1          Inleiding

Wat is ‘n profeet? Is dit iemand wat die toekoms kan voorspel, iemand soos Nostradamus of Siener van Rensburg? Wat bedoel ons as ons woorde soos profeet en profesie gebruik?

 ‘Profeet’ word afgelei van die Griekse woord prophètès, en die Septuagint (LXX) het hierdie woord vir die Hebreeuse nābī’ gebruik. In ‘n baie letterlike sin is ‘n profeet ‘n ‘mondstuk’ of ‘n spreekbuis van die [G]gode, ‘n boodskapper, ‘n middelman tussen daarbo en hieronder. Hy is ‘n mens, maar meer as ‘n gewone mens – want hy hoor die stem van die gode, en hy dra ‘n goddelike boodskap aan mense oor.

  

2          ‘n Komplekse saak 

Dis egter nie so eenvoudig nie. Wanneer ons oor profete en profesie wil praat, moet ons die volgende sake in gedagte hou:

 

  • Alle bronne oor profesie in die Ou Nabye Ooste – en dit sluit Bybelse bronne in – is skriftelik van aard, terwyl profetiese orakels hoofsaaklik mondeling gelewer is;
  • Daar was ‘n lang tydsverloop tussen die oorspronklike orakel en die opskrifstelling daarvan: selde, indien ooit, is profetiese uitsprake opgeteken terwyl die profeet gepraat het. Dit is veral die geval met Bybelse profesie. Profetiese tekste wat ons het, is nie die werk van die profete self nie, maar die produkte van latere skrywers;
  • Om dinge nog verder te kompliseer, is die feit dat nie alle profesieë opgeteken is nie. Ons afleidings kan ons slegs baseer op die dokumente wat ons het. Waarskynlik was daar baie meer orakels gelewer as wat opgeteken is. Ons het slegs toegang tot dié profetiese uitsprake wat die moeite werd geag is om vir ewig te bewaar;
  • Ons vernaamste bronne vir Ou Nabye Oosterse en Bybelse profesie kom uit koninklike argiewe. Dit laat die vermoede ontstaan dat profesie en die monargie gewoonlik hand aan hand gaan. Maar ook hier moet ons versigtig wees en die moontlikheid ooplaat dat ander mense buite die koninklike hofhouding ook profesieë kon ontvang. Hierdie profetiese boodskappe is net nooit opgeteken nie, en die aard daarvan is vir ewig verlore.

Wanneer ons dus oor profete en profesie praat, moet ons weet dat ons gevolgtrekkings op eensydige bewyse gebaseer is, en op bronne gegrond is wat slegs een kant van ‘n uiters afgeskuurde muntstuk reflekteer.

   Wat kan ons dan – weliswaar versigtig – oor profesie sê?

 

3          Bronne – die tekste van Mari en Nineve

Waar het dit alles begin?

   Profete en profesie is ‘n eeue-oue verskynsel, en het wydverspreid in die Ou Nabye Ooste voorgekom. Ons belangrikste getuienis vir die voorlopers van Bybelse profesie kom van die Mari – en Nineve dokumente. Hier is ‘n aantal kleitablette gevind waarop verskillende soorte profetiese orakels opgeteken is. Weer eens, dit is nie die enigste profetiese dokumente wat daar is nie, maar op hierdie twee persele was daar belangrike koninklike argiewe waar ‘versamelings’ van profetiese tekste bewaar is. Dit gee ‘n goeie indruk van die spektrum van profetiese orakels wat moontlik gelewer kon word.

   Mari was ‘n belangrike plek in Sirië. Die tekste wat in hierdie koninklike argief ontdek is, strek oor ‘n beperkte tydperk en dateer hoofsaaklik uit die laaste dekade van Zimri Lim se regering (ca 1775-1761 vC). Hierdie dokumente is uitsonderlik, aangesien dit – anders as die Bybelse en Nineve-tekste – ‘n betreklik kort tydsverloop tussen die oorspronklike orakel en die opskrifstelling daarvan reflekteer. Dit bevat egter al die kenmerkende elemente van ‘n profetiese uitspraak: ‘n god, ‘n boodskap, ‘n profeet en ‘n gehoor. Dit is dan ook te wagte dat profesieë wat in ‘n koninklike argief bewaar is, betrekking sal hê op koninklike aangeleenthede: byvoorbeeld, ‘n god sou materiële goedere van die koning vereis vir die bou van die stadspoorte, geboue, offerandes, ensovoorts. Of die koning (Zimri Lim) se veiligheid was in die gedrang, en is hy gewaarsku oor samesweerders binne sy eie regering en vyande (Hammurabi) van buite.

   Die Nineve dokumente dateer heelwat eeue later, naamlik uit die regeringstydperke van konings Esarhaddon (691-669 vC) en Assurbanipal (669-631 vC) en val dus min of meer saam met die tyd van konings Manasse en Josia van Juda. Hierdie profesieë het uitsluitlik betrekking op koninklike aangeleenthede, en profetiese boodskappe is gerig aan onder andere, die koning, die kroonprins, die koningin-moeder, en selfs ‘n rebel of substituut-koning. Baie van hierdie profetiese uitsprake gaan oor die legitimasie van die kroonprins – ‘n bevestiging vir die vermoede dat profesie ‘n kragtige middel vir politieke propaganda was.

   Wanneer ons oor profetiese ‘voorspellings’ praat, is dit belangrik om te onthou dat die meeste hiervan vaticinia ex eventu is – voorspellings wat uit gebeure self spruit en terug geprojekteer word. Profetiese orakels het sonder uitsondering altyd betrekking op die teenwoordige tyd of hoogstens die imminente toekoms. ‘n Profeet bring ‘n boodskap aan iemand om hom of haar te aan te moedig of te waarsku oor omstandighede binne ‘n huidige sosio-politieke klimaat – gebeure wat nog binne die leeftyd van die persoon self sal plaasvind. Profetiese orakels het nooit ooit betrekking op iets wat ‘n paar honderd jaar later gaan gebeur nie, hoe belangrik dit ook al mag wees. Dit geld vir Ou Nabye Oosterse sowel as Bybelse profesie.

 

4          Profetiese kritiek

Daar word dikwels gesê dat die profete van die Ou Nabye Ooste die konings klakkeloos nagepraat het, terwyl dié van Ou Israel en Juda dit tog gewaag het om die monargie te kritiseer. ‘n Onderskeid word getref tussen die sogenaamde Heilsprofetie van Assirië en Babillonië en die Unheilsprofetie van die Hebreeuse Bybel. Van die jongste navorsing verwerp hierdie aanname. ‘n Aantal tekste van Mari en Arbela (nog ‘n belangrike argeologiese perseel, oos van Nineve), laat blyk dat die koning se optrede nie altyd die profeet se goedkeuring weggedra het nie!

   Die pligte van verantwoordelikhede van die Ou Nabye Oosterse konings het nie veel verskil van dié van Israel en Juda nie. Die koning het in die eerste plek ‘n belangrike verpligting teenoor die gode gehad. Hy moes toesien dat die kultus in stand gehou word, en tesame daarmee dat die tempelgeboue nie verwaarloos word nie. Verder moes hy vir sy onderdane wees soos ‘n herder vir sy skape; hy moes toesien dat reg en geregtigheid geskied; dat die armes nie uitgebuit word nie; en hy moes die regte beskerm van dié wat dit nie self kon doen nie – soos die weduwee en die weeskind. As die koning gefaal het om aan die verwagtinge van die gode te voldoen, kon hulle hom straf – nog erger, die wangedrag van ‘n koning kon ‘n hele nasie ten gronde laat gaan. Die Esarhaddon-inskripsies maak die rede vir die verwoesting deur die Babiloniërs baie duidelik: die armes is uitgebuit; omkoopgeld is aanvaar; mense is van hul grond beroof; kinders toon geen respek vir hul ouers nie – daarom het die god teen sy eie mense gedraai en hulle in die hande van die vyand oorgegee.

   Hoekom kon die profete dit waag om kritiek teen die koningshuis uit te spreek?

   Die groot aantal profetiese orakels wat in koninklike argiewe gevind is, maak dit duidelik dat daar ‘n belangrike band tussen die monargie en profesie was (maar, soos reeds gesê, dalk nie die enigste nie). Maar, alhoewel profete betrokke by die belange van die koning was, was hulle nie in die binneste kring van die koninklike hof nie. Nader aan die koning as die profete, was die waarsêers (‘diviners’), die mense wat voortekens kon lees: in die hemelliggame; in die ingewande van diere wat ritueel geslag is; olie wat op water uitgegooi word (amper soos wat ons teeblare lees!); abnormale geboortes by diere of mense, ensovoorts. En waar die waarsêers in die eerste plek en direk deur die koning in diens geneem is, was die profete in die eerste plek en direk aan die gode verantwoordelik. Almal was aan die gode onderdanig – selfs die koning. Dus, al was die profete wat betref die hiërargie aan die koninklike hof minder magtig, was dit tog eintlik tot hul voordeel: juis omdat hulle verder gestaan het van monargiese magspeletjies, kon hulle as mondstukke van die gode dit waag om kritiek teen ‘n bestaande regering uit te spreek.   

 

5          Profesie en waarsêery (‘divination’) – wat is die verskil?

Daar word gewoonlik ‘n onderskeid gemaak tussen ‘induktiewe’ en ‘nie-induktiewe’ divinasie. Induktiewe divinasie is van toepassing op die waarsêers, dié mense wat voortekens in natuur- of ander verskynsels kon lees. Hulle was hoogs geskoolde spesialiste en van die min mense in die samelewing wat kon lees en skryf. Hulle het ook ‘n lang en intensiewe opleiding ontvang wat selfs vergelykbaar is met die vlak van hedendaagse tersiêre onderrig. Twee vorms van divinasie word onderskei: omnia oblativa en omnia impetrativa. Omnia oblativa het betrekking op verskynsels wat hulself voordoen – soos byvoorbeeld ‘n sons- of ‘n maansverduistering, of ‘n abnormale geboorte. Omnia impetrativa moet uitgelok word, soos byvoorbeeld deur ‘n dier te slag en in die ingewande vir voortekens te soek, of deur wierook te brand en te kyk hoe die rook trek. Hierdie spesialiste was baie nou verbonde aan die koninklike hof, en moes gereed staan om die koning te waarsku, hom aan te moedig en tekens en voortekens op aanvraag uit te lok en te interpreteer. Uiteraard was die waarsêers dan ook afhanklik van die koning se gunstes en gawes, en kompetisie onder hierdie geleerdes was straf.

   Profesie val onder die ‘nie-induktiewe’ vorm van divinasie. Profete het hul boodskappe spontaan ontvang sonder om daarvoor te soek. Drome was ‘n gewilde wyse waarop die gode hulself aan profete openbaar het. Dit is moontlik dat sekere dinge gedoen kon word om ‘n profetiese droom te in te roep – soos om by ‘n tempel of ‘n heiligdom te slaap, wierook te brand of drankoffers uit te giet – maar dit was nie ‘n voorwaarde nie. Profete kon enige tyd en enige plek droom.

   Verder was ekstatiese gedrag en brabbeltaal ook kenmerkend van profete. Hulle het dikwels in ‘n toestand van geestesverrukking gegaan – ‘n definitiewe bewys dat hulle kontak met die bonatuurlike wêreld gehad het. Omdat profete nie altyd beheer gehad het oor wat met hulle gebeur het nie, of omdat hulle self nie altyd die goddelike boodskap kon verstaan of interpreteer nie, was dit die taak van hul meer geleerde kollegas om sin uit te goddelike woord te maak, dit aan die ontvanger oor te dra, en indien nodig, neer te skryf. Profete het geen offisiële opleiding ontvang nie, en het uit verskillende strata van die samelewing gekom. En waar kompetisie tussen die akademici straf en genadeloos was, was daar tussen profeet en waarsêer eerder ‘n gees van samewerking: die welsyn van koning, staat en gemeenskap was vir albei ewe belangrik, en die profeet was ook nie van die koning se gunste afhanklik nie.

   Wat baie interessant is, is die bewys dat daar in die Ou Nabye Ooste net soveel profetesse soos profete was. Veral in die tempel van Isjtar van Arbela is die profetiese orakels oorwegend dié van profetesse. Dit kan deels verklaar word aan die hand daarvan dat Isjtar ‘n besondere gewilde godin onder vroue was, en as godin van oorlog (en liefde), was haar orakels ten tye van stryd gesog. Maar, waar profetesse onder die geledere van die profete volop was, is daar (helaas!) geen bewyse vir vroue onder die akademiese dissiplines van die skrifgeleerders in die Ou Nabye Ooste nie.                

 

6          ‘n Komplekse saak – weer eens

Wanneer ons wil praat oor profeet, profesie en profetiese taak, moet ons sekere faktore in gedagte hou. ‘n Paar hiervan is uitgestippel in punt 2 hierbo: ‘n komplekse saak. Alles kom hierop neer: die ipsissima verba – die werklike woorde van die werklike profeet – is vir ewig verlore. Die woorde het nouliks die oomblik van spreke oorleef. Die woorde is so verlore soos die historiese profeet self. Al wat oorbly is die interpretasie van ‘n skrifgeleerde, dalk iemand met ‘n verborge agenda, wie se eerste intensie beslis nie was om die woorde van die profeet verbatim weer te gee nie! Profesieë, soos wat hulle in profetiese tekste opgeteken is, is altyd die produk van ‘n hermeneutiese oefening. Dit geld profesie in die Ou Nabye Ooste, sowel as profesie in die Bybel.

   Maar moet ons nou moedeloos hande in die hare uitroep: ‘Dan is alles tevergeefs! Nou kan ons niks meer glo nie!’

   Nee.

   Wie was hierdie skrifgeleerdes?

   Hulle was akademici, intellektuele en skerpsinnige waarnemers van die tekens van die tye rondom hulle. Hulle het gelewe binne ‘n bepaalde en uiters komplekse historiese konteks. Alhoewel hulle nie die eerstehandse ontvangers van die profetiese boodskap was nie, was hulle die interpreteerders daarvan en met hul intellek en vaardigheid het hulle reageer op die vrae wat in die harte van die gemeeskap gebrand het. Hulle het inspireer, bemoedig maar ook gekritiseer. Hulle was sensitief genoeg om fyn na die stemme deur baie eeue heen te luister, en kreatief genoeg om ou liedere met nuwe akkoorde vars en kragtig in elke nuwe situasie te laat weerklink.

   Vandag kan ons nie eintlik meer van profete en profesie in die oorspronklike sin praat nie. As iemand sê dat hy of sy werklik die stem van God gehoor het, is ons eerste impuls om hom of haar na ‘n psigiater toe te neem vir pille om die stem te laat ophou.

   Miskien kan ons profesie soos volg formuleer: Profesie is ‘n voortgaande intellektuele worsteling met ‘n komplekse werklikheid waar daar oneindig meer vrae as antwoorde is.

 

7          Bibliografie

  • Cancik-Korchbaum, E 2003. ‘Prophetismus und Divination – Ein Blick Auf Die    Keischriften Quellen’ in Köchert, M, & Nissinen, M, (Hg), Propheten in Mari, Assyrien und Israel, pp 33-53, Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Cryer, FH 1994. Divination in Ancient Near Israel and its Near Eastern Environment. A Socio-Historical Investigation. Sheffield: JSOT Press.
  • De Jong, MJ 2007. Isaiah among the Ancient Near Eastern Prophets. A Comparative Study of the Isaiah Tradition and the Neo Assyrian Prophecies. Leiden: Brill.
  • Fleming, DE 2004. ‘Prophets and Temple Personnel in the Mari Archives’ in Grabbe, LL & Bellis A O (reds), The Priests in the Prophets. The Portrayal of Priests, Prophets and Other Religious Specialists in the Latter Prophets, pp 44-64, London: T&T Clark International.
  • Gordon, RP 1995. ‘A Story of Two Paradigm Shifts’ in Gordon, RP (red), “This place is too small for us”: the Israelite prophets in recent scholarship, pp 3-26, Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Huffmon, HB 2003. ‘The One and the Many: Prophets and Deities in the Ancient Near East’ in Köchert M & Nissinen M (Hg), Propheten in Mari, Assyrien und Israel, pp 116-131,  Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Kratz, RG 2006. ‘Prophet’ in Berlejung, A & Frevel, C (Hrsg), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament, pp 343-345,  Darmstadt: Wissenschafliche Buchgesellschaft.
  • Malamat, A 1995. ‘Prophecy in Mari’ in Gordon, RP (red), “This place is too small for us”: the Israelite prophets in recent scholarship, pp 50-73, Winona Lake: Eisenbrauns.      
  • Nissinen, M 2000. ‘Spoken, Written Quoted and Invented’ in Ben Zvi, E &  Floyd, MH (reds), Writings and Speech in Israelite and Ancient Near Eastern Prophecy, pp 235-271, Atlanta: Society of Biblical Literature.
  • —– 2003a, Machininst, P (red), and contributions by Seow, CL, and Ritner, RK, Writings from the Ancient World. Prophets and Prophecy in the Ancient Near East. Atlanta: Society of Biblical Literature.
  • —– 2003b. ‘Das kritische Potential in der altorientalischen Propheti’ in Köckert, M & Nissinen, M (Hg), Propheten in Mari, Assyrien und Israel, pp 1-32, Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • —– 2004. ‘What is Prophecy? An Ancient Near Eastern Perspective’ in Kaltner, J & Stulman, (reds), Inspired Speech. Prophecy in the Ancient Near East. Essays in Honor of Herbert B. Huffmon, pp 17-37, London: T&T Clark International.
  • Van der Toorn, K 2000. ‘From the Oral to the Written. The Case of Old Babylonian Prophecy’, in Ben Zvi, E & Floyd, MH (reds.), Writings and Speech in Israelite and Ancient Near Eastern Prophecy, pp 219-314, Atlanta: Society of Biblical Literature.
  • Weinfeld, M 1995. ‘Ancient Near Eastern Prophetic Literature’ in Gordon, RP (red.), “The Place is too small for us”: the Israelite prophets in recent scholarship, pp 32-49,  Winona Lake: Eisenbrauns.
Share this / Deel hierdie: