Meer spiritualiteit, minder akademie in die opleiding van predikante?

Inleiding
Op 12 Februarie 2013 het die sogenaamde ‘predikantedag’ van die NG Kerk by die Pretoria Oos-gemeente plaasgevind. Hierdie dag is ‘n jaarlikse ontmoeting tussen predikante van die NG Kerk en die dosente aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria. Op hierdie dag luister predikant en dosent na mekaar en besin oor die verhouding tussen akademiese opleiding by die universiteit en dit wat predikante werklik as behoeftes onder gemeentelede ervaar. Vanjaar se tema was ‘Vars teologiese opleiding vir die toekoms’. En vanuit verskeie oorde het stemme opgegaan dat: daar in die opleiding van predikante meer klem op spiritualiteit en minder op akademie geplaas moet word.
Dit is kommerwekkend. Daardie dag as teologiese opleiding akademie of wetenskaplike vaardigheid as minder belangrik beskou, begin geloof en spiritualiteit, en alles wat dit vir ons as gelowiges inhou, in duie te stort. Waarom sê ek so?

Die Bybel is ons vertrekpunt
Vir ons as Christene, kan ons geloof en spiritualiteit nooit van die Bybel losgemaak word nie. Eintlik is dit so vanselfsprekend dat ons nie werklik daaroor nadink nie. Meer spesifiek, ons wonder nie eintlik oor waar en hoe hierdie Boek wat ons die Bybel noem, ontstaan het nie, en nog minder oor wie dit geskryf het: dis mos die Woord van God, nie waar nie?

Die eerste probleem: die Bybel is nie ‘n boek nie
Die Bybel – ofskoon ons leer dat dit ‘n ‘versameling boeke’ is, was egter oorspronklik nooit ‘n boek, of ‘n versameling boeke nie. Wat ons onder ‘boek’ verstaan, naamlik ‘n klomp bladsye wat binne ‘n omslag saamgebundel word, kan eerder vergelyk word met die antieke kodeks. Die oudste kodekse dateer uit die laaste dekades van die eerste eeu, en het bestaan uit ‘n aantal papirus- of perkamentvell wat in die middel gevou en aan die agterkant aanmekaar geryg is.
Die sogenaamde ‘Bybelboeke’ was aanvanklik ‘n aantal los boekrolle. Iewers het ons al daarmee kennis gemaak – hetsy in ‘n rolprent, ‘n TV-program of ‘n prentjie: ‘n Joodse Rabbi wat ‘n lywige ‘boekrol’ op sy skouer iewers heen dra, is nie ‘n vreemde beeld nie.
Maar het ons al ooit stilgestaan en gewonder: eerstens, hoe het die kultuur gelyk waarbinne die rolle geskryf is, en tweedens, deur wie is die rolle geskryf?

‘n Ongeletterde samelewing
Die Ou Nabye Oosterse beskawings – insluitende Ou-Israel – was mondelinge kulture. Min mense kon lees en skryf. Geskrewe tekste was bedoel om gelees te word, hardop vir ‘n groot gehoor, of sag geprewel as ‘n mens vir jouself gelees het (vgl Ps 1:2). Anders gestel, skrif is gepraat, en alles wat geskryf is, moes mondelinge voordrag ondersteun. Daarom was daar sekere stilistiese voorvereistes, soos byvoorbeeld ritme, herhaling, geykte formules ensovoorts.
Later van tyd sou geskrewe dokumente ‘n sekondêre funksie ontwikkel, naamlik om iets soos naslaanbronne te word. Woorde op skrif het die mens gehelp onthou. As jy iets vergeet het, kon jy dit gaan opsoek. Dit was veral die geval met lang en uitgebreide regstekste, soos die wette van Hammurabi, of ingewikkelde voortekens en voorspellings in die Ou Nabye Oosterse tekste. In die Hebreeuse Bybel vertoon tekste soos Levitikus, Psalms (veral die akrostiese psalms) en Spreuke ‘n soortgelyke struktuur. Sulke tekste is ook versamelings van reëls, rituele, liedere, gebede, gesegdes.  Maar, met die klem op mondelinge voordrag, was geskrewe dokumente oor die algemeen ‘n skaars item, orals in die Ou Nabye Oosterse wêreld.
Tog bestaan daar tekste – op kleitablette, op papirus, op perkament. Iemand was vir die opskrifstelling verantwoordelik. Wie was dit wat geskryf het?

 Die afwesige outeur
In die meeste Ou Nabye Oosterse dokumente en in die hele Hebreeuse Bybel is die werklike outeur afwesig. Skrywers het nie onder hul eiename ge‘publiseer’ nie, omdat dit doodgewoon nie die gebruik was nie. As daar wel ‘n naam by ‘n teks verskyn, is dit in die meeste gevalle nie die naam van die werklike outeur nie.
Wat was die ‘skrywersbeleid’?
Eerstens was daar iets soos honorêre outeurskap. Iemand van aansien, veral iemand soos ‘n koning, sou opdrag gee dat ‘n bepaalde teks geskryf word, soos byvoorbeeld ‘n reeks wette, byvoorbeeld die wette van ‘Hammurabi’. Ander tekste waar die koning oënskynlik sy eie roem, rykdom en wysheid besing, of liedere en gebede tot die gode onder die naam van die koning, is heelwaarskynlik nie deur homself geskryf nie.
Tweedens – en dit is veral die geval in die Hebreeuse Bybel – het die skrywer pseudoniem geskryf. Dit is iets anders as om ‘n skuilnaam aan te neem. Sulke skrywers lê die woorde van ‘n (fiktiewe) karakter uit die verre verlede in hul mond. Daardeur skep hulle die indruk dat hierdie teks ‘n oorlewering is wat uit die ryke erfenis van die volk se tradisie  en geskiedenis kom. Die rede van Moses in die boek Deuteronomium is letterlik ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Maar dan is daar ‘n derde vorm van anonimiteit, en dit is toegeskrewe outeurskap. ‘n Anonieme teks beland in iemand se hande, en hierdie latere latere redaktor skryf die werk toe aan die een of ander gesaghebbende karakter, ook uit die geskiedenis van die volk se verlede. In die Hebreeuse Bybel kry ons die ‘psalms van Dawid’, die ‘Spreuke en Hooglied van Salomo’, die ‘Klaagliedere van Jeremia’, en die hele res van die profetekorpus.
Waarom die gebrek aan kopiereg by die antieke gehoor? Vir hulle het dit nie om die geloofwaardigheid van die skrywer, die talentvolle individu gegaan nie, maar om die outoriteit van die teks. Die ware outeur was ongeloofwaardig; die karakter in wie se naam die teks op skrif gestel is, het gesag daaraan verleen.

Op die spoor van skrywers in die antieke wêreld
Ons het reeds gesê dat die Ou Nabye Oosterse beskawings ongeletterd was. Nou, wie het dan geskryf?
In antieke Mesopotamië en Egipte is daar oortuigende bewyse daarvoor dat die skrywers – of skrifgeleerdes – tot ‘n handjievol elite uit die adelklas beperk was.

Mesopotamië
Sekere families was skrifgeleerdes. Hulle was die adel. Die kuns van lees-en-skryf is van vader tot seun oorgedra. Aanvanklik, in die Ou Babiloniese tydperk (ca. 1900-1500 vC), het seuns, en soms buurseuns, onderrig aan huis van ‘n skrifgeleerde vader ontvang. Later het die tempel die sentrum van geletterdheid geword. Maar die skoling het nie in enigeen se broek gesit nie; dit was straf.
Studente het ‘n streng voorgeskrewe kurrikulum gevolg. In die eerste fase moes hulle ‘n mooi en leesbare handskrif ontwikkel, en met gemak kon transkribeer. Hulle moes memoriseer en kopieer – enigiets van sillabes, woorde, lyste, spreuke, paragrawe uit literêre werke. Ook moes hulle vertroud met verskillende ‘genres’ raak – regstekste, administrasie, wiskunde, wetenskap, musiek. Met ander woorde, hulle moes ook die tegniese woordeskat van verskillende vakdissiplines kon bemeester. En, alhoewel Akkadies baie vroeg Sumeries as spreektaal verdring het, was Sumeries steeds ‘n belangrike deel van ‘n voornemende skrifgeleerde se kurrikulum; die student moes ‘n grondige kennis van die Sumeriese taal en die klassieke letterkunde hê, voordat die volgende fase betree kon word.

          Dit het dus nie daarom gegaan om bloot te leer lees en skryf nie, maar om ‘n bepaalde kulturele geletterdheid by die student te ontwikkel. Baie studente het vroeg uitgeval, ander het heeltemal moed opgegee.
Vir die wat wel tot die tweede fase deurgedring en daarvoor kans gesien het, het nog ‘n strawwer skoling voor gelê. Nou moes hulle langer tekste in die geheel memoriseer en kopieer, maar terselfdertyd kon hulle ook in die verskillende vakdissiplines spesialiseer: eksorsisme, divinasie, himnologie, ensovoorts. Klaarblyklik het slegs tien persent van voornemende studente tot hierdie tweede vlak van akademiese skrifgeleerdheid toegetree.
Maar nog was’t einde niet. Daar was ‘n finale eksamen wat voor die ‘Vergadering van Geleerdes’ afgelê en geslaag moes word. Eers daarna het die student ‘n diploma ontvang wat verklaar het dat hy (net hy, nie sy nie) bevoeg is om ‘n bepaalde beroep te beoefen.
In Mesopotamië was die skrifgeleerdes uiteindelike ‘n handjievol elite wat ‘n grondige kennis van die literêre, akademiese en religieuse tradisies van hul beskawing gedra het.

Egipte
In Egipte was dit nie veel anders nie. Ook daar was ‘n elite skrywersklas, waar die kuns van lees en skryf tot bepaalde adelike families beperk was. Dit lyk asof skoling net na die Nuwe Koninkryk (ca na 1100 vC) vir meer mense toeganklik was, nietemin het min die geleenthede met ope arms omhels, en selde verder as ‘n basiese lees-en-skryf-kennis gevorder.
Die meeste skryfskole was – net soos in Mesopotamië – by die tempels. Daar het ‘n student vier of vyf jaar elementêre opleiding ontvang, vergelykbaar met die eerste fase in die Mesopotamiese kurrikulum. Lees, skryf, memoriseer, kopieer en ‘n basiese kennis van geografie, wiskunde en geometrie. Vir die volgende vier jaar of so, het die student onderrig in klassieke wysbegeerte ontvang. Hierdie kurrikulum het bestaan uit die memorisering en kopiering van langer spreuke, onderwysing en gesegdes. Nou kon die student homself ‘n professionele ‘skrifgeleerde’ noem.
Maar … hy was nog nie ingelei in die ‘heilige skrifte’ – oftewel die hiërogliewe nie. Hierdie teologiese opleiding sou selfs so veel soos ‘n verdere twaalf jaar verg. En dit het murg in die pype gekos!
Dit blyk dus dat diegene wat vir die produksie van tekste verantwoordelik was, in Mesopotamië sowel as Egipite, ‘n klein groepie vasbyters was wat aan die hoë akademiese standaarde van hul tyd voldoen het. Ons weet nie wie hulle was nie, maar hul tekste – hul skrifte – help ons om iets te verstaan van die wêreld waarin hulle geleef en gewerk het. Nee, ek wil dit anders stel: uit hul tekste kan ons agterkom hoe hulle hul leefwêreld ervaar en interpreteer het, en daaruit probeer sin maak het.

Ou-Israel
Die vraag is nou: het Ou-Israellitiese skrifgeleerdes ‘n soortgelyke skoling ondergaan? Mesopotamië en Egipte het baie argeologiese bewyse opgelewer van skryfskole en die kurrikula wat gevolg is; Palestina se harde klimaat en die verganklike materiaal wat die skrywers van die Hebreeuse Bybel gebruik het, het soortgelyke vergelykende materiaal uitgewis.
‘n Volgende argument is dat Ou-Israel betreklik laat tot die Ou Nabye Oosterste statewêreld toegetree het. Was geletterdheid nie op daardie stadium meer algemeen nie? Die Hebreeuse alfabetiese skrif is aansienlik eenvoudiger as die Mesopotamise spykerskrif of die Egiptiese hiërogliewe, en daarom makliker om te bemeester. Het ons nie dalk met ‘n meer geletterde samelewing te make nie?
Dit mag so wees, maar geletterdheid, ook in Ou-Israel het nie veel verder gekom as die eerste fase van lees en skryf nie. Tot en met die eerste eeue na Christus, was die kultuur oorwegend ‘n mondelinge kultuur. Die produksie, die oorlewering, die interpretasie en bewaring van tekste was die handearbeid van ‘n handjievol geskoolde skrifgeleerdes.

Op die spoor van die skrywers van die Hebreeuse Bybel
Die skrywers van die Hebreeuse Bybel se teks is anoniem, maar in die tekste self vind ons ‘n hele paar verskillende soorte skrywers.
Daar is Barug, Jeremia se ‘private sekretaris’ (Jer 36). Die profeet Jeremia het hom spesiaal laat kom om alles op te teken wat hy gesê het.
Vervolgens is daar die skrywers aan die koninklike hof wat die amp van ‘staatsekretaris’ beklee het (vgl 2 Sam 8:17; 1 Kon 4:3; 2 Kon 18:18; 2 Kon 22). Hulle het ‘n besondere hoë rang beklee en moes notule van van die gebeure in die koninklike hof. Verder was hulle ook verantwoordelik vir die binne- en buitelandse korrespondensie namens die koning. Ons sou kon sê, hulle kan vergelyk word met amptenare binne die diplomatieke diens.
Maar dan ontmoet ons Esra, die priester, ‘’n geleerde man, kundig in die wet van Moses’ (vgl Esra 7:6, 12, 21). Dit dui aan dat Esra oor ‘n bepaalde skrifgeleerdheid beskik het – as priester was hy ook teologies opgelei om die wet van Moses – die Torah – te ken, te verstaan en te interpreteer. Esra was egter nie alleen nie. ‘n Hele aantal Leviete het hom ondersteun. Hulle, ‘die Leviete het uit die boek, uit die wet van God voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word’ (Neh 8:9). Levitiese skrifgeleerdes was dus nie slegs in staat om te skryf en te kopieer nie, hulle kon interpreteer sowel as onderrig gee.
Bostaande teksgetuienis klop met wat ons tot dusver ook oor Egipte en Mesopotamië gesê het. Selfs al was die persentasie geletterdheid onder die Ou-Israelitese samelewing dalk ‘n biejtie hoër, was dit steeds ‘n oorwegend mondelinge kultuur waar tekste hardop voorgelees is. Kennis van die wet van Moses was ‘n bepaalde spesialiteitsrigting, dit het meer geverg as ‘n blote elementêre vaardigheid om te lees en te skryf. Esra, en die skrifgeleerde Levitiese priesters van sy tyd, was hoogs geleerde mense, die intelletuele akademici, die opgeleide teoloë van die tyd.
Ons kan dus aflei dat onderrig in Ou-Israel, net soos in Mesopotamië en Egipte, in meer as een fase verloop het. Ongelukkig is daar nie skooltablette soos in Mesopotamië wat ons kan help om die proses te verstaan nie. Die oudste teksgetuienis van die Hebreeuse Bybel is die Qumran-fragmente, wat beslis op ‘n pratyk dui dat ingewikkelde tekste gelees, gememoriseer en gekopieer is. Die vele parallelle tussen die Hebreeuse Bybel en ander Nabye Oosterse tekste (waaroor ek in die vorige teo-uitgawe geskryf het) dui ook daarop dat die Hebreeuse skrifgeleerdes met die klassieke tekste van hul tyd, nie net in hul eie kultuur vertroud was nie, maar ook die letterkunde in die res van hul bekende wêreld. Hulle moes dit ken, verstaan en in staat wees om dit hul eie unieke teologiese verstaanshorison te herinterpreteer.

Slot
Diegene wat die tekste van die Hebreeuse Bybel geskryf het, ofskoon hulle anoniem is, was hoogs geleerde mense wat ‘n strawwe akademiese skoling ondergaan het. So is tekste wat op skrif gestel is, gelees, verstaan en geherinterpreteer binne veranderde omstandighede en is nuwe tekste geskryf. Die Hebreeuse skrifgeleerdes was meer as professionele skrywers; hulle was akademici wat hulself toegewy het aan die oordrag, interpretasie en bekendmaking van die tradisionele geskrifte wat hulle van hul vaders en voorvaders ontvang het. Hulle was ook vir die liturgie verantwoordelik en het leiding geneem in gebed, belydenis, lofsang, seëninge, en vir die gemeente gepreek. Ou-Israel se skrifgeleerdes se toewyding aan die akademie, verdieping in kennis van die Skrifte en taal het uitgemunt tot spirituele begeleiding van die gemeente. En dit is presies wat van hedendaagse predikante verwag word.
Uiteraard lewe ons vandag in ‘n hoogs geletterde samelewing – feitlik almal kan lees en skryf. Danksy Luther kan elke gelowige die Bybel besit en lees. Maar verantwoordelike Skrifeksegese wat tot verdiepte spiritualiteit lei, is steeds die taak van die opgeleide predikant. Sonder akademie vervlak spiritualiteit tot ‘n emosionele opwelling, tot ‘praise and worship’ met gebrek aan werklike inhoud.  Sonder wetenskaplike debat bestaan die gevaar van dat elke ketter sy letter kry. Individualistiese interpretasies van die Bybel deur predikante wat nie behoorlik geskool is nie, kan lei tot nuwe vorms van absolutisme en lewensvreemde toepassings sonder die kontrole van die teologiese wetenskap.  Dit is so goed soos om vir ‘n mediese student ‘n skalpel te gee om te opereer sonder dat hy die basiese anatomie en fisiologie ken.  Swak of min akademiese opleiding is nie ‘n eienskap wat by ‘n predikant van die Ned Geref Kerk behoort te pas nie.  Die interpretasie en toepassing van die Bybel vir die moderne mens vra deeglike ondersoek en intellektuele omgang.  Spiritualiteit, hoe verdienstelik ookal, kan nie daardie leemte vul nie.
Die dag as die pleidooi vir meer spiritualiteit en minder akademie slaag, draai die NG Kerk die rug op die tradisie van haar eeue oue teologiese opleiding vir predikante. En dit sal ‘n tragiese dag wees.

Bibliografie

  • Davies, Philip R1998. Scribes and Schools. The Canonization of the Hebrew Scriptures. Louisville: Westminster John Kox Press.
  • Gesche, Petra D 2000. Schulunterricht in Babylonien im ersten Jahrtausend v. Chr. Münster: Ugarit-Verlag.
  • Jamieson-Drake, David W 1991. Scribes and Schools in Monarchic Judah. A Socio-Archaeological Approach. Sheffield: The Almond Press.
  • Roberts, JJM 2002. The Bible and the Ancient Near East. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Rollston, Christopher R 2001. ‘Scribal Education in Ancient Israel: The Old Hebrew Epigraphic Evidence.’ BASOR, 47-74.
  • Tov, Emanuel 2004. Scribal Practices and Approaches Reflected in the Texts Found in the Judean Desert. Leiden: Brill.

·         Van der Toorn, Karel 2007. Scribal Culture and the Making of the Hebrew Bible. Cambridge: Harvard University Press.

Share this / Deel hierdie: