dat Jesus gebore is in óf bedenklike óf goddelik geïnspireerde omstandighede. Onder eersgenoemde slaag daardie getuienis dat Maria se swangerskap die gevolg is van ‘n verkragting deur ‘n Romeinse soldaat, nie die toets van historiese waarskynlikheid nie. Buitendien verwys “illegitimiteit” in antieke tekste nie net net na seksuele aktiwiteit nie.

 

Hierdie Jerusalemse kultiese gemeenskap het die doop van Johannes die Doper as ‘n “doop in die Heilige Gees” geïnterpreteer en dit verstaan as inisiasie tot die “eskatologiese Israel” wat deur die “twaalftal” verteenwoordig word.

 

Hulle het in Jerusalem die herinnering aan Jesus se “laaste maaltyd” met sy dissipels omvorm in ‘n “eskatologiese” maaltyd.

Die kultus se oorlewering van die saak waarvoor Jesus gelewe en gesterwe het, formeel as “kerugma” beskryf word.

 

Die institusionalisering van “inisiasiedoop” en “seremoniële kultusete” (later bekend as “nagmaal”) was gegrond in die “kerugma” dat God Jesus uit die dood opgewek het.

 

Herinneringsverhale dat die opgestane Jesus aan sekere mense (onder andere Maria Magdalena, Petrus, Jakobus en Paulus) verskyn het in Jerusalem mondeling die rondte gedoen en is neergeskryf, maar ook op ander plekke buite Jerusalem waar volgelinge van Jesus as kultiese gemeenskap na sy dood bymekaar begin kom het.

 

Binne so ‘n na-Pase kultiese konteks het volgelinge begin praat van Jesus se messiaanse verhoging tot mag, en het bewyse daarvoor in hulle (Hebreeuse) heilige skrifte gevind

 

Hulle het met behulp van verwysings in die hierdie heilige skrifte, en ook vanuit die Grieks-Romeinse keiserkultus, Jesus as ‘n verhoogde aanbiddingsfiguur met  verskillende erename vereer, byvoorbeeld Seun van die mens, Christus, Seun van God, Here (Kurios), die Alfa en die Omega, Kneg van God, ensovoorts.

 

As deel van die martelaarstradisie het die kerugma oor en die kultiese deelname aan Jesus se dood en opstanding bygedra dat die volgelinge van Jesus in ‘n toenemende vyandige wêreld kon oorleef (“cope”).

 

Die aanloop tot en die bestendiging van die “Konstantynse Christendom” het die kerk in ‘n instituut van mag begin verander.

 

Die skadelike gevolge van mag in die Konstantynse Christendom, en die gegewene van dat mense bewustelik, maar baie keer onbewustelik, na mag strewe, het dikwels gevolge wat as verraad téén die Jesus-saak beskryf móét word. Daarom is die ondersoek na die “historiese Jesus” nie net wenslik nie, maar baat die geloofwaardigheid van die kerk daardeur; dit is ook noodsaaklik dat die soeke na die “historiese Jesus” oor-en-oor moet plaasvind, al bied die ondersoek net hoogstens waarskynlike resulate.

 

Kan ons histories vasstel wie was Jesus?

 

Die moontlikheid/onmoontlikheid om wetenskaplik te kan sê “wie is die historiese Jesus?”, hou verband met die kompleksiteit van:

  • beskikbare bronne,
  • hulle wording-, oorlewerings- en vertalingsgeskiedenis,
  • hulle genre in en briefvorm of verhaalvorm,
  • hulle na-Pase kerugmatiese inhoud (dit wil sê dat Jesus se geboorte en sterwe deur God geïnspireer is, dat Jesus tot die hemel verhoog is, erename ontvang het, en dat Jesus Here van hemel en aarde is totdat die skepping geheel vernietig is),
  • die nie-geobjektiveerde psigosomatiese ervarings van religieuse trans (alternerende state van bewussyn) waarna sommige tekste verwys,
  • en die tekste se “ortodokse” (kanonieke) of “heterodokse” (apokriewe) status.

 

In die teologiese en eksegetiese wetenskap is in die loop van meer as twee honderd jaar metodologiese kriteria ontwikkel om, teen die agtergrond van bogenoemde kompleksiteit, ‘n wetenskaplike ondersoek na die historiese Jesus te doen.

 

Die Jesus-saak

Wat vir my uitstaan, is dat daar ‘n ooreenkoms in saak is tussen die Jesus van die geskiedenis en die Jesus van die geloof, ten spyte van die inhoudelike verskille tussen wat Jesus gesê en gedoen het en wat sy volgelinge daaroor gesê het. Rudolf Bultmann het treffend hierdie dialektiek beskryf toe hy gesê het dat die naam “Jesus” die raakpunt tussen geskiedenis en geloof is. Jesus wat die bevryder was, is vir hulle wat in Hom glo, die verlosser. Eberhard Jüngel meen soos ek dat Paulus se woorde in Romeine 1:17, te wete “deur geloof alléén sal die mens lewe”, een van die mees kompakte samevattings is van die saak waaroor beide die Jesus van die geskiedenis en die Jesus van die geloof dit het.

 

Wat inhoudelik nie gekontinueer is nie, is die na-Pase kerugma dat die dood en opstanding die sentrum van die betekenis van Jesus se lewe vir gelowiges is. Die historiese Jesus het dit nie só gesê nie.

 

Vir Jesus was die eksistensiële betekenis van die oortuiging dat die koninkryk van God ‘n werklikheid vir die híér en die nóú is, die sentrum van sy woorde en dade. Die kerugma het hierdie inhoud saaklik anders vertolk.

 

Die historiese Jesus was self nie ‘n Christen nie en hy het nie soos wat Christen-gelowiges later gegelo het, sy eie dood bewustelik gesoek met die bedoeling dat dit ‘n offer vir ander se sonde sal dien nie. Wat Jesus geleef en verkondig het, was dat dit nou die beslissende tyd is om vir God te kies bó eie selfbehoud of bewaring van tradisie. Later het Christen-martelare hierdie boodskap saaklik vertolk as dat Jesus vir hulle in dood en herlewe voorgegaan het.

 

Jesus het dit ook nie as belangrik beskou dat jy ‘n heteroseksuele man met gesin, deel van ‘n bepaalde nasionaliteit en etnisiteit, ‘n sekere moedertaal het, bepaalde kos eet en vir God op voorgeskrewe plek en tyd aanbid nie. Hierdie Jesus-saak is deur onder ander Paulus ná sy bekering uitgeleef en verkondig. Soms het Paulus daarin geslaag en ander kere, soos ander volgelinge van Jesus tot vandag toe, glad nie.

 

Vir ons die hedendaagse volgelinge van Jesus bly die oproep om gehoorsaam aan Jesus se saak te wees, steeds ‘n uitdaging. Daarom behoort ons nie op te hou om te soek na die historiese Jesus nie – weer en weer.

Share this / Deel hierdie: