Inleiding

Die onlangse vlaag van xenofobie, die geweld en lewensverlies wat daarmee gepaard gegaan het, het Suid-Afrika weereens in ‘n negatiewe kollig geplaas. Xenofobie is egter nie ‘n nuwe verskynsel nie, en ook nie iets wat net in ons land plaasvind nie. Rassehaat, agterdog teenoor vreemdelinge kom wêreldwyd voor, en is ook nie ‘n moderne verskynsel nie. Terselfdertyd is dit deel van menswees om vreemdelinge nie sommer goedsmoeds te vertrou nie, en ‘n mens kan nie help om in ‘n mate skepties oor ‘die ander’ te wees nie. Die vraag wat ek in hierdie teo-bydrae wil ondersoek, is of die Ou Testament enigiets oor die probleem van xenofobie sê, en of daar riglyne is wat ons vandag kan gebruik.

Etnies

Xenofobie word afgelei van twee Griekse woorde: ξένος wat ‘vreemde’ of ‘vreemdeling’ beteken, en φόβος, vrees. Letterlik beteken xenofobie ‘vrees vir vreemdelinge’. Onder vreemdelinge word verstaan ‘n bepaalde bevolkingsgroep in ‘n samelewing wat nie oorspronklik deel daarvan uitgemaak het nie, en omdat hul gewoontes en gebruike anders is, word hulle gevrees, selfs gehaat. ‘Etnies’ is ‘n term wat antropoloë gebruik om na verskillende bevolkingsgroepe te verwys, mense is etnies aan mekaar verwant, of hulle verskil etnies van mekaar.

Die eerste begrip waarmee etnies geassosieer word, is ras. So verstaan, is etnies ‘n biologiese gegewe, iets wat met bloedverwantskap of DNA te doene het. Hieruit volg dat etniese groepe sekere kenmerkende gelaatstrekke of velkleur sal hê, en waarskynlik dieselfde taal sal praat. Dit is egter nie al nie. ‘n Groep mense voel aan mekaar verbonde nie net op grond van hul DNA nie, maar op grond van ‘n gesamentlike verlede. Dit gaan om herinneringe, die stories van waar so ‘n groep vandaan gekom het, stories van die verlede, van helde en skurke, momente van vreugde en verdriet – dit wil sê, geskiedenis. Etnisiteit is dus ook iets wat met verloop van tyd ontwikkel en waar ‘n groep se verlede ‘n baie belangrike rol speel. Godsdienstige oortuigings en kulturele gebruike is meestal in die geskiedenis van ‘n volk vervleg; uiteraard was dit meer die geval by die volke van antieke tye as vandag, maar religie en kultuur is steeds nie heeltemal onbelangrik nie.

‘n Mens kan dus die afleiding maak dat ‘n gevoel van groepsverbondenheid ‘n natuurlike gegewe is, en dat groepe vanselfsprekend sal neig om hulself van ander te onderskei. Samelewings word gevorm op grond van ‘n biologiese, kulturele, religieuse en historiese erfenis. Dit is ook natuurlik dat vreemdelinge wat so ‘n gemeenskap wil binnedring, met agterdog bejeën sal word. Die vraag is nou: hoe moet daar teen sulke vreemdelinge opgetree word?

Die Ou Testament

Vreemdelinge word verbied

Om die ou Testament as riglyn vir xenofobie te gebruik, is uiters problematies. Enersyds word streng ‘etniese’ grense rondom Israel getrek. Die gebod van Deuteronomium 23:1-4 verbied spesifiek Moabiete en Ammoniete om in die vergadering van die Here te kom. Elders word Israel as die Here se heilige en uitverkore volk voorgestel (Deut 7:6; 14:2), en hulle word verbied om enigiets met die nasies van die land te doene te hê – om die waarheid te sê, hulle word selfs beveel om met geweld teen hierdie mense op te tree (Deut 7:1-5).

‘n Besonder gewelddadige anekdote word in Numeri 25:6-13 vertel. ‘n Israelitiese man bring ‘n Midianitiese vrou in die kamp in die woestyn in. Pineas (kleinseun van Aäron) sien dit raak. Hy volg die man en vrou na die tent waar hulle heengaan en deurboor albei dwarsdeur die tent in hul onderlywe (waarskynlik hul geslagsdele). Hierdie optrede dra die Here se goedkeuring weg, en Hy seën Pineas selfs met ‘n verbond van ewige priesterskap.

Die boeke Esra en Nehemia getuig veral van so ‘n beleid van afsondering van volke. Esra gebruik die term ‘heilige saad’ (Esra 9:2) wanneer hy na Israel verwys. Die Afrikaanse Vertaling het dit wegvertaal en praat net van ‘hierdie volk’ maar ‘heilige saad’ is ‘n besonder kragtige metafoor waar religie en afkoms bymekaar betrek word om bykans ondeurdringbare etniese grense te trek. Die groot sonde wat Israel begaan het, is dat hulle hulself nie van die volke van die land afgesonder het nie en met hulle ondertrou het, en daardeur die ‘heilige saad’ laat vermeng het (Esra 9-10). Nehemia 13:1-3 verwys direk na die gebod in Deuteronmium 23:1-4, en die uiteinde in albei boeke van Esra en Nehemia, is dat gemengde huwelike ontbind en die vreemde vroue weggestuur word.

Hierdie voorbeelde is ontstellend soortgelyk aan hedendaagse xenofobie. Dit is veral die radikale en gewelddadige elemente wat steur. Erger nog, dit lyk selfs asof sulke optredes deur die Bybel voorgeskryf en goedgekeur word, ‘want dit staan in die Bybel’.      

Vreemdelinge is welkom

Gelukkig staan daar ander tekste ook in die Bybel. ‘n Teks wat direk teen die gebod in Deuteronomium 23:1-4 ingaan, is die profetestem van Tritojesaja in Jesaja 56:1-8. Hier word vreemdelinge en uitlanders na die vergadering van die Here uitgenooi. Almal wat vantevore deur die Wet verbied is om by die volk van die Here aan te sluit, is nou welkom. Die profetestem gaan selfs verder; die uitlanders is nie slegs welkom om by Israel aan te sluit nie, hulle mag ook in die huis van die Here kom, en deelneem aan die kultus deur brandoffers en slagoffers na die altaar toe te bring. Hier sal hulle toegelaat word om te aanbid, en vreugde in die nabyheid van die Here beleef. Dan sluit die profetestem in vers 8 af deur uitdruklik te sê dat die Here self almal wat vantevore van Israel af weggedryf is, nou versamel sal word om deel van sy volk te wees.

Nog ‘n teenstem teen die gebod in Deuteronomium 23:1-4 word in die verhaal van Rut, die Moabitiese gehoor. Rut is ‘n jong Moabitiese weduwee wat saam met haar Judese skoonmoeder na Betlehem terugkeer. Die rede waarom Moabiete (en Ammoniete) in Deuteronomium 23:4 verbied word, is omdat hulle die kinders van Israel nie van brood en water tydens hul deurtog in die woestyn voorsien het nie. Maar Rut bewys hierdie beswaar verkeerd. Gedurende die oestyd gaan sy are op die landerye optel, en voorsien haar ellendige en noodbehoewende Judese skoonmoeder van lewensmiddele. Die verhaal gaan nog verder en vertel van ‘n huwelik tussen Rut, die Moabitiese en Boas, die Judese – by implikasie Israelitiese – man. En uit hierdie gemengde huwelik word ‘n paar geslagte later die groot koning Dawid gebore.

‘n Teks wat ‘n mens nogal laat kopkrap, is die anekdote wat in Eksodus 4:24-26 vertel word. Net twee verse, maar dit kom uiters vreemd en bykans onvanpas voor. Moses is oppad uit Midian terug Egipte toe om Israel van onderdruking te bevry. Hy en sy gesin slaap in ‘n herberg oor, en daardie nag kom die Here om hom, Moses, dood te maak. Toe neem sy (Midianitiese) vrou Sippora ‘n klipmes waarmee sy hul seun besny seun, skynbaar ‘n daad wat Moses nagelaat het om te doen – en die Here laat staan vir Moses. Sommige eksegete interpreteer hierdie teks ook as ‘n pleidooi daarvoor dat vreemdelinge by die volk Israel welkom moet wees. Sippora is ‘n voorbeeld van ‘n vreemde vrou wat selfs ‘n priesterlike handeling – die besnydenis – uitvoer. Die waarskuwing in hierdie teks is dat Israeliete soos Moses nagelaat het om die verbond te hou, en dat vreemdelinge, soos Sippora hulle aan die erns daarvan herinner. Met ander woorde, vreemdelinge is meer getrou aan die verbond as die Israeliete self.

Nie heeltemal onvoorwaardelik nie

Hierbo is enkele tekste uitgelig wat van twee teenoorgestelde houdings teenoor vreemdelinge ou Israel vertel, en daar is nog vele meer. Die vraag is of ‘n mens hier te make het met enersyds ‘n eksklusiewe gemeenskap waar vreemdelinge met geweld uitgedryf word – en wat van xenofobie getuig, en andersyds ‘n inklusiewe sogenaamde ‘universele’ gemeenskap waar vreemdelinge met ope arms verwelkom word? Weereens is die antwoord nie so eenvoudig nie.

Eksegete wys op die voorwaardelike element, oftewel die gedragskomponent in al die sogenaamde inklusiewe tekste. Die Jesajateks (56:1-8) verwelkom almal wat die Here se sabbatte hou en dit nie ontheilig nie, wat Hom dien en liefhet, wat Hom behaag en aan sy verbond vashou, sy Naam liefhet, ensovoorts. Rut draai letterlik haar rug op haar volk en haar gode (Rut 1:16), met ander woorde, sy doen eintlik heeltemal van haar etniese identiteit afstand wanneer sy ‘n keuse vir Naomi se volk en God uitoefen. By implikasie sal sy dan ook die gebooie van die Here, die God van Israel onderhou. Sy word in wese ‘n Israeliet. En ook in die verhaal van Sippora is die teken van die verbond, die besnydenis, die rede waarom die Here nie vir Moses doodmaak nie. Vreemdelinge of uitlanders is dus nie heeltemal onvoorwaardelik welkom nie. Hulle moet bereid wees om die godsdiens en die kulturele gebruike van Israel te aanvaar, en om soos Rut, ‘n positiewe bydrae in die samelewing te lewer. Na aanleiding van Rut se verhaal word afgelei dat Rut dalk nie so volledig by die Judese gemeenskap geïntegreer is nie. Alhoewel sy haar land en haar gode verlaat, word sy in die grootste gedeelte van die storie steeds as die ‘Moabitiese’ beskryf. Alhoewel die gemeenskap haar aanvaar, sien hulle haar steeds as die ‘Moabitiese’, ‘n vreemdeling. Dit wil dus lyk asof die gemeenskap van ou Israel steeds eksklusief was, maar soms toegewings vir vreemdelinge sou maak, mits sekere voorwaardes nagekom word, en hierdie voorwaardes was streng religieus van aard.

Xenofobie vandag

Om tekste uit die Bybel te haal en iets daaruit oor xenofobie vandag te probeer sê, is uiters problematies, en eintlik onmoontlik. Indien enige afleidings uit die Bybel gemaak kan word, is dit hoogstens dat ou Israel se samelewing miskien nie so radikaal anders as ons vandag was nie: daar was sekere groepe wat xenofobies was, en daar was ander wat meer toegeeflik teenoor vreemdelinge was, mits hulle nie skade gedoen het nie, en bereid was om die gewoontes en gebruike van die gemeenskap te aanvaar. In ou Israel het godsdiens ‘n deurslaggewende rol gespeel: vir die eksklusiewe sowel as die inklusiewe groepe was die aanbidding van die Here, die God van Israel ‘n bepalende faktor. Selfs die oënskynlik etniese oop gemeentes van die Nuwe Testament het ook ‘n religieuse voorwaarde gestel: die belydenis dat Jesus Christus die Here is.

Watter rol speel godsdiens vandag ten opsigte van xenofobie? Ekstreme gevalle sien ons in die Muslim-geledere en die koelbloedige teregstelling van ‘ander’ gelowiges, soos Christene. In Suid-Afrika is godsdienstige oortuigings oënskynlik minder belangrik, en gaan dit eerder oor belange soos grondbesit, werk, besigheid, verblyf, vervoer, en inkomste wat bedreig word. Dit wil ook lyk asof etnisiteit ‘n besondere prominente rol speel wat aanleiding tot vermeende bedreigings gee, en reaksies op onskadelike gebeure ontlok wat onnodig heftig is.

Slot

Is daar ‘n oplossing? Nie werklik uit die Bybel nie. Wanneer Bybeltekste letterlik geïnterpreteer word, is dit moontlik om albei posisies, ‘n eksklusiewe sowel as ‘n inklusiewe gemeenskap, te regverdig. Om iets oor xenofobie vandag te sê sonder om eers baie deeglike eksegese van die Bybeltekste en die huidige sosiale omgewing te doen, kan selfs gevaarlik wees. Die sirkel van geweld kan alleen deur die weg van kompromie, onderhandelinge en ‘n billike verdeling van belange tussen groepe deurbreek word. Miskien is die veiligste om uitsprake oor en die hantering van hedendaagse xenofobie in die hande van sosioloë, antropoloë en politieke wetenskaplikes te laat.

Bronnelys

  • Ben Zvi, E 2011. ‘On Social Memory and Identity Formation in the Late Persian Yehud. A Historian;s Viewpoint with Focus on Prophetic Literature, Chronicles and the Deuteronomistic Historical Collection.’ Paginae 95-148 in Jonker, L (red), Texts, Contexts and Readings in Postexilic Literature. Tübingen: Mohr Siebeck.
  • Berquist, JL 2006. ‘Constructions of Identity in Postcolonial Yehud.’ Paginae 53-66 in Lipschits, O & Oeming, M (red). Judah and the Judeans in the Persian Period. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Donner, H 1985. ‘Jesaja lvi: Ein Abrogationsfall innerhalb des Kanons Implikationen und Konsequenzen.’ Paginae 81-95 in Rmerton, JA (red), Congress Volume Salmananca 1983. Supplements to Vetus Testamenticum 36. Leiden: Brill.
  • Middlemas, J 2011. ‘Trito-Isaiah’s Intra and Internationalization. Identity Markers in the Second Temple Period.’ Paginae 105-125 in Lipschits, O,     Knoppers GN & Oeming, M (red). Judah and the Judeans in the Achaemenid Period. Negotiating Identity in an International Context. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Nihan, C 2011. “Ethnicity and Identity in Isaiah 56-66.” Paginae 67-104 in Lipschits, O,     Knoppers GN & Oeming, M (red). Judah and the Judeans in the Achaemenid Period. Negotiating Identity in an International Context. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Southwood, KE 2011a. “An Ethnic Affair? Ezra’s Intermarriage Crisis Against a Context of ‘self Ascription’ and ‘Ascription of Others.’” Bladsye 46-59 in Frevel, C (red.), Mixed     Marriages, Intermarriage and Group Identity in the Second Temple Period. London: T & T Clark International.
  • Southwood, KE 2011b. ‘The Holy Seed: The Significance of Endogamous Boundaries and their Transgression in Ezra 9-10.’ Paginae 189-224 in Lipschits, O, Knoppers GN & Oeming, M (red). Judah and the Judeans in the Achaemenid Period. Negotiating Identity in an International Context. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Southwood, KE 2012. Ethnicity and the Mixed Marriage Crisis in Ezra 9-10. An Anthropological Approach. Oxford: Oxford University press.
  • Southwood, KE 2014. ‘Will Naomi’s Nation be Ruth’s Nation?: Ethnic Translation as a Metaphor for Ruth’s Assimilation within Judah.’ Humanities (3): 102-131; doi:10.3390/h3020102
Share this / Deel hierdie: