Johannes 8:10-11

 

Ons begin deur stil te lees:

Nu is de tijd gekomen

van stilte en gebed

van lijden niet te doorgronden

die ons in de vryheid heeft gezet.

 

Van verraad en van honen

van verdriet en diepe pijn

van vrienden die niet kunnen waken

van door God verlaten zijn

 

Wie kan dit lijden bevatten

die Liefde onvoorstelbaar groot

Zijn lichaam voor ons gebroken

Zijn bloed da Hij voor ons vergoot

 

Hier past alleen maar stilte

of een stamelend dankgebed

en heel veel van Jesus houden

Hij heeft Zijn leven voor ons afgelegd.

 

Sang: Kyrie eleison, Heer wees ons genadig

 

Skriflesing & oordenking: Johannes 7:53-Johannes 8:11

 

Gebed

 

Sang: Gesang 505: 3 en 4

 

Skriflesing

 

Teksverse: Joh. 8:10-11: Toe het hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het geeneen van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” – ” Niemand nie, Here”, sê sy. Toe sê Jesus: Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie”.

Dis tyd dat sonde die regmatige plek as verkeerd inneem, sê ‘n student so twee jaar terug vir my terwyl ons oor die aard van die Christelike etiek in die klas debatvoer. A thorny issue, sou mens in Engels dalk kommentaar wou lewer. Juis nie, sou ons vanuit ons Reformatoriese belydenis en agtergrond kommentaar wou lewer. Pas laasweek het ek as deel van ‘n kursus oor teologiese antropologie die saak van sonde, boosheid en die aard van die mens opgehaal. En baie vroeg kom die vrae en ook die ongemak van die gesprek na vore.

Hoe gemaak met die sonde? Tydens die viering van die lyding van Jesus in ons kerk word daar nogal baie nagedink oor sonde. Oor ons sonde. Oor die oorwinning oor sonde en boosheid. Die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, is veral bekend om twee sake: die een –  die bespreking oor die insluiting daarvan in die evangelie volgens die beskrywing van Johannes en ook die kanon, die ander – die teks is veral bekend vanweë dit wat ons dink die teks vir ons oor sonde en Jesus se beskouing van sonde sê.

Dit is by laasgenoemde waar ek vandag wil stilstaan.

Die toneel wat hier geskets word, word voorafgegaan met die vraag rondom Christus. Is hy die Christus of nie? Kan die Christus uit Galilea kom? Die Fariseërs is ongelukkig oor die ontstaan van die vrae – daar behoort na hulle mening geen vraag oor hierdie saak te wees nie: ” Is julle tog nie ook mislei nie,” vra die Fariseërs aan die wagte wat nie vir Jesus gevange geneem het nie. “Het een van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs? Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!”

Nikodemus sê toe vir die Fariseërs dat ons wet bepaal dat ons nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie. Maar die Fariseërs hou voet by stuk. Hierna lees ons van die Fariseërs se poging om die aard en betekenis en uitvoering van die wet te toets – en Jesus se etos en handeling met betrekking tot die wet te toets: deur ‘n  saak voor Jesus vir beslissing te bring – ‘n  vrou wat op heterdaad betrap is.

Dit blyk dat die vrou ‘n pion is in die Fariseërs se skaakspel met Jesus: as Jesus nou volgens die wet, Torah, optree, gaan hy teen sy eie etos en handeling in. Tree Jesus nie op volgens die Torah nie, wel dan is hul saak tog bewys en dan is dit skaakmat! En dan kry ons die verbasende: Jesus buk af en skryf in die sand. Nog een van die redes waarvoor die teks dikwels bekend is. Maar hier het ons te make met ‘n kragtige metafoor vir Jesus se etos en handeling met betrekking tot die wet: Jesus skryf in die vloeibare (flexible) sand, nie met blywende ink op swart en wit Torah nie.

Die toneel duur voort totdat al die sodanige klipgooiers weggeloop het. En dan: ‘Ek veroordeel jou ook nie – gaan maar en moet van nou af nie meer sondig nie’. Die vraag is wat het ons met hierdie woorde van Jesus gemaak? Gesien in die lig van hoe Jesus die wet verstaan?

Ons sê: Dankie, tog, Jesus aanvaar onvoorwaardelik. Onvoorwaardelik ja, solank jy nie sonde doen nie. Wat is sonde? Vir die Fariseërs – ‘n  baie lang lys; dis swart op wit in die Torah in ink neergeskryf.  Wat is sonde? Vir ons – ‘n  baie lang lys; dis swart op wit in ons kerkwet, ook gegrond ons Torah, die Bybel. Die teks word so gebruik om voorwaardes aan Jesus se etos en handeling van onvoorwaardelike aanvaarding te heg. Die teks word gebruik om mense met vermeende sonde by te kom.

En dis hier waar ons mooi moet bedink presies wat die teks nou vir ons oor sonde sê en wat dit nie sê nie:  Die Fariseers beskou sonde as kliniese eksakte objekte wat vir tyd en ewigheid vasgestel is – soos klippe versteen – en hierdie klippe is reg vir gooi. Daarom maak hulle swart op wit lysies van sonde. As Jesus van sonde praat, praat hy nie van lysies en klippe nie. Hy praat van iets wat gebeur; iets wat in mense se verhoudings met mekaar gebeur.

Hy praat oor die ontmaskering van lyding en geweld en stigmatisering deur die samelewing van vermeende sondaars wat heeltemaal te veel regmerkies in die sonde-kolom het.  Dit gaan hier oor die ontmaskering van lyding en geweld en stigmatisering binne die sisteem – en daarvan is die vrou in hierdie toneel ‘n slagoffer. Die Fariseërs het hierdie geweld binne die sisteem verdoesel – juis deur hulle sondelyste. Jesus ly om dit te ontmasker. Jesus ly om dit te oorwin.

Hierdie lyding om die lyding/geweld van die sisteem te be-eindig, word in Joh. 16:25 die UUR genoem – die lyding van Jesus is die KAIROS wat die lyding in die kosmos oorwin. In Joh. 16: 33 lees ons van God se vrede: “Hou goeie moed –  in die wereld (vertaal van Johannes se kosmos-begrip) sal julle dit moeilik hê, maar ek het die wereld reeds oorwin”. God se vrede is die oorwinning van die kosmos = nie sodat mens nie meer in die kosmos leef nie; die mens se geneigdheid om te breek word nie ontken nie. Dalk moet ons dan eerder van versoening as van verlossing praat: nie verlos van die kosmos nie, maar eerder versoen met die kosmos. Die oorwinning van die kosmos is om mense te midde van die kosmos teen boosheid te beskerm. Die oorwinning beteken dan versoening: die herstel van verbreekte verhoudings: tussen God en mens, mens en mens, mens en natuur.

“Moenie meer sondig nie”. Dit gaan nie daaroor om ‘n item op ‘n sondelys dood te krap wat nou nie meer gedoen word nie. Dit gaan daaroor om nie meer deel te neem aan die skade wat berokken word nie. Daar is dus eintlik ‘n vraag aan die vrou: Sal sy na haar bevryding van steniging, in vreugde haar stryd teen die kosmos en sonde wat haat en nie liefhet nie, voortsit? Deur in blydskap lief te hê en nie seer te maak nie?

Die sondevraag aan ons almal is dus eintlik ‘n ander vraag: Gaan ons almal wat nuut gebore is met vreugde volgeling van Jesus kan wees? Sal ons die klippe laat val?

Share this / Deel hierdie: