Ter inleiding
‘Ik wens dit boek veel nieuwsgierige lezers toe’, só skryf Gerben Heitink, ‘n bekende Nederlandse praktiese teoloog, oor die boek van Cas Vos en Cas Wepener oor liturgie, kuns en kultuur wat sopas verskyn het. Cas Vos is emeritus-professor van die Universiteit van Pretoria en Cas Wepener sy opvolger. Albei is praktiese teoloë en fyngevoelig vir die kuns in al sy vorme asook die invloed daarvan op die liturgie. Hulle kernvraag was daarom ook hoe die liturgie deur kuns verdiep en verbreed kan word.

Die leser word heerlik oorweldig deur die groot hoeveelheid gedigte, uittreksels uit die letterkunde, skilderye, foto’s, ensomeer. Albei skrywers praat met gesag oor kuns en letterkunde. Vos word nogal treffend deur Heitink beskryf: ‘Cas Vos is behalve theoloog ook een vooraanstaande Afrikaanse dichter en literator; hij leeft met twee zielen in één borst en belichaamt in persoon de spanning tussen kerk en cultuur’ (9). Van Cas Wepener het daar in 2013 ‘n kortverhaalbundel, ‘Dubbelfoto’, by Protea verskyn wat goed ontvang is (vgl Litnetresensie) en waarvan sommige verhale al oor RSG voorgelees is (vgl RSG). Binnekort verskyn daar ook ‘n wetenskaplike werk oor die liturgie wat hy en twee mede-skrywers geskryf het. Beide skrywers kan dus met gesag oor die liturgie in al sy wydsheid asook die kuns in al sy skakeringe praat.

Vos en Wepener se werk is eintlik ook ‘n taalgebeure, ‘n taalfees want Afrikaans in al sy volheid blom in dié boek. Van gedigte tot liedere en van verhale tot preke leef die taal en oorrompel die mooiheid daarvan ‘n mens telkens. Taal (lees: Afrikaans) is egter nie iets toevallig wat die boek versier en mooi laat lyk nie. Hans-Georg Gadamer het ‘n bondige opmerking oor taal gemaak wat soms verkeerd verstaan word: ‘Being that can be understood is language’ (Gadamer 2003:474). Hy bedoel nie daarmee dat die ganse werklikheid of ‘syn’ bloot net taal is nie, maar dat taal die werklikheid meer verstaanbaar kan maak. Taal kan die werklikheid meer toeganklik maak sodat ons dinge beter kan verstaan en beskryf. En hoe beter die taal gebruik word hoe meer groei ons begrip van ons menswees.

Dít is ook van Vos en Wepener se boek waar. Hulle voortreflike Afrikaans het ons verstaan van die kerk, die erediens, die preek, ensovoorts geweldig verhelder; dít het nuwe betekenismoontlikhede ontsluit en ons gehelp om kerk en liturgie op ‘n nuwe manier te verstaan.

Die wetenskap se spore
Die skrywers begin met ‘n bestekopname van die stand van die liturgiewetenskap internasionaal sowel as hier te lande. Hulle beweer dat die ‘mens’ in die wetenskap die afgelope dekades belangriker geword en dit het die liturgiewetenskap sterk beïnvloed. Ook die Liturgiese Beweging, wat Suid-Afrika eers in die vyftigerjare van die vorige eeu getref het, het tot ‘n groter bewustheid van ander vakgebiede se bydrae tot die liturgiewetenskap gelei.

Die skrywers verwys na hierdie menslike dimensie as ‘antropologie’ en omskryf dit as die manier waarop mense ‘hulle belewing van God of van die Gans Andere tot uitdrukking bring in hul doksa, hier spesifiek die liturgie’ (16). Dít sluit egter nie die teologiese dimensie uit nie. Of soos hulle sê: ‘Die ander been van die ondersoeksobjek is uiteraard die teologie van die liturgie, te wete ‘n bestudering van hoe God in en deur die doksa/ liturgie/ rituele tot die mense wat daaraan deelneem, nader’ (16). Albei momente, antropologie en teologie, moet egter behou word want in ‘die liturgie gaan dit oor beide God en die mens’ (19).

Dié standpunt maak dit dan vir die skrywers moontlik om kuns en liturgie aan mekaar vas te maak. Hulle noem hulle manier van doen met groot woorde soos ‘’n esteties intertekstueel-inkulturende benadering’ (47) en elders praat hulle van ‘n ‘homileties-liturgies estetiese benadering wat spesifiek klem lê op die intertekstueel-inkulturerende aanpak’ (53). Hoe dit ook al sy, hieronder belig ons die noue band tussen letterkunde en liturgie.

Pase in die herfs
‘n Mooi bydrae is die hoofstuk oor liturgie en letterkunde. Volgens die skrywers moet die liturgiewetenskap en letterkunde blywend in gesprek wees want laasgenoemde kan kreatiewe verstaansmoontlikhede vir die liturgie en die prediking ontsluit. Ter illustrasie fokus die skrywers op ‘n paasliturgie en word drie Afrikaanse gedigte gebruik.

Hulle noem dit ‘n ‘herfs’-liturgie vir pase in die suidelike halfrond. In Europa is pase in die lente gevier. In die vroeë kerk en in die middeleeue is intens met die seisoene saamgeleef. Elke seisoen is vergeestelik en elke jaargety het iets van God gesê. Gevolglik is baie intens met die seisoene meegeleef. Veral interessant was die ‘verteologisering’ van die lente – natuurlik die Europese lente wat in Maart begin het. Volgens die vroeë vaders (of die ‘patres’) kon paasfees net in die lente plaasvind. Dit was die maand waarin die Ou-Testamentiese pasga gevier is. Dit was die maand waarin die uittog uit Egipte plaasgevind het en daarom was geen ander maand so geskik vir pase as die Europese lente nie (Le Roux 1976:100).

In Suid-Afrika is pase ‘n herfsgebeure en Vos & Wepener praat van ‘liturgiese inkulturasie’ om die paasgebeure ‘temporeel gesproke sinvol vir die Suidelike Halfrond aan te pas’ (58). Veral drie gedigte speel ‘n rol in die geografiese verskuiwing van ‘n noordelike-halfrond-fees na paasfees in die suidelike halfrond in die herfs: N P van Wyk Louw se Vroegsherfs, D J Opperman se Grondstowwe by die siklus van seisoene en Cas Vos se Dae vol herfs.

Pase in die Europese lente beklemtoon die nuwe in die natuur en die menswêreld terwyl herfs ‘n gevoel van matheid wek. Of soos Cas Vos dit verwoord: ‘Al matvoet die dae vol herfs,/ raak die blare se are verkalk/ en dwarrel op die kaal grond,/ al fluister wind in bome se ore/ en begin takke sug oor verlies/ waar ‘n bries vlugtig daaraan raak,/ al is duiwe besig om hees te koer/ wanneer stilkoue veerbaadjies streel,/ al loop die son rooivoet oor rante’. Al hierdie herfsbeelde word dan gebruik om die liefde te beklemtoon: ‘Al matvoet die dae vol herfs … gloei my liefde vir jou/ steeds sag en ryp’. Al beklemtoon herfstyd iets van verganklikheid bly die liefde nog gloei en versterk dit die paasliefde.

Van Wyk Louw se gedig verwoord die mooiheid, volheid en stemming van ons herfs: ‘Die jaar word ryp in goue akkerblare,/ in wingerd wat verbruin, en witter lug/ wat daglank van die nuwe wind en klare/ son deurspoel word; elke blom word vrug, tot selfs die traagstes’. En as die eerste blare begin om af te val en die gestroopte takke ‘teen elke ligte môre witter staan’, bid Van Wyk Louw ‘n roerende gebed wat ook deel van die herfsliturgie kan vorm: ‘O Heer, laat hierdie dae heilig word:/ laat alles val wat pronk en sieraad was/ … laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort/ my waan, tot al die hoogheid eindelik vas/ en nakend uit my teerder jeug verskyn’.

Met behulp van hierdie en ander gedigte het Vos & Wepener gepoog om sin aan ons pase in die herfs te gee. Dit is ‘n seisoen so ryk aan betekenis en wat sinvol met die paastema kan bind.

Beaufort-Wes en Bethlehem
Soos gesê, het die skrywers ‘n ‘homileties-liturgies estetiese intertekstueel-inkulturerende model’ (75) en probeer met behulp daarvan die waarde van die kuns vir die prediking verwoord. Hulle is egter bewus daarvan dat die woordjie ‘kuns’ vele predikante kan afskrik. Vir hulle is die gebruik van die kunste ‘’n vreesaanjaende gedagte wat nie na ‘n haalbare ideaal klink nie’ (68). In ‘n hoofstuk oor Bethlehem en Gert Vlok Nel se ‘Beaufort-Wes is beautiful’ probeer die skrywers wys hoe die poësie, die skilderkuns en die roman saam nuwe betekenismoontlikhede kan ontsluit. Dit is die verhaal van twee dorpe. Die een in die ver en vreemde wêreld van ou-Israel en die ander hier anderkant in die Karoo op die N1.

Aan die hand van twee gedigte word die lewe in en die atmosfeer van die Karoo verwoord en dít moet ons help om die Karoodorp Beaufort-Wes te verstaan. Dit het niks met die letterlikheid of geografie van die dorp te make nie, maar is bloot digterlike voorstellings van ‘n Karoodorp wat net sowel Beaufort-Wes kon gewees het. Die een gedig is van N P van Wyk Louw en die ander van Gert Vlok Nel. Van Wyk Louw vertel in ‘Karoodorp: someraand’ van die ‘laat-middag (wat) room geword’ het; van die ‘treine wat ver fluit’; van ‘n voël, die ‘wit-bont klaas-skâwagter/ wat wag-hou op ‘n kluit’; van ‘rook uit die lokasie’; van ‘mense in tennisbroekies’ wat na die spelery ‘in die koper skemer’ inloop; van ‘motortjies’ wat ‘dóér op die nasionale pad’ loop; van ‘n ou oom wiese fiets sommer vanself by die kroeg gaan staan; van ‘Tant-Tolie-met-die-kanker … op die bordienghuis se stoep’ wat die Here dié nag sou aanroep en sou sterf.

Van Wyk Louw skets ‘n amper tydlose wêreld. ‘n Byna voelbare atmosfeer van ‘n laatsomersmiddag wat aan ‘room’ herinner; van treine, tennisspelers, karre, ‘n drinker en ‘n siek vrou. Gert Vlok Nel se gedig is anders en skep ‘n ongenaakbaarder beeld van Beaufort-Wes. ‘n Mens sien dit byvoorbeeld in die gedig se slot: ‘die laat-middag het chroom geword./& trein wat ysig fluit’. Die laat-middag het nie ‘room’ geword nie, maar ‘chroom’; die trein se fluit is ook nie ‘ver’ nie, maar ‘ysig’. Vos & Wepener het ook die skilderye van Pierneef en John Meyer, asook die romans van Olive Schreiner en Pauline Smith gebruik om die betekeniswêreld van ‘n Karoodorp soos Beaufort-Wes nog duideliker te beskryf (72-76).

Dinge val ‘n bietjie plat as dit by Bethlehem kom. Dié dorp lê te ver in die verlede terug en is so in die duister dieptes van die geskiedenis gehul dat dit byna onmoontlik is om dit met Beaufort-Wes in verband te bring. Bethlehem bestaan duisende jare al en het verskillende historiese tydperke beleef en in elke era het dié plek sy eie unieke atmosfeer en lewe gehad wat vir ons byna ontoegangklik is. Bybelse argeologie sou ‘n mens dalk kon help om iets van dié dorp se leefwêreld te verbeel. Nietemin, Vos & Wepener wou weereens wys hoe ‘artistieke impulse’ (69) die prediking en die liturgie kan dien en dit het net weer die belangrikheid van hulle ‘homileties-liturgies estetiese intertekstueel-inkulturerende model’ beklemtoon.

Die verlore seun in digvorm
Nog ‘n mooi voorbeeld van hoe poësie en preek so ineengestrengel kan raak dat die een die ander toelig, is Cas Vos se ‘Hunker na ‘n ver lang’. Dit handel oor die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15:11-32 wat oor die jare al tot stof getrap is, maar wat in Vos se gedig tog anders en nuut klink. Die gedig maak nuwe verstaansmoontlikhede oop wat groot waarde aan die prediking kan toevoeg.

Volgens Vos het ‘n groot verset in die jongste seun gesluimer. Hy was moeg vir sy pa se bevele en sy ouer broer se magspeletjies en daarom het hy hom op ‘n dag teen sy ouerhuis verset en weggeloop het. In die familiekring is die seun se onafhanklikheid ondermyn en daarom het hy in opstand gekom. Vos verwoord dit dan so: ‘Ek is moeg van rug buig/ en sekel sny op die oesland./ Gebooie van die vaderhuis/ knel en striem my soos boeie./ My lippe bars van dors/ na ‘n ver en vreemde land’. Kleinboet wil net weggaan en terwyl ma sy tasse pak, eis hy van sy pa sy erfenis: ‘Ek kyk stroef na my pa/ en wag gretig vir my erfenis./ Ma pak my tas vol verdriet,/ munte laat my sak bult./ My klere ruik na Oosterse/ modehuise sodat my ma/ haar nie vir my skaam nie’.

In die ver land verspil Kleinboet egter sy geld en kragte op allerlei heerlike sondes: ‘My geld wy ek aan dobbelhuise./ Teen die lig soek ek my klein geluk/ by lywe in afskortings van die nag’. Vos oorbrug die tye tussen ‘toe’ en ‘nou’ met ‘n paar behendige versreëls: ‘Ek versuip my in wynhuise … Ecstasy laat my in drome/ van waansin verdwaal./ Ek skype en google vernuftig;/ in die virtuele ruimte loop ek/ ontheemdes en ontspoordes raak./ Op Youtube sien ek die poppe dans./ Om my nek dra ek ‘n foto van ma:/ Verlange bly groei’.

Vir Kleinboet het die loslewe een te veel geword en hy pak uiteindelik die trugtog aan. Heelpad worstel hy met sy pa se houding. Sou dié hom aanvaar of net verwerp? Pragtig beskryf Vos dan pa en seun se ontmoeting: ‘Toe ek met my stofjas aan/ koejawels in die boorde ruik/ en lemoene soos sonne my nader/ wink, staan pa ooparm voor my./ “My seun, my seun!”/ Traanbesmeerd omhels sy liefde/ my en dra my oor die drumpel./ Hy gee aan my ‘n nuwe kleed/ en skoene waarin my voete pas’/ ‘n goue ring vir my vinger – / nou dra ek met trots sy naam’ (110-116).

Cas Vos se eie gedigte speel ‘n groot rol in sy bydraes. Nog ‘n voorbeeld is sy uitleg van Psalm 23 in die gedig, ‘Die Here is my herder’. Dit klink amper skokkend as hy sê: ‘Die Here is nie my herder nie,/ ek kom alles kort./ Hy lei my na leegtes,/ laat my bloedsweet … Hy lei my op omweë … U het U hand teruggetrek,/ ek kyk vas teen u rug … Al slaan u stilte my stom,/ sal ek na U bly roep, ek, u weggooilam’ (151-152). Daar is ook nog ander voorbeelde, maar miskien is dit voldoende om te sê dat sy gedigte sy gedagtes versterk en maak nuwe verstaansmoontlikhede oop.

Dan is daar ook nog metafore
Cas Vos maak ook veel van metafore. Vir hom is die ‘metafoor ‘n vonk in die hand van die digter. Hy steek die wêreld daarmee aan die brand. Die metafoor stel hom in staat om die verrassende, die onopvallende, die skynbaar teenstrydige en ironiese te vind … ‘n Metafoor is veral ‘n instrument van die “odd language” – die religieuse taal’ (98).

Vos maak veral veel van die huweliksmetafoor in die boek Hosea en wys op die skokeffek wanneer Jahwe as eggenoot en Israel as eggenote uitgebeeld word. Hierdie metafoor is nie maar ‘afbeeldinge van iets nie’, maar ‘beelde vir iets’. God was vir Israel ‘n eggenoot en is vir ons ‘n eggenoot. Die ‘huweliksmetafoor in Hosea is ‘n netwerk van God se liefde en genade aan die ontroue en liefdelose bruid’ (107).

Vos gee ‘n interessante ‘metaforiese’ uitleg van die boek Hosea en miskien kan sy verstaan as basis dien vir ‘n gesprek oor ‘metafoor’ en ‘geskiedenis’. In Hosea skemer ook die verbrokkelende gemeenskap se angs deur omdat die Assiriese magte al hoe nader kom en Samaria se einde in sig was. Kan metafore iets van hierdie historiese ingebedheid van die boek opvang en verwoord? Of neem metafore jou juis van die alledaagse historiese lewe weg?

‘Kiekies is verwysings …’
‘Kiekies is verwysings, my lewensinventaris en ensiklopedie van my bestaan’, so sing Lucas Maree oor sy eie foto’s en so praat Cas Wepener ook in sy bydraes oor ‘konsistoriekuns’. Dit is besonder interessant en Wepener slaag daarin om (ten minste vir my) ‘n onbekende en onontdekte gebied oop te maak.

Vir hom het die mure in konsistories en teologiese fakulteite met al die foto’s ‘n besondere betekenis. Hy meen dat al die foto’s en portrette ‘n poging is om vir die beeldestorming tydens die Reformasie te kompenseer. Al die beeldvernietiging het ons oneindig armer gemaak. Ons weet daarom nie hoe om met kerkkuns saam te leef en daaruit moed en troos te put nie. Ons kompenseer dan so bietjie daarvoor met die kiekies van predikante en teoloë teen die mure. Dit stig ons nou wel nie, maar dit open interessante leefwêrelde.

‘n Wetenskaplike studie van portrette impliseer ‘n studie van die daardie tyd se kleredrag asook die haarstyle en die manier waarop mense geposeer het. Al dié dinge wou ‘n bepaalde beeld oordra en wou iets sê: Daar gaan ‘in hierdie detail ook boodskappe/mites skuil wat blootgelê kan word’ (165) . Dalk wou so ‘n foto ‘n sekere beeld van spiritualiteit of vroomheid of teologie ontsluit. En poog die foto’s dalk ook om die kyker so aan te spreek dat hy/sy ook vroom of opreg sal wil wees.

Interessant is Wepener se vergelyking tussen toe en nou se portrette. Destyds was alles so formeel en strak, maar nou verskyn predikante en teoloë sonder das en hulle glimglag en alles is in kleur. Hy wys ook op ‘n klasfoto uit 1996 van Stellenbosse studente wat op ‘n bepaalde manier poseer en sodoende doelbewus kritiese kommentaar op die siening van dominees as gesagsfigure lewer. Dié foto het ook teen ‘n bepaalde sosio-politieke beeld geprotesteer: ‘’n Beeld waarvoor hulle skaam geword het. ‘n Beeld wat jou assosieer met die boewe, die booswigte wat apartheid teologies begrond het. En ‘n kerk wat steeds verdeel is op grond van ras’ (167). Hoe dit ook al sy, Wepener het interessante navorsingsmoontlikhede vir die liturgie- en kerkgeskiedenis geopen.

Tot slot
Daar is nog baie meer wat ‘n mens oor Wepener en Vos se boek kan sê, maar ons sluit met ‘n woord van Gerben Heitink: ‘Het boek van Vos en Wepener roept predikanten op om – in de woorden van Jezus – “het net aan de andere kant uit te werpen” en zich in de vormgeving van liturgie en prediking bewust te worden van de kracht van verbeelding, van metaforen, symbolen en rituelen en daarvan dankbaar gebruik te maken’ (9).

Bibliografie

 

 

 

 

Share this / Deel hierdie: